foto’s Cyril Klopper
Karoo- nasionale park
Karoo- nasionale park

Stel jou dit voor: Jy ry houtgerus deur ’n nasionale park op soek na wild. Dan, skielik, gewaar jy in jou truspieël ’n stofwolk, een wat besig is om jou in te haal. Jy trek jou oë op skrefies en sien ’n bakkie wat in die tweespoorpaadjie agter jou aan bokspring. Sy hoofligte flits angstig. Dan bars ’n tweede bakkie onverwags uit die bosse en versper die pad voor jou. Jy trap die rempedaal plat terwyl gewapende mans uit die bakkies peul. Dis in dié stadium dat jy’n skietgebedjie opstuur terwyl jy wonder presies hóé diep in die moeilikheid jy is.

Op die bakkies se deure pronk ’n koedoekop-embleem en jy slaak ’n sug van verligting. Gelukkig is dit Sanparke se beamptes en nie ’n spul transitorowers nie. Agt veldwagters in uniform, elkeen gewapen met ’n R1-masjiengeweer, omsingel jou. Jy wonder wat op aarde jy verkeerd gedoen het. “Toemaar, ek ken daai baard,” sê een van die manne terwyl hy na my toe beduie.

Die vuurwapens word oor die skouers gehaak en die veldwagter stap nader. “U het ons omtrent laat skrik,” sê hy en glimlag breed. Het júlle geskrik? Genugtig, wonder ek, kan hulle dan nie sien hoe bewe mý broek nie? Die rede vir die dramatiese optrede? Omdat ek in ’n verbode deel van die park rondgery het en vir ’n renosterstroper aangesien is.

Saad van die misverstand

Enkele dae tevore het ons saam met junior veldwagters by die Karoo- nasionale park opgedaag. Dit is ’n groep kinders wat welwillendheidswerk doen in nasionale parke en veldkursusse bywoon. Die kinders – én ’n paar grootmense wat ’n wakende oog moet hou – het in Grantham House, ’n gerestoureerde herehuis op die rand van die park, oornag. Dié huis word spesifiek gebruik om skoolgroepe te huisves en word nie bemark as ’n verblyfopsie vir die publiek nie.

Ons groep is smiddae deur veldwagters op uitstappies geneem, en dis een van dié veldwagters wat gelukkig “daai baard” herken het. Die veldwagters was met dieselfde R1-masjiengewere gewapen, want hier’s leeus in die park – 26 van hulle, om presies te wees. 

Dalk onthou jy vir Sylvester, die Houdini van die leeuwêreld, wat veeboere rondom die park ’n paar jaar gelede behoorlik op hol gehad het. Gelukkig het die veldwagters presies geweet waar die leeus loop en hulle het die kinders weg van die vleisvreters af die veld in geneem.

“Kyk dié spinnekopnes, kyk daai renostermis, hier is vars rooikatspoor,” fluister hulle vir die grootoog-jongelui. Die grootmense met viertrekvoertuie het vragte vol kinders op wildritte geneem op die park se 4x4-ekoroetes en saans het die junior veldwagters die braaivleisvure beman terwyl die grootmense bykosse maak.

Later, nadat die kinders bed toe gestuur is, sit ’n paar naguile om die kwynende kole en luister hoe leeus in die verte brul. Dis lekker om kinders te bederf, maar een oggend besluit ek om ’n blaaskans te neem van die jeugdiges.

Terwyl die groep by die Bulkraal-swembad baljaar, besluit ek om die park se splinternuwe Leeurivierspoort-4x4-roete te verken. Die personeel by die parkkantoor het beaam dat jy enige van die 4x4-ekoroetes in die park mag ry, behalwe die Pienaarspasroete waarvoor jy ’n ekstra permit nodig het.

Weens ’n misverstand het ek uit die woord “enige” afgelei dit sluit die nuwe Leeurivierspoort-4x4-roete in, maar die waarheid is dat die roete in daardie stadium nie vir die publiek oop was nie – en dis hier waar die moeilikheid begin het.

Hier is meer as 200 km se toeristepaaie in die park en dit gaan jou ’n paar dae neem om almal te ry. Die moeilikheidsgraad van die roetes wissel van ’n maklike graad 1 wat jy met ’n Chevy Spark kan baasraak tot ’n moeilike graad 3 wat jy met ’n standaard-Ford Everest kan tem.

Kom ons begin met die maklikste een.

LEKKER SOOS ’n POTJIE. Mateo Naga, ’n veld­wagter, dui ’n kat se spoor aan. Toemaar, dis ’n rooikat en nie ’n leeu s’n nie. Vier veldryvoer­tuie vol kinders verken die park se Potlekker­tjie-roete. Die park se stadigste landdier word deur die jongklomp “Speedy” gedoop. Ná die opgewonde kletsery raak die kinders stil en waardeer die prag van die natuur.

Potlekkertjie-sirkelroete en Klipspringerpas

Dié roete van 59 km duur sowat twee uur as jy stadig ry en net nou en dan stilhou om na die diere langs die pad te kyk – terloops, die spoedbeperking in die park is 40 km/h.

’n Deel van die padoppervlak is geteer – soos die Klipspringerpas – maar dis meestal vasgestampte gruis wat besoekers met ’n gewone sedanmotor in staat stel om iets van die park te sien. Die grootste attraksie op die roete is die verskeie uitkykpunte op die Klipspringerpas waar jy jou voertuig mag verlaat en foto’s van die vlaktes onder die platorand kan neem.

Wees wel bedag op leeus, want mense het hulle al hier teëgekom. Moenie al jou padkos in die ry opeet nie. Saal eerder af by die Doornhoek-piekniekplek. Hier kan jy rustig onder die koeltebome kuier en ’n vleisie braai. Daar’s ’n heining om die piekniekplek sodat Sylvester se maats nie vir jou én jou boerewors opvreet nie.

Die 4x4-ekoroetes

Buiten die Potlekkertjie-sirkelroete is hier ook sewe matige 4x4-roetes. Anders as wat Sanparke jou wil laat glo, het jy nie werklik ’n viertrekryding nodig nie, tensy dit onlangs gereën het.

In ’n tweewielaangedrewe bakkie met ’n lekker grondvryhoogte sal jy regkom – al wat dalk ’n probleem kan wees, is die walle van die droë rivierlope waaroor jy nou en dan moet ry. ’n Gewone sedanmotor gaan wel sukkel en waarskynlik vasval.

Om jou te help om by die roetes uit te kom kan jy ’n kaart by die parkkantoor kry of een van Sanparke se webblad aflaai. Dis egter taamlik maklik om die roetes te vind – jy ry bloot met die Potlekkertjie-sirkelroete tot jy die padpredikant raakloop wat die 4x4-ekoroetes aandui.

Die eerste roete heet die Afsaal-4x4-roete. Hy’s 13 km lank en duur sowat ’n uur as jy stilhou vir foto’s. Nes feitlik ál die park se paaie is dit ’n sirkelroete wat jy net antikloksgewys mag ry. Hier is ’n kothuis teenaan die pad waar jy kan oornag, maar bly liefs binne die omheinde erf omdat die leeus ook hier ronddwaal.

Die Afsaal-roete loop ongelukkig deur die lelikste deel van die park. Dis meestal dorre aarde wat lyk of dit oorbewei is én daar is kommerwekkende tekens van gronderosie. Dit lyk amper of die enkele rooihartbeeste wat hier in die stof skoffel, in ’n mislike bui is.

Die volgende roete is die 7 km lange Sandrivier-4x4-roete wat sowat ’n halfuur duur. Dit is beslis ’n trappie hoër as die Afsaal-roete, want hier is ’n watergat waar jy waarskynlik springbokkies en sebras sal sien suip. Hier en daar is ook tekens van droë moddergate met wielspore wat deur hulle loop – vandaar Sanparke se versoek dat jy met ’n viertekvoertuig ry.

Die Kookfontein-4x4-roete is óók 7 km lank, maar hy duur amper ’n uur. Dié roete loop verby ’n verlate klipkraal en jy ry telkens oor die droë loop van die Sandrivier. Nes al die ander roetes mag jy hom net in één rigting ry en boonop antikloksgewys, en dit veroorsaak dat jy dikwels dieselfde paadjies ry en herhaaldelik op die Nuweveld-sirkelroete beland.

Teen 51 km is die Nuweveld-4x4-roete die langste van al die 4x4-ekoroetes. Dit gaan jou minstens 3 uur neem om te voltooi, maar die aangrypende Karoovlakte en wye hemel sál jou beïndruk. Veldblomme breek deur klip terwyl skalkse wolke oor die voglose landskap dryf sonder om ’n enkele druppel water aan die aarde te skenk.

OP PATROLLIE. Die Nuweveld-4x4-roete vertak in verskeie korter sirkelroetes. Daar is steeds tekens van die plase wat oor die jare deur Sanparke gekoop is – tekens soos ou plaasdamme en klipkrale.

Die De Hoek-4x4-roete draai uit die Nuweveld-roete en vaar vir ’n kort entjie die berge in. Jy’t weer eens nie werklik ’n 4x4 nodig nie, maar jou voertuig moet lekker hoog bo die grond staan. Hoewel die roete slegs 13 km lank is, gaan hy jou vir omtrent 45 minute besig hou, selfs al stop jy nie een keer vir foto’s nie.

Jy gaan dié roete neem as jy slaapplek by die Embizweni-kothuis bespreek het. Die kothuis het slaapplek vir sewe en is ver van die hoofroete geleë sodat jy nooit deur verbygaande motoriste gepla sal word nie.

Laastens is daar die Klipplaatsfontein-4x4-roete. Dié is 23 km lank en loop eers oor die middelplato en daal dan al met die Klipplaatsfonteinrivier langs terug tot in die Nuweveldroete.

Dit is beslis ’n lekker pad om te ry, en soos jy seker kan raai, is hier dikwels meer diere te sien hoe verder jy van die gedruis van die kampplek af wegbeweeg. Volstruismannetjies sleep vlerk by hulle wyfies en die elande se spiere blink onder die son. Veral die koedoes is hondmak en jy moet omtrent die toeter blaas voor hulle sal padgee. 

Pienaarspas

Jy mag hierdie pas slegs ry nadat jy ’n permit by die ontvangskantoor gekry het. Die roete begin by die kampterrein en skop heel matig af – die eerste deel is selfs geplavei met plat klippe – maar by ’n rotspoel sowat 3,5 km ná die hek verander hy skielik in ’n nare ding.

Die los gruis op die skuinsste deel van die pas veroorsaak dat jou wiele tol, maar as jy onthou het om oor te skakel na laestrek en die ewenaarslot ingehaak het, sal jy sonder te veel moeite hier uitkom.

Sanparke gee nie amptelik moeilikheidsgraderings aan hulle roetes nie, maar die kampvuurstories vóór ons besoek aan die park het ons laat verstaan dis ’n graad 5-bielie. Die roete is egter eerder ’n moeilike graad 3 (amper-amper graad 4) wat ’n gewone voertuig sal uitdaag.

Groentjies in ’n sagte veldryer gaan beslis nie hier regkom nie, maar ervare hande soos die park se veldwagters spog dat hulle hom in tweewielaandrywing kan uitry – “met ons Hilux in Power Mode”.

Die ergste hindernis op dié roete is die loodregte afgrond langs ’n baie smal tweespoorpaadjie. As jy aan hoogtevrees ly, moet jy eerder verby hou. ’n Ander rede om te heroorweeg of jy die pas moet ry is die stewige permitprys van R280. Omdat die roete hoogstens ’n halfuur duur, weet ons wraggies nie of die kool die sous werd is nie.

Wat wel in die roete se guns tel, is die bergsebras en gemsbokke wat hier onder loodregte kranse wei. Omdat die kloof so smal is, kan jy die diere van naby beskou. Die roete eindig op die hoogste punt van die Potlekkertjie-sirkelroete op die middelplato bo die park.

Leeurivierspoort-4x4-roete

Net soos die antikloksgewyse sirkelroetes van die Karoo- nasionale park is ons uiteindelik terug by die plek waar die veldwagters my vasgevat het.

Met my besoek was hier geen padtekens op die roete nie en ook geen haan te kraai op die Tracks4Afrika-kaart op ons GPS nie. Trouens, die enigste wielspoor vóór myne was dié van ’n kruiptrekker wat die pad onlangs oopgestoot het.

Omdat daar geen padtekens is nie, én boonop ’n netwerk van antieke boerepaaie wat in alle rigtings lei (dit moet nog gesluit en die grond gerehabiliteer word) het ek sommer gou verdwaal en nie eens die helfte van die roete gery nie. 

Die goeie nuus is dat ek renosters hier gesien het, asook groot troppe gemsbokke en ander bokspesies wat oënskynlik in hierdie “geheime” deel van die park wegkruip. Die pad is waarskynlik nou oop vir die publiek, maar jy gaan hom steeds net met spesiale vergunning mag ry. Ons hoop om hom wéér eendag aan te durf, dié slag met toestemming, natuurlik.

UITHOEKE. Die westelike deel van die park was tot onlangs onbegaanbaar vir besoekers, maar die nuwe Leeuriviers­poort-4x4-roete gee jou deesdae toegang. Maak net doodseker jy het die nodige toestemming ontvang om hier te ry.

Nie so vinnig nie, Boeta

“Nou ja, dan kan ek seker maar ry?” vra ek bemoedig aan die veldwagter wat my herken het. “Nee, Meneer. Eers gaan ons u voertuig deursoek,” sê hy met ’n formele stemtoon. Die manne maak alles oop wat kan toemaak – selfs die vloermatjies word opgelig. Ek is dalk nie ’n renosterstroper nie, maar as hulle op ’n blommetjie, kopbeen of klip afkom wat ek as aandenking gegaps het, is ek in die sop.

Gelukkig is daar niks nie. ’n Derde bakkie hou stil op die toneel. Die bestuurder stel hom voor as die hoofveldwagter. Hy’s glad nie beïndruk nie, maar ons paaie skei uiteindelik met ’n klop op die skouer en ’n verleë glimlag aan my kant. Op die ou end is ’n mens dankbaar vir veldwagters wat toegewyd is om ons natuurerfenis te beskerm.

HIERMEE HET ONS GERY

Oryx 4x4 Rentals het ’n Toyota Hilux 2.4 GD-6 4x4-dubbelkajuitbakkie vir ons geleen. Ons voertuig se daktent is ’n paar dae tevore deur onbeholpe Franse toeriste afgebrand, maar omdat ons reeds slaapplek in die park gehad het, was die afwesige tent nie ’n probleem nie.

Die bakkie se vering is met 50 mm gelig en hy’s toegerus met BF Goodrich All-Terrain-bande asook ’n snorkel en ’n volledig toegeruste kappie. Andersins is hy redelik standaard en ons kan bevestig dat hy nooit ’n voet verkeerd gesit het nie.

Oryx 4x4 Rentals is in Kaapstad en behalwe dat hulle ’n vloot Hilux’e en Land Cruisers bedryf, bied hulle ook kort veldrykursusse aan vir groentjies voordat hulle op vakansie vertrek.  

Kontak 021 412 1542;  info@oryx4x4rentals.comoryx4x4rentals.com

EK WIL OOK GAAN!

Waar? Die Karoo-nasionale park lê langs Beaufort-Wes, omtrent halfpad tussen Bloemfontein en Kaapstad.

Voorraad Jy kan Beaufort-Wes uit sekere dele van die park sien. Jy hoef dus nie ’n week se proviand te berg nie, want daar’s ’n inkopiesentrum letterlik om die draai. Die parkkantoor het ook ’n winkel (oop van 7.30 vm. tot 8 nm.) waar jy onder meer aandenkings, melk, wyn en vuurmaakhout kan koop.

As jy besluit om elke dag dorp toe te ry moet jy let op jou spoed. Hier is heelwat strikkameras en die verkeersdepartement is nie skaam om boetes uit te skryf nie.

Verblyf Die kampterrein het 24 staanplekke, elk met elektrisiteit, ’n vullisdrom, braaiplek en krane. Skaduwee is nie volop nie – dis immers die Karoo – maar daar is wel ’n paar doringbome wat groot genoeg is sodat jy darem vir ’n deel van die dag in koelte kan staan. Van gras is daar weinig sprake. Sanparke se webblad wys lowergroen grasperke, maar met ons besoek was daar niks nie.

Die staanplekke is wel gelyk, skoon en gehark wanneer jy daar aankom.

Die ablusiegeriewe het wasmasjiene en tuimeldroërs. As jy eerder onder dak wil slaap, is hier 8 nuevo-Kaaps-Hollandse gesinswonings (’n moderne interpretasie van die tradisionele boustyl) met twee slaapkamers elk.

Hier is ook 19 selfsorgchalets met twee enkelbeddens en ’n bank wat in ’n dubbelbed omskep is, en 10 selfsorgchalets met slaapplek vir twee gaste.

Die parkkantoor het ’n besoekersentrum waar jy meer oor die park se geskiedenis kan uitvis, en daar is ook ’n gelisensieerde restaurant (oop van 7 vm. tot 10 vm. en 6 nm. tot 9 nm.) vir wanneer die braaier en die bykoskok ’n slag deur iemand anders bederf wil word