‘Ek’s seker dié roete het al menige stapper van sy stokperdjie laat afsien,” sê Wadda Louw peinsend op die eerste dag van die Arangieskopstaproete. Ons het nog net 5 km gestap en agter ons lê reeds drie, vier of vyf groot heuwels – ons het lankal ophou tel – en voor ons wag nóg. Robertson lê vergete in die verte en Arangieskop troon stil en betowerend bo ons uit.

Arangieskop in die Dassieshoek-natuurreservaat is deel van die Langeberg en sy hange het ’n ooraanbod van mooi natuurtonele: plate suikerbosse, groen woude, varings, kabbelende stroompies, duiselingwekkende rotshange, en ’n wind bo-op die berg wat hartseer huil.

Ek stap saam met Wadda, Charl de Wit, Roland Truter, Gerrit van Deventer en Francois Albertyn. Ons is minder dapper as die groepie in J.R.R. Tolkien se The Lord of the Rings, ’n boek waarna ons telkemale op die staptog verwys, wat Mordor toe gepiekel het om ’n ring in die Mount Doom-vulkaan te gooi.

Maar tog voel dit asof ons klompie ou skoolvriende uit die Kaapse voorstede ook met ’n epiese tog te make het, ’n vuurdoop van ons eie.

Dag 1: 10 km

Dis yskoud toe ons om 9 vm. op ’n Saterdag begin stap.

Ons het vroegoggend uit die Kaap gery en het steeds genoeg tyd om teen ’n gemaklike pas tot by die Arangieskop-oornaghut net onder die spits te stap – die 10 km behoort ons 5-8 uur te neem.

Die 2 km van die beginpunt by die Dassies-hoek 1-hut tot in die natuurreservaat is goeie oefening en ek skuif ’n waterbottel reg wat ongemaklik in my rib druk.

Ons steek ’n balkbrug oor en by ’n geel roetewyser takel ons die eerste bult teen ’n slakkegang. Skaars ’n kilometer verder roep die manne halt om van hulle baadjies ontslae te raak. Ek is dankbaar vir die koeler weer – dit moet ’n gesweet en ’n geswets op dié heuwels wees as die son brand.

Die suikerbosse langs die eerste deel van die roete toon nog skade van ’n veldbrand in 2017, maar die ander fynbosplante, blombosse en sewejaartjies wieg in die ysige bries.

Amper ’n uur nadat ons begin het, bereik ons ’n plato en die hut by die beginpunt verdwyn die eerste keer agter die horison.

Sommige berge is meer imposant as ander.

Arangieskop, met sy skuins hange en spykeragtige spitse, is ’n bielie van ’n berg en staan 1 698 m hoog. Die spits staan bekend as die Kaapse Kilimandjaro – nie juis oor sy hoogte bo seespieël nie, maar oor die skielike en steil 10 km lange klim tot by die kruin.

Die webtuiste Hiking South Africa gee die roete ’n 8 uit 10 op sy moeilikheidskaal. “As dié roete ’n 8 is, hoe lyk ’n 10?” vra Charl, sy oë op die spits. “Daar’s seker meer toue en harnasse betrokke…”

Die spits staan bekend as die Kaapse Kilimandjaro – nie juis oor sy hoogte bo seespieël nie, maar oor die skielike en steil 10 km lange klim tot by die kruin

Om ontbytplek op ’n staproete te soek is soos om ’n staanplek in ’n kampterrein te kies – elkeen het sy eie mening oor die beste plek om af te saal. “Daar’s ’n lekker plekkie,” roep Roland.

“Nee wag, eers oor daai bult!” protesteer die res. Ná skaars 3 km, net oor die platorand, gooi ons ons rugsakke neer en grawe die biltong en neute uit.

OOR BERGE EN DALE
OOR BERGE EN DALE. Die Arangieskopstaproete is uiteenlopend – die een oomblik suiker ’n mens oor oop grasvlaktes en die volgende klim jy met kettings tot onder in ’n ravyn met varings so groot soos ’n strandsambreel.

Ek voel skuldig om al effens voor halfpad asem te skep, maar die klim tot hier is niemand se speelmaat nie.

Soos die staplegende Mike Lundy oor Arangieskop gesê het: “It is neither for the faint of heart or the weak of limb.” Almal stem saam: Ons limbs verdien ’n eerste pouse.

Die rus doen ons goed, maar ons besef gou daar lê nog ’n stewige 7 km voor, en dit in die laatoggendson wat nou skuins agter Arangieskop brand en die maag van die spits in ’n onheilspellende skaduwee laat val.

’n Onverwagte skerp afdraande skaars vyf minute nadat ons weer aan die gang kom, vang my soos ’n onpeilbare vraag in ’n wiskunde-eindeksamenvraestel.

Die roete daal 700 m tot onder in Watervalkloof. Ons volg ’n gladde, klipperige paadjie en klim verder af met ’n leer en kettings tot by ’n stroompie en ’n rotspoel, maar die water is veels te koud vir swem.

Sonlig filter deur die groot varings en bome vol oumansbaard. Die koffiereuk van vrot hout en nat grond sit swaar in ons neusgate. Klippies knars onder my skoene. Dit klink asof die klank daarvan binne die blarekoepel rondbons.

Ons loop verby nog ’n paar rotspoele, klim uit die kloof uit en stap deur ’n grasveld wat relatief gelyk is en waar ons die eerste keer kan saam gesels oor alles en niks – soos ’n mens maak op ’n staptog.

Die meeste van die bulte het darem ’n aftrekplekkie met ’n uitsig en kort voor lank haal Wadda sy stofie uit en kook water. “Wat is ’n staptog sonder noedels?” sê hy skertsend. 

Die klok het duidelik gelui vir tweede pouse. Ek en Charl het Arangieskop die eerste keer in gr. 7 gestap en het vergeet hoe uitmergelend dit is. Twintig jaar later is ons terug – stadiger en met swakker knieë.

Van ons al fresco-restaurantjie af beur die roete links en dan regs die berg uit en mik dan reguit boontoe. Die laaste 2 km tot by die hut is die moeilikste deel en word met ’n pyl in wit verf op ’n rots aangedui. (Die roetemerkers is wit voetjies op die eerste dag en geel voetjies op die tweede dag.)

PAKDONKIE. Die oneindigende heuwels op dag 1 is uitdagend – moenie dit moeiliker maak met ’n sak vol onnodige toerusting en proviand nie.

Hier is ons nou: Mordor. Rotsformasies staan twee verdiepings hoog tussen die gras en tussendeur klouter jy handeviervoet boontoe op die paadjie. Nes die een opdraande eindig, begin die volgende. “Het iemand pynpille?” skree Roland van agter af. Ek kyk terug en kan hom nie eens sien nie.

Uiteindelik spoeg die paadjie ons in ’n oopte uit. Charl sê later hy het homself “beter leer ken” op dié stywe klim.

Van hier af stap jy op ’n gelyk pad hut toe. Vir die eerste keer sien ons Arangieskop se profiel. Die knoets lyk soos ’n reuse-haaitand. Die oornaghut lê versteek tussen die klippe.

Hier is ons nou: Mordor. Rotsformasies staan twee verdiepings hoog tussen die gras en tussendeur klouter jy handeviervoet boontoe op die paadjie

Teen 2 nm. gooi ek en Francois ons sakke neer en grou ’n welverdiende bier uit. Roland, Charl, Gerrit en Wadda suiker sowat ’n uur later by die hut in en doen dadelik dieselfde.

Dis ’n tipiese stappershut met ’n donkie vir warm water en ’n kaggel (met oorgenoeg hout) in die middel. Op die onderste verdieping is daar drie enkelbeddens in die leefvertrek, en bo is drie kamers met stapelbeddens. Die hut het genoeg slaapplek vir 23 mense, maar gelukkig is ons die enigste stappers.

Ek is verlig dat die roete nie vandag tot op die kruin loop nie… Al wat ek nou wil doen, is stort, die vuur aansteek, en op die grasperk lê en die Koovallei onder ons bewonder.

Dag 2: 11 km

‘N TAAI PAD AF
‘N TAAI PAD AF. Dié paadjie teen die Hoëpuntkloof af laat jou knieë swoeg, maar die natuurtonele is soos iets uit ’n J.R.R. Tolkien-boek.

Die tweede dag begin ook met ’n bult. “So, ons gaan wraggies tot heel bo,” grom Roland onderlangs. Ons dink almal dieselfde ding. Dis ’n klim van 2 km tot bo-op Arangieskop se spits.

Ek is redelik stapfiks, maar my bene is vanoggend tam en dit vat ’n rukkie om op dreef te kom. My rugsak is darem heelwat ligter nadat ons gisteraand rondom die vuur gekuier het…

Die roete loop links verby die hut met die Koovallei voor jou en Arangieskop aan jou regterkant. Net voor die kruin is daar ’n paar sementtrappies regs van die paadjie wat lei na ’n uitkykpunt by ’n skielike afgrond – en vir die eerste keer raak dit duidelik hoekom ons gister so gesukkel het: Ons het ’n berg geklim!

Teen dié tyd is jy en Arangies dik pêlle, maar dis ’n ander storie op die kruin, waar allerhande wetenskaplike toerusting die wind en weer meet. Dit was stil by die hut, maar hier bo loei die wind en pluk aan ons klere.

Ons neem ’n paar foto’s en maak dat ons van die spits afkom. Dis ongeveer 40 minute se stap van die hut af tot by die spits, iets om in ag te neem as jy die son oor die Koovallei wil sien opkom.

Die terrein is ru en ongelyk en ’n paar van ons verkies om eerder op ons bas oor die klippe te seil. Moenie dink af is makliker as op nie: Dit neem ’n uur of wat langer om tot onder te stap.

Arangieskopstaproete
Die oornaghut op die Arangieskopstaproete is net onder die Arangiesknoets, van waar stappers ’n eersteklassitplek het om die sonsondergang oor die Koovallei te waardeer.

Die Hoëpuntkloof sluk ons heel in en die skielike afdraande toets ons knieë en een of twee se sin vir humor. Voor ons strek die Langeberg tot op die horison. Ons moet deur die voue van die berg stap, en dit beteken baie afdraandes én baie heuwels.

Die fynbos van die eerste dag het nou plek gemaak vir woude, en die sterker stappers neem die voortou om takke en stompe uit die paadjie te verwyder.

Sowat 4 km van die spits af bereik ons ’n digte woud waar ons oor rotse so groot soos ’n Polo moet klouter. ’n Kaapse bosbontrokkie fluit van iewers uit die groen. Daar sit hy! “Foe foe-foe-foe,” roep hy weer.

Dieper en dieper stap ons in die Hoëpunt-kloof af tot ons ’n riller van ’n klim bereik. Die rotswand staan 3 m hoog en lyk asof dit nie einde het nie. Francois klouter eerste met die ketting wat vasgepen is aan die rotswand op en ek volg in sy spore. Dis nie te steil nie, maar ek maak seker ek het nie sonroom op my hande nie – hier wil ’n mens nie gly nie.

’n Groot deel van die roete terug verloop so: Af met ’n ravyn tot by ’n stroompie, dan weer op en uit by ’n ravyn.

In die verte blink die Dassieshoekdam uiteindelik, en langsaan staan ons motors, spikkels van belofte. Daar’s egter nog een bedrieglike afdraande wat voorlê anderkant suikerbosse en geelbosse. Ons bene is moeg en die geskerts van die eerste dag is iets van die verlede. Almal is tjoepstil... seker besig om hulleself te leer ken, soos Charl gister gesê het.

Ek kyk vir oulaas op na die spits van Arangieskop. Gister het ’n berg voor ons gelê, vandag is hy agter ons. Bly te kenne. 


Lus vir vakansie? Gebruik die Afrikaanse soekenjin www.wegreis.co.za om vliegkaartjiepryse vir binne- en buitelandse vlugte te vergelyk.
WEET VOOR JY WAAI

Hoe ver stap ek? Die sirkelroete is 21 km: 10 km op dag 1 en 11 km op dag 2.

Hoe kom ek daar? Volg die R60 uit Robertson in Ashton se rigting en draai links by die sirkel. Hou reguitaan in Johan de Jongh-rylaan – die pad raak Paddystraat en dan ’n grondpad. Die Dassieshoek 1-hut is aan jou linkerkant. Die pad is begaanbaar met ’n sedan. Dassieshoek 2 (nie meer in gebruik nie) lê ’n kilometer verder regs van die pad – as jy dit sien, het jy te ver gery.

Wanneer moet ek stap? In die somer kan dit baie warm raak en in die winter sneeu dit gereeld op die boonste dele van die roete, maar dan het jy ’n beter kans om die Arangieskophut vir jouself te hê.

In September en Oktober is die weer meer gematig en die roete op sy mooiste, want dan blom die fynbos.

Waar slaap ek die aand voor die stap? Dassieshoek 1 by die beginpunt het slaapplek vir 30 mense in 6 kamers en daar is 2 badkamers, maar die munisipaliteit het die aantal stappers op die roete tot 20 per dag beperk. Die hut het stapelbeddens, kragpunte, ’n braaiplek binne en buite, asook ’n yskas en stoof. Bring jou eie eetgerei, pot en hout.

Hoe gemaak met my motor? Parkeer jou motor by die Dassieshoek 1-hut. Moenie waardevolle goed in jou motor los nie, want hier was al inbrake.

Hoe fiks moet ek wees? Die terrein is uitdagend en jy moet redelik ervare wees. Die klim op die eerste dag het selfs die fiksstes onder ons laat sweet.

Water? Daar is stroompies langs die roete en water by die oornaghut. Bring twee liter water saam en maak jou bottel vol wanneer jy stap.

Koste: Die bewaringstarief is R63 p.p. Verblyf in die Dassieshoek 1-hut kos R203 p.p. en die Arangieskophut kos R132,50 p.p. Jy kan alles aanlyn reël en betaal – jy sal dan ’n e-pos met al die nodige inligting en ’n kaart ontvang.

Kontak: 023 616 8000; trailbookings@langeberg.gov.za