Dalk hoor jy al jare lank van die Camino, maar jy sien nie kans om dit op jou eie aan te pak nie? Twee staatmakers in die reisbedryf, Weg en Maties Travel, het kragte saamgesnoer om twee groepe pelgrims laat in September Spanje toe te neem. 

Die wat en wanneer:

• Ons stap die Finisterre-roete: dus vanaf Santiago de Compostela tot by die 0 km-merk in Finisterre. Die toer is in totaal 11 dae (die reisdae ingesluit), maar daarvan stap ons op 6 agtereenvolgende dae. 

Wanneer:

• 3 - 14 September 

OF

• 1 - 11 Oktober 

Die hoeveel:

Totale toerprys: Sowat R18 900 p.p. (vanaf Kaapstad)

Dit sluit in: 

• Vlugte in ekonomiese klas (lughawebelasting ingesluit) 

• 9 nagte se verblyf in eg Camino-herberge

• Daaglikse vervoer van jou rugsak na jou oornagverblyf

• 3 aandetes (soos op die program aangedui)

• 2 stadstoere (soos op die program aangedui)

• ’n Camino-paspoort en visum-brief

• Groepsversekering

Wat is nié ingesluit nie

• Schengen-visum. Maties Travel is bereid om jou met die reëlings te help, maar jy moet die onkoste daarvan dra.

• Ontbyte en etes langs die pad (’n mens eet meestal straatkos op die Camino). Sowel as sommige aandetes.

• Persoonlike uitgawes soos oproepe, wasgoed en drankies

• Plaaslike busvervoer 

Hoe en hoekom?

Met Weg se veldtog in September verlede jaar het ons verslaggewer in ’n stadium ’n vlug verpas en op die lughawe gestrand gesit saam met ’n vrolike groepie van Maties Travel wat pas ook die Camino gestap het.

Dit het heerlik gesellig gelyk. Terug op kantoor het ons besef daar is ’n groot behoefte aan toere waar mense die pelgrimstog kan beleef, maar die spanning van die reisreëlings aan iemand anders kan oorlaat. Maties Travel was ’n geskikte vennoot vir ons. 

Omdat die Camino steeds ’n tyd is om “tot rus te kom” en introspeksie te doen, is die groepe nie groot nie. Ons het net plek vir 12 lesers per groep. As jy lus het vir ’n jôl-en-mall-ervaring, verwys ons jou met liefde en geduld na ander toere.     

Toerprogram:

Dag 1: Vertrek uit Kaapstad

Dag 2: Arriveer in Santiago de Compostela.

Besoek die katedraal, gaan op ’n stadstoer en eet ’n kroegaandete (ingesluit in die toerprys). Ons slaap om die draai van ons wegspringplek op die Finisterre-roete.

Dag 3: Santiago de Compostela tot Negreira (22 km)

Ons val so 08:00 se kant in die pad. Dis ’n bultjie tot op Trasmonte, maar van daar af is dit afdraand tot in Neigreira. Sorg vir jou eie aandete.

Dag 4: Negreira tot Vilarserio (13 km)

Elkeen stap vandag teen sy eie pas teen A Pena uit tot by die skouer van Monte Aro. Vanaand word ons met eg Spaanse gasvryheid op die platteland onthaal. Die aandete is ingesluit by die toerprys. 

Dag 5: Vilaserio tot by Olveiroa (sowat 18 km)

Ons stap heeldag tussen plase deur. Daar is hope geleentheid vir bier en cappuccino by plaaslike dorpies langs die pad. Olveiroa is bekend vir sy ou pelgrimsgeboue. (Aandete is vir jou eie sak.)

Dag 6: Olveiroa tot by Cee (19 km)

Ons stap vandag in die heuwels en gaan die see die eerste keer sien. Die skof loop deur stil en afgeleë dele, maar dis ’n pragtige omgewing. Nadat ons die spits van San Pedro bereik het, is dit afdraand tot in die vissersdorpie Cee. Vanaand kan jy seekos bestel (vir jou eie sak).

Dag 7: Cee tot Finisterre (17 km)

Vandag stap ons al langs die kranse langs, maar dis ’n pragtige roete. Jou dag eindig met jou voete in die seesand. Finisterre is ’n hawestad en bekend vir sy lekker seekos. (Aandete vir jou eie sak.)

Dag 8: Finisterre tot by die lighuis

Dis ’n rustige dag. Slaap ’n bietjie laat. As die mis omtrent 11:00 gaan lê het, stap ons die maklike 4 km tot by die lighuis “aan die einde van die wêreld”. Jy moet ook jou Camino-sertifikaat gaan afhaal. 

Dag 9: Finisterre tot Santiago de Compostela

Ons ry vroegoggend met die plaaslike busdiens terug na Santiago de Compostela. (Jy betaal jou eie kaartjie.) Om 12:00 woon ons die gebruiklike pelgrimsnagmaal by, en om 13:00 ontmoet ons ’n privaat toergids vir ons stadstoer. Gebruik jou tyd hierna om deur die keisteenstrate te dwaal en in die straatkafees te kuier. Aandete is vanaand vir jou eie sak.

Dag 10: Santiago de Compostela tot Porto in Portugal

Dis vroeg uit die vere sodat ons ’n bus kan haal. Die roete volg die Portugese Camino-roete tot in Porto (as jy dalk eendag wil terugkeer om dit te loop). Ons sluit ons toer af met ’n gemeenskaplike aandete in Porto (ingesluit by die toerprys). 

Dag 11: Ons vlieg huis toe.

Ek wil gaan:

Klink dit lekker? Bespreek by Lyndley

E-pos: Lyndley.Mitchell@travel.co.za

Tel. 021 880 0025

Geborg deur: