Baie Suid-Afrikaners het ’n verbintenis met die Krugerwildtuin. Sommige mense kamp van kleins af elke Junievakansie hier; ander het grootgeword op Skukuza; hier is afgetredenes wat drie maande lank kamp; diegene wat naby bly wat elke naweek hierheen kom; diés wat hier werk... hoe dit ook al sy, ek moet nog iemand teëkom wat apaties voel oor die Kruger. Die meeste mense is gáánde oor hierdie nasionale park.

Ek het laat in my lewe byna toevallig die park ontdek toe ek ’n gids daaroor aangepak het vir Weg. Ek en my gesin het in Desember 2016 twee weke lank die park deurkruis van Punda Maria in die noorde tot by Berg-en-Dal. Ons het die Groot Vyf, die Lelike Vyf, seekoeie, krokodille, wildehonde, likkewane, jakkalse, saalbekooievaars en ’n streepmuishond gesien. Al wat nog gekort het, was ’n swartwitpens en ’n erdvark!

Ek moet nog iemand teëkom wat apaties voel oor die Kruger. Die meeste mense is gáánde oor hierdie nasionale park.

Ek was oombliklik verlief. Daarna het ek elke moontlike geleentheid aangegryp om weer terug te keer na dié wilde park. Sedertdien was ek al vier keer hier met planne reeds beraam vir ’n 2019-besoek.

Laat ek dit dus uit die staanspoor verklaar: Ek is een van daai Krugermal mense. Goed, ek verstaan die park het tekortkominge: die skares in die suide, die substandaard kombuisware in van die eenhede, die moeë handdoeke, vlermuismis op die stoepe, die blouapie-grypdiewe, trae diens in restaurante...

Maar jy gaan mos nie wildtuin toe vir Egiptiese linne en tjoklits op jou kopkussing nie. Jy gaan soontoe om vakansie te hou in een van die toeganklikste, wildste plekke op aarde.

Dis ’n redelik bekostigbare vakansie as jy kamp of in die safaritente of rondawels met gemeenskaplike geriewe bly. In die wildtuin kan jy in ’n Chevie Spark afkom op ’n leeu en ’n hiëna wat mekaar aangluur oor ’n rooibok!

By Weg kry ons elke nou en dan klagtebriewe oor die park: Grasdakke wat uit mekaar val, besems wat rondstaan, ou vadoeke... en dan wonder ek hoe mense dié goed sien as die bome om jou vol neushorings en houtkappers is en hier gedurig een of ander vorm van aksie is: ’n ratel wat verbyskarrel, geitjies onder die ligte, ’n renosterkewer op pad badkamer toe, ’n nagapie wat van tak na tak vlie’... Maar nou ja, nou weet julle ek is subjektief.

Jy gaan soontoe om vakansie te hou in een van die toeganklikste, wildste plekke op aarde.

Op my besoeke het ek met verskeie parkmense gepraat. En hierdie is my begrip van die park se uitdagings. Die park se eerste mandaat is natuurbewaring. Sedert die begin van die 21ste eeu veg die Kruger ’n oorlog teen stropers, wat beteken daar is nie altyd die nodige fondse beskikbaar vir opknapwerk nie.

En van die Kruger se wins word teruggeploeg in Sanparke se kleiner parke. Wees dus die wildtuin genadig. En as die wispelturige diens en geriewe jou dwars in die krop steek, mik eerder vir die private kampe wat aan die park grens.

As ’n vuil vadoek jou pla, weet ek nie of jy tuis sou gevoel het in die park van ouds nie. In daai eerste woeste begindae was daar géén geriewe (of paaie) vir toeriste nie, en ook nie veel reëls nie. Besoekers moes hulle eie boskamp maak. Die storie loop dat mense dikwels lang nagte in ’n boom moes deurbring...

Die Sabie-wildreservaat is in 1898 deur oudpresident Paul Kruger geproklameer (toe genoem die Gouvernement Wildtuin). James Stevenson-Hamilton is eers op 1 Julie 1902 aangestel as eerste opsiener van die reservaat.

kruger
LANK VOOR MUGG & BEAN. Dié lugfoto van Onder-Sabie is in 1948 geneem. Die U-vormige gebou en klossie rondawels is vandag nog in gebruik. Teen vanaf R692 p.n. is dit van die goedkoopste selfsorg-blyplek in die park.

In daardie dae was natuurbewaring nog in sy kinderskoene. Diere is hoofsaaklik beskou as ’n bron van kos, velle, biltong en trofees, en teen die einde van die 19de eeu was baie van die wild in die Transvaal uitgejag.

’n Bewarea het dikwels net beteken geen jag of stropery mag in dié gebied plaasvind nie. Dit was eers ná die wisseling van die eeu dat mense wêreldwyd besef het die natuur en diere is ons erfenis. Hoewel daar sprake was van toerisme, het daar nie veel van gekom nie.

In 1923 het die Suid-Afrikaanse Spoorweë die Round in Nine-toer begin van Pretoria deur die Laeveld tot by Lourenço Marques (deesdae Maputo) in Mosambiek. Hierdie toergroep het oorgestaan by Sabiebrug (nou Skukuza-ruskamp).

Dit was eers ná die wisseling van die eeu dat mense wêreldwyd besef het die natuur en diere is ons erfenis.

Hier was geen geriewe nie; die gaste het in die trein geslaap, maar laatmiddag sou besoekers om ’n groot vuur byeenkom terwyl veldwagters hulle met allerlei staaltjies vermaak. Dié trein-toeriste was gaande hieroor.

Die Pretoriuskop-omgewing is eerste oopgestel vir besoekers – in 1927 – maar hulle kon net vir die dag kom en mog net ’n rewolwer saambring vir veiligheid. Die dagtarief was R2 p.p. In daardie jaar het net drie voertuie die park besoek. Maar dit het gou verander, en in 1928 was hier 180 voertuie en in 1929 byna vyf keer meer, sowat 850. Deesdae kry die park sowat twee miljoen besoekers per jaar!

Gou was paaie en blyplek noodsaaklik. Bouwerk aan die eerste básiese hutte is begin in 1928 by Pretoriuskop, Satara en Skukuza. Die eerste hutte was ’n rondawel met ’n opening tussen die muur en die dak en ’n opening bokant die deur waardeur ’n mens moes kyk vir wilde diere. Met riempiebedjies en geen lopende water, spoeltoilette of lugversorging nie. Gaan kyk gerus na die hutte in die Balule-ruskamp om ’n idee te kry.

Die eerste ablusieblok is in 1932 in Skukuza gebou. Warm water het eers in 1933 gekom. Die voorsitter van die parkeraad, Jack Brebner, het dit as ’n “onnodige luuksheid” beskou!

Die voorblad een van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens se brosjure vir die park.

Die ander ruskampe het eers in 1939 warm water gekry. Mans mog net stort, en vroue kon net tussen 5 nm. en 9 nm. bad.

Ondanks dié uitdagings het besoekers eenvoudig aanhou kom en die park mos bontstaan om die nodige blyplek te verskaf.

Teen 1946 was hier 11 ruskampe in die park: Pretoriuskop, Satara, Skukuza, Onder-Sabie, Krokodilbrug, Letaba, Punda Maria, Malelane, Shingwedzi en Olifantskamp (nou Balule) en Olifantspoort (nou gesluit).

Ondanks dié uitdagings het besoekers eenvoudig aanhou kom en die park mos bontstaan om die nodige blyplek te verskaf.

Ook maar goed, want in 1947 toer die Britse koninklike gesin – koning George VI, koningin Elizabeth en prinsesse Elizabeth en Margaret Rose – deur Suid-Afrika. Hulle bly onder meer oor in Pretoriuskop, in twee huise wat spesiaal vir die besoek gebou is.

Dit was in die dae voor sosiale media, maar wie weet, dalk het dié besoek deur briewe, foto’s en posduiwe die Kruger ook aan internasionale besoekers bekend gestel, want teen 1955 het sowat 100 000 mense die park jaarliks besoek.

Die wildtuin is dik van die diere. Slegs sowat 63 km² – oftewel 0,3% – van die sowat 20 000 km² wat die park beslaan, is ontwikkel. Daar is nie baie plekke waar jy die ontsaglikheid van die wildtuin kan ervaar nie. Maar gaan staan een oggend vroeg by die Shirimantanga-uitkykpunt suid van Skukuza.

Hier het jy ’n 360°-uitsig oor die suide van die park. Jy word omring deur ’n Bosveldsee tot op die gesigseinder. As ’n mens hier staan, kan jy nie anders nie as om te dink dis eintlik ’n wonderwerk dat jy enigsins diere sien. Die Tshanga-uitkykpunt naby die Bateleur-bosveldkamp in die noorde is ook so ’n plek.

Dit was egter nie altyd die geval nie. In die twintigste eeu is wild in die Hoë- en Laeveld afgemaai vir velle, horings, biltong en ivoor. Net uit die Laeveld is byna 20 000 ton ivoor van Durban se hawe af verskeep.

Die stand van sake is vererger deur die runderpes aan die einde van dié eeu, wat byna gelei het tot die uitwissing van koedoe, eland en buffels in die Laeveld, asook die bou van die Selati-treinspoor – wat deur die reservaat geloop het – in 1893 (die werkers moes jag vir kos).

Toe James Stevenson-Hamilton in 1902 in die Sabiereservaat aankom, was sake beroerd. Hier was geen meer witrenosters nie, en die laaste Lichtensteinse hartbees is in 1920 geskiet. Hier was nie eens nie olifante nie. “... it was possible to cover very large tracts of country, especially in the western portions where the winter hunters had been most active and numerous, without seeing a sign of life, not even a solitary spoor,” skryf Stevenson-Hamilton in sy jaarverslag van 1906.

kruger
Elzette de Beer van Franschhoek skryf: My oupagrootjie Andries le Roux, wat hier staan met die twee olifanttande, was ná sy aftrede as skoolhoof op Uitkyk die kampbestuurder by verskillende ruskampe – eers by Shingwedzi, toe by Orpen en later by Numbihek. In dié jare was die wildtuin slegs in die wintermaande oop vir besoekers. Die foto is geneem deur my oupa D.P. de Beer in die Orpen-ruskamp. ’n Veldwagter het die olifant geskiet ná verskeie klagtes dat hy voertuie bestorm het. Ook op die foto staan my ouma Susie de Beer met my pa, Andreas, en sy niggie Alda.

Roofdiere het wel gefloreer, maar dit was nie ’n goeie ding nie. Dié diere het jag gemaak op die reeds kwynende bokbevolking en moes hulle wend tot vee op nabygeleë plase. Hulle is dus beskou as “vermin” én ’n bedreiging vir natuurbewaring.

’n Grootskaalse roofdierbeheerprogram is van stapel gestuur. Leeus, luiperds, jagluiperds en wildehonde is gejag, asook kleiner roofdiere soos wildekatte, krokodille, slange en roofvoëls. Teen 1913 was in sekere gebiede geen luiperds oor nie.

Van 1912 af het van die ander dieregetalle begin toeneem. In hierdie jaar is onder meer 25 olifante, 100 seekoeie en 200 kameelperde getel.

Die uitdun van diere is vandag ’n sensitiewe kwessie, maar in daardie jare was daar ook hewige debatte hieroor in raadsvergaderings. Mettertyd het Stevenson-Hamilton en sekere raadslede die belangrikheid daarvan beklemtoon om balans in die natuur te handhaaf. Dit wil voorkom asof net leeus ná 1935 nog gejag is.

Dit het ook duidelik geraak dat leeus ’n groot toeristeattraksie vir die wildtuin is, en in die 1940’s is roofdierbeheer agteruit geskuif, skryf dr. S.C.J. Joubert in A Cameo from the Past.

Dit het ook duidelik geraak dat leeus ’n groot toeristeattraksie vir die wildtuin is, en in die 1940’s is roofdierbeheer agteruit geskuif...

Die wildtuin was dus nooit sonder uitdagings nie. Op ’n manier is die groot vraag ná 120 jaar dieselfde: Hoe laat jy die natuur sy gang gaan binne kunsmatige grense?

“Full answers... cannot be expected today as a certain amount of artificiality is inevitable, but in the Kruger National Park we have the opportunity of getting nearer the truth than is possible anywhere else in the world today,” was Stevenson-Hamilton se uitgangspunt op die vraag. Hy was reg.

Deesdae word ’n mens uit alle oorde gepeper met foto’s, boodskappe en petisies oor plastiekbesoedeling, ons koolstofvoetspoor, onetiese palmolielanderye en dies meer. Hierdie boodskappe is belangrik, maar soms laat die aanbod daarvan ’n mens moedeloos, selfs afgestomp voel.

Maar dis as jy laatmiddag die enigste voertuig op die S90 tussen die Olifants- en Satararuskamp is dat ’n mens besef waarom ons hierdie park nodig het.

Jy hou stil, want jy het ’n breëkoparend gewaar wat met ’n blouapie in sy kloue op ’n boomtak sit.

Op ’n oorkantste tak hou ’n roofarend die breëkop stip dop. Die breëkoparend lyk beseer. Hy durf nie beweeg nie, want dan gaan die roofarend hom plattrek.

Ons hou dié dooie punt byna ’n uur lank dop. Dis naderhand hektoemaaktyd en ons moet terugry Olifants toe. Jy ry deur ’n oeroue landskap. Dis ’n bewolkte middag.

Maraboes sweef soos houtkruise bo in die lugruim terwyl oostelike rooipootvalkies heen en weer swiep op soek na prooi. ’n Rooijakkals draf oor die pad.

En dís wat die Kruger doen. Dit herinner jou aan ’n tyd vóór die mens.

Iets wat ons – vir ons eie behoud – nooit mag vergeet nie. 


OOR DIE JARE HEEN

1898: Paul Kruger – president van die Transvaal – proklameer die Sabie-wildreservaat – dit beslaan rofweg die gebied tussen die Krokodil- en Sabierivier.

1902: Kol. James Stevenson-Hamilton word aangestel as eerste opsiener van die reservaat.

1903: Die Britte herproklameer die reservaat, en dié keer sluit dit die Shingwedziwildreservaat, die gebied tussen die Letaba- en Luvuvhurivier, ook in.

1905: Stevenson-Hamilton skryf in sy jaarverslag dat hy ’n klein groep van sowat 10 olifante in die woude op die oosgrens met Mosambiek, by die samevloeiing van die Letaba- en Olifantsrivier, gekry het.

1926: Die eerste Parkeraad word verkies en die Kruger word as nasionale park verklaar.

1927: Die wildtuin word vir besoekers oopgestel.

kruger
KITKAT-TYD. In 1921 was Tshokwane ’n buitepos vir veld-wagters wat patrollies in dié deel van die park gedoen het. In 1928 is ’n permanente veldwagterspos hier gevestig met Gerhardus Crous aan die stuur. Sy gunstelingmaaltye was glo vis en rietrotbredie. Hy sou nooit kon glo dat jy deesdae alles van ’n “Proppiekoffie” – koffie met ’n proppie amarula – tot koedoewors en jaffels hier kan koop nie

PONTE EN PENNIES. Tussen 1927 en 1929 is daar drie pontkruisings in die Kruger: by Skukuza oor die Sabierivier; by Krokodilbrug oor die Krokodilrivier; en by Balule oor die Olifantsrivier. ’n Pontkaartjie wat geldig was vir sewe dae en het 50c gekos. Laagwaterbrûe oor die Sabie is in 1936 voltooi en oor die Olifants in 1937.

1928: Die Pretoriuskop-ruskamp kry sy eerste oornaggeriewe: drie lat-en-klei-hutte. Skukuza en Satara maak oop met drie lat-en-klei-hutte. Skukuza het toe as Sabiebrug bekend gestaan. Ontbossing en die bouwerk aan die eerste grondpaaie begin. Teen die einde van 1929 was daar sowat 600 km se toeristepaaie in die park.

1930: Die Satara-ruskamp kry nog 15 rondawels. Die Balule-ruskamp word gebou naby die ou pontoorgang (deesdae ’n laagwaterbrug) oor die Olifantsrivier. Die Letaba-ruskamp kry nog 12 rondawels.

1931: Die Krokodilbrugruskamp maak oop met 8 rondawels.

1932: Die Punda Mariaruskamp is voltooi. Besoekers bly steeds in die oorspronklike paal-en-kleihuisies. Die Malelane-ruskamp maak oop met ’n paar hutte by 'n tweede pontoorgang oor die Krokodilrivier

foto
Die pont oor die Krokodilrivier in die vroeë dertigerjare.

1934: Shingwedzi maak oop as ’n tentkamp. Die veldwagter Bert Tomlinson begin bouwerk aan paal-en-kleihuise waarin besoekers vandag nog kan bly.

1946: Kol. Hamilton tree af op 80 jaar. Hy werk 44 jaar in die wildtuin – die langste dienende parkhoof nóg.

1947: Koning George VI en sy gesin – koningin Elizabeth, prinses Elizabeth en prinses Margaret Rose – doen die Krugerwildtuin aan.

1950: Harold Mockford, later die park se eerste ereveldwagter, kry ’n Zambesihaai in by die samevloeiing van die Luvuvhu- en Limpoporivier in die Pafurigebied.

1956: Die Orpen-ruskamp word voltooi.

1957: Bouwerk aan die Skukuza-personeeldorp begin.

Dié foto is geneem op 6 Desember 1956 met die opening van die swembad in die Pretoriuskop-ruskamp. Dit was die wildtuin se eerste swembad.

1960: Die Olifantsruskamp word voltooi.

1964: Die eerste ereveldwagters word aangestel. Hulle moes elke jaar die wildtuin minstens drie keer besoek en verslag doen. Drie van die eerste ereveldwagters is egter ná twee maande weens onbehoorlike gedrag ontslaan. Deesdae doen die ereveldwagters uitstekende werk en samel geld in vir die park.

1965: Die Napipad – tussen Pretoriuskop en Skukuza word geteer.

1972: Die eerste swartrenosters word in die park vrygelaat nadat hulle in 1937 uitgesterf het.

kruger
J.P. Rossouw van Potchefstroom skryf: Ek het in 1964 as 11-jarige seun die foto’s met ons gesin se Browniebokskamera geneem. Ons het op Worcester gebly en net elke vier jaar Transvaal toe gery. Die wildtuin was die hoogtepunt van so ’n besoek en Letaba was ons gunstelingruskamp. Op die groepfoto staan my ouer suster, Riana, links bo-op die muurtjie, en voor is my jonger suster, Elizbé. Agter Elizbé staan my ma, Esther (nou 93), dan my ouma Miemsie Krynauw, my ma se broer Van Enter Krynauw en my oorlede pa, Pieter. Regs op die foto staan oom Van Enter se DKW. Hierdie twee foto’s is al van die Kruger wat ek in my album het. My pa het gesê ons moet min foto’s neem, want film is duur.
Foto: J.P. Rossouw
Foto: J.P. Rossouw

1976: Die legendariese veldwagter Louis Olivier red sy kollega Tom Yssel uit die kake van ’n krokodil – hy steek die krokodil met ’n vismes in die oog.

1978: Die eerste wildernisstaproete – die Wolhuterroete – is oop. Dit was só gewild dat nog ’n roeteveldwagter ’n jaar later aangestel is.

1980: Die buitelugmuseums by die Albasini- en Masorini-piekniekplek word voltooi.

1983: Die karkas van Mafunyane, die bekendste van die Manjifieke Sewe olifante, word gevind. Ses van die Manjifieke Sewe se tande word in die Olifantsaal in Letaba ten toon gestel.

1984: Die Berg-en-Dalruskamp maak oop. Die Afsaal-piekniekplek word voltooi.

1985: Besoekersgetalle daal met 9% weens ekonomiese resessie en onrus in die land. Die Pafurihek en -piekniekplek maak oop.

Foto: Esma Marnewick
Die piekniekplek langs die Luvuvhurivier is 'n groot gunsteling onder voëlkykers. Witpensstekelsterte en beloogbontbosrokkies is van die voëls wat jy hier kan afmerk. Foto: Esma Marnewick

1985: Die eerste groep Lichtensteinse hartbeeste word naby Punda Maria hervestig (uit Malawi). Die koolstowe in kampkombuise word vervang deur elektriese tweeplaatstofies.

1986: Saoedi-Arabië se olieminister sjeik Yousuf Naghi beloof om 2 miljoen Amerikaanse dollar aan die park te skenk. Die geld word uiteindelik gebruik om die Nasionale Parketrustfonds te stig. ’n Kleinwitstertmuishond (Paracynictis selousi) word die eerste keer in die park aangeteken.

1990: Sanparke begin bouwerk aan die vyf bosveldkampies – Sirheni, Bateleur, Shimuwini, Talamati en Biyamiti – in samewerking met skenkers.

1991: Die Mopani-ruskamp open vir besoekers.

1994: Die drade teen die westekant van die Krugerwildtuin en die aangrensende private reservate word verwyder.

1998: David Mabunda word aangestel as eerste swart direkteur van die park. ’n Luiperd val die veldwagter Charles Swart noodlottig aan.

2000: Die ergste vloed in jare tref die park. Pretoriuskop, Onder-Sabie en Skukuza word tydelik gesluit.

2001: ’n Luiperd val Kotie de Beer noodlottig aan in die Skukuza-personeeldorp. Dis die eerste keer dat ’n dier iemand op dié dorp doodmaak.

2002: Die Groter-Limpopo-oorgrenspark word geproklameer – dit sluit in die Krugerwildtuin, Mosambiek se Limpopo- nasionale park en Zimbabwe se Gonarezhou- nasionale park, Manjinjipan en die Malipati-safarigebied. Die grensdrade tussen dié bewareas word verwyder.

2005: Die Giriyondo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek open sy deure.

2013: Die Shingwedzi-ruskamp is byna heeltemal onder water nadat die Shingwedzirivier oorstroom.

2014: Die Skukuza-lughawe heropen met vlugte uit Johannesburg en Kaapstad.

2015: Die Pafuri-bosveldkamp – die Kruger se jongste bosveldkamp – maak oop.

Foto: Esma Marnewick
Die Pafuri-bosveldkamp was oorspronklik 'n werwingstasie vir die Witwatersrand Native Labour Association – Harold Mockford het daar begin werk as werwingsagent. Deesdae kan besoekers oorslaap in die Mockford Cottage, Mockford House of Doctor’s House. Foto: Esma Marnewick

2017: Tinyiko Golele word aangestel as die eerste vroulike streekveldwagter in die park. Die Olifantmuseum in die Letaba-ruskamp word netjies oorgedoen.

2018: Die ereveldwagters stel The Kruger Trail bekend. Dit bied aan stappers die geleentheid om die lengte van die Krugerwildtuin in drie jaar te stap.

BRONNE

Ek sou nie die artikel kon saamstel sonder dié bronne nie:

The Kruger National Park deur lt.kol J. Stevenson-Hamilton; A Cameo from the Past deur dr. U. De V. Pienaar en medewerkers; en Goue jare deur dr. U. De V. Pienaar; sanparks.org. Buiten die leserfoto's is al die argieffoto's verskaf deur Sanparke.


Glenn Phillips, Hoofbestuurder
Die Kruger het vele uitdagings, maar op die oomblik is stropery die grootste. Dit vernietig ons land se erfenis én knel ’n organisasie wat reeds beperkte finansiële hulpbronne het. 
Joep Stevens Bestuurder: inkomste en opbrengs

Die Kruger is eerstens ’n bewaringsinstelling, maar om ons bewaringsmissie uit te voer het ons toerisme nodig. ’n Ander uitdaging in die afgelope 20 jaar is maatskaplik van aard. Jy moet jou maatskaplike verantwoordelikhede teenoor aangrensende gemeenskappe nakom. En dis ’n komplekse oefening.

Ek het 15 jaar lank in die wildtuin gebly. Jy kan jou liefde vir die natuur by die werk uitoefen. Jy is heeltyd ín die natuur. Een keer ’n maand gaan jy Nelspruit toe vir inkopies, jy gaan kyk ’n fliek, gaan bank toe. En as jy weer by die hek aankom, sak daardie geweldige rustigheid oor jou: Jy is terug by die huis.

Sandra Visagie; Afdelingsveldwagter, Pafuri-omgewing

Stropery is ’n voortdurende bedreiging. Nie net renoster- en olifantstropery nie, maar ook stropery met strikke en visstropery. Diere word ook vergiftig vir hulle liggaamsdele.

Die gedurige instroming van onwettige immigrante uit Mosambiek en Zimbabwe op soek na ’n beter lewe in Suid-Afrika, en die druk van aangrensende gemeenskappe is groot uitdagings.

Ek dink nie mense verstaan altyd hoe noodsaaklik dit is om nasionale parke te beskerm vir die volgende geslag nie.

Tinyiko Golele; Streeksveldwagter: Nxanatseni-noord

Mense wat nie die waarde van bewaring verstaan nie, hou ’n groot bedreiging in, want hulle maak die Kruger se diere dood vir eie gewin. Dis noodsaaklik om omgewingskennis te deel met die gemeenskappe naby bewaringsgebiede om die gaping tussen die twee te oorkom.