HY SKRYF: Die bloed wat uit my linkerhand stroom en deur die water weggewas word, is die minste van my probleme. Hier waar ek 30 m bo ’n rotspoel binne-in ’n waterval hang, is daar dringende bekommernisse… Soos dat die rotspoel doer onder na meer “rots” as “poel” lyk. Ek gryp die tou met my regterhand vas. Fokus, Kennett, fokus. Maar o jinne, my senuwees is gedaan.

Ek moes na Londen op ’n sakereis, maar met die uitstel daarvan het ek die kans aangegryp om op dié kloofing-uitstappie te kom saam met my skoolpêl en mede-avonturier, Jester (Jacques de Villiers). Saam met ons is Jester se nuutgevonde waalhalsbende: Supersmeda (Christo Smeda), Fearless Fanie (Fanie Potgieter), Racing Rudi (Rudi du Toit), Cozy Claude (Claude Bosman) en TIA die expat uit Texas (Murray Gilbertson).

Ons is iewers op privaatgrond – die ouens het ’n reëling met die boer. Ek is nie seker presies waar ons is nie, maar Jester het my verseker daar’s niks om oor bekommerd te wees nie. En ek vertrou hom.

Ek is nie seker presies waar ons is nie, maar Jester het my verseker daar’s niks om oor bekommerd te wees nie.

Saam is ons al deur baie avonture, maar sedert ek ’n gesin het, doen hy dié dinge met ander en praat ’n rotsklimtaal wat ek nie ken nie. 

Ek het in 2003 self ’n bietjie geklim, maar dit was net om my meisie (nou my vrou) te beïndruk. Kort voor lank moes ek uitvind dat sý slegs begin rotsklim het om haar vorige kêrel te beïndruk! Nodeloos om te sê het ons albei se ywer het gou opgedroog. Maar ek het die klimtoerusting gehou, want wie weet… 

Saterdagoggend kom ons by die Buffeljagsdam aan, rugsakke swaargelaai met natpakke, harnasse, droogsakke, 60 m static-tou, 30 m- dynamic tou, karabynhake, duikbrille… en ’n lilo. Waar’s die dae van ’n staptog met ’n slaapsak, vakuumverpakte steak en ’n papsak?

Ons roete begin op ’n tweespoorpad deur ’n denneplantasie en plate fynbos wat naderhand ’n voetpaadjie word en toe sommer heeltemal verdwyn. Jester het aangedring dat ons langbroek dra, want die roete loop deur ruigtes. Maar dié boskasies was só dig, ek kan nie grond óf lug sien nie. Dit voel asof ek deur trosse bamboes swem, met skerp stokke, slange en spinnekoppe om ons op ons tone te hou. Toe ons uiteindelik aan die anderkant van die doolhof uitpeul, is ek sonder die een afritspyp van my langbroek!

En toe wag ’n diep kloof en die enigste pad was ondertoe. Met ’n geklouter, gegly en geval is ons daar af. Die mik van my broek sneuwel – die naat oorleef nie ’n skuifelgly oor ’n toegegroeide helling nie. 

Teen hierdie tyd is my langbroek meer as gehawend, maar ek is in een stuk en ná ’n dag van swoeg en sweet in die klam ruigtes is die swart water so verfrissend en soet soos botteltjie yskoue Coke.

Ons maak kamp onder ’n oorhang en die gesprek om die vuur maak my effe gespanne:

“Onthou julle daai avontuurresies in die Drakensberg toe ons onder ’n waterval geslaap het en my spanmaat byna met al ons toerusting in sy rugsak verdrink het?” wou Racing Rudi by die ander weet terwyl hy sy “pofadder”-steak op ’n stok staan en braai.

“Of daai wintersnag nadat ons by die Yellowwood-amfiteater gaan klim het en ou van die Bergklub van Suid-Afrika tot halfdrie die oggend vir ons in Du Toitskloof gewag het?” kom dit van Supersmeda. “Ons kon nie die abseil-ankerpunte in die donker kry nie en moes vir ses uur teen die berghange af deur die bosse breek tot by Rawsonville.”

Verkenners, rotsklimmers en bergmanne is ’n spesie van hulle eie. Gooi ’n paar van hulle saam en jy’t ’n sonderlinge soort kranksinnigheid op hande: die malligheid van Chuck Yeager en Buzz Lightyear. ’n Malligheid wat ek nie het nie. 

Terwyl Cozy Claude ná sy T-been op sy twee (ja, twee) kampmatrassies lê en teug aan ’n glas rooiwyn en ’n sigaar, verklaar hy: “Môre gaan ’n lang, taai dag wees. Laaskeer toe ons dié kloof gedoen het, was ek die volgende dag fisiek en geestelik gebroke.” 

Hel, waarvoor het ek my ingelaat?

Dis ’n aangrypende plek, met vertikale kranse wat honderde meter ondertoe in die nou waterstroom se donker dieptes verdwyn.

Dis asof ’n mens kan terugkyk in tyd – jy sien rotse wat in Gondwanatyd onder gletsers gesluimer het. En dit verg nie veel verbeelding om dinosourusse in die varings te hoor vroetel nie. 

Vir ’n entjie in die ravyn stap en swem ons tot waar die rammeling van water iewers vorentoe ons op ons hoede gemaak het. Skielik voel ek soos ’n karakter in ’n tekenprent wat magteloos voortdryf na ’n onsekere uitkoms, maar beslis ’n waterval! Daar waar die waterstroom plotseling in vars lug eindig, gryp ek aan die rand en kyk versigtig na onder. Maar waar ek ’n poel verwag het, is niks. Ve-e-er ondertoe sien ek ’n kuil. Waaskynlik so groot soos ’n Olimpiese swembad, maar van hier lyk dit soos ’n plassie. 

Die gesoute ouens soek na ’n ankerpunt – iets wat die gewig van ’n abseiltou kan dra – en besluit op ’n rotspunt. “Dit behoort veilig te wees. Dalk,” hoor ek Racing Rudi sê. 

Jester bied aan om proefkonyn te wees en land veilig onder. Nou is dit my beurt. Met bewende hande haak ek die belay device en tou deur my harnas se karabyn…

Ná die tyd onthou ek nie veel van die abseil deur die waterval tot onder in die poel nie, net dat ek soos ’n riet gebewe het. Hoeveel abseilgedeeltes het ons nog vandag, vra ek vir Jester. 

“Ek’s nie seker nie, sowat tien of elf. Miskien dertien. Maar ek dink hierdie ene was die hoogste.” Hy wil my gerus stel, maar dit slaag nie. 

Die volgende abseil is laer en ons is almal veilig af, maar toe Supersmeda die tou probeer lospluk, haak dit vas. Dit kan nie net afgesny word nie, want elke sentimeter van die 90 m-tou tel. Dis nou nadat Jester ín die waterval moes klim en loshaak. 

Die volgende hindernis is nie ’n waterval nie, maar die hoë watervlak. ’n Roete wat voorheen begaanbaar was, is nou te gevaarlik en ons soek vir ’n uur lank na ’n alternatief of ’n ankerpunt sodat ons kan abseil. Ons enigste opsie is ’n klein boom – met die tou om hom kan ons om ’n hoek afsak, maar weer sit hy vas en dit kos Supersmeda supertruuks om dit los te haak. 

Hierna is dit hoogtyd vir ’n blaaskans en ’n droewige middagete van nat biltong, neute en gesmelte sjokolade. Dit herinner my aan trifle. En ek haat trifle. 

Ek’t altyd gedog ’n tat is die prentjies op Francois Hougaard se boarms. Nou leer ek aan die bopunt van die hoogste (Jester, jy’t gejok!) abseil in die kloof van ’n ander soort tat: Ons ankerpunt is ’n rots waarom ’n paar rotsklimstroppe vasgewoel is. Só ’n verweerde, uitgerafelde strop noem jy ’n tat, en ’n mens moet hulle met groot omsigtigheid as ankerpunt gebruik. Die rots self lyk nie te solied nie. 

Ek konsentreer op die uitsig: Die kloof kelk hier oop met 300 m hoë kranse wat langs ons uittroon. Voor ons wag nog twee aansienlike groot poele, met ’n klein waterval tussen die twee. As dit nie so intimiderend was nie, sou dit ’n mooi plek wees.

Ek konsentreer op die uitsig: Die kloof kelk hier oop met 300 m hoë kranse wat langs ons uittroon.

Ons knoop die toue aan mekaar vas, ryg dit deur die tats en laat dit oor die afgrond tuimel. Die anstigheid maak uiteindelik plek vir genot. Seker dié dat ek dalkies té vinnig teen die tou afgly, in die water plons en swem tot waar ek oor die rotswand kan leun waar die water in die volgende poel oorskink. 

Ek voel die pyn in my hand, maar sien eers die bloed toe Jester my daarop wys. 

“Is dit erg?” wil ek weet.

“Uhm… dalk ’n paar steke nodig.” In ’n japtrap is my hand verbind in gaas met ’n goeie blerts Betadine en ’n afsnyde stuk natpak buite-om vir beskerming. Die buitelugbende ken hulle storie!

Maar die snywond aan my hand is nie die eintlike probleem nie. Weer is daar nie ’n stewige ankerpunt in sig nie – behalwe vir ’n boom doer bo teen die krans. Van daar bo af tot onder in die volgende poel is dit die langste abseil van die dag. Ek wil myself bietjies-bietjies natmaak.

Die son is al ver verskuif en ’n dreigende skaduwe kruip nader aan die kloof. En ons is nog nie eens halfpad nie. My senuwees is gedaan, so gedaan ek het Elvis-bene – in rotsklimkringe ’n onwillekeurige bewerasie in jou knieë weens angs en moegheid. 

Ek konsentreer terwyl ek my harnas aan die tou vashaak en versigtig met my voetsole ’n pad oopvoel deur die waterval, oor die slikoortrekte rotswand. Onder gekom, is my sin vir humor iets van die verlede. Ek wil net klaarmaak en uitkom – ek waag dit nie om op rotse langs te stap wat min of meer veilig lyk nie, ek kruip eerder skaamteloos in die middel van die stroom langs. En deurentyd moet ek keer dat my rugsak vashaak – ek kan nie nog verdrink ook nie. 
My is fut uit en die skadu’s raak al groter. Die daglig is ’n laaste blos teen die heel hoogste kranse. Gaan ons ooit hier uit?

En toe sien ek dit: die doodloopstraat op ons pad. ’n Moeder van ’n rots versper die kloof en die water wat opgedam het, vorm ’n gevaarlike draaikolk waar dit aan die een kant van die klip verbyglip. 

Dis agtuur die aand en ek wil huis kry. My vrou het my al ’n uur gelede terug in Kaapstad verwag en hier’s nie eens selfoonsein nie. As ek hierdie besigheid hoegenaamd oorleef, gaan sy my sweerlik verwurg.

 Genadiglik kom Fearless Fanie tot ons redding: Om ’n klein ou boompie hang nog ’n tat – iemand het al voorheen by die draaikolk verbygeabseil!

“Ek is doodseker dis die lááste abseil dié,” sê Supersmeda. “Oor tien minute is ons hier uit.”

Ek glo nou niemand meer nie, maar sluk my skeptisisme toe ek sien hy is reg. Die verligting is só groot, ek los sommer die tou en val die laaste 5 m tot in die water. Een van die mees skrikwekkende dae van my lewe is uiteindelik verby!

Oomblikke later bereik ons ’n keerwal – ek is só bly om tekens van die beskawing te sien, ek soen byna die sement.

Die verligting is só groot, ek los sommer die tou en val die laaste 5 m tot in die water.

Ek hoor beeste loei in die weivelde anderkant die Buffeljagsdam, en ’n skiboot wat van ’n sonsondergangvaart terugkeer. Iewers hoor ek kinders baljaar en ek ruik die kampterrein se braaivuur. 

Dis net adrenalien wat my die laaste entjie met die tweespoor langs terugdra tot waar ons die motors gelos het. 

Nes ek oor ons laaste waterkruising van die dag – ’n vlak syloop van die dam – wil tree, swiep ’n wolk swaweltjies oor ons koppe verby. 

“Stop!” keer Jester my. “Whoever should cross the Bridge of Death must answer this question: What is the air-speed velocity of an unladen swallow?” probeer hy met ’n aanhaling van die brugwagter uit ’n lawwe Monty Python-fliek my gemoed lig.

Maar dis nie meer nodig nie – met my voete vas op moederaarde het ek my humorsin weer terug: “Praat ons nou van ’n Afrikaanse of Europese swaeltjie?” 


Kennett se storie het aanvanklik in Weg #126 (April 2015) verskyn.