WONDERLAND 45

Vis vir ’n vale

’n Mens hoor nie dikwels van ’n kampplek waar al die staanplekke rondom ’n hengeldam uitgelê word nie. Dit beteken ’n ieder en elk van die kampeerders het sy stukkie oewer waar jy kan lyn natmaak. Maar hier by Wonderland 45, ’n hanetree buite Pretoria, word jy nie net só bederf nie; hier kan jy rondstap en tussen vyf damme kies – almal naby mekaar.

Wat die kampplek vir hengelaars nóg unieker maak, is die verskeidenheid varswatervis wat jy kan vang. Jy kyk na swartbaars, baber, kurper en karp en, glo dit of nie, ook forel.

Wanneer laas het jy soveel uiteenlopende vis by een oord teëgekom? Dis behoorlik die varswaterviswêreld se eie Groot Vyf op een erf. (Terloops, die “45” in die naam verwys na die kleinhoewenommer.)

Wanneer jy die kampplek binnery, is die badkamers direk voor jou, met die eerste ry van nege staanplekke links langs die eerste dam – 110 m lank, 15 m breed en 3 m diep – waar jy kurper en forel kan uittrek. (Al die staanplekke in die oord het ’n eie braaiplek met ’n rooster, kragpunt, kraan en lig.)

Voor die badkamers is ’n vierkantige dam, die sesde een in die oord, maar hier word visvang nie toegelaat nie. Dit is ook net 1 m diep en speelplek vir die jong klomp as hulle begin tone tel op die staanplek. Die ander speelplek – ’n parkie – is langs die eerste dam en het onder meer ’n ronde opslaanswembad en ’n paar swaaie. Hier is selfs ’n paar plaasdiere wat jy oor naweke en op vakansiedae kan help kosgee. Dit sluit in bokke, skape, emoes, hoenders, hase en donkies.

Hiernaas is drie staanplekke, geleë langs die volgende dam, wat byna rond is (42 m breed, 34 m lank en 8 m diep) en forel, karp en kurper het. Die volgende dam lê in die lengte voor die eerste, met vyf staanplekke nader aan die verste punt. Hierdie dam, met forel en kurper, is uitsluitlik vir die vlieghengelaars (slegs in die winter) en is 35 x 80 m groot en 6 m diep.

Die laaste twee damme lê ook in die lengte naas die vlieghengeldam, met agt staanplekke netjies in ’n ry tussen die twee. Die een die verste van die hek af is 150 m lank, 60 m breed en die diepste van almal: 10 m. Hier kry jy al die vis in die oord behalwe forel. Die dam langsaan is byna net so lank (130 m) maar is eerder opgedamde water van die Boschkoprivier wat ’n kilometer stroomop ontspring. Dié dam is 25 m breed en 3 m diep en het karp, baber en swartbaars.

Vir al die visse geld die vang-en-laat-gaan-reël, maar as die vis seergekry het, moet jy hom vat, en afhangend van watter vis dit is, daarvoor betaal. Die kurpers is wel die uitsondering op dié reël: Hulle mag jy huis toe neem en per kilogram daarvoor betaal. Dieselfde geld ook vir die forel wat jy met aas vang. Maar as jy een met die vlieghengelmetode vang, kan jy hom weer laat gaan.

Kortliks | Wonderland 45

Vis: swartbaars, kurper, karp, baber en forel.

Kampplek: 25 staanplekke op gras langs verskeie damme. Hier is nie veel koelte nie.

Staanplek: nr. 1-11 en nr. 20 is groot genoeg vir woonwaens en ryhuise.

Ablusiegeriewe: 1 badkamergebou digby die ingang van die oord.

Prys: R130 p.p.p.d. (R65 vir hoër- en R35 vir laerskoolkinders; gratis vir die kleintjies) plus R95 p.n. vir die staanplek. Tot 6 mense per staanplek word toegelaat, behalwe op staanplek nr. 20 – dié het plek vir 12 mense.

Aankoms- en vertrektyd: 07:00 en 10:00.

Kontak:  081 878 5891;  wonderland45.co.za;  admin@wonderland45.co.za

Naaste dorp: Pretoria 20 km (van die Lynnwoodweg- en Solomon Mahlanguweg-kruising)

Hoe lyk die pad? Die laaste 1,5 km is ’n skaflike grondpad.

GPS: S25.875171 E28.492105

Ry & Sleep sê
Die hengel vir forel en kurpers is seisoensgebonde: April tot die einde Oktober vir forel, en November tot April vir kurper.

VARS VIS OOR DIE KOLE

Vispakkie

Vóór jy kan sê vis-oor-die-kole, kan jy weglê aan dié happie vis. Makliker kry jy skaars.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 1 groot heel vis soos kabeljou, koningklip of geelstert, gevlek
  • 1 suurlemoen, in skyfies gesny
  • 2 lemmetjies, in skyfies gesny
  • 2 eetlepels botter
  • ’n goeie hand vol vars kruietakkies soos dille, vinkel, pietersielie of tiemie olyfolie

So maak jy

1. Maak met ’n skerp mes ’n paar diagonale snitte aan die buitekant van die vis. Geur dit aan die binnekant met sout en swartpeper en pak die suurlemoen- en lemmetjieskyfies in die maagholte. Jy kan ook ’n bietjie van die vars kruie van die takkies afstroop en dit saam met die sitrusskyfies in die vis sit.

2. Plaas ’n paar botterblokkies in die oopgesnyde vis en bind die vis dan toe met tou. Bind die vars kruietakkies saam met die tou bo-op die vis vas. Sprinkel olyfolie oor en draai die vis in dik foelie toe.

3. Braai die vis oor matige kole vir 20-30 minute, afhangende van die grootte. Maak die foelie oop en braai die vis vinnig bruin vir ’n mooier kleur. Sit dit voor met knoffelmayonnaise.

Kabelknypers

Party soorte vis het ’n stel skerp tande, wat beteken jy gaan hom nie sommer met gewone lyn kan vang nie. Dit is omdat die kêrel eenvoudig die lyn kan afbyt.

Dan is jy nie net jou vangs kwyt nie, maar ook jou aas met die hoek. Om dié rede gebruik hengelaars ’n dun kabel op die punt van die lyn waaraan die hoek dan vaskom. Afhangend van watter vis in jou visier is, kan dié kabel wissel van ongeveer 15 cm tot ’n meter lank.

’n Mens kan die kabel self gereed kry, maar om ’n lussie op die punte te maak waar die gewone lyn en hoek kan vaskom, het jy ’n spesiale riffeltang nodig.

Adrenalin se riffeltang is net reg hiervoor en kan vir verskillende diktes kabel gebruik word. Knip die kabel ’n entjie langer as wat jy nodig het, glip ’n metaalhuls oor die een punt, ryg die punt byvoorbeeld deur die oog van die hoek, en druk die punt dan weer deur die huls.

Gebruik nou die tang om die huls plat te druk en jy sit met ’n allemintige knoop in die kabel. Vir tiervis, byvoorbeeld, is ’n kabel van 15 cm lank genoeg, maar vir ’n skeurtandhaai kyk jy na ’n meter.

Die tang pas mooi in jou handpalm – hy is 13,75 cm lank – en word van vlekvrye staal gemaak met ’n glyvaste greep.

Prys: R145

Kontak: Adrenalin Importers & Distributors (invoerders);  021 982 1510;  catches@4adrenalin.co.zaadrenalinfishing.co.za

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook