foto’s Cyril Klopper
Kaart
Kaart

Die Namakwa-4x4-ekoroete strek van Pofadder in die Boesmanland tot bo by Brandkaros in die Richtersveld. As jy elke hoek en draai van die roete verken, gaan hy jou maklik vyf dae besig hou, maar indien jy – soos ons – slegs die hoofaar volg, kan jy die hoogtepunte binne slegs drie dae sien.

Jy het ’n volwaardige viertrekvoertuig met veldrybande nodig om hierdie roete baas te raak. Hoewel hy nie hoërgraadveldrytalente vereis nie, moet jy kophou, want hier is ’n paar uitdagende hindernisse wat minagtende besoekers onkant sal betrap.

Jy kan ’n boswa sleep, maar ’n lang boswoonwa gaan nie hier deug nie. Daar is ook enkele hindernisse wat ’n groot 4x4-ryhuis sal fnuik.

Dit is ’n puik alternatief vir die pylreguit N14 tussen die Augrabies- en Richtersveld- nasionale park, en elke 4x4-entoesias moet dit darem één keer aandurf. En onthou, as jy dié roete meer as tien jaar gelede besoek het, deesdae lyk dinge anders as destyds – en dit gaan in die toekoms waarskynlik nóg verander.

Die eerste dag van die roete behoort nie te lank te duur nie. Jy het genoeg tyd om rustig ontbyt te eet in die Augrabies- nasionale park se restaurant vóór jy Pofadder toe mik om proviand te kry. Hoewel ons padbeskrywing slegs 3 dae duur, stel ons voor jy koop genoeg kos vir minstens 6 (en water vir 12), want mense – en hulp – is maar yl gesaai en jy gaan sukkel as die noodlot toeslaan.

Vra die petroljoggie om die brandstof met ’n besemstok in jou ryding se tenk vas te stamp: Jy gaan elke druppel nodig kry. ’n Groot deel van die 600 km lange roete wat voorlê, gaan verg dat jy viertrek ingehaak hou – vir ekstra gemoedsrus kan jy sommer ’n ekstra jerrykan vol tap.

WOESTYNLANDSKAP. Die roete begin by ’n hek langs die N14-hoofpad en neem jou oor die Charlespas verby dadelboorde wat met water uit die Oranjerivier besproei word. Koop gedroogde dadels by die Klein-Pella-gastehuis.

Van die vulstasie op die hoek van Nuwe- en Skoolstraat in Pofadder af is dit presies 15,5 km op die N14-hoofpad in die rigting van Springbok voor jy by ’n doodgewone plaashek aan die regterkant van die teerpad kom.

Die enigste aanduiding dat dit die begin van die Namakwa-4x4-ekoroete is, is ’n buiteband langs die hek met “4x4” in geel letters daarop geverf. Dit is nie nodig om jou trokkie se banddruk nou al te verlaag nie, want die grond is nog hard en die kanse skraal dat die blink kwartsklippies in die omgewing jou bande sal knou.

Volg ’n tweespoorpaadjie verby ’n ou plaashuis teen ’n lae heuwel uit tot by Pella se enigste selfoontoring (S29.05204 E19.17960), sowat 13 km van die hek af. Van die MTN-selfoontoring af is dit afdraande tot op die historiese dorp.

Pella is in 1814 deur die Londense Sendinggenootskap gestig as toevlugsoord vir bekeerlinge wat deur die Nama-hoofman Jager Afrikaner uit Warmbad (later deel van Namibië) hierheen verdryf is. Die sendingstasie is genoem na ’n dorp oos van die Jordaanrivier waarheen vroeë Christene in die jaar 70 gevlug het toe Jerusalem deur Rome verwoes is. Maar Pella is later deur die Londenaars laat vaar en tot in 1869 deur die Rynse Sendinggenootskap bestuur. Die Katolieke Kerk het in 1874 oorgeneem en die dorp is vandag nog onder die pous se beskerming.

Ry deur Pella, verby die katedraal in Pellastraat tot waar die pad vurk. Hou links en volg Busbeestraat uit die dorp tot waar die Charlespas in die droë loop van ’n rivier sonder naam begin. Trek af en verlaag jou voertuig se banddruk.

Die riviersand is nie uitermate los nie, maar die pas het skerp skalieklip wat klipharde bande kan karnuffel. Hier wag die eerste uitdaging van die roete op jou: Jou trokkie moet óór ’n klipbank klouter! Pasop, want as die kar nie hoog genoeg bo die grond staan nie, gaan die onderstel stamp.

Charlespas is ’n netjiese grondpad wat jou oor die Groot-Pellaberg tot by Pelladrift en die Karsten-plaas se dadelplantasie op die oewer van die Oranjerivier neem. Van hier af volg jy die rivier stroomaf tot by die Klein-Pella-opstal.

Trek gerus af en koop dadels by die gastehuis. Hier is kampplek met netjiese ablusiegeriewe en ’n mooi swembad. Dit is aanloklik om hier af te saal – hou dit beslis in jou agterkop vir ’n toekomstige besoek – maar vandag stryk ons aan na ’n eenvoudiger bestemming.

Ry regs om Klein-Pella se dadelboord en volg ’n tweespoorpad verby die plaas se landingstrook. Die afdraai word deur ’n halfbegrawe buiteband met “4x4” daarop aangedui (S29.00691 E19.00272), maar as jy twyfel, kan jy by Klein-Pella se mense hoor waar die pad loop.

Nog 13 km ná die buiteband is ’n hek, die tweede een op die roete. (Onthou om weer agter jou toe te maak.) Minder as 1 km ná die hek draai jy regs in die rigting van ’n gehuggie met die naam Witbank langs die Oranjerivier. Jy’s nou goed op pad na jou bestemming en behoort nie verder te sukkel om op die regte pad te bly nie.

Die grondpad teenaan die rivier wissel voortdurend tussen effense sand, spoelklippe en dieper sand. Jy behoort die ergste hindernisse in tweewielaandrywing baas te raak mits jy momentum behou. Hier is verskeie tweespoorpaadjies wat rivier toe lei, maar hulle neem jou na die kookskerms van Nama-veewagters en dis beter om dié boere met rus te laat en eerder op die groter grondpad te bly.

Die eerste moontlike afsaalplek vir die dag is Groot Melkboom (S28.89936 E18.39197) op die oewer van die Oranjerivier en aan die voet van die Abbasasberg. Dis ’n gawe staanplek, maar na ons mening net effens té ontbloot. Hier is geen ablusiegeriewe nie en die tamariskboompies is beswaarlik heuphoogte – hulle bied weinig beskutting teen die wind.

Hou eerder verby en ry nog 15 km die binneland in, óm die Romanberg, tot by die afdraai (S28.94583 E18.27174) na Ramansdrif.

Ramansdrif se kampplek het ’n lowergroen grasperk agter ’n pol riete teenaan die Oranjerivier. Die gras word kort gehou deur boerbokke wat daaraan knibbel, en die riete en soetdoringboompies gee beskutting teen die bergwind wat laatmiddag opsteek en eers teen sononder sy lê kry.

Hier is ook geen ablusiegeriewe nie en jy moet ’n gaatjie in die veld gaan grawe as jy nie jou eie kassettoilet het nie. Moenie die rivier as toilet gebruik nie, want daar is duisende mense stroomaf wat op die Oranjerivier staatmaak vir drinkwater.

Die Oranjerivier loop diep by Ramansdrif, wat beteken jy kan lekker swem hier. As die geluk jou aan jou kant is, is die watervlak boonop laag genoeg dat jy op ’n sandbank in die middel van die rivier kan tent opslaan. Onthou egter om ’n paar dae vóór jy gaan, op die weerdiens te gaan kyk of dit in die boloop gereën het – jy wil nie onverwags deur ’n vloed meegesleur word nie.

’n Bobbejaantrop aan die oorkant van die rivier het teen skemer keel opgesit, maar sodra die son sak, is dit doodstil – dis net jy, die kabbelende water en die geknetter van jou kampvuur. Salig.

Dag twee van die roete is slegs 230 km lank, maar dit gaan minstens sewe uur duur. Jy moet dus nie te lank talm langs die rivier nie. Spring een laaste keer in die water, swem Namibië toe en raak onwettig aan sy grens. Swem dan dadelik weer terug, want die geleentheid om só af te koel gaan hom nie gou weer voordoen nie.

namakwaland
NA WATERS. As jy met ’n groot 4x4-ryhuis ry, moet jy suid na die Vuurdoodberg mik om die Henkries-pompstasie te vermy. Die Oranjerivier gee lewe aan die dorre streek en ons kan beswaarlik aan ’n lekkerder plek dink om te ontspan as by die Ramansdrif-kampplek.

Ry tot op die gehuggie Goodhouse en besoek die graf van Carl en Caroline Weidner. Die egpaar was die stigters van Goodhouse en het met die vorige eeuwisseling met lemoene geboer en ’n pont oor die rivier bedryf. Naby die Weidners se rusplek is grafte vir verskeie Britse soldate, onder wie ’n dapper dog dwase jong soldaat wat glo sy makkers geterg en gesê het hulle sal almal vlug as daar op hulle geskiet word.

Die onbekende jong soldaat het vroeg die volgende oggend teen die rotse uitgeklouter en ’n skoot in die lug afgevuur. Sy makkers, wat gedink het dis ’n vyandige aanval, het teruggeskiet... en hulle dwase kameraad is noodlottig gewond.

As jy met ’n hoë 4x4-ryhuis ry, moet jy nou effens afwyk van die roete en terugdraai binneland toe na die Vuurdoodberg sowat 10 km suid van Goodhouse waar jy regs draai om weer by die Namakwa-4x4-ekoroete aan te sluit.

Die rede waarom groter voertuie ’n ompad moet ry, is omdat die pad wat rivierlangs loop, jou verby die Henkries-pompstasie (S28.90179 E18.16715) neem. Die pype daarvan loop met ’n boog óór die pad, en selfs al ry jy met ’n gewone veldvoertuig, moet jy seker maak jou trokkie se dakrak haak nie aan die pype vas nie. Die pad swenk hierna weg van die rivier af in die rigting van Steinkopf, en vir die volgende 20 km ry jy deur ’n aangrypende plat landskap totdat jy die breë grondpadsnelweg moet verlaat en regs draai (S29.03749 E18.02035) in die rigting van die Kamgabberg en die Oernoeprivier.

Die tweespoorpaadjie kronkel deur vlak valleie, oor kliprantjies met kokerbome en deur diep klowe vol muskietboompies. Dis beslis ’n hoogtepunt op die roete. As jy ’n ekstra dag opsy wil sit, is dit beslis die moeite werd om die Kamgabroete terug na die Oranjerivier te neem en in die Kamgabkamp (S28.85302 E18.02908) te oornag. Dit is besonder afgeleë en g’n mens gaan jou pla nie.

Padlangs. Valleie word afgewissel deur wye vlaktes. Die een oomblik hou jy ’n wakende oog op skerp klippe en volgende ry jy deur diep sand. Interessanthede langs die pad sluit in kokerbome en klipstapels wat oor die jare heen deur reisigers gepak is.

’n Ander uitdaging hier naby is die Pad na die Hel. Die afdraai (S28.89964 E17.90995) is 13 km ná die Kamgab-afdraai, maar jy moet dit asseblief nie op jou eie aandurf nie – en beslis nie met ’n doodgewone bakkie óf met ’n boswa op die haak nie. Heelparty mense het al lang trane gehuil nadat hulle op die Pad na die Hel beland het terwyl hulle gedink het hulle is op pad na Kamgab.

Van hier af begin jy die Boesmanland verlaat... nou betree jy die Richtersveld. Jy sien subtiele verskille in die plantegroei, maar ook in die kleur van die sand. Terloops, as jy ’n glasbotteltjie met ’n kurkprop saambring, kan jy elke nou en dan skeppies sand versamel en sien hoe die kleur daarvan verander in die drie dae op die Namakwa-4x4-ekoroete. Jy gaan verras wees.

Sowat 25 km ná die afdraai na die Pad na die Hel sluit jy by die N7 aan. Ry noord met die teerpad tot by die Vioolsdrift-grenspos. Volgens oorlewering het die plek sy naam gekry van ’n Nama-skaapwagter met die naam Viool wat lank gelede hier gewoon het. Dit is ’n bedrywige grenspos, en hoewel hier vroeër jare brandstof te koop was, het Vioolsdrift se vulstasie mettertyd gesluit.

As jy deesdae brandstof nodig het, sal jy deur die Namibiese grens moet ry – onthou jou paspoort – na die Engen-vulstasie op Noordoewer, sowat 3 km duskant die Oranjerivier.

Maar as jy genoeg brandstof ingegooi het op Pofadder, draai jy regs vóór jy die grens oorsteek en volg die rivier verby Kotzeshoop tot by die Helskloofpas. Aan die voet van die pas is massiewe rotse waarop rotskuns duisende jare gelede deur die antieke Khoekhoen gegraveer is.

Die Helskloofpas is nie uitermate uitdagend as jy op die hoofpad bly nie, en jy sal maklik ’n bos- of boswoonwa hier kan uitsleep, maar jy kan dit vir jouself interessanter maak deur versteekte paadjies te neem wat parallel met die hoofpad teen die berg uitkronkel. Een so ’n paadjie draai regs uit by S28.80669 E17.42429 en volg versteekte valleitjies en saaltjies deur die plooiberge rondom die Helskloofpas. Laasgenoemde is ’n smal paadjie tussen skerp rotse deur en jy moet jou lyn mooi kies om te keer dat jou bande gesny word.

Altesame 13 km ná die Helskloofpas sal jy by die breë grondpad tussen Steinkopf en Eksteensfontein aansluit. Hou aan met die pad, deur Eksteensfontein, tot 30 km buite die dorp waar jy ’n padpredikant sal aantref wat jou na Tierhoek-4x4 beduie.

Tierhoek was voorheen deel van die Namakwa-4x4-ekoroete, maar dis later van die roetekaart geskrap omdat die ablusiegeriewe verval het. Die gevolg is dat hier nie baie besoekers kom nie – en daarom is dit ’n puik plek om vanaand te oornag.

Tierhoek kry jy sowat 5 km nadat jy van die Kuboespad afgedraai het. Die GPS-koördinate is S28.63368 E17.01151, maar jy kan dit eerlikwaar nie misry nie. Dis die enigste berg binne ’n radius van 15 km en die loodregte kranse is opvallend.

Vanaand kamp jy onder ’n arendsnes in ’n holte van die magiese rots wat bo jou uittroon. Dis ’n besonderse kampplek wat herinner aan Spitskoppe in Namibië, maar anders as met daardie toerismebestemming is jy by Tierhoek stoksielalleen. ’n Kriewelrigheid neul in jou agterkop... dalk is dit ’n oergeheue van die tyd toe die mensdom aan die natuur uitgelewer was. Daar is inderdaad luiperds hier, en as jou nekhare rys en dit voel of ’n roofdier jou dophou, dan ís dit waarskynlik so.

Steek ’n vuurtjie aan om die donker te verdryf en gesels ’n bietjie harder as gewoonlik, selfs al is dit bloot om jou selfvertroue ’n hupstoot te gee. As jy laatnag stemme hoor, probeer jouself oortuig dit is net ’n nonnetjiesuil en nié die voorvadergeeste van die Namas nie.

Troos jou daarin dat Tierhoek môreoggend ’n heel ander indruk gaan skep. Nadat die oggendson die sagte mis laat wyk, lyk dit of die kranse met klatergoed bedek is. Die veld ruik vars en gesond – dalk die aangenaamste geur wat jy in ’n lang tyd ingeasem het. Dit is op dié  punt dat jy oorweeg om nóg ’n aand op die Namakwa-4x4-ekoroete te vertoef.

Die derde en laaste dag op die roete is ’n raps meer as 100 km lank en behoort nie meer as vier uur te duur nie. Jy kan dus lekker laat slaap terwyl die oggendmis lig. Eet rustig jou ontbyt terwyl die kranse met sonlig geverf word.

Dit is op dié punt dat jy oorweeg om nóg ’n aand op die Nama-kwa-4x4-ekoroete te vertoef.

Dan eers is dit tyd om jou trokkie te laai en aan te gaan met die roete.

Ry weswaarts tot waar die tweespoorpaadjie doodloop in die breë grondpad wat Lekkersing en Kuboes met mekaar verbind. Draai links in die rigting van Lekkersing en ry 28 km tot by S28.89044 E17.01512. Hier was voorheen ’n 4x4-bordjie wat die afdraai aangedui het, maar hy’t voete gekry en jy moet jou oë spits vir die afdraai.

Vir die volgende 10 km bons jou trokkie op en af deur ’n treffende woestynlandskap met skeloranje sandduine. Voor jou lê die Daberasberg, en sodra jy óm hom gery het, beland jy in die droë loop van die Holgatrivier.

Die sanderige bodem van die Holgatrivier is plek-plek poeiersag, en as jy so dom is soos ons om stil te hou gaan jy spyt wees.

Ons Isuzu mu-X se viertrekstelsel was ingehaak soos dit hoort en die banddruk tot ’n wyse 1,8 bar verlaag, maar toe ons wegtrek ná ’n fotogeleentheid het die bande tog deur die kors gegrawe en ons het liederlik vasgeval. Ons moes byna ’n kilometer stap om ou planke by ’n skaapkraal te gaan haal wat ons onder die Isuzu se bande kon pak.

By die skaapkraal (S28.87237 E16.85858) draai jy regs en volg die tweespoorpaadjie deur ’n skynbaar oneindige duineveld. Hou viertrek ingehaak en pasop vir dongas en ander verspoelings wat die pad versper. Soms is die dongas té diep vir deurry – dan sal jy ’n weg deur die veld moet baan. Dis raadsaam om ook die ompad eers te voet te beplan en dan doelgerig met jou trokkie deur die veld te ry. As jy dinge stadig vat, soos ’n trapsuutjie, gaan jy beslis in die sagte sand vasval – en hier is nêrens klippe of takke wat jy onder die wiele kan pak nie.

Sowat 25 km nadat jy deur die Holgatrivier is, tref jy ’n verlate plaasopstal met die naam Witbank aan. Die huis se deure en vensters is lankal weg, en eenkant kreun ’n armsalige windpomp. Draai hier regs en mik noord.

Jy’t die einde van die roete bereik sodra jy ’n kragsubstasie aan jou regterkant sien. Oomblikke later sluit jy by die breë grondpad tussen Kuboes en Alexanderbaai aan. Pasop vir haastige vragmotors wat Alexcor se mynimplemente rondkarwei. Elke 10 minute ry daar ’n voertuig verby en dit voel soos spitsverkeer vergeleke met die afgelope twee dae se afsondering.

Jy kan hier links draai om by die Oranjeriviermonding te gaan hengel, of jy kan regs draai om die Richtersveld- nasionale park te besoek.

Daarna is dit terug stad toe met jou; daar waar jy jou grasperk natspuit in jou voorstedelike tuin terwyl jy terugverlang na Ramansdrif se strelende waterklanke en Tierkop se imposante kranse.

OERLANDSKAP. Die tweede deel van die roete is meer uitdagend as die eerste, met los sand waarin jy kan vasval as jy nie versigtig is nie. Helskloof se rotskuns deur die Khoekoen, ook bekend as petrogliewe, beeld slange, seekoeie en ander waterdiere uit.
WAT MOET EK SAAMNEEM?
  • Basiese herwinningstoerusting, en sandplanke word sterk aanbeveel.
  • Genoeg water vir dubbel die aantal dae wat jy beplan om op die roete te wees.
  • Braaihout, want jy mag nie vuurmaakhout in die veld optel nie.
  • ’n GPS-toestel, want papierkaarte kan nie bybly met die veranderende roete nie – en selfone het weinig ontvangs.
Ek wil ook gaan!

Jy het ’n permit nodig – kry dit deur Namakwa 4x4 Exploration, ’n organisasie op Springbok wat deur die Noord-Kaapse toerismeburo op die been gebring is.

Die prys van die permit word bepaal deur die aantal nagte wat jy op die roete gaan deurbring en hoeveel jy van die roete wil sien:

  • Dit kos R450 per voertuig om die eerste deel tussen Pella en Vioolsdrift te ry. Hier is drie kampplekke – Groot Melkboom, Ramansdrif en Kamgab – wat elk R200 p.n. per voertuig kos.
  • Dan moet jy ’n verdere R450 per voertuig betaal om die tweede deel tussen Vioolsdrift en Brandkaros te ry. Hier is twee kampplekke – Spitskloof en Bakkrans – wat ook elk R200 p.n. per voertuig kos.
  • Om die hele roete van begin tot einde te ry sal jou dus R1 900 uit die sak jaag. Ons het R1 100 betaal vir die twee dele en een nag op Ramansdrif. (Tierkloof is nie ingesluit nie.)

Volgens Namakwa 4x4 Exploration word die inkomste uit permitverkope gebruik om die roete te onderhou en die gemeenskap te bevorder. Wees bewus daarvan dat verreweg die grootste deel van die roete openbare paaie volg wat deur munisipaliteite onderhou word, maar daar’s ook plaaspaaie wat jy met die vergunning van boere ry.

Geen van die veldpaaie op die roete is spesifiek vir 4x4-voertuie uitgelê nie, maar heelparty van hulle is té uitdagend vir sedanmotors en tweewielaangedrewe bakkies. Boonop word die paaie nie onderhou nie en daarom is hulle net vir veldvoertuie begaanbaar.

Die kampplekke het geen ablusiegeriewe nie.

Besoekers moet self enige rommel – ook ander mense s’n – verwyder en paaie herstel as dele van die roete onbegaanbaar raak.

Kontak:  namakwa4x4.co.zainfo@namakwa4by4.co.za; 081 873 9043 (Wilma James).

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook