Die heuglinjanfrederike kyk wie die hardste kan sing. ’n Moeraswaterfiskaal hop teen die watersoom rond op soek na iets te ete. Op die eiland oorkant die systroom van die Zambesirivier voor my (die hoofstroom vloei aan die ander kant van dié eiland) wei beeste waarop veereiers kort-kort ry. In die vlak water waar die hengelbootjies geanker lê, swem honderde vissies – sommige driekol-, ander rooiborskurpers. Iemand bondel ’n nat net op ’n mokoro. ’n Haan kraai.

Dave Orr, die lodgebestuurder, sit op die stoep van die Shackletons Fishing Camp met ’n boek op die skoot – Brother Fish van Bryce Courtenay. Die boek is “rubbish,” bevestig Dave, maar hy’ t nie veel van ’n keuse nie – die naaste Exclusive Books is in Johannesburg. 

Dave Orr
Dave Orr, die bestuurder van die Shackletons Tiger Fishing Lodge, hou riviersake van die lodgestoep af dop.

Ek was gisteraand Shackletons se enigste gas. Die meeste mense vlieg uit Suid-Afrika en land in Livingstone, 140 km hiervandaan, waar hulle opgepik en hierheen aangery word. Daar’s hoeka nou drie gaste op pad en Dave wag vir hulle met Brother Fish, twee selfone, ’n beker koffie en ’n rooi plastiekvlieëplak op die tafel voor hom.

Maar Dave kyk meestal elders... Na die waters van die rivier, waar hy weet die visse op hom wag.  

Wag, en jy sal beloon word 

Wag is iets wat ek vandag heelwat gedoen het. Die grenspos tussen Namibië en Zambië is by Katima Mulilo. Dis eenvoudig genoeg om Namibië te verlaat – een stempel later en ek’s weg. Die Zambiëkant is ’n ander storie. Dis eintlik ’n aangename grenspos met ’n logiese uitleg (al die hokkies waar jy moet ingaan, is in een lokaal) sodat jy maklik by al die betrokke punte kan uitkom. 

Eers ruil ek geld – Amerikaanse dollar vir Zambiese kwacha, want ek weet dat jy van die tariewe hier met kwacha moet betaal, en ander weer met dollar. ’n Ou genaamd Costa kry vandag my besigheid en ek sorg dat hy my nie te veel rook nie. (Eers later sien ek hier’s ’n OTM; dus het jy nie regtig ouens soos Costa nodig om kwacha in jou beursie te kry nie – jy kan bloot kwacha trek met jou SA bankkaart – as dit werk, bygesê.) 

Als vorder flink totdat ek by die venstertjie kom waar ek my voertuig se tydelike invoerpermit moet koop. Ek besef dat ek die man agter die toonbank herken. Ek is twee jaar gelede ook hier deur, en dis dieselfde ou. Maar hoekom onthou ek sy gesig so goed? 

Sowat 45 minute later, toe ek uiteindelik my dokumentasie ontvang, besef ek dat ek sy gesig so goed ken omdat ek laas seker ook so lank vir hom moes staan en kyk.

Foto: Toast Coetzer
Vee drink water uit gate in die pad tussen Sesheke en Kazungula. Foto: Toast Coetzer

Dis ook nie die arme man se skuld nie – dis blykbaar die rekenaarstelsel wat so stadig is. (Dieselfde proses neem skaars drie minute wanneer jy Namibië binnekom.)  

Anderkant die grenspos ry ek met ’n brug oor die Zambesirivier. Dis lekker om in Zambië te wees. Van hier af begin Suid-Afrika vér voel.

Jy’s nou een stappie verder as net in ’n buurland. Om die Zambesi oor te steek maak ’n mens skielik lus om verder te ry, verder noord, verder weg... maar nie vandag nie, herinner ek myself.

Ek ry deur Sesheke – ’n bedrywige dorpie vol groentestalletjies en winkelgeboue wat dekades gelede hulle beter dae beleef het. Dis ook orraait – “beter dae” is ’n relatiewe konsep. Vandag is fantasties.   

’n Tier aan die hoek 

Die pad tussen Sesheke en Kazungula is minder fantasties. Dis eintlik legendaries vir hoe vrot dit is. Ek is dus die ergste te wagte, maar die eerste 45 km is dit goed – plek-plek kan ek sien dat hier reggemaak is. Maar wanneer die slaggate kop uitsteek, moet ek stadig ry – 25 km/h – en deur maankraters kruip.  

Foto: Toast Coetzer
Kunsaas, Shackletons Tiger Fishing Lodge. Foto: Toast Coetzer

Uiteindelik sien ek Shackletons Tiger Fishing Lodge se bordjie. Die Renault Duster is verlig om van die “teer” af te draai op ’n sanderige paadjie wat reguit rivier toe lei. 

Met my aankoms word ek gegroet deur Obed Mukuni. Hy is my hengelgids vir die dag. Ek wou nog altyd ’n tiervis vang en Shackletons is dié plek vir tiere aan hierdie deel van die Zambesi. 

Obed Mukuni
OU GROTE. Obed Mukuni, ’n gids, met die tiervis wat Toast by die Shackletons Tiger Fishing Lodge gevang het.

Dis ’n netjiese, eksklusiewe kamp – gewoonlik bespreek ’n groep mense dit vir ’n sekere aantal aande. Hulle het vir my ’n vergunning gemaak sodat ek dit op my eie kan besoek. Dis die stil seisoen – November, en sinkplaatwarm.

Ná ’n paar geroosterde tamatie-en-kaas-toebroodjies is ek reg vir die water waar dit met wind in die baard aansienlik koeler is. Obed draai ons bootjie se neus stroomaf. Die rivier is op sy laagste vlak dié tyd van die jaar. Binnekort sal reën wat verder op in Zambië en Angola val, dit stelselmatig opstoot. Obed ken die rivier – hy is ’n boorling van die gebied. Hier vaar hy om ’n riet-eiland, daar swenk hy om ’n stomp en vermy die water waar dit te vlak span oor bedrieglike sandbanke.  

Ons sluit aan by die hoofstroom en volg dit in die rigting van die dorpie Mwandi. Oorkant, op die Namibiese oewer, steek ’n selfoontoring uit waar die dorpie Schuckmannsburg lê. (Ek was al daar: Koue bier is beskikbaar én ’n groot boom waaronder jy kan sit en na musiek luister wat uit ’n gehawende luidspreker pols.) 

Hierdie deel van die rivier is – wat toerisme betref – baie stiller as die deel tussen Kazungula en Livingstone. Wat jy hier doen, is tiervisvang – en wonder bo wonder vang ek vanmiddag my eerste een! Dit was eintlik ’n vloekskoot (en geheel en al danksy Obed se kundigheid), maar ek het ’n foto as jy my nie glo nie...   

Foto: Toast Coetzer
Die veerboot oor die Zambesirivier tussen Zambië en Botswana by Kazungula. Foto: Toast Coetzer
Foto: Toast Coetzer
Visvang op die Zambesirivier naby Mwandi. Foto: Toast Coetzer

Van modderpoele tot ravyn 

Die volgende dag ry ek in Livingstone se koers. Vir lang ente moet ek langs die pad ry, want hier word gewerk en reggemaak.

Dalk is jy gelukkig en is die pad tiptop wanneer jy eendag hier ry, maar vir nou ry ek soms deur modderpoele, ander kere vir lang ente in die stof van ’n vragmotor. 

Naby Kazungula verbeter dit skielik, en jy kan Livingstone toe seil teen ’n beskaafde spoed. Ek het bespreek om vanaand by ’n plek genaamd Jungle Junction te slaap. Dis op ’n eiland in die Zambesirivier sowat 40 km stroomop van Livingstone. Ongelukkig kom ek nooit daar uit nie – ná 8 km op die toegangspad (eers sand, later modderpoele danksy ’n onlangse reënbui) moet ek omdraai met die Duster 4x2, bang dat ek gaan vassit en aasvoëlkos word. 

Dis egter nie ’n probleem nie, want nader aan Livingstone is waar die meeste van die beste blyplekke lê.

Foto: Toast Coetzer
’n Sebra gehoorsaam dieverkeersreëls in Livingstone. Foto: Toast Coetzer

Ek slaap een aand by die Kubu Camp en daarna by Camp Nkwazi, net langsaan. Kubu se chalets word weer opgeknap, maar die kampplek se ligging is eersteklas en die opsigter, Kebby Mutemwa, laat my dadelik tuis voel. Jy’s reg teen die Zambesirivier, op gras en onder groot bome. Eers is ek alleen, maar laatmiddag daag Alta en Bill Naudé van George ook op. Hulle is op pad terug Suid-Afrika toe nadat hulle in die Kasanka- nasionale park (in die noorde van Zambië) gaan draai het. 

Dis altyd lekker om met Weg-lesers te gesels oor hulle toere, veral in ’n mooi kampplek soos Kubu. Wraggies, dit voel asof ons in ’n paradys sit. ’n Paradys vol voëls, groenigheid en die rustige teenwoordigheid van ’n rivier. 

By Camp Nkwazi, waar Salomé en Gawie Botha die bestuur hanteer, is die tuine rondom die chalets genoeg rede om in te loer. Hoewel die kampterrein ’n bietjie weg van die rivier lê, is aandag gegee aan elke staanplek: groot bome en ruim ablusiegeriewe. Ek maak my tentjie staan onder ’n enorme mopanieboom en begin wasgoed was – dis daai tyd van my vakansie.

Ek slaap twee aande by Camp Nkwazi, en tussendeur ry ek Livingstone toe om ’n bietjie in die mall rond te hang. By Mosi-oa-Tunya Square is onder meer ’n apteek en ’n groot Shoprite. Reg langs laasgenoemde is die Kubu Café, waar ek aansit vir ’n cappuccino en spring rolls (as jy lank toer, is jy soms lus vir iets “eksoties”).  

DIE ZAMBESI SE ROWWE KANT. Dís die uitsig van die Taita Falcon Lodge af oor die Batokaravyn. Doer onder is versnelling 17; en kan jy die vlot en kajak sien?

Ek verken ook ’n paar lodges waar ek nog nie vantevore was nie. Dis veral Taita Falcon Lodge wat my beïndruk. Dis stroomaf van Livingstone en op die rand van die diep Batokaravyn. Die karakter van die rivier is hier totaal anders as stroomop van die Victoriawaterval. Dáár – by Kubu Camp en Camp Nkwazi – lê dit wyd gesprei en vloei die stroom stadig. Hier onder Taita Falcon Lodge is dit witwaterwêreld, en hoor jy die gedruis teen die kranse uitstyg.

Foto: Toast Coetzer
Kry ’n Zambiese Mosi Lager vir wanneer jy kyk hoe die son oor die Victoriawaterval sak. Foto: Toast Coetzer

Dis die lekker ding van die Zambesi wat ek oor die afgelope paar dae verken het – die verskeidenheid. Tussen Sesheke en Kazungula kry jy ’n meer landelike gevoel en sien hoe mense eeue reeds ’n bestaan maak teen die rivier. Jy kan soms selfs sien hoe tradisionele visvangmandjies (dit word matumba genoem) gebruik word om visse te vang. 

Foto: Toast Coetzer
Sommige vissermanne op die Zambesi gebruik nog ’n matumba om vis te vang

Nader aan Livingstone het jy die gerief van plekke soos Camp Nkwazi (hier’s meer luukse lodges as jy die begroting het), en op die dorp is al die winkels en eetplekke wat ’n toeris ooit nodig sal kry. Wild is maklik om te sien in die aangrensende Victoriawaterval- nasionale park en jy kan by enige blyplek op ’n riviervaart gaan. Jy besoek natuurlik ook nie Livingstone sonder om by die Victoriawaterval te gaan gesig wys nie – dit sal wees soos om Kaïro te besoek, maar nie die piramides te sien nie.

Op my laaste middag in Zambië bespreek ek ’n sonsondergangvaart by Camp Nkwazi. Dis darem maar lekker om in ’n stoel te gaan gemaklik raak met ’n kamera op die skoot, ’n bier in die hand en die gevoel van afwagting wat in jou opwel. Wat gaan jy sien?

Foto: Toast Coetzer
Foto: Toast Coetzer

My ritueel neem oor sodra ons op die rivier is. My oë vee oor die water op soek na bekende buitelyne: die riffelrug van ’n krokodil of die ronde frikkadeloortjies van ’n seekoei. Ek fynkam die waterkant vir klein grys waadvoëls. Die bos wat verby dryf vir wild – ons kyk na die Zim-kant, waar die Zambesi- nasionale park lê. Tussendeur luister ek na die oe’s en aa’s van die ander toeriste – almal buitelanders – op die boot. Vir baie van hulle is dit die eerste keer dat hulle ’n waterbok sien, ’n kolgans, ’n visarend.

Teen sononder kyk ons hoe ’n paar bobbejane speel, op en af teen ’n lang bobbejaan- tou, soos brandweermanne sonder broeke (of ’n brand). Nes hulle gaan ek ook hier slaap vanaand, op die oewer van die Zambesi, iewers in Afrika.

Dis ’n voorreg.

BY DIE GRENS

Hierdie is ’n voorbeeld van die prosedure om te volg en tariewe wat jy betaal wanneer jy Zambië binnegaan. As Suid-Afrikaner het jy nie ’n visum nodig nie. Ek het ’n Duster gery – indien jy iets met ’n groter enjin bestuur, sal sekere van hierdie tariewe hoër wees.

• Meld aan by die gesondheidsinspekteur. Hou jou geelkoors- en inenting-sertifikaat byderhand ingeval daarvoor gevra word. 

• Wys jou paspoort vir die immigrasiebeampte. Maak seker jy kry ’n stempel.

• Jou voertuigregistrasiedokumente word deurgekyk – hulle dring ook soms daarop aan dat jy ’n polisieklaringsertifikaat moet hê, maar ons het nog altyd daarsonder gereis.

• Betaal vir jou voertuig se Doeane-invoerpermit (CIP). Hierdie proses kan lank vat. Koste: K140 (R161) 

• Neem derdepartyversekering uit – K427 (R493) 

• Betaal padbelasting – US$20 (R302) 

• Betaal die gemeenskapstarief – K30 (R35). 

• Indien jy by Kazungula met die veerboot oorgaan, kos dit sowat R120 per voertuig.

ERVAAR ’N STOOMTREIN

Gaan op ’n kort stoomtreinreis vir ’n spoggerige uitstappie; dit sluit in ’n vyfgangmaaltyd en van jou drankies. Dit kos US$189 (R2 794) p.p. en jy bespreek deur reservations@bushtrackafrica.com. Daar is ’n paar roete-opsies, maar een van die bestes is om laatmiddag met die Royal Livingstone Express van Livingstone af te ry tot op die brug oor die Zambesirivier.

Hier stop jy teen sonsondergang, klim uit, stap op die brug rond en geniet die uitsig oor die waterval. Terug op die trein kuier en eet jy asof jou kredietkaartstaat nooit gaan opdaag nie.

Foto: Toast Coetzer
Die Royal Livingstone Express stop op die brug oor die Zambesi tussen Zim en Zambië. Gaste kan hier afklim en na die sonsondergang kyk. Foto: Toast Coetzer

BLY HIER  

Jollyboys Backpackers en Camp 

Jollyboys Backpackers en Jollyboys Camp is albei in Livingstone, maar sowat 2 km uitmekaar. Die backpackers is vir jonger reisigers, en Jollyboys Camp geskik vir gesinne.   Jollyboys Backpackers: US$9 (R131) p.p. Bed in groot slaapsaal vanaf US$15 (R218) p.p., of US$54 (R786) per kamer vir 3 wat deel indien jy meer privaatheid soek (jy deel steeds ablusie). Kamer vir 2 met eie badkamer: US$65 (R946) p.n.  

Jollyboys Camp: US$7 (R102) p.p. Kamer vir 2 met gedeelde ablusie: US$40 (R582) per nag. Kamer vir 2 met eie badkamer: US$55 (R801) per nag. Gesinskamer vir 4: US$80 (R1 165) per nag.

Backpackers

GPS: S17.848009 E25.85422   

Camp

GPS: S17.85496 E25.86169   

Kontak: 00 260 213 324 229 (Backpackers); 00 260 213 324 756 (Camp); backpackzambia.com   

Baobab Camp & Cottages 

BAOBAB CAMP & COTTAGES

Die plek is ’n bietjie aweregs omdat dit uitgelê is rondom ’n ou gruisgat wat nou vol water staan, maar dis baie netjies. Dis sowat 5,7 km uit die middedorp en op dieselfde plek waarvandaan helikoptervlugte vertrek. Kamp: US$15 (R219) p.p. Vier kampplekke elk met private ablusie en kombuisie. Selfsorghuisies (hier is 6): vanaf US$100 (R1 460) per nag vir 2 mense – die gesinseenheid (vir 4) kos US$150 (R2 190) per nag.

GPS: S17.89839 E25.86755 

Kontak: 00 260 213 323 095; 00 260 977 873 863; uaczam.com   

Maramba River Lodge 

Hierdie bekostigbare plek is net 5 km suid van die middedorp; jy draai af van die teerpad wat grenspos en Victoriawaterval toe loop. Maramba lê op ’n kleiner sytak van die Zambesirivier, maar hier beweeg steeds gereeld olifante deur die kamp. Kamp: US$10 (R146) p.p. en US$5 (R73) per kind 6-11 jaar (kleintjies gratis). Tente met beddens: US$67 (R978) p.n. vir 2 mense. Safaritente: US$117 (R1 708) p.n. vir 2. Chalets: US$217 (R3 167) p.n. vir 4 mense. Jy kan van helikoptervlugte tot witwaterroei of rekspronge hier bespreek. 

GPS: S17.88912 E25.85521     

Kontak: 00 260 213 324 189; maramba-zambia.com   

The Victoria Falls Waterfront  

Hierdie netjiese lodge is sowat 5 km suid van Livingstone, langs die Zambesirivier. Kamp teen US$14 (R203) p.p. of slaap in van die tente: US$30 (R436) per persoon wat deel. ’n Gesinskamer vir 4 in lodge: US$245 (R3 559) p.n. (met ontbyt). Afslag vir 3-11- jariges. Pryse geldig tot Junie 2020. 

GPS: S17.88649 E25.84309     

Kontak: 00 260 213 320 606;  00 260 968 320 606; thevictoriafallswaterfront.com

Taita Falcon Lodge 

 Taita Falcon Lodge
Taita Falcon Lodge

Hierdie lodge is 11 km suidoos van Livingstone, en reg op die rand van die Batokaravyn gebou. Soos die naam aandui, kan jy hier soek na die baie skaars taitavalk wat in die kranse broei – bring jou verkyker. Hier is 7 chalets by die lodge en 3 kampplekke (Peregrine’s Nest Bush Camp is ’n entjie weg), met private ablusie (jy kry een gratis bondel hout per dag). Kamp: US$20 (R306) p.p. en US$10 (R156) per kind jonger as 12. Kampeerders kan die lodge se swembad gebruik, maar slegs wanneer die lodge stil is.

Lodge: Vanaf US$140 (R2 150) p.p. (buite seisoen), dit sluit ontbyt, aandete, versnaperinge, Wi-Fi en begeleide stap in. Kinders 12 jaar en jonger betaal halfprys. Dagbesoekers is welkom by die restaurant. (Noem dat jy ’n Suid-Afrikaner is wanneer jy bel, dalk kry jy afslag.) 

GPS: S17.98043 E25.91025 

Kontak: reservations@african-retreats.co.za (lodgebesprekings); 00 260 213 327 046 (lodge); taita-falcon@microlink.zm (kampbesprekings); taitafalcon.com 

Kubu Camp

Foto: Toast Coetzer
Alta en Bill Naudé van Suid-Afrika by Kubu Camp. Foto: Toast Coetzer

Dis sowat 25 km wes van Livingstone, langs die Zambesi. Goeie nuus vir kampeerders is dat jy hier voorrang kry, want van die staanplekke is reg teen die rivier.

Teen US$15 (R228) p.p.p.n. is dit van die goedkoper kampering rondom Livingstone. Van die chalets word nog opgeknap, maar drie is oop vir besigheid – dit kos US$65 (R990) per nag per eenheid waarin twee mense kan slaap. Selfsorg. (Geen restaurant beskikbaar, maar jy kan teen ’n tarief iemand huur om jou kos vir jou te maak.) 

GPS: S17.83081 E25.64691 

Kontak: faithyamba69@gmail.com; 00 260 977 517 938 (Faith, slegs WhatsApp)   

KUBU CAMP

Camp Nkwazi 

Toeriste vertrek op ’n sonsondergangvaart by Camp Nkwazi. Foto: Toast Coetzer
Foto: Toast Coetzer
Gawie Botha, bestuurder by Camp Nkwazi, onder die groot bome van die kampplek. Foto: Toast Coetzer

Hierdie agtermekaar kamp is op die Zambesirivier sowat 25 km wes van Livingstone. Die kampplek het 13 staanplekke van verskillende groottes (2-8 voertuie). Krag, braaiplek en warm water beskikbaar. Kamp: US$25 (R385) p.p. en US$20 (R308) vir kinders 5-12 jaar oud. Chalets: US$135 (R2 078) p.p. wat deel, selfsorg. Kinders jonger as 12 kry afslag. Opsies met maaltye ingesluit ook beskikbaar.

Hulle bied onder meer riviervaarte aan. Wanneer jy bespreek, stuur hulle vir jou ’n dokument met wenke hoe om maklik by die Kazungula-grenspos reg te kom. Hier is ook twee agente wat jou kan bystaan. 

GPS: S17.83046 E25.64547     

Kontak: 00 260 97 304 8830 (Gawie /Salomé); campnkwazi.com

Foto: Toast Coetzer
’n Bobbejaan maak sy kooigoed reg vir die nag. Foto: Toast Coetzer

Jungle Junction 

Hierdie rustige plek word al sedert 1993 bedryf, en is ’n regte rivierkamp sonder fieterjasies. Dis geleë op Bovu-eiland, in die Zambesirivier, rofweg 50 km wes van Livingstone. Jy het ’n 4x4 nodig om te ry tot by die optelpunt – jy word dan per boot na Jungle Junction geneem. Jy betaal ’n nagwag US$3,50 (R53) per nag om jou kar op te pas. Kamp: US$10 (R152) p.p. Hier is ook 4 chalets en 4 vissershuisies (wat kleiner is). Albei soorte huisies het slaapplek vir 2. Chalets met uitsig oor rivier: US$35 (R534) p.p.p.n. Vissers-huisies US$25 (R381) p.p.p.n.

Hier is nie juis krag nie – jy moet ook jou eie handdoeke bring. Maaltye beskikbaar. Jy kan visvang, op ’n effens ander manier as elders: ’n Ou vat jou in ’n mokoro op die rivier (US$10 / R152 p.d. – korrek gelees, dis die voldagprys!). Hulle pryse styg nou al vir jare glad nie). Slegs kontant – dollars, rand of kwacha. 

GPS: S17.86006 E25.52142    

Kontak: 00 260 978 725 282 (Brett; stuur ’n SMS, want ontvangs is swak); junglejunction.info   

Shackletons Tiger Fishing Lodge 

Dis sowat 140 km van Livingstone af. Sodra jy verby die Kazungula-afdraai ry, word die pad uiters sleg. Ry stadig. Hier is 6 netjiese dubbelkamers – 12 mense kan hier slaap. ’n Tipiese viernagpakket kos R14 900 p.p. wat deel en sluit etes, visvang, hengelgerei en vervoer na en van die Livingstone-lughawe in. Kom vang ’n tier! 

GPS: 17.49658 E24.77525 

Kontak: 083 251 7257 (James); shackletons.co.za


Lus vir vakansie? Gebruik die Afrikaanse soekenjin www.wegreis.co.za om vliegkaartjiepryse vir binne- en buitelandse vlugte te vergelyk.

LIVINGSTONE-DOENDINGE

Bespreek hierdie aktiwiteite deur die mense van Safari Par Excellence.  00 260 213 320 606; safpar.com

Sonsondergangvaart op Zambesirivier

US$60-US$85 (R872-R1235) p.p. vir 2 uur, verskillende pakkette. Dit sluit kos en party drankies in. Ontbyt- en middagetevaarte ook beskikbaar. 

Kanovaart op Zambesi vanaf US$115 (R1 671) p.p. vir halfdagroei (meerdaagse opsies beskikbaar). 

Witwater-roeivaarte vanaf US$160 (R2 325) p.p. vir half-dagroei (meerdaagse opsies is beskikbaar).

VALLE TOE!
Dis US$20 (R291) p.p. om die Victoriawaterval te besoek, of jy nou van Zim of Zambië se kant af ingaan. Kinders kry afslag.