Foto's: Toast Coetzer

"Marnitz is maar niks!” skerts Anél Malan nadat sy my verwelkom op dié Bosveldplekkie.

Jare gelede, toe sy nog in Pretoria gebly en by Eskom gewerk het, was sy een slag hier vir werk. “Ek het gedink: ‘Wie is so stupid om hier te wil bly?’” vertel sy en lag weer. “Min wetend dat die liefde my eendag hierheen sou lei.” Haar man, Henk, het hier naby, op die ewe klein Tolwe, grootgeword, en deesdae woon hulle en hulle kinders, Tersmari (16) en Stefanus (14), op die plaas Kildare buite Marnitz. Ek het gisteraand in een van die kothuise op hulle plaas geslaap.

Hulle plaaswerf kort net drie diere vir ’n vol ark. Hondgewys is hier Trixie, Tokkelos, Katryn en Karnuffel. Varkgewys Peaches en Frieda. Dan is daar ’n paar rooibokke, Azar, die perd, en Carolus, die gebande muishond.

Anél wys my waar hulle nuwe padstal langs die N11 – wat die Groblersbrug-grenspos met die N1 by Mokopane verbind – in aanbou is.

Vir nou staan die ou padstal nog waar jy enigiets van tabak, skeermeslemmetjies en ’n blikkie sardiens tot draairoomys, koeksisters en biltong kan koop.

Hier stop hoeka nou ’n man. Dis Giel Möller van Polokwane. Hy werk vir Montego Pet Nutrition en ry elke nou en dan ’n Bosveldse draai na Baltimore, Tom Burke en Tolwe om na sy handelaarsnetwerk om te sien.

Dis rofweg ook my plan, hoewel ek nie met hondekos in die kattebak rondtoer nie. Nee, dáár lê ’n sakkie avokado’s wat ek tussen Bela-Bela en Modimolle gekoop het, ’n bietjie inkopies (twee dae gelede se Rapport, piesangs, Salticrax) by die Bela Mall en ’n pak hoendertertjies van die tuisnywerheid by Agri Deli in die einste mall. Dis my padkos vir die volgende paar dae wanneer ek die Koedoesrand – ’n versamelnaam vir hierdie geweste – verken.

Anél Malan met Frieda, die Europese bosvark, op haar en haar man, Henk, se plaas, Kildare, naby Marnitz.

Tyd vir afdraai

Ná my kuier by Anél-hulle groet ek en vat die agterpad na Swartwater. Dis afgesonderde wêreld dié. Die naaste groot dorpe is Mokopane (destyds Potgietersrus), Lephalale (Ellisras) en Louis Trichardt.

Groot dorpe – en veral Pretoria en Gauteng – word deur sommige mense hier grappenderwys die “Voorwêreld” genoem. Jy gaan byvoorbeeld as jong man ’n bietjie Voorwêreld toe as jy onder meer vrou soek.

Henk het gisteraand vertel hy onthou hoe ’n seuntjie uit Koedoesrand summier begin hakkel het toe hy die eerste keer al die vreemde kinders by die skool in een van die groot dorpe sien. Dit het dié kind byna drie jaar gevat om die hakkel af te skud...

Dit is vroeg April en veronderstel om al herfs te begin word, maar die veld hier is pure laatsomer: óral groen. Dis dikwels droog hier, met ’n gemiddelde reënval van sowat 300-350 mm, en vanjaar het hier nog nie baie geval nie. En die ondergrondse water, het Henk vertel, is aan ’t opraak.

Tog sing die veld soos die pad verbyratel onder die Corolla se wiele. ’n Agttal muisvoël-skaduwees seil oor die pad en verdwyn in die slap driehoekdorings. Kwevoël grys en swaar, troupant se blou en pienk, drie tarentale met twyfel in hulle gemoed.

Mopanies, witgatbome, maroelas, hardekole, knoppiesdorings. Sakkie van Zyl se plaas na regs, Tynemouth. Dit lyk asof hy met brahmane boer.

Twee duikers dans oor die pad, en dan bereik ek ’n T-aansluiting waar ek links draai. Hier is nou wildplase, Mooikloof en Doornrand. ’n Swartwitpensbul verskyn skielik na regs, sy twee horings gespan soos krom visstokke.

Dan val die wildheining weg en ’n land vol sorghum staan op linkerhand.

Kort voor lank ry ek Swartwater sonder seremonie binne. Swartwater is groter as Marnitz, maar dis net omdat hulle als ver uitmekaar gebou het. Ek sien die Buffelsdrift-kafee-en-drankwinkel, die torings van twee kerke – die NG en Hervormd.

Langs die Limpoporivier by Kokomori Birder’s Lodge

Maar dis by die NTB-koöperasie waar ek stilhou. “Dit staan vir Noord-Transvaal Boere,” verduidelik die eienaar, Joep Maree, “al bestaan nie een van die twee meer nie – nie die Noord-Transvaal nie en ook nie die boere nie!”

Ek is hier om toestemming te vra by Joep om na die Swartwater-kremetart op sy plaas – enkele kilometer buite die dorp – te gaan kyk.

Eers loer ek in die groot winkel rond. Sou die apokalips dreig, is die NTB in Swartwater ’n goeie plek om kamp op te slaan. Jy kan énigiets koop: olywe, blatjang, ’n trekkerwiel, gerookte kaaswors, Ghost Pops, krane, ’n potjie, kampstoele, ski-tou, grawe, byle, reënmeters, ’n grassnyer, toiletsitplek, matras, dikwielfietse, waterstewels...

Hier’s ook ’n drankwinkel, kitsbank, kunsmisdepot, veemedisyne, boumateriaal en kartondoosfabriek op die dorp – die boere koop hier dose om hulle tamaties, groen soetrissies en ander groente te verpak.

Joep is gebore op Swartwater. Sy pa het in 1924 hier begin skoolgee – blykbaar het jy ’n soort “danger pay” gekry as jy bereid was om in malariastreke te kom werk.

Joep se pa het al die pad van Riebeek-Kasteel in die Kaap na Swartwater gekom om sy “koorstoelaag” te kom verdien.

Toe sy pa in 1992 oorlede is, het Joep se kop weer Swartwater toe begin staan ná draaie in Pretoria. Die destydse NTK (Noord-Transvaalse koöperasie) se Swartwater-tak het op tender gekom en hy het dit gekry. Vandag is NTB onafhanklik, en die winkel bedien boere in ’n radius van 30 km. Behalwe vir die vee- en wildboere word hier besproei uit die Limpoporivier en als van tabak tot aartappels, uie en botterskorsies word verbou.

Anita du Plessis, wat by NTB werk, ry saam na die kremetart. Sy en haar man is van Zimbabwe, maar is al amper 20 jaar in Swartwater. “As jy eers hier wortels neersit, wil jy nêrens anders bly nie,” sê sy.

Dís iets wat ’n mens dikwels op klein plekkies hoor. Ek het die sentiment nog nooit as vals ervaar nie. Miskien is dit omdat ek ook van ’n klein dorpie af kom en, al woon ek self deesdae in ’n stad, weet ek dat g’n mens werklik ’n stad nodig het nie. Ek kan dus verstaan dat jy op ’n plek soos Swartwater ingeburger kan raak en nooit weer wil trek nie.

Ek dink dit het te doen met hoe na aan die grond (nie teerstrate of sementsypaadjies nie) jy op die platteland leef. Jy is heeldag in aanraking daarmee. Jy klim uit jou kar en jy’s op die grond. Jy stap by jou werksplek uit en die aarde ontmoet jou voete.

Ons stap om die boom asof dit ’n skouhuis is. Jy sal maklik twee slaapkamers in die stam kan bou, met en suite-badkamers. Dis te groot om foto’s van te neem, besef ek. Dis beter om net daarna te kyk. Dit staan hier soos ’n piramide, iets uit ’n ander tyd, dalk 2000 jaar oud.

Die kremetart het ook wortels hier neergesit – en gaan vir eers nêrens heen nie.

TWEESLAAPKAMER-KREMETART. Die Swartwater-kremetart verdwerg enige mensgemaakte ding – jy kan maar net staan en kyk.

Iemand se droom

Nadat ek vir Anita by NTB afgelaai het, ry ek na ’n gholfbaan. Reg gelees! Sowat 16 km buite Swartwater is ’n negeputjiegholfbaan genaamd Sesambos, reg op die oewer van die Limpoporivier.

Hennie du Plessis het altyd gehou van gholf, en hy en sy drie seuns (een van hulle, Klein-Hennie, is ’n professionele gholfspeler op die Sonskyntoer) moes Lephalale toe ry om te speel.

“Ek was lus om my eie baan te bou,” vertel hy in die skadu van ’n njalaboom langs die klubhuis. “Ons het in 2008 begin bou en in 2010 was ons klaar. Nou het ons 70 lede – party is van Pretoria, maar die meeste is boere wat begin gholf speel het toe ons die baan gebou het.” Langs ons loop die Limpoporivier in vloed. “Dit het laasweek begin loop, gelukkig. Ek het nog net ’n maand se water oorgehad,” sê Hennie.

Die meeste boere langs die rivier het stuwalle om water op te gaar. Hieruit (en onder die grond uit) word dan besproei gedurende die droë maande van die jaar.

Hennie het net ná sy diensplig in 1987 begin boer, aanvanklik met lugdroogtabak, maar nou ook uie, aartappels en pampoen.

Ons spring in ’n gholfkarretjie en ry deur die baan na die Bosbokkamp. Hier kan jy bly in safaritente of chalets met die Limpopo voor jou. Hennie wys na ’n uitgetrapte deel van die oewer. Dit was ’n honderd jaar gelede die plek waar groot troppe diere, veral blouwildebeeste, kom suip het. Elders stop ons by wat oor is van ’n hardekool naby een setperk, en ek neem vir Hennie af langs ’n sesambos waarna sy baan genoem is.

Hennie du Plessis van die Sesambos-gholfbaan poseer langs ’n sesambos wat die plek sy naam gee. Sesambos is net buite Swartwater en op die oewer van die Limpoporivier.

Die Bosveld se bome is een van die redes waarom ek altyd wil terugkeer. Die warmer klimaat, goeie grond en net-net genoeg reën sorg dat bome hier groter groei as elders, veral op die rivieroewers. Dis ’n voorreg om tussen hulle te wees, of jy nou in die ruveld staan met ’n drie-yster of nie.

Die oumense se stories

Die pioniersjare in hierdie uithoek van die Bosveld was ánders. Ek sit om die kombuistafel saam met Dian Geerkens en sy ma, Alma. Dian staan aan die stuur van die Kokomori Birder’s Lodge waar ek vanaand slaap. Ons kyk deur ou foto’s van Alma se nou oorlede man, Kadie. (Tannie Alma woon deesdae op Mokopane, en was toevallig op kuier.)

Die Geerkense het in 1927 uit Nederland Suid-Afrika toe gekom en in die sogenaamde Wit Vinger in die Limburg-omgewing – ’n stuk grond omring deur latere tuislande tussen Potgietersrus en Steilloop – grond gekry en daar geboer met als van grondbone tot sitrus.

Toe Alma en Kadie Geerkens in 1964 getroud is, trek hulle na die plaas Klipbokspruit naby Tom Burke, waar ons nou sit. Tabak geboer, ook katoen, grondboontjies, soms mielies.

Die Geerkens-familie op die plaas Klipbokfontein naby Tom Burke. Hulle is van links Kadie, sy ouma Alma, Dian, Minda en Danie. Hulle lushof van ’n tuin spog met 57 inheemse boomspesies. Hierdie een is ’n papierbasboom.

In daardie jare was dit ’n nuwe landbougebied wat begin ontwikkel het saam met die tegnologie – as jy water uit die rivier kon pomp, kon jy besproei en plant, veral tabak.

Dian vertel van een só ’n pionier, Org Snyman. Hy het as jong man in die 1920’s van Modimolle (Nylstroom) gestáp om hier ’n plaas te koop – dis meer as 200 km! Hy moes geld leen uit die “weduweefonds” by die tabak-koöperasie, maar uiteindelik koop hy die plaas Mowbray en word ’n gesiene boer.

“Kyk hier,” Dian skuif ’n foto na my toe, “hier’s Theuns, oom Org se seun, met ’n rooibokram vasgebind op sy fiets. Hy’t gaan jag en toe sommer die bok huis toe gery met sy fiets.”

Daardie jare het ’n magdom blouwildebeeste vry hier rondgeloop. Theuns, toe hy nog geleef het, het blykbaar vertel hoe hy soms in die veld ’n dreuning sou hoor naderkom. Hy het dan dadelik agter ’n dik boomstam skuiling gesoek om uit die pad te kom van die wildebeeste wat verbydawer.

Wild was Koedoesrand nog altyd. “Ou maat,” sê tannie Alma, “as die seekoeie in die koring kom, het hulle ’n pad oopgevreet. En as jy saans so lig in die veld en lande dan lyk dit soos ’n dorp se liggies van al die rooibok- en bosbokogies.”

Swartwater se skool was verlede jaar 100 jaar oud. Dis nou bekend as die Laerskool Unitas en het sowat 100 leerlinge, maar in die ou dae was hier meer as 400 kinders. Van dié kinders wat ’n ent uit die dorp gebly het, moes óf skool toe stap óf perd of donkie ry. Einste Theuns het al van gr. 1 af die 13 km van Mowbray na die laerskool toe gestap. Een oggend het ’n seun glo grootoog by die skool kom aanmeld met die nuus dat leeus sy donkie onder hom uitgevang het!

Kwas en Snoepie

Ná ’n goeie nagrus ry ek eers Tom Burke toe (hier’s ’n koöperasie, brandstofpomp, ’n polisiestasie – en ’n enorme sonplaas wat jy sou kon sien as jy ’n kraai was) en draai dan in die rigting van die Groblersbrug-grenspos.

Daar, tussen die groot vragmotors, draai ek regs en volg ’n pad wat skuinsweg terugloop in die rigting van Swartwater.

Hier iewers is ’n krokodilplaas, maar wanneer ek die eienaars in die hande kry, hoor ek hulle is stad toe.

Ek het gister vir Kwas van Vuuren by die NTB in Swartwater ontmoet, en hy het my summier genooi om te kom kyk na sy plaas, Tulbach. Dié is ook langs hierdie pad, en ek draai in wanneer ek die bord sien.

Kwas van Vuuren in ’n mielieland op die plaas Tulbach tussen Swartwater en Groblersbrug. Kwas se oupa het in 1909 van Potchefstroom af hierheen getrek. Daar is lank met beeste geboer, maar mielies en groentegewasse kry deesdae voorkeur.

Wanneer ek vir Kwas en sy jack russell, Snoepie, opspoor, moet ek natuurlik eers oor sy naam vra.

Kwas lag. “Toe ek op laerskool was op Swartwater, het ons iets opgevoer. En ék was ’n kwas! Ek moes al die ‘blare’ op die verhoog ‘verf’!”

Ek spring agterop sy bakkie – Snoepie lê in die vou van Kwas se uit-die-venster-arm – en ons ry af Limpoporivier toe. Hier het Kwas ’n jagkamp waar hulle met vriende kom uitspan.

Hier’s ’n stuwal waarvan van die water in ’n soort “swembad” invloei sodat hulle in die somer kan afkoel.

Toe hulle klein was, het hulle sommer in die rivier geswem. “Iemand moes eers net so drie skote met die .303 skiet om die krokodille weg te jaag,” onthou Kwas.

My tyd in Koedoesrand is te kort: Ek moet terug Voorwêreld toe om in ’n vliegtuig te klim. Volgende keer gaan ek die krokodilplaas besoek, swem by Kwas se stuwal (nadat iemand die krokodille skrikgemaak het...) en Tolwe se kant toe ry.

“Die Bosveld is ’n gogga wat jou byt,” het tannie Alma gister by die kombuistafel vertel, vol heimwee vir die Bosveld wat sy mis noudat sy in Mokopane bly. “En as hy vir jou eers gebyt het, dan wil jy nie weggaan nie. Dit kom in jou bloed in.”

Sy het ook iets anders gesê, wat nou eers vir my sin maak.

“Ek mis die stilte én die mense. Veral die gemoedelikheid van die gemeenskap wat jy rondom jou aanvoel in plekke soos hierdie. Ek onthou, by ’n kerkbasaar, hoe die ou mense van daai jare jou baba sou vat om na hom te kyk.”

Ja, jy kan stilte mis, én mensestemme. Dit is dalk omdat die stilte hier vol voëlgesang is, en omdat Koedoesrand se mense nog méns is. 


Blyplekke

Hier is van boskampe tot luukse lodges in die Koedoesrand-omgewing. Selfoonontvangs is maar wispelturig – stuur ’n WhatsApp as jy sukkel om mense in die hande te kry.

Baobab’s Farm Cottages & Baobab’s Bushveld Rest

Baobab’s Farm Cottages

Baobab’s Bushveld Rest se eenhede is op Marnitz reg langs die N11, en die Baobab’s Farm Cottages is op ’n plaas sowat 7,5 km noord.

Selfsorg: R620 p.n. vir 2 mense wat deel, daarna R220 p.p. ekstra. Doen navraag indien jy maaltye wil hê.

Troeteldiere welkom slegs by die Farm Cottages.

Kontak 082 708 1928 (Anél); 082 851 2151 (Henk); anel.malan@worldonline.co.za; baobabaccommodation.co.za

Kokomori Birder's Lodge

Ja, jy gaan lekker voëls kyk hier! Die selfsorgkliphuise (R300 p.p.p.n.) is tussen groot bome langs die Limpoporivier en hier’s ook ’n private boskamp ’n ent weg as jy ’n voetjie nader aan die natuur wil kuier (R350 per voertuig p.n.; geen elektrisiteit).

Troeteldiere toelaatbaar, maar op eie risiko – hier’s krokodille. Kokomori is 13,6 km van Tom Burke af – jy draai af van die R572 in die rigting van Ga-Seleka. (Die pryse op hulle webwerf is verouderd.)

Kontak 082 962 8588 (Minda); kokomori@mweb.co.za, kokomori.co.za

Sesambos-gholfbaan

Verblyf in die Bosbokkamp kos R200 p.p.p.n. in safaritente en R250 p.p.p.n. in selfsorgchalets.

Maaltye beskikbaar by die klubhuis se restaurant – jy kan ook net inry en iets kom eet (gesluit op Maandae en Dinsdae). Gholfspelers kan kom speel teen R200 vir 18 putjies en R120 vir 9. Sesambos is 13 km buite Swartwater.

Kontak 083 520 5302 (Charles); sesambos.co.za; sesambosgholf@gmail.com

Moriti Bush Camp

Die boskamp is op die oewer van die Limpopo, skaars 3,5 km van die Groblersbrug-grenspos af.

Hier’s plek vir tot 8 mense, en jy bespreek die kamp eksklusief. Netjiese ablusie- en kombuisgebou (met elektrisiteit).

Dit kos R550 p.n. vir tot 2 mense; R250 p.p.p.n. vir 3-8 mense. Gratis vir kinders jonger as 12. Geen troeteldiere. Gesluit van 1 November tot 31 Maart.

Kontak 079 515 6357 (Adele); moriticamp.co.za

Klippan River Lodge

Hier is sewe dubbelkamers teen R750 p.n. Hier is ’n kroeg, sitkamer om TV te kyk, kuierplek en gemeenskaplike kombuis. Vra vooraf as jy ys, hout en braaipakke (R150 elk) wil hê. Dis net 1 km stroomaf van die Groblersbrug-grenspos. Geen troeteldiere.

Kontak 082 499 4120 (Norma), 072 612 1193 (Melanie); klippanlodge.co.za

The Big Fig Inn

Dis reg langs die N11 tussen Tom Burke en die Groblersbrug-grenspos – geskik vir oornag op pad na Botswana.

Kamp (met elektrisiteit): R150 p.p.p.n. En suite-dubbelkamers: Vanaf R850 p.n., selfsorg. Hier is ’n restaurant. Troeteldiere moet vooraf goedgekeur word.

Kontak 078 648 1671 (Romeo); bigfig.wordpress.com

Buffalo Thorn Safaris

Een van die eenhede is omhein en dus troeteldiervriendelik (die ander is naby watergate en dus nie geskik vir troeteldiere nie).

Dié eenheid kos R300 p.p.p.n. en ander verblyf kos vanaf R450 p.p.p.n., selfsorg (restaurant vir oggend- en aandetes). Hulle is 11 km van Marnitz af: Volg die N11 in die rigting van Tom Burke en draai dan op ’n grondpad in die rigting van Swartwater.

Kontak 082 852 9354 (Mari); buffalothornsafaris.com

Palala Boutique Game Lodge & Spa

Jy hoef nie vol stof uit die Bosveld te strompel nie. Kom pamperlang als wat pamperlang kort, by die luukse Palala se spa. Hulle bied ook visvang, wildritte, riviervaarte en begeleide stappe. Bed en ontbyt kos vanaf R1 800 p.n. vir 2 mense. Jy kan ook bloot ’n maaltyd bespreek en kom kyk hoe dit lyk.

Volg die R572 van Tom Burke in die rigting van Ga-Seleka en kyk uit vir die Palala Game Farm- (Melbourne) afdraaibord. Die lodge is 21 km van Tom Burke af. Troeteldiere net met toestemming.

 

Kontak 079 885 1273; palalaboutiquegamelodge.co.za

Trou hier

Bordeaux Game Farm

Hierdie is ’n gewilde trouvenue, maar jy kan ook hier oornag op pad Botswana toe. Dis langs die N11, sowat 5 km van Marnitz af in die rigting van Tom Burke.

Dit kos R450 p.p.p.n. selfsorg (reël vooraf vir etes). Geen troeteldiere.

Kontak 071 868 0819 (Louise); bordeauxgamefarm.co.za