Vriende wat voorheen hier gekamp het, het die Bonnievale-rivierlodge aanbeveel, en toe ons onlangs in Robertson se omgewing uitspan, het ons besluit om sommer vir ’n paar ook hier te kom staan.

Hoe lyk die kampterrein?

Die omgewing is skilderagtig, met groen gras oral, ’n netjiese tuin en die Breërivier wat langs die oord verbyvloei. Die staanplekke is groot met plek vir meer as een tent en genoeg ruimte om te ontspan.

Die kampkolle wissel in grootte. Dié langs die water is groter, maar jou kar mag nie op jou staanplek bly nie. Op die terras is die staanplekke effens kleiner, maar van hier af het jy ’n beter uitsig. Dit lyk na die beter staanplekke vir braai en lekker kuier.

Hoe lyk die ablusiegeriewe?

Die badkamers is basies en sonder tierlantyntjies, maar dit word regdeur die dag skoongehou. Die water word uit die rivier gepomp en gefiltreer; dus kan besoekers dit met ’n geruste hart gebruik om te stort en was, maar dis nie geskik om te drink of daarmee kos te maak nie.

Watter aktiwiteite is hier om ’n mens besig te hou?

Die oord het ’n swembad skaars vyf minute se stap van die kampterrein af. Hier kry jy leunstoele waarop jy onder ’n gazebo kan ontspan of in die son baai. Hier is kano’s wat jy by die ontvangskantoor kan huur as jy wil roei, maar jy mag nie aan die ander kant van die rivier afklim nie, want dit is private grond.

Onthou jou hengelgerei, want hier is baars, karp en baber (jy moet die vis teruggooi). Maar jy kan ook – soos ons – net kom ontspan en saam met vriende kuier. Die oord lê tussen ’n klomp wynplase en ’n mens kan ’n hele dag opsy sit om te gaan wynproe.

Is hier ’n oordwinkel?

Die winkel het die nodigste dinge soos hout, ys, peuselgoed, koeldrank en roomys. Maar as die nood druk, is jy naby genoeg aan Bonnievale. Is hier ander verblyfopsies? Ja, hier is huisies en chalets te huur.

Inligting

Kontak:  081 799 2152; bonnievaleriverlodge@gmail.com; bonnievaleriverlodge.co.za

GPS: S33.943799 E20.077128