CapeNature het vir Gerda Engelbrecht genooi om ’n draai te kom maak. 

“Koehieee,” roep ek eers sag en hoflik. “Koehieeeeeeee . . .” nou dringender. “KOOEEHHIIEEEEEE,” ek raak nou al effens onbeskof.

Ek staan voor die hek by Tweede Tol, die kampterrein van Cape Nature se Limietberg-reservaat in die Bainskloofpas anderkant Wellington. Ek het reeds die nommer op die hek geskakel, maar daar is geen selfoonsein hier in die pas nie. Langs my het twee jong Duitsers in swemdrag in ’n huurmotor stilgehou. Hulle is ook haastig om by die hek in te kom.

Welkom by Tweede Tol.
'n Kaart van die terrein.

Amanda kom vriendelik aangedraf en sluit die hek oop. Ek het ’n bespreking en hulle verwag my. Die Duitsers is dagbesoekers by die piekniekplek, wat dadelik koers kies in die rigting van die swemgate.

Amanda stop vir my ’n kaart van Tweede Tol in die hand en beduie na kampplek 21, waar ek my kan tuismaak. Dis een van hul ses privaat staanplekke, waar jy jou eie badkamer het.

Staanplek 21.
Ons pak woerts-warts uit.
Die braaiplek is voor en die badkamer agter.

Ek kan sien kampplek 21 is die kroonjuweel. Die staanplek is enorm en heeltemal in die skadu, danksy ’n boom binne die staanplek en ’n paar wat reg langs die heining staan. Daar is ’n dek waar jy kan tent opslaan, ’n braaiplek met ’n wasbak en ’n werkoppervlak, en ’n stewige tafel en sitplekke. Agter die braaiplek is ’n badkamer met ’n warmwaterstort (danksy ’n gasgeiser), wasbakkie en toilet.    

CapeNature is besig om ’n sagte plek in my hart te kry. Ek het grootgeword met Wildtuin-vakansies en my pa is meer besitlik oor sy Wild Card as sy kredietkaart, maar CapeNature se reservate het al die jare onderbenut hier onder my neus gesit. Totdat ek besef het watter juwele het ons in die Sederberge, Grootvadersbosch, De Mond (by Struisbaai), Rocherpan... en nou die Limietberg-reservaat. Tweede Tol is skaars ’n uur se ry vanaf my huis af, en die perfekte plek om oor ’n naweek asem te skep. 

Die bure se staanplek.
Speelplek vir die tjokkers.
Die gewone staanplekke.
Hier kan jy sien hoe groot die staanplekke is..

Wat is nié hier nie?

Jy moet vir CapeNature volpunte gee. Nie net vir die geriewe wat hulle beskikbaar stel nie, maar ook – belangriker – vir die dinge wat jy nié by Tweede Tol sal kry nie. Netjiese badkamers: regmerkie. Warm storte: regmerkie. Koeltebome en gras by die staanplekke: regmerkie. Hope plek vir swem en stap: Regmerkie. ’n Winkel, wifi en waterwurm: Vergeet daarvan! Trouens, hier is jy so “van die grid af”, hier is nie eens kragpunte nie, laat staan nog selfoon- of internetontvangs. Dis die plek waarheen jy kom om jóú batterye te herlaai, nie jou skootrekenaar s’n nie. 

En vir ’n stadsjapie verg dit aanvanklik ’n aanpassing… Jy bly kyk of daar nie nóú ’n strepie of twee ontvangs vir jou selfoon is nie, totdat jy besef jy kan met gemoedsrus maar daardie selfoon wegsit en jou boek uithaal. 

So lyk die ryhuis binne. Links is 'n yskassie, wasbak en pakplek. Die bank regs word 'n dubbelbed. Daar is ekstra pakplek onder die bank.

Die woerts-warts-kampplek 

Maar niemand wil alleen kamp nie, en as jy in die middel van die week by die kantoor wegglip om te kamp (en dit boonop wérk noem), kan jy net ’n pensioenaris saamsleep. Ek het dus my ma saamgenooi. Maar aangesien my ma nou nie meer vandag se kind is nie, het ek besluit ek sal ons bederf en ’n ryhuis huur. Dan hoef ons nie tent op te slaan nie. Dit was egter makliker gesê as gedaan.

Ek het op drie of vier plekke in die Kaap kwotasies gevra, maar die verhuurplekke was óf neus-in-die-lug omdat ek die ryhuis net twee nagte wou hê, óf eenvoudig onbekostigbaar duur. Toe stuur my kollegas by Weg Ry en Sleep vir my die besonderhede van Happy Campers in Somerset-Wes aan. Daar het ek reggekom! 

Met ’n Kaapse draai

As jy op ’n weekdag gaan kamp, moet jy darem ’n okkasie daarvan maak. Ons het gewik en geweeg waar ons middagete gaan eet, en toe op die ou end die bloedrooi Nissan by Fairview gaan parkeer en heerlik onder die bome middagete bestel. Ons het ook genoeg kaas en beskuitjies vir ons wegbreek gekoop. 

Fairview.
Souttert en slaai
Redemption.
Noem my sommer Granny Smith.

Net voor die Bainskloofpas het ons links gedraai na Redemption en elkeen ’n paar leerskoene uitgesoek. Ek het besluit dis nie ’n dag vir stemmige skoene nie. 

Daarna was dit ons, die rooi Nissan en Bainskloofpas. Bainskloofpas is ’n instelling in die Wes-Kaap – amper ’n besienswaardigheid in eie reg. Dis een van die ingenieursmeesterstukke van die Skot Andrew Geddes Bain, en is in die 1800’s deur gevangenes gebou en in 1854 geopen. My oupa-hulle was Vrystaters, wat voor die koms van die Hugenotetonnel nog met dié pas Kaap toe gery het. Darem nie meer in ossewaens nie, maar sekerlik nie met die motortegnologie wat ons vandag tot ons beskikking het nie. Die pas strek oor 18 km en het ’n paar bedrieglike kronkels, maar die uitsig is pragtig, en daar is ’n paar aftrekplekke van waar jy die uitsig oor die vallei kan inasem.

Op Bainskloofpas.
Jy kan myle ver sien.
Die uitsig.

Die hek na Tweede Tol is in die pas self geleë, op die plek waar daar jare gelede ’n tolhuis was. Dis hier waar ek nou pas gestaan en “koehieeee” roep het. 

Ek en my ma het ons spyskaart haarfyn beplan en vanmiddag net iets lig geëet, want vanaand wil ons met ’n glasie om die kampvuur sit. Ons het hoendersosaties vir die kole, en ’n kastrolletjie met ’n bierbroodmengsel by Woolies gekoop. Vir die koffiewater haal ons sommer die gasstofie uit ons Happy Camper uit. Die ryhuis was ook toegerus met eetgerei, breekgoed, glase en selfs beddegoed. Ons het soos “ladies of luxury” net ons klere ingegooi en in die pad geval.

Bierbrood.
Nou gaan ons braai.
Nie sleg nie!
Mmm. Koningskos.

Proe iets lekkerders as braaivleis in ’n kampterrein? Ons sit die aand nog tot laterig om die vuur, ek met my boek en my ma het haar sudoku’s, maar toe die sterre kop uitsteek, gaan kruip ons in. Ek wil vroeg op om ’n paar van die staproetes in die omgewing aan te durf.

Die oggendstond het spek en eier in die mond

Ons slaap vas. Dis ’n weeksaand buite seisoen en ons het net mense by een ander staanplek gesien – ’n bakkie met ’n daktent. Ons is bederf met ’n badkamer hier op ons drumpel. Ons sit kort na dagbreek al met ons tweede koppie koffie onder die bome, die eiers en spek braai sissend in die pan op die gasstofie. Ek dink leedvermakerig aan my kollegas wat nou in die verkeer op die N1 sit en vloek. Daarna trek ek my stapstewels aan en maak my waterbotteltjie vol.   

Op pad waterval toe.

Tweede Tol en die Limietberg-reservaat is ’n stappersparadys. Jy kom hierheen om te stáp. Hier is ’n fantastiese piekniekplek by die swemgat waar 120 besoekers per dag toegelaat word (met skoon toilette, braaiplekke en tafels onder die koeltebome). 

Die dagbesoekers se swemgat.
Lekker braaiplek vir die piekniekgangers

Hier het ons die twee Duitsers weer laatmiddag raakgeloop, besig om in die son te lê en die watergate te geniet. Die staproetes wat vanaf Tweede Tol wegspring, is egter uitsluitlik vir die oornagbesoekers beskikbaar. Die dagbesoekers word tot ’n deel van die terrein beperk. Ek het reeds aanwysings gevra na die waterval, ’n maklik 2 km-roete wat klein kinders ook sal kan stap. Maar hier is ook moeiliker en langer roetes vir die gesoute stappers. (Lees onder meer hieroor.)

Die waterval.
Ek kry hierdie outjie in 'n rotspoel.
'n Gogga op die blom.
Veldblommetjies

By die waterval moet ek kophou met die klim, maar my moeite word beloon met die mooiste natuurskoon. 

Toe die son laatmiddag afgekoel het, stap ek op met die berg met die roete wat omtrent langs staanplek 21 begin. Die pad vurk bo op die koppie, en bied ’n keuse van twee roetes. Ek loop die twee inwoners van die daktent raak, wat my vertel hulle is van Somerset-Wes en kom minstens een keer per jaar vir ’n week lank hier staan – juis “omdat niemand ons hier in die hande kan kry nie”. Omdat dit al laat is en ek nie in die skemer op die berg gevang wil word nie, draai ek om, maar die roetes is omtrent 4,5 km lank en eindig weer by Tweede Tol. Dis idillies! 

Die swemgat by die piekniekplek.

Laatmiddag maak ek en my ma weer ’n draai by die swemgate in die Witterivier. Die water is spieëlglad en jy hoor die sagte suising van die naaldekokers op die water. Ons kuier die aand vir oulaas om die vuur – ek is selfs spyt dat ons nie ons bordspeletjies saamgebring het nie, want hier is so ’n lekker tafel vir kuier. Maar volgende keer sal ek die elektroniese goed by die huis los en die bordspeletjies inpak.  

Ek wil ook gaan

Besprekings: Vir verblyf in enige CapeNature-reservaat, besoek www.capenature.co.za

Wenk:

Op Swart Vrydag (vanjaar op 23 November) gee CapeNature gróót afslag op verblyf in selfsorgeenhede.

Die privaat staanplek.

Limietberg: Gewone staanplekke begin by R160 per nag buite seisoen. Die privaat staanplekke (elkeen met sy eie badkamer) begin by R260 per nag vir twee mense in die buite seisoen. (Daarna R80 vir elke ekstra persoon op die staanplek, tot by ’n maksimum van 6 mense.)

Limietberg het geen hutte of rondawels nie. As jy nie ’n Wild Card het nie, moet jy ook ’n bewaringstarief van R40 (R20 vir kinders) betaal. Dagbesoekers betaal R50 vir die piekniekplek. 

Ons Happy Camper.
Happy Campers: Twee nagte se huurgeld was R3400. Ek het ook ekstra versekering vir R1200 bygesit, maar later gesien die R3400 het basiese versekering ingesluit. (Besluit of jy die kans wil vat.) Die ryhuis is fantasties ingerig. Jy het nét jou klere nodig. Ek en my ma is albei kort, maar ek het gehoor dat ’n ou van 1,9 meter óók inpas. Bespreek dit hier: happycampers.co.za

Die roetes is so gemerk.

As jy wil stap en stap en stap...

Die Limietberg-reservaat strek oor 102 000 hektaar. Hier gaan jy deur bergskeure skuur, riviere deurkruis en van klip tot klip moet spring. Wenk: As jy ’n paar behoorlike bergklim-sandale het, is dit die ideale plek om hulle te dra. 

Jy kan ’n brosjure met ’n goeie kaart van die staproetes hier aflaai, maar hier is ’n opsomming: www.capenature.co.za

Die Limietberg-staproete (20,5 km, 2 dae, sirkelroete)

Dag 1 (13 km): Die roete spring by Tweede Tol weg en gaan tot by die Corner Lodge, 2 km suid van Eerste Tol. Die eerste 4 km klim jy in die Wolwekloof op, maar daarna het jy pragtige uitsigte oor die Bergriviervallei. Jy moet jou eie verblyf by die Corner Lodge reël.

Dag 2 (7,5 km): Stappers kan uit drie roetes kies om weer Tweede Tol te bereik. Jy kan in jou spore van die vorige dag terugstap, met die pas langs terugstap, of via die Klipspringerroete weer tot by Tweede Tol kom.  

Klipspringer (7,5 km)

As jy ’n tiener het wat jy aan stap wil bekendstel, is hierdie ’n lekker keuse. Met die Klipspringer (“Rock hopper”) moet jy jou eie pad vind, al langs die rivier af. Die rivier is vol reuserotse en lekker rotspoele. Julle kan dus elke paar kilometer eers ’n bietjie afkoel. Jy kan óf vanaf die Bainskloof Lodge tot by Tweede Tol loop, óf vanaf Tweede Tol tot by die Bainskloof Lodge. Jy moet reëlings tref om weer by jou voertuig uit te kom.

'n Paradys vir stappers

Murasie (7 km, heen en weer)  

Dis ’n rustige slenterstappie tot by die murasie van die “spookhuis” (Hugo’s Rest). Parkeer by die Bainskloof Lodge en klim met die traphek oor die draad. Die roete is geskik vir groter groepe en daar is lekker swemplek langs die pad. 

Bobbejaansrivier (9 km, heen en weer)

Parkeer by De Nek by die Bainskloof Lodge en volg van daar af die roete al langs die Bobbejaansrivier af, ’n sytak van die Witterivier. Ná omtrent 3,5 km kan jy afdraai na lekker swemgate. Die laaste 750 meter is ’n steil klim na die waterval. Hierdie roete is gewild in die somer, wanneer jy die Kaapse disa  kan sien blom. 

Happy Valley (10 km, heen en weer)

Die roete volg ’n deel van die Limietberg-staproete en slegs 12 stappers per dag word toegelaat. Dit begin op die parkeerterrein van die Bainskloof Lodge en eindig by lekker swemgate.

Kromrivier (7 km, heen en weer)

Jy moet ’n permit hê om in die omheinde parkeergebied aan die Worcester-kant van die Hugenote-tonnel te parkeer. Van daar af loop die roete oor die brug oor die Molenaarsrivier en op al langs die Kromrivier. Wees versigtig wanneer jy na die tweede waterval klim. Die roete word soms in die winter weens swaar reën gesluit.

Miaspoort (8 km, heen en weer)

Die roete begin by die ou Dutoitskloofpas bo die oostelike ingang van die Hugenote-tonnel. Die eerste twee uur verg ’n moeilike klim, daarna is die roete maklik totdat jy weer die laaste stuk tot by Hugenotekop moet uitklim. Laasgenoemde is in 1945 deur die Italiaanse krygsgevangenes, wat die pas gebou het, opgerig. Die beloning is egter ’n onvergeetlike uitsig oor die Boland.   

Vir meer inligting: www.capenature.co.za