Foto’s Leon Botha

Die noorde van die Krugerwildtuin is stiller as die suide en ook verder weg van die groot stede soos Pretoria en Johannesburg. Dit is olifant- en buffelwêreld, en die digte bosveld wat ’n mens in die suide teëkom, maak hier plek vir plate mopaniebome.

Wanneer jy in die noorde kom kamp, is die staanplekke teenaan die kampheining die eerste prys – net soos in die res van die Kruger.

By Satara kan jy een van ’n goeie 20 gelukkiges wees wat kan nesskrop teen die lynreguit heining van 300 m lank, maar by Shingwedzi staan sake effens anders: Hier word die 26 staanplekke teen die heining deesdae vooraf toegewys én jy betaal ekstra vir die voorreg om nader aan die wild te staan.

Heel noord by Punda Maria staan ’n voëlskuiling reg teen die draad en op die dele direk weerskante van dié gebou mag jy nie kamp opslaan nie.

Hoe ook al, jy kan jou gelukkig ag as jy op een van die kroonstaanplekke langs die heining te lande kom, want dis uiters gewild. Dit beteken egter nie jou Krugervakansie hoef minder aangenaam te wees as jy nié een van die gelukkiges is nie. 

SATARA

Kampvlakte

Satara is sinoniem met groot katte soos leeus, luiperds en jagluiperds, en soos ’n mens nader aan die kamp ry, staan die kolossale geelgroen koorsbome uit teen die res van veld. Die kantoor, restaurant en winkel is langs die bome en is Satara se bedrywigste deel.

Moenie met jou wa tot naby die kantoor se parkeerplek ry nie, want hier is nie voorsiening gemaak vir slepers nie. Waar jy links sou afdraai na die parkeerplek toe, draai eerder regs na die groter oop parkeerplek waar die toerbusse stilhou.

Die kampplek is ’n halwe kilometer verder, verby die swembad, vulstasie en chalets.

’n Mens kan die kamp in drie verdeel – twee dele is links en regs van jou (elk met ’n ablusieblok) en dan is daar die strook verderaan wat teenaan die heining lê, ook met ’n ablusieblok.

As jy een van die heiningstaanplekke oorweeg, ry eers teen die heining af om te kyk of jy nog ’n gaatjie kan kry. Met ons besoek was al 21 van hulle beset... met die uitsondering van een. Die laaste twee staanplekke word uitgehou vir mense met mediese probleme (dis een van hulle wat oop was).

leeus eerste, bome laaste. Satara is bekend vir al die leeus in die omgewing, maar hier is nie te veel koeltebome in die kampplek nie. As jy ’n bietjie ruimte verkies, soek ’n staanplek weg van die heining af. As jy hou van bure naby jou, is die heining die antwoord (ás jy plek kry).

Te oordeel na wie met wat kamp teen die heining, is jou kans om hier te staan groter as jy ’n woonwa het, want ons kon net drie koepeltente sien. Uiteraard lê die meeste van die 100-plus staanplekke weg van die heining af.

Die staanplekke sonder krag is links en regs van jou waar jy die kampplek binnery, en die bome in die kamp staan taamlik yl, indien jy ’n koeltekol soek. Probeer nader aan die badkamers die naaste aan die heining staan as jy ’n nuwer geriewe verkies.

As jy een van die heiningstaanplekke oorweeg, ry eers teen die heining af om te kyk of jy nog ’n gaatjie kan kry.

’n Mens kan nie kla oor die netjiese leiklipwerk om die versonke wasbakke nie, en agter teen die muur is spieëls vasgesit. Die storthokkies is ongelukkig baie klein en ’n mens moet eers tot in die trog van die stort klim voor jy die deur agter jou kan toemaak.

Dis gaaf om ’n droë en nat deel in die storthokkie te hê, maar die stortgordyn kan vinnig pla en nader aan jou lyf waai wanneer jy die krane oopdraai.

Al is die kampplek tjokkenblok, is die uitleg van só ’n aard dat niemand oor mekaar se voete val nie. Dit gee jou ’n gevoel van ruimte en jy hoef nie nog kop te krap om jou sleepvoertuig iewers in te wurm nie. Uiteraard is dit nie die geval met die voorste ry nie; hier staan jy teen jou buurman.

Die geplante staalbraaiers staan lukraak rond, asook die kragpunte. Die blinkgepoetsde koperkrane by die kombuisgeboue is ’n klinkklare bewys van hoe skoon Sanparke se mense die geriewe hou.

’n Geplaveide pad loop rondom die kamp en laat ’n mens nogal dink aan ’n atletiekbaan. Dis boonop omtrent net so groot – een oggend het daar hoeka ’n paartjie met hulle drafklere ’n paar rondtes om die kamp gedraf.

Gemeet aan Sanparke se standaarde is die swembad beskeie – omtrent so groot soos ’n ronde plaasdam. Hier is ook ’n kleiner poeletjie vir die kinders asook ’n klimraam as hulle tande begin tel in die kampplek.

Hulle sê

Pam en Steve Natali en hulle seun Matthew is van Johannesburg. Vroeër jare het hulle die kinders vooruit gestuur om plek te hou by die heining.

Ons was al voorheen by Satara en weet hoe gesog die heiningstaanplekke is. Die goue tyd om een van die plekke te kies is tussen 8 vm. en 11 vm. Wanneer ons by die kampplek inry, ry ons eers verby hierdie staanplekke om te sien wat nog beskikbaar is. Dié slag kon ons tussen twee staanplekke kies, maar voor jy opdaag, weet jy eenvoudig nie wat jy gaan kry nie.

Ons het ons wa ook nie reg teen die heining opgeslaan nie. Ons wil darem vir die kampeerders agter ons ook ’n beter blik op die heining gee. In ons geval is die kragpunt ver van die staanplek af, en dis nie altyd te sê ’n mens kry ’n oop prop by die naaste kragpunt nie. ’n Mens sien selfs dat sommige kampeerders sommer twee aparte koorde van die kragpunt af aanlê woonwa toe.

Onder die diere wat ons al hier van die staanplek af gesien het, tel olifante, wildebeeste, ’n likkewaan én ’n maraboe.

Kortliks I Satara

Kampplek 103 plat staanplekke (15 sonder krag), min koelte en ’n kragpunt wat ook ver weg kan staan.

Ablusiegeriewe 2 ouer blokke asook een met nuwe byderwetse geriewe wat opwasplekke insluit.

Prys Afhangend van die seisoen, en met of sonder krag, R240-R330 vir die eerste 2 mense. Daarna kos dit R88 p.p. (R44 vir kinders). ’n Bykomende bewaringstarief van R82 p.p.p.d. (R42 vir kinders) geld as jy nie ’n Wild Card het nie.

Aankoms- en vertrektyd 7 vm. en 10 vm.

Kontak  013 735 6306/7 of 082 802 1209  sanparks.org Hoe lyk die pad? Teer tot by die kampplek.

GPS S24.392644 E31.779756

Weg Ry & Sleep sê Hier is ’n FNB-kitsbank in die winkel.


Hulle sê

Bill en Monica Pirrie van Rosetta in KwaZulu-Natal het al voorheen by Satara gekamp en glo om ’n staanplek teen die heining te kry het baie met tydsberekening te doen.

Ons het al in die wintermaande ’n plek by Satara bespreek – sowat sewe maande vóór die Desembervakansie. As jy jou oog op ’n heiningstaanplek het, moet jy op die beste moontlike tyd opdaag.

Teen 11 vm. is die meeste kampeerders gewoonlik opgepak om na ’n volgende kamp te ry en dit is dán wanneer jy gereed moet wees. Dit was die geval met hierdie staanplek van ons.

Natuurlik sien ’n mens heelwat wilde diere van jou staanplek af. Die olifante stap sommer hier vlak voor ons verby, maar ons gaan ry ook rond om van die ander diere in die wildtuin te sien. In  die dae toe ons kinders nog jonk was, het ons geweet die heiningstaanplek is die eerste prys.



SHINGWEDZI

Mopanieplaas

As ’n mens net na die reusagtige mopaniebome hier kyk, staan Shingwedzi kop en skouers uit bo die res. En dan kamp jy boonop op netjiese gelyk staanplekke. Dis egter nie net die mopanies wat die oog tref nie.

Shingwedzi is die eerste van die Kruger se kampe wat die heiningstaanplekke nou vooraf toewys – en dan betaal jy boonop duurder vir dié staanplekke.

Die 26 staanplekke is genommer met ’n paar geplante bakstene waarop die nommer geverf is. Omdat jy hier teen die heining in ’n ry staan, kamp jy reg op die drumpel van jou buurman, maar dis ’n klein prys om te betaal vir jou onbelemmerde uitsig deur die heining.

Die ander helfte van die staanplekke – 32 van hulle – lê agter die heiningstaanplekke en dis opvallend hoeveel ruimte ’n mens rondom jou het wanneer jy hier kamp, selfs al is die kampplek volbespreek.

Die kragpunte is rond en bont geplant, en eers pla dit ’n mens nie, want jy kan vir jou ’n kol naby die kragpunt uitsoek. Maar op van die staanplekke het ’n mens geen ander keuse nie as om jou verlengkoord oor die pad tot by die kragpunt te lê.

Karre wat heen en weer oor die koord ry, kan die koord se einde beteken, én daar’s die gevaar van ’n kortsluiting. Maar die kragboksies blink en lyk nog nuut.Van die staalbraaiers staan geplant met ’n swaairooster, maar hier is ook losstaande modelle.

Die ligging van die badkamers is effens vreemd. Die een gebou staan op een van die punte waar ’n mens die kampterrein binnery en die ander een in die middel rond, maar buite die grens van die kampterrein. Dis oorkant die pad tussen die chalets, maar ’n mens het darem ’n keuse, én hier is geriewe vir gestremdes.

Die storthokkies is soortgelyk aan dié van Satara en ewe beknop. Die waskamer is by die ander badkamer, maar wees maar geduldig, want van die kampeerders vergeet hulle wasgoed in die wasmasjiene en jy moet gereeld kom loer wanneer jy ’n beurt kan kry.

Party van die staanplekke se kragpunte staan ver en jy het geen keuse nie as om ’n lang verlengkoord te gebruik. In party gevalle strek dit oor die pad wat jou koord kan verinneweer as te veel karre daaroor ry.

Een van die Kruger se tipiese vierkantige kombuisgeboue staan aan die swembadkant van die kampplek en die ander een nader aan die middel.

In teenstelling met Satara se klein swembad kan Shingwedzi s’n skaars groter.

Die hekkie na die omheinde swembad is tussen die boonste staanplekke, aan die teenoorgestelde kant van die onderste badkamers. Wanneer die son begin water trek, kan die kinders voortbaljaar, want daar’s ’n groot spreilig langs die swembad wat outomaties aangaan sodra dit donker word. Jy mag tot 9 nm. swem.

Hulle sê

Gesinslede van die Behrens-familie kom van reg oor die land en kies elke jaar ’n volgende kampplek in die Krugerwildtuin waar hulle afsaal.

Ons mik altyd vir die heiningstaanplekke en kom nege uit die tien keer reg. Ons was net ná 8 vm. hier by Satara en toe was hier darem nog drie oop.

Ons sien elke dag die olifante en hiënas wat verbykom, en douvoordag ook luiperds. Selfs wildehonde het al ’n draai kom maak.


Hulle sê

Neels en Trudie Visser van Sasolburg kamp saam met hulle twee kinders, C.J. (5) en Muller (2), op een van die twee spesiale staanplekke teenaan die heining wat gehou word vir mense met spesiale mediese behoeftes.

Ons het in die middel van die jaar al vir ons Desembervakansie in die Kruger bespreek. Ons geniet die oopte van Satara, en al is hier nie te veel koeltebome nie, is ons gelukkig om een op ons staanplek te hê.

Ons het al verskeie diere teen die heining gesien – van hiënas tot ’n olifant wat die draad patrolleer, en selfs ’n likkewaan wat teen sononder ’n draai kom maak het. Trudie [in haar rolstoel] gebruik wel die badkamers, maar die randstene van die geplaveide pad is nogal skuins en dis vir haar moeilik om daaroor te kom. Maar verder kan ’n mens nie oor die badkamergeriewe kla nie. Dis heeltemal voldoende.


Hulle sé

Mari, Jaco en Kayleigh (9) van der Westhuizen van Nelspruit is gelukkig waar hulle in die voorste ry kamp.

Ons het in Maart al bespreek, en toe ons hier aankom, is hierdie staanplek teen die heining aan ons toegeken. Ons hou baie van Satara, maar dis ons eerste keer in Shingwedzi – ons gaan 12 dae net hier staan. Ons ouers was laasjaar hier toe die oordbestuur nommers voor die staanplekke begin aanbring het.

Hier van ons staanplek af het ons al ’n buffel gesien, en teen sononder ook hiënas. En ’n groot trop rooibokke kom teen die einde van elke dag verby. ’n Mens hoef nie eens in jou kar te klim om te gaan wild kyk nie; hier gebeur genoeg reg voor ons staanplek.



Hulle sé

Marthonet en Paul Stangroom van Middelburg was gelukkig genoeg om die laaste staanplek teen die heining te kry.

Ons het ’n gewone staanplek by Shingwedzi bespreek, maar die vrou in die kantoor het gesê ons kan enige een kies. Hierdie was die enigste oop staanplek teen die heining en ons het ons staan gekry. Gelukkig is dit ’n meer as ruim staanplek en ons Classique pas maklik in die lengte in – wat dit ook lekker privaat maak. ’n Mens het gemengde gevoelens om ekstra te betaal vir dié soort staanplek. 


Kortliks | Shingwedzi

Kampplek 60 gelyk staanplekke met heelwat koelte. Ongeveer die helfte van hulle is langs die heining.

Ablusiegeriewe 2 blokke nader aan die een kant en 2 kombuisgeboue nader aan die ander kant.

Prys Afhangend van die seisoen R285-R330 vir die eerste 2 mense, en R310-R380 vir die heiningstaanplekke. Daarna kos dit R88 p.p. (R44 vir kinders). ’n Bykomende bewaringstarief van R82 p.p.p.d. (R42 vir kinders) geld as jy nie ’n Wild Card het nie.

Aankoms- en vertrektyd 7 vm. en 10 vm.

Kontak  013 735 6806/7 of 082 889 4376  sanparks.org

Hoe lyk die pad? Teer tot in die kamp.

GPS S23.108398 E31.435208

Weg Ry & Sleep sê Bestel gerus ’n buffelpastei (R110) in die restaurant agter die kantoor – dit smaak vorentoe. 



PUNDA MARIA

Stilweg die beste

kyk jou kyk. Maak seker jy soek na genoeg diere op pad na Punda Maria. Want as jy eers hier is, gaan jy moeilik afskeid neem van die watergat langs die heining. Hier kom en gaan die diere heeldag en aldag.

Punda Maria is die noordelikste kampplek in die Kruger, en hier kamp jy net ’n paar kilometer weg van die Zimbabwiese en Mosambiekse grens. Dis teen die voet van ’n koppie uitgelê, en sodra ’n mens verby die vulstasie direk ná die hek ry, moet jy met ’n steil paadjie uit tot by die kantoor.

Maar haak eers af voor jy na die kantoor ry. Die staanplekke is links af en waar die paadjie oploop, is ’n bordjie wat jou waarsku woonwaens mag nie hier op nie.

As jy per ongeluk die bordjie miskyk, sal jy bo in die parkeerplek jou draai kan kry, maar die kans is goed jy sal moet afhaak, omdraai en weer haak.

met die blote oog. By Punda Maria kom die diere só naby aan die heining jy het nie eens ’n verkyker nodig om hulle beter te sien nie.

Die staanplekke is net so ruim en ver van mekaar af as by Shingwedzi, maar teen die heining is sommige van die staanplekke teen mekaar en ander meer privaat.

As jy nie betyds is vir ’n plek teen die heining nie, is hier darem ’n troos: Hier is dele waar jy nie teen die heining mag kamp opslaan nie, wat beteken mense wat verder weg staan, kry ook kans om die wilde diere langs die kamp te sien.

’n Verdieping hoë voëlskuiling met ’n grasdak staan teenaan die draad en jy kan die watergat langsaan nóg beter sien. Weerskante hiervan, seker ’n goeie 20 m na elke kant toe, mag niemand kamp opslaan nie.

In ons geval kamp mense so 10 m voor ons, en die heining is ’n goeie 30 m verder, maar ons almal kan maklik sien hoe die olifante in die modderwater afkoel.

nagbesoeker. Voor jy die aand by Punda Maria inkruip, gaan kyk eers of die skugter luiperd nie dalk ’n draai kom maak nie.

Net soos by die vorige kampplekke staan die braaiplekke asook die kragpunte rond en bont en hier is heelwat koeltebome. Maar, weer eens: As jy afhanklik is van krag, kan die lengte van jou verlengkoord die verskil beteken tussen koelte en son.

Die een badkamer sit skuins agter die skuiling en die ander een tussen die kampplek en die voetpaadjie waar jy oploop na die kantoor.

In teenstelling met die leiklipwerk by van die ander badkamers in die Kruger, het hierdie badkamers nog wit teëls wat ’n mens laat dink aan ’n ou staatsdiensgebou. Dis darem skoon. Die teëlwerk word herhaal in die storthokkie, en dis ook knap met die stortgordyn wat lastig kan wees.

Die swembad is oorkant dit en die waskamer sit net bo hierdie badkamers, maar van die masjiene het die gees gegee en werk nie almal meer nie.

Hulle sé

Die Manns en Brinks van Dullstroom en Johannesburg moes hulle beurt afwag voor hulle langs die heining kon intrek.

Ons het in Augustus al bespreek, en toe ons opdaag, was hier vier rye woonwaens tussen ons en die heining. Ons het na van die voorste kampeerders gestap om te hoor of van hulle binnekort vertrek, maar die meeste het gesê hulle staan vir minstens ’n week. Maar een van die kampeerders het gesê hulle staan nog net twee aande. Só kon ons inbeweeg toe hulle oppak. Die buurman was eintlik ongelukkig, want hy wou na hierdie staanplek toe skuif.

Met sy groot koelteboom en al die bedrywighede van die watergat oorkant ons is dit die beste staanplek in Punda Maria. Ons het wel die mense wat agter ons staan, in ag geneem en ’n entjie weg van die heining af opgeslaan sodat hulle ook die watergat kan sien. Die naaste kragpunt aan ons het net vier proppe, maar met die gebruik van dubbelproppe is hier sowaar sewe proppe ingeprop.

In die week wat ons al hier staan, het ons nog net drie keer gaan rondry. Laasnag het leeus amper ’n buffel by die watergat vasgetrek; en hier is ook hope olifante, koedoes en njalas te sien – om van luiperds nie te praat nie. Ons het al by al die kampe gekamp, maar Punda is beslis die beste een en ons dink klaar daaraan om weer te bespreek.

Hulle sê

Dis Belinda en Christo Vickers se eerste besoek aan die Kruger. Hulle het op uitnodiging saam met hulle vriende Willem, Agnes en Ruben (6) Engelbrecht van Pretoria kom uitspan.

Dis die hoeveelste keer dat ons die Kruger besoek, en ons begin of eindig altyd by Punda. Ons het vroeër by Satara ook op een van die heiningstaanplekke plek gekry. Nou staan ons skuins voor, en al staan jy nie teenaan die heining nie, kan jy steeds al die wild sien wat watergat toe kom. By Satara het ons ’n likkewaan gesien én hiënas wat die draad patrolleer.

Kortliks | Punda Maria

Kampplek 61 staanplekke aan die voet van ’n koppie met genoeg koeltebome, maar van die staanplekke is nie gelyk nie. Die eerste prys is die drie staanplekke weerskante van die voëlskuiling waar jy net die draad tussen jou en die watergat het.

Ablusiegeriewe 2 eenderse ablusieblokke en 2 kombuisgeboue rofweg in die middel van al die staanplekke.

Prys Afhangend van die seisoen, en met of sonder krag, R240-R330 vir die eerste 2 mense. Daarna kos dit R88 p.p. (R44 vir kinders). ’n Bykomende bewaringstarief van R82 p.p.p.d. (R42 vir kinders) geld as jy nie ’n Wild Card het nie.

Aankoms- en vertrektyd 7 vm. en 10 vm. Kontak  013 735 6873 of 082 802 0066; sanparks.org

Hoe lyk die pad? Teer tot by die kantoor en skaflike grondpaaie tussen die staanplekke.

GPS S22.692133 E31.018252

Weg Ry & Sleep sê Punda Maria het een van die bedrywigste watergate teen die heining. Spreiligte verlig saans die watergat en ’n mens kan die heeltyd sien hoe die diere kom en gaan.

Hiermee het ons gesleep

Toyota Fortuner 2.4 GD-6 (4x4, outomaties)

Vir ’n gesin van vyf kan die langpad vol uitdagings wees. Die Fotuner het sewe sitplekke, wat beteken die jong seuns is nooit in ’n buierige tiener se pad nie. Al is die enjin die kleiner boetie van die Fortuner 2.8, sukkel ’n mens nie met Conqueror se grootste boswoonwa, die Commander, op die haak nie.

Ons het in Johannesburg weggespring, is deur die Krugerwildtuin en bo uit, en toe al die pad terug tot in die Kaap – ’n volle 3 500 km. Die verbruik op die ooppad was 14,3 l/100 km (7 km/l), terwyl die syfer sonder die wa 8,3 l/100 km (12 km/l) was. 

SPESIFIKASIES

Enjin 2,393 l diesel

Krag  110 kW @ 3 400 r.p.m.

Wringkrag 400 Nm @ 1 600-2 000 r.p.m.

Prys R511 100