Dié sentrum huisves die eerste panoramiese hyser in Afrika – ’n hysbak wat jou 51 meter teen die Graskop-ravyn afneem tot binne in die woud doer onder. Sodra jou voete weer Moederaarde raak, sal jy mond oophang oor die Afromontane-woud wat voor jou oë ontvou.

Verken die woud via die 600 meter lange sirkelroete wat langs houtdekke en oor hangbrûe loop. Alles wat jy oor die woud moet weet, is op interessante borde langs die pad aangebring. ’n Deel van die roete is rolstoelvriendelik.

Afromontane-woude beslaan net 0,5% van die grondgebied in Suid-Afrika. Hierdie gebiede kom in klein areas rondom waterryke en bergagtige gebiede voor, soos ravyne met hange wat suid front. In hierdie welige groen wonderwêrelde sal jy ’n groot verskeidenheid plante, diere, insekte en voëls aantref.

Die Graskop Gorge-sentrum is op die hoogste krans ingerig. Van hier af kan jy die skouspelagtige Motitsi-waterval, die woud onder en die Laeveld in die verte sien. Daar is ook ’n restaurant en kroeg, kunsgalery, snuistery- en klerewinkel, en stalletjies van plaaslike handelaars. Parkeerplek (ook vir busse) is volop, en hier is moderne, netjiese toilette.

Die Laeveld is minder as vier uur buite Johannesburg en Pretoria, en die ideale plek om heen weg te breek. Die Graskop Gorge-hysersentrum is op die Panorama-roete en is die ideale aftrekplek vir toeriste wat na die Krugerwildtuin op pad is. Dis op die R533, 1 km buite Graskop.