Die Breedevallei is nie net bekend vir sy wingerde, berge en valleie nie … dis ook ’n paradys vir bier- en olyfproeërs. En boonop skaars ’n uur buite Kaapstad! Tjorts!


Olywe by dosyne:

 

Willow Creek is in die Nuyvallei in die Wes-Kaap geleë. Die Rabieberge, wat deel is van die Langeberge, troon oor die plaas uit, en die plaas is sedert die 1700’s in die besit van die Rabie-familie. Die plaas is doeriejare deur Johannes Stephanus Rabie gevestig, en in 1999 het sy nasaat, Andries Rabie, die eerste olyfbome aangeplant. In 2002 is die eerste olyfolie hier gepars.

Vandag beslaan Willow Creek altesaam 250 hektaar met altesaam 210 000 olyfbome – een van die grootste olyfolieprodusente in die Suidelike Halfrond. 

Die indrukwekkende hoeveelheid pryse wat die landgoed al plaaslik en internasionaal verdien het, bewys die gehalte en gewildheid van Willow Creek se reeks ekstra suiwer olyfolies. 

Kontak: info@willowcreek.co.za | +27 (0)23 342 5793

Webtuiste:www.willowcreek.co.za



Hier is die bier:



Die Mountain Brewing Co is Worcester se eerste boetiekbierbrouery en is in die Klipbokkop-bergreeks geleë. Al die bier word met die fonteinwater uit die berg gebrou, wat uitstekende gehalte moontlik maak. Eie aan die streek se luilekker en rustige geaardheid (hier is geen dolle stadsgejaag nie), word die bier oor agt weke gebrou. Dit lewer ’n geurige, gehalte bier. 

Die publiek is welkom om sekere naweke van die maand te kom bier proe by Mountain Brewing Co en sommer ’n lekker ete ook hier te geniet. En wie wil nou ver ry na ’n bierproeëry? As jy verblyf nodig het, bespreek vooraf en slaap oor.

Mountain Brewing het in 2015 die SA Biertrofee gewen vir die beste “Cape Kraken Ale”, in 2016 vir die “Madala’s Gold Strong Ale”. Die brouery was ook tops in die afdeling vir “Amber beer”.

Kontak: info@mbco.co.za | 0825794515

Webtuiste: www.mountainbrewing.co.za




Die “broers” het in 2014 bier begin brou, en deesdae is hulle aan die gang – letterlik! Hulle het ’n mobiele biervatstelsel waarmee hulle na enige geleentheid kan gaan en bier uit die kraan kan bedien.  Vir die broers lê die geur en smaak van ’n bier in die manier en houding waarmee dit gebrou word, en hier by Broers Brew doen hulle dit met styl en proe hulle ook met styl! Kom kuier gerus...

Navrae: Andries en Ronald Le Roux, e-pos: broersbrew@gmail.com, Kirabo Private Cellar, Voorsorg, Rawsonville

Jy sal hulle ook op Google Maps en Facebook vind: Broers Brew

Kontak:  071 681 9019 (Kirabo Private Cellar)




Wild Clover-brouery het ’n eenvoudige doelwit: Om autentieke, handgemaakte bier met tradisionele metodes en gehalte bestanddele te maak. Die brouery het aanvanklike uit nuuskierigheid begin, maar behoorlik vlamgevat toe Wild Clover sy tuiste op die plaas net buite Stellenbosch gevind het. Hier het Wild Clover die uil, mol, arend en ’n formidabele staffie genaamd Zach as bier-embleme gekies. Met ’n duidelike doelwit voor oë, die regte bestanddele, hope geduld en baie vindingrykheid, het Wild Clover besluit om die vier klassieke en internasionale bierresepte ons eie te maak. Kom proe die resultaat!

Besoek hulle: uniWines Vineyards, Louwshoek, Voorsorgstraat, Rawsonville

Kontak: 023 349 1110 | maritsa@uniwines.co.za 

Webtuiste: www.wildcloverbreweries.co.za




The Breederiver Brewing Company is sedert 2015 die spanpoging tussen Stofberg Family Vineyards en Eric van Heerden, die eienaar van Triggerfish en ’n bobaas-bierbrouer. Die brouery is in die dorpie 

Rawsonville in die Breedevallei geleë. Breederiver Brewing gebruik die water uit die 

Du Toitskloof-berge, wat bier van uitsonderlike gehalte moontlik maak. In die Ou Stokery, ’n gebou net langs die ou N1, word boetiekwyn gemaak vir Stofberg Family Vineyards en mikro-bier vir die Old N1-distileerder. Binnekort sal daar ook ’n proekamer en gin-kroeg wees. Tans word nog net vier biere met die Breederiver-etiket gemaak.

Besoek hulle: Breederiver Brewing, Ou Stokery, Old N1 Road (R101), Onderplaas, Rawsonville

Kontak: 0828676958 (Mariëtte Coetzee) | mariette@breederiverbrewing.co.za 

Webtuiste: www.breederiverbrewing.co.za




Die Breedekloof-vallei is bekend vir sy pragtige, bergagtige omgewing en helder rivierstrome. Dis omtrent ’n uur buite Kaapstad geleë, net buite die dorpie Rawsonville. Die boetiekbiere wat hier gebrou word, probeer die natuurlike skoonheid en suiwerheid van die streek vasvang.

Al die bier in die Raw Craft-bierreeks word van die suiwerste, natuurlike produkte gemaak. Dit sluit in top-gehalte graan, die beste hops en vars water. Die uitstekende broumeesters is geduldig en maak seker dat die eindproduk ’n lekker geur het en bierfynproewers tevrede sal stel.

Besoek hulle: Du Toitskloof Cellar, R101 (Old N1 Road), Rawsonville 

Kontak: 0(+27)233491601

Webtuiste:www.rawcraftbeer.co.za