foto’s Kyle Kock

Vir mense wat uit Gauteng se betonoerwoud wil ontsnap, maar nie langer as ’n halwe dag in die kar wil deurbring nie, is daar baie ware bosveldbestemmings.

Ons en ons voorgangertitels was oor die jare by ’n groot aantal van dié kampplekke, en by sommige van hulle het ons ’n tweede keer gaan inloer as dinge verander of die geriewe opgeknap is sedert ons laas daar was. Dié slag het ons van drie kampplekke gehoor waar ons nog nie voorheen was nie. Wat net weer eens bewys dat sodra jy dink jy het alles gesien, is daar altyd ’n nuwe bestemming wat jy kan gaan verken.

NYLSTROOM-LODGE

Tussen die wild

Dié kampplek, 25 km buite Modimolle, bestaan al 25 jaar, maar die eienaars, Johan en Lorraine Maritz, het die daaglikse bestuur daarvan in Januarie vanjaar aan Shawn en Libby Thomas oorhandig. Dié twee sê hulle is oorgehaal om die kampplek in een van die gewildste bestemmings in die omgewing te omskep.

Die hoofhek word toegehou omdat hier wild op die landgoed is en hulle wil keer dat hulle die grond verlaat. Jy maak net die hek oop wanneer jy hier aanland en maak hom weer agter jou toe.

Kies jou plekkie

As jy die pad volg en by die ontvangskantoor regs draai, ry jy verby die swembad links van jou en die minigholfbaan aan jou regterkant. ’n Entjie verder is die kampterrein.

Die staanplekke is nie afgebaken nie, maar jy kan die 10 baksteen- en betonblaaie gebruik om te sien waar die een eindig en die volgende begin.

Nie al die staanplekke is onder koeltebome nie en van hulle is nader as ander aan die krane, kragpunte en ligte wat in die kampterrein versprei staan. Die kragpunte het genoeg sokke vir almal – by van hulle is daar tot agt gewone huissokke en twee blou sokke.

By die ander is daar tussen twee en vier sokke per kragpunt. Die kampterrein is op ’n skuinste uitgelê en die betonblaaie sorg vir ’n soliede stuk aarde waarop jy jou wa se hoekstutte uitdraai. Die koeltebome staan nie dig teen mekaar nie; dus kry die staanplekke ook genoeg son om vir ’n welige grasmat te sorg.

Ontspan, man!

Jy kan jou vleisie bring en langs die swembad kom braai as jy ’n ogie oor die kinders in die water wil hou. En dis gratis om minigholf te speel, maar jy moet die stokke en balle by die kantoor gaan haal.

Die minigholfbaan is die naaste aktiwiteit aan die kampterrein waar rustelose kinders hulle besig kan hou, maar hulle moet eers die setstokke en balle by die ontvangskantoor gaan haal.

Die swembad is groter as die meeste wat jy by ’n voorstedelike huis sal kry en hier is twee glyplanke waarop die jong klomp kan baljaar – een reguit en mak en die ander met kinkels soos op ’n glybaan. Die swemgebied is omhein en hier is piekniektafels en stoele waar jy jou kan tuismaak as jy ’n ogie oor die kinders wil hou.

As jy ’n bietjie in die son wil baai, kan jy jou boek vat en op een van die leunstoele gaan uitspan. Wanneer die kinders droog is, kan hulle in die groot speelpark agter die swemplek gaan speel. Hier is twee trampoliens, swaaie en ander stellasies om van hulle oortollige energie ontslae te raak.

Hier is ook ’n vlugbalnet op die grasperk waar julle die buurman en sy gesin kan uitdaag vir ’n vinnige pot of twee.

Vir die meer mededingende kampeerders is hier iets wat effens meer uitdagend is. Die eienaars is ywerige verfbal-entoesiaste en het ’n deel van die oord as ’n verfbalbaan ingerig. Dié lappie grond is links wanneer jy by die hek inry en die brug oorsteek. Hier kan jy in die natuurlike plantegroei agter ou motorwrakke en ander hindernisse wegkruip terwyl jy op jou vyand wag.

As dit nie iets is wat jou hart vinniger laat klop nie, kan jy jou visgerei dam toe vat en gaan kyk of jy ’n karp of kurper aan jou hoek kan kry. Laat die vis wat jy vang, weer vry.

Tyd om te stort

Die ablusieblok is voor die kampterrein, anderkant die gruispad wat in ’n sirkel rondom loop. Hier is ’n groot buislig aan die buitekant; dus hoef jy nie bekommerd te wees dat jy jou toon gaan stamp op pad hierheen nie.

Die opwasplek is in die middel van die ablusieblok en hier is twee wasbakke om jou borde, messe en vurke skoon te kry. Aan die oorkant is ’n werkblad waar jy die skoon goed kan neersit. Hierdie deel is ook die ingang na die gemeenskaplike braaiplek langsaan.

Die ablusieblok het aparte geriewe vir mans en vroue. Die gebou is eenvoudig, maar netjies geteël tot omtrent borshoogte. Die drie toilette en drie storte word deur ’n sinkplaatmuur verdeel en hier is ’n badkamer met ’n bankie waarop jy jou klere droog kan hou terwyl jy in die bad week.

Die storte is ruim en hier is ook pakplek en hake vir jou handdoek. Hier is drie wasbakke om jou gesig te was en jou tande te borsel, met genoeg plek tussenin vir jou badkamersakkie. Buiten twee losstaande ottomans is hier nie regtig plek om te sit wanneer jy jou skoenveters wil vasmaak nie.

Gaan gou winkel toe

Die Nylstroom-lodge se oordwinkel is links van die ontvangskantoor en hier hou Libby meer as net die broodnodige items soos hout en ys in voorraad. Jy kan kom aanklop vir brood, kaas, uie, tamaties, melk, blikkieskos, eiers, koeldrank, koffie, tee, suiker, koekies en genoeg lekkergoed om selfs die onversadigbaarste soettand tevrede te hou.

Dis ’n ordentlike winkeltjie en al wat jy hoef te onthou is jou vleis en hardehout. Libby hou ook ander items soos penne, boeke en selfs tolle aan as jy ’n bietjie jou jeugjare wil herleef.

In die kampterrein is drie los braaidromme met roosters wat jy na jou staanplek toe kan dra. Die gemeenskaplike braaiplek agter die ablusieblok het ook drie betonbraaiers en hier is tafels en stoele as jy en jou vriende ’n bietjie meer beskut wil wees terwyl julle om die vuur kuier.

Kortliks | Nylstroom-lodge

Kampplek 10 onafgebakende staanplekke met ’n betonblad, gras en koeltebome. Jy deel jou kraan en kragpunt met jou bure.

Ablusiegeriewe Nie nuut nie, maar skoon en netjies met elektriese geisers.

Prys R250 p.n. per staanplek (vir tot 4 mense) ongeag wanneer jy kom kamp.

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 10 vm.

Kontak 087 808 5422 of 083 417 0436;  nylstroomlodge.co.za

Naaste dorp Modimolle (25 km).

Hoe lyk die pad Die laaste 1,3 km is ’n grondpad wat op plekke sinkplaat gery is.

GPS S24.542841 E28.330914

Weg Ry & Sleep Onthou jou verlengkoord (minstens 10 m) en bring eerder jou eie braaier en geniet ’n ware gesinsvriendelike kampplek saam met jou mense. 

THABAPHASWA MOUNTAIN SANCTUARY

Kom speel

Die oord is genoem na die nabygeleë Thabaphaswa, wat “berg van die swart en wit bul” beteken. Dié berg troon uit bo die vallei waar die kampplek op ’n nguni- beesplaas geleë is. Dis ’n beesras wat geteel is om in die strawwe plaaslike toestande te oorleef en eet blare wanneer weiding skaars is.

Die eienaars, Deon en Ankie Richter, het die plaas van 330 ha in 1994 gekoop en woon sedert 1998 hier. Hulle is albei ywerige kampeerders en het kort nadat hulle hier nesgeskop het, hulle deure oopgemaak vir buitelewe-entoesiaste wat van die stad se gejaag wil ontsnap. Hulle huur ook ’n stuk grond van 2 000 ha as weiding vir hulle beeste en ’n plek waar 4x4-geesdriftiges hulle rygoed op die proef kan stel.

Raak gemaklik

Thabaphaswa lê 18 km noord van Mokopane. Om hier te kom moet jy ’n stuk rowwe grondpad ry – dis 2 km van die afdraai tot by die plaas se hek, en as jy ’n lae padwa sleep, kan dit jou ’n rukkie besig hou.

Wanneer jy hier aankom, is alles duidelik met padbordjies gemerk en jy loop nie die gevaar om te verdwaal nie. As jy aanlyn bespreek het, stuur hulle vir jou ’n kaart van die plaas, maar gaan boek eers by Deon by die plaashuis in.

Die ontvangskantoor is hier, 1,3 km van die hek af. Die drie plaashonde, Bruno, Igor en Pedi, is die eerstes wat jou verwelkom. Hulle is vriendelik en altyd op soek na geselskap – en dus meer as bereid om jou op ’n staptog op die plaas te vergesel. Jy kan jou eie vierbeenkind ook saambring, want die kampplek is troeteldiervriendelik en Ore kan na hartelus hier rondhardloop en vriende maak.

Dis 2 km van die afdraai tot by die plaas se hek, en as jy ’n lae padwa sleep, kan dit jou ’n rukkie besig hou.

Deon ken vir jou ’n staanplek toe afhangende van jou ryding en wa. Op sommige plekke het jy wel ’n viertrekvoertuig en ’n wa met ’n goeie grondhoogte nodig.

As jou hout, ys of vuuraanstekers opraak, kan jy dit by Deon koop teen onderskeidelik R30, R12 en R20 per sak.

Al die staanplekke het ’n soortgelyke tema. Dit is ’n lappie aarde in die Bosveld wat skoongemaak is, en hier is nie juis gras om oor huis toe te skryf nie (en hulle is ook nie almal ewe gelyk nie) – onthou dus jou grondseil. En laai jou LED-ligte se batterye, want hier is nie elektrisiteit by jou staanplek nie.

By sommige van die staanplekke kry jy ’n vuurput vir jou kampvuur. Jy kry ook ’n staanrooster en ’n driebeenstaander vir jou potjie. Die opwasplek vir jou skottelgoed is ’n eenvoudige metaalemmer in ’n staalraam met ’n werkblad aan albei kante. Jou kraan is ook naby – jy hoef nie ver te stap vir water nie.

Sit terug en verkyk jou

Die toilet- en stortgeriewe is sowat 30 m verder met ’n bospaadjie langs en is van die opelugsoort waar daar net ’n rietmuur tussen jou en die bosveld is. By die ablusieblok onder die Pump House-chalet handel jy jou besigheid af sonder ’n deur – jy kyk dus uit oor die heuwel op die buurplaas en die bergstroompie wat onder die kampterrein verbyvloei. By die Bergvy- en Thabaphaswa-kamp aan die ander kant van die plaas is die toilette meer privaat.

’n Donkie sorg vir jou stort se warm water, maar jy mag onder geen omstandighede die donkie self aansteek nie. Die personeel sal die vuur vroegoggend of laatmiddag kom aansteek, afhangende van jou behoeftes. Jy kan ook reël vir spesifieke tye.

DIE GEHEIM LÊ IN DIE EENVOUD. Hier is nie elektrisiteit by jou staanplek nie, maar jy kan vir jou ’n heerlike kampvuur in die vuurput maak. Die ablusiegeriewe is naby aan die natuur en ’n donkie sorg vir warm water.

Hier is ’n eenvoudige wasbak op ’n staaltafel vir gesig was en tande borsel, en onder die stortkop is ’n betonblad waarop jy staan terwyl jy skrop. Hier is ook ’n staander met hake vir jou handdoek, seep en sjampoe. Vroegoggend sorg die voëls, wat volop is in dié geweste, vir die koorgesang terwyl jy onder die water staan.

Avontuursoekers

Kranige fietsryers gaan hier in hulle element wees, want hier is verskeie fietsroetes in die omgewing wat wissel in afstand (7-15 km) en moeiliheidsgraad.

AVONTUURLUSTIG. ’n Mens wil amper sê dis onmoontlik om hier in die hartjie van die Bosveld verveeld te raak. Gaan stap, swem of speel met jou veldryer.

Jy kan jou speke op die hele plaas laat sing en selfs die 4x4- en quadfietsroetes met jou fiets aandurf. As jy gekom het om jou veldryer se spiere te bult, gaan jy na die buurplaas moet ry om te speel. Jy ry deur ’n beeshek aan die noordekant van die plaas.

Stappers en drawwers het ook ’n verskeidenheid roetes om van te kies, maar die eienaars beveel aan jy vermy vir jou eie veiligheid eerder die 4x4-roete. As bergklim onder een van jou stokperdjies tel, is hier vir jou iets te doen.

Die Bergklimmersklub van Suid-Afrika het ’n rotskrans hier ingerig, maar jy moet jou eie toerusting saambring. Jy kan ook hier abseil. As jou adrenalienvlakke versadig is, kan jy in een van die plaasdamme in die water gaan afkoel. By Hein se Dam is ’n meneer van ’n foefieslaaid waarmee jy van die rotse op die heuwel tot in die water kan gly.

Kortliks | Thabaphaswa Mountain Sanctuary

Kampplek 22 staanplekke sonder gras en elektrisiteit. Nie al die staanplekke is gelyk nie.

Ablusiegeriewe Buitelugtoilet- en stortgeriewe. Die personeel sorg dat die donkie aangesteek word.

Prys R155 p.p.p.n. (R80 vir kinders van 4-12 jaar; gratis vir o.4’s en honde).

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 10 vm.

Kontak 015 491 4882 of 082 389 6631;  thabaphaswa.co.za

Naaste dorp Mokopane (16 km).

Hoe lyk die pad? Jy ry 7 km grondpad tot hier en by plekke raak dit rof, veral as jy met ’n padwa kom kamp.

GPS S24.058473 E29.043822 (ontvangskantoor)

Weg Ry & Sleep Onthou jou fiets, verkyker en stapskoene.

BLOUBERG-NATUURRESERVAAT

Tyd vir jouself

As jy daarvan hou om in rus en vrede in die natuur te kamp sonder om gedurig toeriste of jou kampbure raak te loop, moet jy Blouberg redelik hoog op jou kamplysie skryf. Dit is nie ’n plek met ’n swembad, speelparkie of grootskermtelevisie nie. Trouens, hier is skaars selfoonsein en dit is net MTN-intekenare wat dan en wan sein kry.

Wat Blouberg wel bied, is ’n ware bosveld-ervaring waar jy verwyder word van die gejaag van ons hedendaagse bestaan en vir ’n klompie dae tussen die wild, volop voëllewe en roofdiere op ongerepte bosveld van 9 300 ha kan afskakel.

Welkom hier

Hier is twee kampterreine by Blouberg. Waar jy uiteindelik beland, word bepaal deur die voertuig wat jy ry en die wa wat jy sleep. Die 1,3 km grondpad van die hek tot by die ontvangskantoor is in ’n goeie toestand, maar hoe dieper jy in die reservaat ry, hoe sagter raak die sandpad – jy gaan kort voor lank ’n viertrekvoertuig en goeie grondvryhoogte nodig hê om jou wa deur te trek.

’n Spoedgrens van 30 km/h is van toepassing in die reservaat. Modumele is die mees afgeleë van die kampterreine en hier moet jy selfonderhoudend kan kamp. Wat ablusiegeriewe betref, moet jy tevrede wees met ’n puttoilet en emmerstort.

Molope is die ander kampterrein en makliker bereikbaar as Modumele. Hier is vyf groterige staanplekke – almal van hulle gelyk met harde grond. Onthou dus jou grondseil. Elke staanplek het ’n boom in die middel van die staanplek (tambotie, njala, molope of huilboerboon), en jou skaduwee hang af van langs watter boom jy jou kamp uiteindelik opslaan. Elke staanplek is toegerus met ’n braaier, rooster en vullisdrom.

Jy kry ook ’n blikdeksel om oor die kampvuur se kole te sit wanneer jy gaan inkruip. Die natuurlike plantegroei sorg vir ’n bosmuur tussen die staanplekke, en jy hoef nie bekommerd te wees dat jy jou buurman se doen en late hoef dop te hou hou nie.

Hier is een kraan vir die vyf staanplekke – tussen nr. 2 en 3. Afhangende van waar jy staan, moet jy 10-30 m stap wanneer jy koffiewater gaan tap. Nr. 5 is die naaste aan die ablusieblok, maar het ook van al die staanplekke die minste privaatheid.

Bespreek ’n begeleide staptoer en besoek die kremetartbome en aasvoëls.

Waar was jy?

Die ablusieblok is ’n klein en eenvoudige gebou met twee toilette en twee storte. Die stort aan die linkerkant is ook ’n opelug-affêre, maar daar is ’n draaddak wat keer dat bobbejaan se kind inspring en jou onderklere gaps. Hier is ’n betonbankie vir jou klere en twee hake vir jou handdoek en waslap. Die stort aan die regterkant is meer privaat. Die wasbakke is in die toiletkamers en jy moet jou tande hier borsel.

Die ablusiegeriewe by Blouberg is spartaans, maar skoon en netjies.

Hier is ook ’n spieël bo die wasbak. Die warm water word óók met ’n donkie gemaak, en jy kan self die vuur aansteek wanneer dit tyd is om te stort. Jy kan by die ontvangskantoor gaan vra dat die oordpersoneel die vuur op spesifieke tye vir jou kom aansteek, maar as jy kan, vra hulle jou om dit self te doen.

Oorkant die ablusieblok is ’n enkelwasbak vir jou skottelgoed. Dit staan in die oopte en het ook ’n werkblad as jy bykomende plek nodig het. Onthou om jou flits saam te bring wanneer jy in die nag die toilet moet besoek, want met al die bome om die gebou is dit snags stikdonker.

Bly in jou kar

Jy kan die reservaat met jou eie voertuig verken. Dit is gratis, maar wees versigtig, want op sommige paaie raak dit moeilik as jy nie in die regte ryding is nie. As jy nie met ’n viertrekvoertuig ry nie, kan jou wiele vinnig in die sagte sand verdwyn as jy moet rem of draai.

Kry vir jou die inligtingstuk by die ontvangskantoor wat jou oor dié dele waarsku. Indien jy wel vasval, kan die bestuur reël dat jy herwin word teen ’n koste van R500. Onthou net: Die selfoonsein hier is nie wat wonders nie en die kans is goed dat jy gaan moet stap om hulp te kry. En jy mag nie in die reservaat stap of fietsry sonder ’n gids nie. Jy mag ook nie snags (van ’n halfuur ná sononder tot ’n halfuur voor sonop) in die reservaat ry nie.

Een van die dele wat jy net met jou 4x4-voertuig kan bereik, is die plato bo die broeikolonie kransaasvoëls op die berg. Met meer as 800 broeipare is dié die grootste kolonie van sy soort ter wêreld. As jy nie met die regte voertuig kom kamp het nie, kan jy by die ontvangskantoor ’n wildrit (R200 p.p. – minimum 3 mense) of ’n rit na die aasvoëls (R300 p.p. – minimum 3 mense) bespreek.

Jy kan jou ook by die aasvoëls se “restaurant” gaan tuismaak. Dit is sowat ’n halfuur se ry van die kampterrein af by ’n watergat waar jy van ’n uitkykpunt af sien hoe hulle aan karkasse vreet. Die aasvoëls is nie die enigste geveerde attraksie nie; jy kry ook die bromvoël en ’n verskeidenheid ander roofvoëls hier. Jy kan ’n begeleide bostoer (R110) bespreek waar Ruan Stander vir jou interessante inligting gee oor die plaaslike dierebevolking en plantegroei.

Dit duur enigiets van 2-4 uur, afhangende van waar julle hom vra om te stap. Die Grootboom-afdeling van die reservaat is ’n lekker bederf vir natuurliefhebbers en die reuse-kremetartboom wat 19 m in omtrek is, is iets om te aanskou.

Wees versigtig wanneer jy hier ry en hou by die spoedgrens. Jy weet nie wat wag om die volgende draai nie – jy wil beslis nie in ’n onderonsie met iets soos ’n buffel, kameelperd of roofdier betrokke raak nie.

Kortliks | Blouberg

Kampplek 5 groot staanplekke tussen die bome by die Molope-kamp. Geen elektrisiteit nie.

Ablusiegeriewe Baie basies. Die ligte werk met sonkrag.

Prys R230 p.n. per staanplek vir die eerste 2 gaste. R80 p.p ekstra vir bykomende volwassenes (maksimum 6 mense) en R40 vir kinders. ’n Bykomende ingangstarief van R25 p.p. en R30 per voertuig word gehef.

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 10 vm.

Kontak  078 869 5240;  bloubergreserve.co.za;  info@kunemoya.co.za

Naaste dorp Vivo (18 km).

Hoe lyk die pad? Teer tot by die hek. Die 1,3 km van die hek af is ’n goeie grondpad.

GPS S22.977141 E29.15085

Weg Ry & Sleep Bring jou kamera se lang lens en pak maar jou veldryer se herwinningstoerusting.

Hiermee het ons gesleep

Hyundai Creta 1.6 Executive (diesel, outomaties)

Hierdie motor is nommerpas vir ’n paartjie wat met ’n klein wa die land vol wil reis. In dié geval het ons die klein Peri-Peri van Aloe Caravans gesleep (waarvoor jy nie ’n EB-rybewys nodig het nie). Die Creta is ’n bekwame sleepvoertuig, maar ’n mens moet sy ratkas verkieslik nie in die outomatiese modus hou nie.

Hy is veels te haastig om hom in sesde te kry en daar te hou. Skakel eerder oor na handrat en sleep in vyfde. Sake verloop dan moeiteloos en ’n mens steek stadiger verkeer maklik verby. Binne is hy ruim genoeg vir vyf volwassenes.

Die groot raakskerm het satellietnavigasie asook die skerm vir die trukamera en parkeersensors. Die Creta se grondvryhoogte (190 mm) het gehelp om van Limpopo se uitdagende grondpaaie maklik baas te raak.

SPESIFIKASIES

Enjin 1 582 cc, turbodiesel

Krag 94 kW @ 4 000 r.p.m.

Wringkrag 260 Nm @ 2 750 r.p.m.

Prys R379 900