foto’s Evan Naudé

Die woude van die Tuinroete- nasionale park is nie net van die oudste en mooiste parke in die land nie, maar ook ryk aan legendes, mites en verhale van bosbouers en mynwerkers wat toentertyd in ’n stryd met olifante gewikkel was om oorlewing.

Vandag is die woude ’n beskermde gebied en een van die gewildste vakansiebestemmings in die land, maar bittermin daarvan kan jy in ’n 4x4 verken. Gelukkig stel Wildernis se Ereveldwagtersvereniging een keer per jaar – in Oktober – drie eksklusiewe 4x4-roetes vir die publiek oop vir ’n 4x4-gesinsdag.

Die saamtrek word oor twee dae gehou, vanjaar die naweek van 6 en 7 Oktober, en jy kan een roete per dag voltooi. Die wegspringpunt is die Wildernis Common-park in Watersidestraat waar ’n 4x4-ekspo dieselfde naweek te sien sal wees.

Jy ontmoet jou gids hier, en as julle klaar gery het, is daar ’n gelukstrekking met pryse soos koopbewyse, kamp- en 4x4-toerusting en verblyf in Sanparke se oorde wat op die spel is. 

Die Windmeulnekroete neem jou verby Hoekwil, die Woodville-grootboom en oor drie van die passe op die Sewepassepad – Hoogtekraal, Karatara en Homtini. Meer as 70 jaar lank, totdat die N2 in 1952 gebou is, was hierdie die hoofpad tussen George en Knysna. Van hier af klim die roete berg-op verby die bosboustasie Karatara tot by Corneliuskop, ’n hoë uitkykpunt met lieflike uitsigte oor die Outeniqua-, Kammanassie- en die Swartberg in die noorde en Sedgefield in die suide.

Voor jou geestesoog maak jy vir Oupoot, die olifant, tussen die bome uit, en diep in die woud, verbeel jy jou, hoor jy Saul Barnard se byl kap.

Van Corneliuskop af loop die roete verder noordwaarts tot by Windmeulnek, een van die stappershutte op die Outeniqua-staproete. Hier kry jy kans om bene te rek voor die roete jou met ’n suidoostelike draai verby die Platboshut lei en uiteindelik weer by die Sewepassepad aansluit en jou terug Wildernis toe vat.

Die Jubilee Creek-roete begin ook met die Sewepassepad verby Hoekwil en die Woordville-grootboom tot op Karatara, maar hou oos verby die bosboustasie en oor die Homtinirivier tot op Rheenendal. Hier draai jy noord na Diepwalle, een van die pragtigste dele van die Knysnawoud.

Die roete loop verby die Dalene Matthee-gedenksteen, en dis die moeite werd om vir ’n oomblik hier stil te hou en die omgewing te waardeer waarin haar bekende boeke afspeel. Voor jou geestesoog maak jy vir Oupoot, die olifant, tussen die bome uit, en diep in die woud, verbeel jy jou, hoor jy Saul Barnard se byl kap.

OUWOUDSTORIES. As jy vir Fiela Komoetie raakloop, bied haar ’n geleentheid aan dorp toe, want hier diep in die woud voel dit asof jy oneindig ver van die lewe in die stad is.

Die roete maak uiteindelik ook ’n draai by Millwood waar die meeste van die goudmynbedrywighede in die laat negentiende eeu plaasgevind het. Die Voortrekkerroete loop noordwaarts verby die Bergplaas-bosboustasie, oor die Outeniquaberg tot by die R62 tussen Uniondale en Oudtshoorn.

Hierdie geskiedkundige ossewaroete dateer uit 1770 en kan gewoonlik net van noord na suid gery word (jy begin dan by die Louvain-gasteplaas – sien Weg Ry & Sleep #9). Van die R62 af volg jy die ou Montagupas terug tot op Wildernis.

RONDOM DIE ROETE

4x4, laestrek, ewenaarslot? Jy sal regkom in enige 4x4-bakkie of sagte veldryer wat lekker hoog bo die grond staan. Laestrek en ’n ewenaarslot is nie nodig nie.

Maksimum aantal voertuie 6 vir Windmeulnek, 15 vir die Voortrekkerroete en 20 vir Jubilee Creek.

Kry ek ’n kaart? Ja.

Sal my voertuig krap? Nee, die roete is mooi oop.

Moet ek ’n kompressor saamneem? Dit is nie nodig nie.

Kan ons langs die pad braai? Beslis nie; dis ’n bewarea en jy mag ook nie op die roete rook nie.

Kan ek halfpad omdraai? Ja.

Sal ek wild sien? Wees op die uitkyk vir bosbokke, blouape, ystervarke en luiperds. Dis in dié gebiede waar tekens van Knysna-olifante gevind is – dalk kry jy een te sien!

Is daar selfoonsein? Hier en daar langs die pad.