“Het ons ’n pot ingepak?” vra my suster. Ons is skaars op die N2 buite Durbanville en ons begin reeds lysies maak van alles wat ons by die huis laat lê het. Ons gaan kamp. En, as ek nou doodeerlik moet wees, is dit iets wat ons jare laas gedoen het.

Ek kon darem by die werk in ’n kollega se oor bieg, wat vir ons ’n ordentlike tent, stoele en twee kampbeddens by Oztrail geleen het. 

CapeNature het my genooi om te kyk hoe Grootvadersbosch lyk, ’n reservaat van 250 hektaar in die Langeberg-omgewing aan die voet van die Tradouwpas. (Naby Swellendam, Barrydale en Suurbraak.) Die reservaat is genoem na Roelof Oelofse wat die grond in 1723 besit het. Dit is sedert 1986 ’n reservaat, en sedert 2004 ’n Unesco-wêrelderfenisterrein.

Die kerk op Riviersonderend.
Dis Franklin.
Ons soek 'n hamer op Riviersonderend.

Die hamer en die pot

Ons kon ook nie ’n hamer by ons huis opspoor nie, wat ons besef nodig is vir ’n tentopslanery.

Dis Vrydag, maar ons kon vroeg in die pad val. Ons eerste stilhouplek is dus die Agrimark op Riviersonderend. Die hamer kos R356. Vir R80 kan jy ook ’n ligte vleishamer koop. Ons staan vir ’n sondige sekonde in die Agrimark en wonder of die vleishamer die ding sal doen, maar druk dan maar deur met die regte hamer. Die Agrimark het nie ’n goedkoop potjie nie. 

Buite neem ek ’n paar foto’s, toe ek iemand hoor roep: “Mevrou, mevróú…! Neem tog ’n foto van my ook!” Sy naam is Franklin Franklinson sê hy, en hy is ’n boorling van die omgewing.

Die Tradouwpas.

Oor die pas vir ’n burger en ’n melkskommel

Dis middagete teen die tyd dat ons naby die Tradouwpas kom. Ons besluit om eers oor die pas te ry Barrydale toe. Ek het al baie gehoor en gelees van die padkafee Diesel & Crème by die bek van Barrydale. En … ons kort in elk geval nog ’n pot.

Ek is nie spyt nie. Ek kan nie onthou of ek al vantevore oor die Tradouwpas, een van Thomas Bain se meesterstukke, gery het nie, maar dit slaan my asem weg. Ons hou vier keer stil om foto’s te neem (die pas het veilige aftrekplekke).

Die webwerf mountainpassessouthfrica.co.za lys dit as een van die top-20 Wes-Kaapse passe, en skryf dat die naam afgelei is van ’n Khoi-benaming wat “vroue-voetpad” beteken. By die uitkykpunte peul heelwat rooiverbrande toeriste uit busse uit met indrukwekkende langlenskameras in die hand. My pa vertel oor die foon dat hy en my ma donkiejare gelede – minstens 50 jaar gelede – op die pas wors gebraai het in ’n “Swannie”, ’n braaiertjie wat destyds koerantpapier as brandstof gebruik het.
“Het dit gewerk?” vra ons.

“Net as jy baie honger was,” antwoord my pa.

Ons krag lê in ons koeke - 'n advertensie buite Barrydale.

Deesdae het die pas mooi piekniekplekke, maar jy mag beslis nie meer daar ’n vuur aansteek nie. As jy die Wes-Kaap se geskiedenis met veldbrande ken, sal jy verstaan hoekom jy met toebroodjies en koffie uit die fles tevrede moet wees.

Diesel & Crème.

Diesel & Crème sit soos ’n bont krismiswurm langs die pad. Dis Vrydagmiddag en daar sit groot groepe motorfietsryers gesellig om die tafels buite onder die sambrele, en binne is die tafels vol.

Ons sit binne, meer omdat ons ons wil verkyk aan die aweregse dekor in die winkel. Ek eet ’n hoenderbroodjie met skop en drink ’n “Cruella de Ville” – ’n aarbei-en-sjokolade-melkskommel. Die weer is perfek.

Dit begin laat raak en ons moet nog ’n potjie gaan soek. Die OK oorkant die kerk op Barrydale kan ons nie help nie, maar die vriendelike winkelassistent beduie ons na die “Happy Store” oorkant die pad, en sê daar is ook nog twee algemene handelaars verder af in die straat. By die derde een kom ons reg: Teen ’n skamele R70 kry ons ’n potjie wat die ding sal doen. Hy het ’n guitige plakker wat verklaar: “Bon Voyage – nice pot!”

Welkom in Grootvadersbosch.
Die inligtingskantoortjie.
Ontvangs.

Laat by die kamp

Ons het ons ’n bietjie met die tyd misreken. Die laaste stuk na Grootvadersbosch is ’n goeie grondpad met behoorlike padborde. Ons kry die kampplek maklik, maar dis al 16:20 toe ons daar aankom, en die kantoor sluit om 16:00. Ons bel egter die bestuurder aan diens, Ian Allen, wat vriendelik terugkom om ons te help.

“Julle is net te vroeg vir ons privaat-kampeerplekke. Ons bou nog daaraan, dit sal binne die volgende paar maande gereed wees,” sê Ian. Dit is staanplekke wat elkeen sy eie badkamer en kombuisie het. Ons kan ons egter die naweek in die gewone kampterrein tuismaak. Altesaam 4 van die 10 staanplekke is bespreek, en dit is “first come first serve”.

Ons soek die een aan die punt van die voorste ry uit – naby aan die badkamer. Ons is nuuskierig oor hoe die hutte lyk en reël om die sleutels van een van die onbespreekte hutte die volgende oggend te gaan afhaal. Net om te kyk.

So lyk ons staanplek.
Jy het 'n houtafskorting, kragpunt en vuurput.
Die kampterrein is baie netjies en boomryk. Die gras is welig en elke staanplek het sy eie hout-afskorting, vuurput (bring jou eie driehoek vir die rooster) en kragpunt. Jy is ’n hele entjie van jou buurman af. Die ablusieblokke lyk splinternuut en is silwerskoon. Die storte het warm water.

Die lapa en ablusieblok.
Die badkamer.
Die staproetes.

By die gemeenskaplike lapa en braaiplek is daar ’n yskas wat jy met die ander kampeerders deel.

Broodjie op die kole

Die Oztrail-tent slaan maklik op (ons is dankbaar oor die hamer) en lank voor sononder brand ons twee vroue se vuurtjie. Ons gaan steaks en wors braai, en het selfs ’n broodmengsel by ’n kerkbasaar (!) gekoop wat jy met bier aanmaak.

Dis ’n feesmaal. Voor ons tweede koppie koffie kom groet ons eerste stel bure, toevallig Evan Naudé, een van my oudkollegas van WegRy! Evan moet vuuraanstekers leen, maar ek het gelukkig uit my fout van my De Mond-uitstappie geleer en het oorgenoeg saamgebring. Evan skud sy kop en lag. “Nee, ’n vleishamer sou nie werk nie. Julle sou net ’n tweede keer moes koop.”

Ons potjie prut.
Daar's 'n broodjie op die kole.

Dis verrassend koud toe die son sak en ons gaan kruip vroegerig in. Die tent het ’n ordentlike net aan die binnekant wat die muskiete uithou en die kampbeddens is heerlik gemaklik. Ons slaap soos ’n droom.

Ons slaap trouens so lekker, die son sit al hoog teen die tyd dat die piet-my-vrou ons wakker raas en ons opstaan om te gaan eiers roer in die “Bon Voyage – nice pot”. Daarna gaan loer ons hoe die hutte lyk.

Op pad na die hutte.

Kringe in ’n bos

Jy bereik die hutte van Grootvadersbosch deur ’n 3 km lange grondpad wat deur van die mooiste woudplantegroei in die land kronkel. Twee keer stop ons vir ’n bosbok wat hom nuuskierig in die pad tuisgemaak het, en moet telkens die voëlkykgids uithaal vir die geveerdes langs die pad. 

Die hutte is feitlik splinternuut.
Die lekker leefvertrek.
Die slaapkamer.

CapeNature het 11 nuwe hutte aan die einde van 2016 bygevoeg en ek is beïndruk.

Ek is eintlik ’n klein bietjie spyt dat ek kamp, en nie in een van die hutte bly nie. Ons sluit Hut 5 oop, wat ’n groot leefvertrek met ’n ingeboude kaggel het. Die oopplankombuis het marmerblaaie wat met ’n skuifdeur na ’n onderdak-braailapa oopmaak. Jy sal al sommer in jou eie lapa kan sit en voëls kyk. Die badkamers is nuut en netjies, en die twee slaapkamers het slaapplek vir 4 mense (een het ’n dubbelbed, die ander een twee enkelbeddens).

Wenk van die maand: Hierdie hutte kan jy buite seisoen teen net R1100 huur. (Jy kan my later bedank!) Daar is ook konferensiegeriewe, as jy lus het vir ’n bosberaad wat ’n slag in ’n bós is.

Ons gaan stap in die bos.

Grootvadersbosch is veral gewild onder stappers en voëlkykers.

Hier is ook roetes vir bergfietsryers en veldlopers (“trail running”). Drie staproetes (6 km, 10 km en 15 km) spring by die kampstaanplekke weg, en ons stap vir die res van die oggend ’n deel van die Bosbokroete. Ons sit ook ’n goeie uur in die voëlskuiling en voel soos grootmense wat ’n boomhuis ontdek het. As jy met swaaiende bene in die boomhuis sit, kan jy voel hoe jou battery herlaai. 

Die voëlskuiling is 'n boomhuis vir grootmense.

Na middagete stap ons af na die tweede voëlskuiling. Die pad is ongelooflik mooi. Grootvadersbosch lê in een van die belangrikste Afromontane-woudstreke in Suider-Afrika (een van die agt biogeografiese streke in die wêreld), waar daar Afro-tropiese plant- en dierelewe voorkom. Die meeste van die 35 woudboomspesies word hier aangetref, soos die rooi-els, yster, stink en geelhout. Byna 200 voëlspesies word gereeld hier opgemerk en heelwat kleinwild. As jy baie gelukkig is, sal jy op die uiters seldsame spookpadda hier afkom. 

Ons sterre skitter 

Vir aandete moet ons “Bon Voyage – nice pot” weer gereedstaan vir ons pasta. As ons geweet het ons gaan ’n yskas tot ons beskikking hê, sou ons nog vleis vir die braaivleisvuur ingepak het, maar volgende keer sal ons beter voorbereid wees. Daar sal beslis ’n volgende keer wees. 

Terwyl die res van die land sit en naels kou oor die Springbok-sterre se gesukkel in Parys teen die Franse Hane, kyk ons na die sterre in die hemel en besef net weer hoe geseënd ons in Suid-Afrika is. Langs ons het vyf studente helderoranje tente opgeslaan. Ook hulle moet kom vuuraanstekers leen. Dis ’n gesellige aand. 

Vinnige stop op pad huis toe

Die ding van kort wegbreke hierdie tyd van die jaar is dat jy so traag raak om weer aan die gang te kom. Ons maak Sondagoggend vir oulaas ontbyt, en teug vroegoggend rustig aan ons koffie. Die oggendlug is vars en koel. Ek kan voel ek het gerus. 

Roer jou, Blommetjie.

Die pad uit Grootvadersbosch is ’n mooi grondpad. Ons hou stil vir foto’s en wag geduldig dat ’n wegbreekkoei oor die pad stap.

Ons wil die huis-toe-ganery nog ’n ruk uitstel, en besluit om middagete op Tulbagh se eet. Dan kan ons sommer ’n bietjie swem en op die waterwurm ry. (Dagpas by Tulbagh se warmwaterbron: R100). Ons laaste stop is vir koffie buite Robertson by die Affieplaas-padstal. 

'n Laaste dippie.
Koffiestop.

Jy kan nie help om op sulke naweke onder die sterre te sit en voorraadopname te maak van jou jaar nie.

In 2017 het ek baie van die CapeNature-oorde “ontdek”. Ek het byvoorbeeld vir die jaar vir die eerste keer in baie jare ’n draai by die Sederberge gemaak, en ook uitgekom by Rocherpan, die Lambertsbaai-voëleiland, en laasweek by De Mond.

Ek was telkens verras dat daar sulke juwele onder ons neuse sit wat ons miskyk. Hoe rowwer jou jaar is, hoe meer moet jy tyd maak om jou batterye te herlaai, en die CapeNature-reservate het soveel om te bied. 

Dagbesoekers kan hier piekniek hou.
Ek wil ook gaan: Grootvadersbosch

Kampplek: R160 per nag vir die “gewone staanplekke”. Die private staanplekke sal later beskikbaar wees. Die gewone staanplekke het ’n kragpunt, kraan, windskuiling en vuurput. Die ablusieblok is splinternuut en netjies. Daar is spoeltoilette en warm storte, en ’n gemeenskaplike ys-en-vrieskas in die braailapa. Daar is ook ’n klimraam vir die kinders. 

Hutte: Vanaf R1100 per nag (slaap 4). Het alles wat kan oop- en toemaak. Dit lyk soos die hemel.

Bewaringstarief: R40 per dag vir volwassenes, R20 vir kinders.

Selfoonontvangs: Werk maar by die huis. Daar is ’n vrotterige sein rondom die Ontvangskantoor, maar dit raak slegter namate jy die bos invaar – wat ’n goeie ding is.

Webtuiste