Dit is heel verstaanbaar dat mense dink dis die Groot Vyf wat die Krugerwildtuin een van die gewildste kampbestemmings in die land maak. Natuurlik is dit deels waar, maar ook die bestuur van die Kruger se kampplekke kan krediet kry daarvoor, want die een ding wat hulle regkry, is om deurlopend goeie diens te lewer.

Buiten die satellietkampe – Balule, Tsendze, Malelane en Maroela – kry jy byvoorbeeld by die res almal brandstof. Ook die winkels is bekend daarvoor dat hulle behoorlik toegerus en agtermekaar is.

By geen van die kampplekke sal jy ’n oorvol vullisdrom sien staan nie, en selfs in die winter is iemand altyd iewers besig om die wêreld netjies te hou deur blare te hark. (Terloops, hier kamp jy nie op ’n groen grastapyt nie – onthou dus jou geruite grondseil.)

Ook die kragpunte getuig van bestendigheid met dienslewering, want almal is met blou woonwasokke toegerus. (Balule en Tsendze is natuurlik uitsonderings, want hier is geen krag nie.)

Onthou net om ’n 30 m-verlengkoord saam te bring, want as jy in ’n stampvol kampplek opdaag, is die kans goed dat die naaste kragboks soos ’n spinnerak gaan lyk met al die koorde wat hiervandaan na die verskillende staanplekke toe loop.

Die volgende wenner is die Kruger se opwasplekke: Hier kan jy nie net kom skottelgoed was nie, maar die vierkantige geboue is ook met tweeplaatstowe en kitskookwatertoestelle toegerus. Jy kan dus net met ’n Datsun Go en ’n tweemantent opdaag, want die res is hier.

En dan is daar die badkamers: Hoewel hulle nie almal splinternuut is nie, gaan jy ver moet soek om skoner geriewe te vind. Al die hoofroetes tussen kampe is teerpad wat goed onderhou word, maar jy kan met ’n geruste hart jou wa na die satellietkampe toe sleep – die laaste kilometer of wat grondpad is skaflik genoeg daarvoor.

Ons ry by Krokodilbrug in die suide in en verken die kampe noordwaarts tot by Punda Maria.

KROKODILBRUG

Uitgelese geselskap

Krokodilbrug is ’n klein kampplek, maar kan beswaarlik beter – en daarom is dit baie gewild onder wildtuinbesoekers. Die ontvangsmense laat ’n mens tuis voel en dit lyk of hulle trots is op hulle werk.

Soos jy die kampplek binnery, is die staanplekke bymekaar aan jou linkerkant – en net minder as die helfte van hulle teen die heining. Jy kamp op ’n gelyk stuk aarde met klippiesgrond wat ’n mens baie laat dink aan Shingwedzi, maar dis pynlik netjies. Dit lyk ook of elkeen wat hier afsaal, darem ’n stukkie koelte kry.

’n Man staan vroegoggend al en blare hark, en die kop van die brandblusserkraan langs ons staanplek is blinkgepoets. Die as in die losstaande staalbraaier by jou staanplek word soggens nie net uitgegooi nie, maar ook met water uitgespoel. Hier is ’n hele paar vierkantige groen kaste waarin die vullisdromme staan. Die kaste het elk twee deure: een vir herwinbare produkte en die ander vir gewone vullis. Daar is twee krane langs die inrypad, maar die ander moet jy in die kamp soek.

Hier is net 20 staanplekke met die ablusieblok regoor hulle. Aan die een kant van die lang gebou is die waskamer – die wasmasjiene en tuimeldroërs werk met R5-munte – én plek om jou kassettoilet te dreineer.

Die kombuis is oorkant die pad, by die hek waar die staanplekke begin. Dit is ’n oop vertrek met twee wasbakke, vier elektriese tweeplaatstowe en die kitskookwatertoestel.

Die vulstasie is by die kamp se ingang en die winkel regs hiervan.

’n Familie vlakvarke loop soos werfhoenders rond, maar die ape is bedrewe grypdiewe – hou dus maar jou vars goed veilig agter slot en grendel.

Kortliks | Krokodilbrug

Kampplek: 20 gelyk staanplekke (met krag) op grond met taamlike koelte.

Ablusiegeriewe: Netjiese geriewe teen die staanplekke weg van die kampheining.

Prys: Afhangend van die seisoen R310-R410 p.n. per staanplek vir die eerste 2 mense, daarna R100 p.p.p.n. (R50 vir kinders). Maksimum 6 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak: 013 735 6012 of 082 801 9898

Naaste hek: Krokodilbrug 160 m.

Naaste 2 kampe met die hoofroetes langs: Onder-Sabie (35,8 km) en Skukuza (80,7 km). Malelane is 64 km as jy die N4 volg.

GPS: S25.358475 E31.893490

Ry & Sleep sê: Die kanse dat jy oor vakansietye ’n bespreking hier gaan kry, is skraal. Bespreek dus eerste by Krokodilbrug as dié kamp deel van jou Krugerverblyf gaan wees.

MALELANE

Perd van ’n ander kleur

Malelane, ongeveer 11 km van Berg-en-Dal af, is die suidelikste kamp in die Krugerwildtuin. Die deursnee-wildtuinkampeerder gaan eerder vir Berg-en-Dal mik, want dit is ’n groot, netjiese kamp. Maar nie almal verkies gerief nie, en vir dié mense is daar Malelane. Hier het jy net ’n staanplek en ’n badkamer en niks verder nie.

Die staanplekke is links van die hek en strek in ’n L-vorm weg van jou af. Die kort been van die L loop in die rigting van die Krokodilrivier. Die staanplekke het almal ’n effense helling na die rivier se kant toe en die bome is skraps. Die vullisdromme vir herwinning is versprei en die krane staan weggesteek.

Soek eers mooi vir ’n kragpunt vóór jy opslaan – ons het net vier gesien. As jy in die hoek staan, gaan jou verlengkoord omtrent 50 m lank moet wees om by die kragpunt uit te kom, en die mense nader aan diékant seker 40 m. Hier staan ook ’n paar los staalbraaiers.

Die badkamer is regs soos jy na die kampplekke toe draai. Langsaan is ’n toe kombuis met onder meer ’n kisvrieskas, yskas en gasstoof, en langs dit ’n oop kombuis met ’n wasbak, kookwater en nog ’n yskas.

Langs die heining is ’n groot grasperk waar jy kan afkyk na die Krokodilrivier, maar dis taamlik bebos voor jou en jy sien nie te veel nie.

Kortliks | Malelane

Kampplek: 15 ongelyke staanplekke met min koelte.

Ablusiegeriewe: Klein en netjies.

Prys: Afhangend van die seisoen R310-R410 p.n. per staanplek vir die eerste 2 mense, daarna R100 p.p.p.n. (R50 vir kinders). Maksimum 6 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kampkontak: 013 735 6152

Naaste hek? Malelane 4,3 km.

Naaste 2 kampe met die hoofroetes langs: Berg-en-Dal (10,9 km) en Skukuza (63,5 km).

GPS: S25.476487 E31.511640

Ry & Sleep sê: Hier is nie ’n kantoor nie; jy moet eers by die Malelanehek aanmeld.

BERG-EN-DAL

Stil en rustig

As jy van die Vrystaat of KwaZulu-Natal se kant af kom, is Berg-en-Dal die naaste as jy nie by Malelane wil kamp nie. Dié kamp het die hoogste reënvalsyfer in die Kruger en lê tussen granietkoppies op die oewer van die Mtjulaspruit.

Die kampterrein is ’n goeie 400 m terug op jou spoor nadat jy by die kantoor aangemeld het. Met die inryslag kan jy vir jou ’n staanplek links of regs uitkies, maar die kampkolle teen die grensdraad af is uiteraard die gewildste. As jy verder ry, loop die pad dood in ’n smal strook waar minder kampeerders inpas. Dit is meer privaat as die res en ook langs die draad.

Al is die kampplek heeltemal vol, is die staanplekke van só ’n aard dat jy genoeg ruimte rondom jou het, en hulle is meestal ook gelyk. As jy graag onder een van die grootste koeltebome in die kampplek wil kamp opslaan – boonop reg langs die draad – hou heel regs wanneer jy die kampplek binnery.

Bring ’n verlengkoord van minstens 10 m saam, want die kragpunte en koeltebome is nie altyd bymekaar nie. Hier is ook ligte by die kragpunte, maar dit sit laag en is effens weggesteek. Pleks daarvan om die kol direk by die kragpunt te verlig skyn dit af grond toe en dien eintlik geen doel nie. Bring dus jou flits as jy ná sononder badkamer toe wil stap. Hier is drie ablusieblokke en elkeen van hulle het rolstoelvriendelike geriewe met opwasplekke aan die agterkant.

Soos jy van die kantoor af na die kampplek ry, is die waskamer en swembad links, net voor die kampterrein. Die wasmasjiene werk met R5-munte en die swembad het heelwat koeltebome rondom as jy langsaan wil sit. Hier is geen vertrapping nie en almal – oud en jonk – geniet dit gate uit.

As jy vinnig ’n draai by die winkel wil maak – dié is langs die kantoor – is dit te naby om soontoe te ry, maar te ver om te loop, veral as die son op sy stukke is. Maak ’n uitstappie daarvan en stap al met die heining langs in die rigting van die kantoor. Dit is die Renoster-wandelroete en hier is heelwat koelte. Moet ook nie verbaas wees as jy olifante sommer hier digby jou sien nie. As jy só naby kom, besef jy hoe groot hulle is.

Die swembad het heelwat koeltebome rondom as jy langsaan wil sit. Hier is geen vertrapping nie en almal – oud en jonk – geniet dit gate uit.
Kortliks | Berg-en-Dal

Kampplek: 82 staanplekke – met die heining wat regs van die kampterrein gespan is. Die eerste staanplekke is weg van die heining, maar nader aan die swembad en kantoor.

Ablusiegeriewe: 3 badkamers wat deur die kamp versprei is, met meer as ruim opwasplekke.

Prys: Afhangend van die seisoen R310-R410 p.n. per staanplek vir die eerste 2 mense, daarna R100 p.p.p.n. (R50 vir kinders). Maksimum 6 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak: 013 735 6106/7 of 082 802 1201

Naaste hek: Malelane 12,7 km.

Naaste 2 kampe met die hoofroetes langs: Malelane (10,9 km) en Skukuza (71,9 km). GPS S25.426516 E31.449517

Ry & Sleep sê: Die ape in die kamp kan ’n mens grys hare gee. Ons is voorheen al gewaarsku hulle kan selfs deur die seil van jou woonwa se opwipdak wikkel.

PRETORIUSKOP

Oupa Kruger

Hierdie is die oudste van al die kampe in die Krugerwildtuin. Hier is vier groepe staanplekke langs mekaar, almal min of meer teen die heining af. Omtrent tien van dié teen die heining het elk ’n voltydse tent en word uitgehou vir spesiale besprekings.

Dit is ’n agtermekaar kamp met twee badkamers – een by die eerste staanplekke en die ander by die verste klomp. Die waskamer is min of meer in die middel en die masjiene werk met R5-munte. Vir die skottelgoed stap jy net verby die eerste badkamers. Die kombuisgeboue is die vierkantige gebou sonder symure (soos in die meeste van die Kruger se kampplekke). Hierin is onder meer opwasplek, ’n paar elektriese tweeplaatstowe en dan, jou beste vriend: daardie kitskookwatertoestel.

As Pretoriuskop ’n eerste plek verdien, is dit vir sy swembad. Goed, dis seker een van die swembaddens in die Kruger wat die verste van die staanplekke af is, maar die vyf minute se stap tot hier is deur en deur die moeite werd. Dis gebou op die kant van ’n rots wat etlike meters bo die grond uitsteek, en die water is kristalhelder. Bo-op die klip is selfs ’n plonspoel vir die kinders waaruit ’n stroompie tot in die groter poel afloop. Selfs al is die kampplek tjokkenblok en die kraaie gaap, is die swembad nooit te besig nie.

Selfs al staan jy nie teen die heining nie, kan jy steeds die wild waardeer. Die tarentale in die kamp is hoendermak en trek soos ’n trae warrelwind van die een staanplek na die volgende – jy kan hulle sommer van naby afneem. (Moenie skrik as jy inzoem nie, want dan lyk daai verrimpelde kop soos dié van ’n oervoël.)

Nie al die ape in die kamp is vol streke nie. Party van hulle hang net rond in die boom langs jou staanplek, so al asof hulle ook maar net ’n blaaskans soek.

Kortliks | Pretoriuskop

Kampplek: 43 staanplekke met krag, maar van die staanplekke het permanente tente op.

Ablusiegeriewe: ’n Badkamer op albei punte van die kampplek, ’n waskamer in die middel en die kombuis by die boonste punt. Hier is ook rolstoelvriendelike geriewe.

Prys: Afhangend van die seisoen R310-R410 p.n. per staanplek vir die eerste 2 mense, daarna R100 p.p.p.n. (R50 vir kinders). Maksimum 6 mense.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak: 013 735 5128/32 of 082 802 1203

Naaste hek: Numbi 8,5 km.

Naaste 2 kampe met die hoofroetes langs: Skukuza (49,1 km) en Malelane (56,2 km). GPS S25.169094 E31.268733

Ry & Sleep sê: As ’n groot swembad die gesin gelukkig sal hou, kan jy met ’n geruste hart hier bespreek.

ONDER-SABIE

Dierehemel

Onder-Sabie is op die oewer van die Sabierivier en ’n lieflike ruskamp waar dit omtrent wemel van die wild.

Die kampterrein is direk voor jou soos jy Onder-Sabie binnery, met die parkeerplekke vir die kantoor links van jou. Dit is dus mooi in die middel van die kamp en sommer digby die winkel en restaurant. Die swembad is wel op die verste punt regs – ’n goeie 300 m se stap.

In die kampeerterrein is bome wat groot genoeg is vir lekker skaduwee en daar is ook kleiner bome tussen die staanplekke wat sorg vir ’n bietjie meer privaatheid. Hulle is boonop gelyk en dit is maklik om jou woonwa waterpas te trek. Hier is kragpunte, krane asook braaidromme.

Die opwasgeriewe is goed toegerus met die gebruiklike elektriese stoofplate en kookwater.

Steek die braaivuur vroeg aan en stap ná ete oor na die restaurant vir ’n skemerkelkie op die dek. Van hier af kan jy sit en kyk na die skynbaar oneindige stroom diere wat in troppe by die rivier kom keel natmaak. Daar is ook ’n goeie kans dat jy die raserige kleingeelvinke of bontrugwewers in versamelvoëlneste sal aantref, sowel as ’n verskeidenheid watervoëls soos die groenrug- en reusereier.

Steek die braaivuur vroeg aan en stap ná ete oor na die restaurant vir ’n skemerkelkie op die dek

Kortliks | Onder-Sabie

Kampplek: 34 kleinerige staanplekke met krag en netjiese baksteenrandjies rondom.

Ablusiegeriewe: Uiters netjies, wat ’n waskamer insluit.

Prys: Afhangend van die seisoen R360-R410 p.n. per staanplek vir die eerste 2 mense, daarna R100 p.p.p.n. (R50 vir kinders). Maksimum 6 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak: 013 735 6056/7 of 082 888 6562

Naaste hek: Krokodilbrug 35,7 km.

Naaste 2 kampe met die hoofroetes langs: Krokodilbrug (35,8 km) en Skukuza (45,3 km).

GPS: S25.119452 E31.915727

Ry & Sleep sê: Dis nie aldag dat jou staanplek in die Kruger afgebaken is nie.

SKUKUZA

Pappa Beer

As jy wil weet presies hoe gewild ’n kampplek is, gaan kyk hoe besig dit is wanneer die omstandighede minder gunstig is. In die Kruger is dít in die middel van die somer, want dan gaan draai die kwik by 40 ºC, die somerreën sorg vir geil en groen bosse, en malaria kan hoogty vier.

In Skukuza, die wildtuin se hoofkamp, gaan jy vir lief moet neem met die magdom mense, regdeur die jaar, maar hier kan jy jou besig hou met ’n paar dinge wat nie by ander kampe beskikbaar is nie. Hier is ook ’n magdom voëls wat sit en sing en in die bome rondskarrel.

Wanneer jy inry, is daar nie parkeerplek vir jou kar en wa voor die ontvangskantoor nie. Ry net verby die gebou; links agter is ’n groot oop parkeerplek waar jy kan wag terwyl jou wederhelfte die papierwerk afhandel.

By Skukuza kry jy alles – van ’n poskantoor (met poshokkies) tot ’n volwaardige FNB-tak (met kassiere). Regs van die ontvangskantoor is ’n werk van die beeldhouer Phil Minnaar teen die muur: drie gesigte, wat ’n mens herinner dat Paul Kruger nie al die eer vir die park kan kry nie. Weerskante van die staatsman pronk die strak gesigte van Piet Grobler, destydse minister van lande van die Unie van Suid-Afrika, en lt.kol. James Stevenson-Hamilton, die Kruger se eerste bestuurder.

Die staanplekke lê links en regs van ’n teerpad waarmee jy die kamp binnery. Albei kante is uitgelê teen ’n bultjie af met ’n badkamer weerskante bo. Links kamp jy op gelykgemaakte terrasse, gebou met driekwartmaan-betonblokke, en aan die ander kant hou gemesselde klipmure die staanoppervlakke stewig. Van die staanplekke is ruim, maar plek-plek gaan jou Exclusive nie inpas nie.

Die linkerkantse kampeerders staan die naaste aan die swembad, wat ’n beskeie grootte is as jy die status van Skukuza in ag neem.

Moenie in die somer sonder ’n waaier of jou wa se lugversorger opdaag nie, want dit raak bloedig warm.

By die badkamers kan dit vroeg-vroeg besig raak – dit voel amper soos ’n familiesaamtrek. Wildvreemdes groet jou soos jy die badkamer instap. Al is dit besig, wag jy nie vir ’n storthokkie nie.

Kortliks | Skukuza

Kampplek: 85 staanplekke – met krag – weerskante van die inrypad (min of meer in die helfte gedeel). Die heining is aan die regterkant en die swembad links.

Ablusiegeriewe: Jy sal moet saamleef met die klein storthokkies en hulle stortgordyne.

Prys: Afhangend van die seisoen R310-R410 p.n. per staanplek vir die eerste 2 mense, daarna R100 p.p.p.n. (R50 vir kinders). Maksimum 6 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak: 013 735 4196 of 082 802 1204

Naaste hek: Paul Kruger 12,1 km.

Naaste 2 kampe met die hoofroetes langs: Onder-Sabie (45,3 km) en Pretoriuskop (49,1 km).

GPS: S24.995723 E31.592046

Ry & Sleep sê: Dit is ’n plek vir kampeerders wat ewe lief is vir mense en wilde diere.

MAROELA

Bos, maar ook nie

Die Maroela-kamp is skaars vyf minute se ry van die Orpenhek af, en dit is ook waar jy moet aanmeld as jy hier wil kamp opslaan.

Maroela is dus ’n satellietkamp – en saam met Tsendze en Balule een van die boskampe. Maar al is dit so diep in die bos, is jy skoon verbaas as jy die eerste keer die kamp sien, want die gewone woonwaens staan behoorlik ingeryg.

Natuurlik word die staanplekke hier nie toegeken nie. As jy dus vroeg is, kan jy vir jou ’n kampplek teen die grensdraad uitsoek, naby die wild. Die eerste prys is een van die staanplekke aan die rivierkant waar jou kans selfs groter is om diere te sien.

Iets wat ’n mens nie in ’n “boskamp” verwag nie, is die kragpunte – Balule en Tsendze het geen krag nie. Die sokke is netjies toe in ’n boks waarvan die voorkant kan opslaan.

Die staanplekke is teen ’n effense helling uitgelê, maar hier is darem heelwat koeltebome. Ongelukkig het nie almal van hulle ’n vullisdrom, staalbraai en kraan nie. In die middel van Maroela staan ’n groot appelblaarboom wat lekker baie koelte gooi.

Die badkamers is alles wat ’n mens van Sanparke sal verwag, en aan die oorkant is ’n opwasgebou met ’n paar elektriese tweeplaatstofies en ’n kisvrieskas.

Kortliks | Maroela

Kampplek: 20 staanplekke met krag met heelwat koelte. Nie al die staanplekke is ewe gelyk nie.

Ablusiegeriewe: Baie skoon en nader aan die staanplekke digby die hek.

Prys: Afhangend van die seisoen R310-R410 p.n. per staanplek vir die eerste 2 mense, daarna R100 p.p.p.n. (R50 vir kinders). Maksimum 6 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00. Kontak  013 735 6355 of 082 802 0686

Naaste hek: Orpen 3,2 km.

Naaste 2 kampe met die hoofroetes langs: Satara (46,7 km) en Balule (95,9 km).

GPS: S24.456351 E31.399463

Ry & Sleep sê: ’n Boskamp na aan die beskawing, maar ver genoeg in die natuur sodat jy rus en vrede kry.

SATARA

Leeuwêreld

Satara is sinoniem met groot katte soos leeus, luiperds en jagluiperds, en soos ’n mens nader aan die kamp ry, staan die groot ou koorsbome met hulle geelgroen stamme uit teen die res van veld. Die kantoor, restaurant en winkel is langs die bome en is Satara se bedrywigste deel.

Die kampplek is ’n halwe kilometer verder, verby die swembad, vulstasie en chalets.

’n Mens kan die kamp in drie verdeel – twee dele is links en regs van jou (elk met ’n ablusieblok), en dan is daar die strook verder wat teen die heining lê, ook met ’n ablusieblok.

As jy een van die heiningstaanplekke oorweeg, ry eers teen die heining af om te sien of jy nog ’n gaatjie kry. Te oordeel na wie hier met wat kamp, is jou kans om hier te staan groter as jy ’n woonwa het, want ons het net drie koepeltente gesien. Uiteraard lê die meeste van die 100-plus staanplekke weg van die heining.

Die staanplekke sonder krag is links en regs van jou waar jy die kampplek binnery, en die bome in die kamp staan taamlik yl, indien jy ’n koeltekol soek. Probeer nader aan die badkamers die naaste aan die heining staan as jy nuwer geriewe verkies.

’n Mens kan nie kla oor die netjiese leiklipwerk om die versonke wasbakke nie, en agter teen die muur is spieëls. Die storthokkies is ongelukkig baie klein en ’n mens moet eers tot in die trog van die stort klim voor jy die deur agter jou kan toemaak.

Al is die kampplek tjokkenblok, is die uitleg van só ’n aard dat niemand oor mekaar se voete val nie. Dit gee jou ’n gevoel van ruimte en jy hoef nie nog kop te krap om jou sleepvoertuig iewers in te wurm nie. Uiteraard is dit nie die geval met die voorste ry nie; hier staan jy teen jou buurman. Die geplante staalbraaiers en kragpunte staan lukraak rond.

Die blinkgepoetsde koperkrane by die kombuisgeboue is ’n bewys van hoe skoon Sanparke se mense die geriewe hou. Die swembad is omtrent so groot soos ’n ronde plaasdam. Hier is ook ’n kleiner poeletjie vir die kinders en ’n klimraam as hulle begin tande tel op jou staanplek. 

Die staanplekke sonder krag is links en regs van jou waar jy die kampplek binnery, en die bome in die kamp staan taamlik yl, indien jy ’n koeltekol soek.
Kortliks | Satara

Kampplek: 88 staanplekke met krag en 15 daarsonder – die koelte is min.

Ablusiegeriewe: 2 ouer blokke en 1 met nuwe byderwetse geriewe (wat opwasplekke insluit).

Prys: Afhangend van die seisoen en staanplek R260-R410 p.n. per staanplek vir die eerste 2 mense, daarna R100 p.p.p.n. (R50 vir kinders). Maksimum 6 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak: 013 735 6306/7 of 082 802 1209

Naaste hek: Orpen 45,5 km.

Naaste 2 kampe met die hoofroetes langs: Maroela (46,7 km) en Balule (47,9 km).

GPS: S24.392865 E31.779552

Ry & Sleep sê: Al is Skukuza die Kruger se hoofkamp, het Satara 18 staanplekke meer – altesame 103.

BALULE

Natuurlik!

Met net 15 elk is Malelane en Balule die kampe in die wildtuin met die minste staanplekke.

Balule is amper vierkantig en lyk net-net kleiner as ’n rugbyveld. Die staanplekke is al langs die heiningdraad uitgelê, maar word nie ordentlik afgebaken nie. Hier en daar staan ’n staanpleknommer teen ’n paaltjie vasgeskroef, maar dis onduidelik wie waar staan.

Kampeerders kom binne en kies self ’n kol langs die draad, maar dit lyk nie of almal dink aan die volgende ou nie. Net soos in ’n oop parkeerplek waar die twee karre aan weerskante te naby ingetrek het en geen kar dan inpas daar nie, gebeur dit ook hier. Dit mors die kosbare plek langs die heining.

Heel regs kan jy ’n ent weg van die heining af staan, en dan is daar ook ’n paar kampplekke links net ná die hek.

Op jou staanplek trap ’n mens stof uit die aarde en die grond is effens klipperig. Met die eerste oogopslag lyk dit of jou tentpenne gaan les opsê wanneer jy dit inkap, maar verbasend genoeg gaan hulle sonder veel moeite in. En wanneer dit oppaktyd is, kry ’n mens dit weer uit sonder om ’n agterdyspier te verrek.

Hier is ’n hele klompie bome, maar niks wat ’n mens kan beskryf as ordentlike koeltebome nie. Staalbraaiplekke staan ’n ent uitmekaar geplant, maar omdat kampeerders lukraak kamp opslaan, kan jy nie sommer net een vir jouself toeëien nie. Hier staan darem ’n paar los staalbraaiplekke rond wat jy kan nader dra as jy nie jou eie gebring het nie. Krane is skaars en jy moet mooi kyk om hulle raak te sien, veral in die winter, want dan is hulle net so vaal soos die omgewing.

Die groen gras in die middel van die kampplek laat ’n mens aan ’n stadsplein dink waar mense oor middagete ’n blaaskans vat. Dit is ook waar die kombuis onder ’n grasdak is.

Die badkamers is regs van die inrypad en saans word paraffienlanterns in die badkamer gesit om lig te maak. Dit is goed genoeg om jouself te oriënteer in die vertrek, maar dis omtrent al. Die lanterns brand heelnag.

Kortliks | Balule

Kampplek: 15 gelyk staanplekke sonder krag waarvan die meeste langs die heiningdraad is.

Ablusiegeriewe: Klein en netjies met ’n opwasplek in die middel van die kamp.

Prys: Afhangend van die seisoen R300-R390 p.n. per staanplek vir die eerste 2 mense, daarna R100 p.p.p.n. (R50 vir kinders). Maksimum 6 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak: 013 735 6606/7

Naaste hek: Orpen 94,8 km en Phalaborwa 96,3 km.

Naaste 2 kampe met die hoofroetes langs: Letaba (47,2 km) en Satara (47,9 km).

GPS: S24.053941 E31.733340

Ry & Sleep sê: ’n Mens kan nie by Balule self inboek nie; jy moet eers by die Olifants- of Satara-kamp gaan aanmeld.

LETABA

Mopanie-motel

Letaba lê so te sê op die nawel van die Kruger. Dit is olifantwêreld dié; selfs op Phalaborwa verwys toergidse jou na die “Olifantmuseum” op Letaba. As dié eentonners jou interesseer, sit gerus ’n uur of twee opsy om ’n draai te maak by die Omgewingsopvoedkundige Sentrum net agter die ontvangsgebou.

’n Massiewe veselglasolifant wag jou voor die deur in. Die sentrum voel soos ’n bogrondse begraafplaas van die plooivelle. Hier kan jy sien hoe groot is ’n regte olifanthart, jouself meet teen die geraamte van een van die kolosse, en selfs na hulle eie heldeakker gaan kyk. Ook deel van die tentoonstelling is die ivoor wat behoort het aan van die grootste grootvoete wat nóg die park bewandel het.

Onder hulle tel Mafunyane, wat volgens kenners een van die bekendste “Groot Sewe”-olifante van die Kruger was. Sy naam beteken “iesegrimmige” en hy het op 57-jarige ouderdom naby Shingwedzi sy laaste asem uitgeblaas.

Wildkyk in die omgewing kos nogal fyn kyk, want die wêreld hier is besaai met digte mopaniebos (jy kamp ook tussen ’n plaat mopaniebome). Wanneer jy jou langs een van die bome bevind, besef ’n mens hulle word groter as wat jy dink – hulle maak selfs skaflike koelte. Maar al staan daar oral van hulle, kan jy steeds ’n ordentlike wa onder hulle trek.

Die staanplekke is genommer met geverfde betonblokke, maar nie afgebaken nie. Die kragpunte staan ook verprei oor die kampplek met groen waterkrane apart daarvan, elk met ’n gemesselde vloertjie rondom.

Kortliks | Letaba

Kampplek: 60 staanplekke met krag tussen mopaniebome.

Prys: Afhangend van die seisoen R300-R390 p.n. per staanplek vir die eerste 2 mense, daarna R100 p.p.p.n. (R50 vir kinders). Maksimum 6 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak: 013 735 6636/7 of 082 802 1255

Naaste hek: Phalaborwa 50,7 km.

Naaste 2 kampe met die hoofroetes langs: Tsendze (42,5 km) en Balule (47,2 km). GPS S23.853953 E31.574657

Ry & Sleep sê: In dié kampplek in die “woud” word selfs die paaie soggens gevee.

TSENDZE

Innibos

Tsendze is ’n kampplek waar ’n mens móét gaan inloer, al is dit net om met jou eie oë te sien waarom so baie kampeerders dit as hulle gunstelingkampplek uitsonder.

Dié kamp het nie sy eie ontvangskantoor nie, en jy moet ’n paar kilometer verby hou tot by die Mopanikamp om in te teken.

By Tsendze is dinge mooi netjies en agtermekaar, en elke staanplek duidelik genommer. Hier kamp jy op die staanplek wat aan jou toegewys word, en die amptenaar by wie jy inteken, benadruk dit ook.

Tsendze se borshoogte houthek moet jy self oopmaak om die kamp binne te ry. Kyk maar goed rond vóór iemand uit die kar spring om dié takie te verrig, want daar’s dalk wilde diere. Met ons besoek was daar net ’n paar honderd meter ná die afdraai na die kamp ’n klompie olifante.

Aanwysingsbordjies wys watter afdraai jy moet vat na watter staanplek toe. Die staanplekke is groot skoongemaakte kolle in die bos, party heel privaat en ander effens nader aan mekaar, maar niemand is in niemand se pad nie. In die middel van die dag is dit doodstil in die kamp – dit voel omtrent soos ’n Sondagmiddag.

Die omgewing buite rondom Tsendze het meestal menshoogte bome met gras onderlangs. Maar langs die H1-5-teerpad, naby die Mooiplaas-piekniekplek, is ’n klomp groot bome op ’n kol wat van die buitekant af soos ’n woud lyk. Binne die woud is die Tsendze-kamp, waar ’n mens kan sien hoe groot mopaniebome kan word (hier’s ook hardekoolbome van vier verdiepings hoog).

Op jou staanplek is die kans op koelte dus goed, al is dit net op die een hoek. Verder is daar net drie dinge op jou staanplek: ’n staanpleknommer, ’n vullisdrom en ’n geplante staalbraaiplek. Die braaiplekke staan nie op dieselfde posisie op die staanplekke nie, en op sommige kan dit selfs in die pad wees as jy jou wa op ’n sekere manier wil trek. As braai ’n belangrike deel van jou kamplewe is, is dit veiliger om jou eie toestel te bring.

Hier is twee badkamers naby mekaar. Hulle lyk identies en is omtrent in die middel van die kamp. Baie kampeerders stryk aan badkamer toe en steek voor die deur vas – dan mik hulle na ’n ander deur, want weerskante van elke ingang is ’n opelugstort. Dit is privaat, maar jou plafon is die blou hemel en dit voel sommer net reg as jy in die bos uitspan.

Jy het ’n bankie waarop jy jou saamdragoed kan sit, en ’n handdoekreling vir die res. Die stort self is ruim genoeg. Die badkamers binne het ligte, maar hulle werk net snags. Dit wil voorkom of die ligte met ’n dag-en-nag-skakelaar beheer word.

Kortliks | Tsendze

Kampplek: 34 gelyk staanplekke sonder krag, elk op ’n skoongemaakte deel in die bos met redelike koelte.

Ablusiegeriewe: Netjies, goggaloos met binne- en buitelugstorte.

Prys: Afhangend van die seisoen R300- R390 p.n. per staanplek vir die eerste 2 mense, daarna R100 p.p.p.n. (R50 vir kinders). Maksimum 6 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak: 013 735 6535/6 of 082 802 1113

Naaste hek: Phalaborwa 68,4 km.

Naaste 2 kampe met die hoofroetes langs: Letaba (42,5 km) en Shingwedzi (66,9 km).

GPS: S23.556463 E31.444190

Ry & Sleep sê: Terwyl jy in die Mopanikamp inteken, kan jy in die winkel sommer ook vars produkte aanvul en die dieseltenk volmaak vóór jy afsaal in die bos by Tsendze.

SHINGWEDZI

Plat op die aarde

Hierdie kamp staan kop en skouers bo die res uit as dit kom by gelyk staanplekke, en dan is hier boonop ook reusagtige mopaniebome.

Shingwedzi was die eerste van al die Kruger se kampe wat heiningstaanplekke vooraf toewys, en jy betaal boonop duurder daarvoor. (Shingwedzi s’n is ook die duurste in die Kruger.)

Omdat jy in ’n ry staan teen die heining, kamp jy reg op die drumpel van jou buurman, maar dis ’n klein prys om te betaal vir jou onbelemmerde uitsig deur die heining.

Die ander helfte van die staanplekke lê agter die heiningstaanplekke en dis opvallend hoeveel ruimte ’n mens rondom jou het, selfs al is die kampplek volbespreek. Die kragpunte is rond en bont geplant, en eers pla dit ’n mens nie, want jy kan vir jou ’n kol naby die kragpunt uitsoek. Maar op van die staanplekke het ’n mens geen ander keuse nie as om jou verlengkoord oor die pad tot by die kragpunt te lê.

Van die staalbraaiers staan geplant met ’n swaairooster, maar hier is ook losstaande modelle wat jy nader aan jou staanplek kan skuif.

Die ligging van die badkamers is effens vreemd. Die een gebou staan op een van die punte waar ’n mens die kampterrein binnery, en die ander een in die middel rond, oorkant die pad tussen die chalets, maar buite die grens van die kampterrein. Gelukkig het jy ’n keuse, én hier is rolstoelvriendelike geriewe.

Die storthokkies is soortgelyk aan dié van Satara en ook net so beknop. Die waskamer is by die ander badkamer, maar wees maar geduldig, want van die kampeerders vergeet soms hulle wasgoed in die wasmasjiene en jy moet maar kom loer wanneer jy ’n beurt kan kry.

Een van die Kruger se tipiese vierkantige kombuisgeboue staan aan die swembadkant van die kampplek en die ander een nader aan die middel.

Shingwedzi se omheinde swembad is reusagtig. Die hekkie soontoe is tussen die boonste staanplekke, aan die teenoorgestelde kant van die onderste badkamers. Wanneer die son begin water trek, kan die kinders voortbaljaar, want daar’s ’n groot spreilig langs die swembad wat outomaties aangaan sodra dit donker raak. Jy mag tot 21:00 swem.

Shingwedzi se omheinde swembad is reusagtig. Die hekkie soontoe is tussen die boonste staanplekke...
Kortliks | Shingwedzi

Kampplek: 60 gelyk staanplekke met krag en heelwat koelte. Ongeveer die helfte van hulle is langs die heining, maar daarvoor betaal jy meer.

Ablusiegeriewe: 2 blokke nader aan die een kant en 2 kombuisgeboue nader aan die ander kant.

Prys: Afhangend van die seisoen en staanplek R300-R450 p.n. per staanplek vir die eerste 2 mense, daarna R100 p.p.p.n. (R50 vir kinders). Maksimum 6 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak: 013 735 6806/7 of 082 889 4376

Naaste hek: Punda Maria 72,5 km.

Naaste 2 kampe met die hoofroetes langs: Tsendze (66,9 km) en Punda Maria (71,7 km).

GPS: S23.108452 E31.435543

Ry & Sleep sê: As jy ooit ’n kampwaterpas uitvind, kan jy hom op hierdie staanplekke kom kalibreer.

PUNDA MARIA

Kyk noord

Punda Maria is die noordelikste kampplek in die Kruger; hier kamp jy net ’n paar kilometer van die grens met Zimbabwe en Mosambiek af.

Punda Maria was omtrent ’n eeu gelede ’n veldwagterpos met kaptein J.J. Coetzer aan die stuur van sake. Van die eerste diere wat kaptein J.J. ná sy aankoms hier gesien het, was sebras. Die Swahilinaam vir ’n sebra is “punda malia”, en die kaptein se vrou, Maria, het ’n voorliefde vir klere met swart en wit strepe gehad; toe noem hy dié plek Punda Maria.

Dis uitgelê aan die voet van ’n koppie, en sodra ’n mens direk ná die hek verby die vulstasie ry, moet jy met ’n steil paadjie uit tot by die kantoor. Maar haak eers af vóór jy na die kantoor ry.

Die staanplekke is links af en waar die paadjie oploop, maan ’n bordjie woonwaens mag nie verder nie. As jy per ongeluk die bordjie miskyk, sal jy bo in die parkeerplek jou draai kan kry, maar die kans is goed jy sal moet afhaak, omdraai en weer haak.

Die staanplekke is net so ruim en ver uitmekaar as by Shingwedzi, maar teen die heining is sommige van die staanplekke teen mekaar en ander meer privaat. Soos in die ander kampe in die Kruger is hier geen teken van ’n lowergroen grasmat op jou staanplek nie, maar ’n stuk skoongemaakte grond. Die staanplekke is nie afgebaken nie en jy kies ’n plek om jou wa staan te maak.

As jy nie betyds is vir ’n plek teen die heining nie, is hier darem ’n troos: Hier is dele waar jy nie teen die heining mag kamp opslaan nie, wat beteken mense wat verder weg staan, kry ook kans om die wilde diere langs die kamp te sien. ’n Verdieping hoë voëlskuiling met ’n grasdak staan teen die draad en ’n mens kan die watergat langsaan nóg beter sien. Weerskante hiervan, seker ’n goeie 20 m na elke kant toe, mag niemand kamp opslaan nie.

Die een badkamer sit skuins agter die skuiling en die ander een tussen die kampplek en die voetpaadjie waar ’n mens oploop na die kantoor toe.

Die braaiplekke en die kragpunte staan rond en bont en hier is heelwat koeltebome. As jy afhanklik is van krag, kan die lengte van jou verlengkoord die verskil beteken tussen koelte en son.

Kortliks: Punda Maria

Kampplek: 40 staanplekke met krag en 21 daarsonder aan die voet van ’n koppie met koeltebome, maar van die staanplekke is nie gelyk nie. Die eerste prys is die drie staanplekke weerskante van die voëlskuiling – hier is net draad tussen jou en die watergat.

Ablusiegeriewe: 2 eenderse ablusieblokke en 2 kombuisgeboue rofweg in die middel van al die staanplekke.

Prys: Afhangend van die seisoen en staanplek R250-R390 p.n. per staanplek vir die eerste 2 mense, daarna R100 p.p.p.n. (R50 vir kinders). Maksimum 6 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak: 013 735 6873 of 082 802 0066

Naaste hek: Punda Maria 8,4km.

Naaste 2 kampe met die hoofroetes langs: Shingwedzi (71,7km) en Tsendze (125km).

GPS: S22.692072 E31.018108

Ry& Sleep sê: Die swembad is regoor die badkamer die naaste aan die kantoor en die waskamer net bo dit.


Die praktiese sake

Tariewe: Die tariewe is geldig van 1 November tot 31 Oktober 2021, maar sluit die bewaringstarief uit. Volwassenes se tariewe geld vir enigiemand ouer as 11 jaar en die kindertarief is vir kinders van 2-11 jaar. Die bewaringstarief word per dag per persoon bereken.

As jy dus beplan om vir ’n paar dae oor te slaap, skaf eerder ’n Wild Card aan. Die kaart is geldig vir ’n jaar (jy kan dit hernu) en gee vir jou en jou gesin gratis onbeperkte daaglikse toegang tot enige van Sanparke se reservate. Jy kan kies uit verskillende opsies vir jou Wild Card en dit kos net meer as R1 000 per jaar.

Die bewaringstarief vir die Kruger is net meer as R100 p.p.p.d., wat beteken as ’n paartjie net vyf dae in die park vertoef, het jy reeds al jou geld terug.

Kontakbesonderhede: Ons gee elke kamp se eie telefoonnommers, maar dis beter as jy jou bespreking by die sentrale besprekingskantoor maak as jy van die een na die volgende kamp wil kuier.  

012 428 9111 of 082 233 9111; reservations@sanparks.org

Spoedbeperking: Op teerpaaie in die Kruger is die spoedbeperking 50 km/h – hou dit in gedagte vir jou dagbeplanning, en maak voorsiening vir wildkyk en ’n blaaskans of wat.