Ver van lawaai en by die see

Oesterbaai-woonwapark

Hierdie oord lê in die piepklein dorpie Oesterbaai, sowat 40 km van Jeffreysbaai af in die rigting van Plettenbergbaai. Dis amper net ’n spikkeltjie op ’n landkaart, want hier is nie eens ’n poskantoor nie.

As jy dus wil kom hengel, maak seker jou hengelpermit is geldig of maak ’n draai by Humansdorp se poskantoor om jou papierwerk agtermekaar te kry. Die Oesterbaai-woonwapark is min of meer in die middel van die dorp en die strand nie verder as 5 minute se stap weg nie. Die oord self is ’n mooi, netjiese kampterrein waar jy op gelyk grond en groen gras kamp. Skaduwee is skaars, maar krane, kragpunte en vullisdromme volop.

Die staanplekke het nie ’n ingeboude braaiplek nie, maar wel los braaidromme wat jy kan nader dra as jy nie jou eie braaier saamgebring het nie. Hier is ’n groot swembad en kinderswembad, trampoliens, ’n basketbalbaan, swaaie, ’n klimraam en sandput, pool- en TV-kamer, en ’n koffiewinkel waar jy pizza kan bestel (die bestuur maak die koffiewinkel net oop wanneer hier baie mense kamp).

Die oord se kombuis het opwasplek, ’n mikrogolfoond, yskas en kisvrieskas, alles vir kampeerders se gebruik. Hier is twee mans- en vrouebadkamers elk, en die vier private staanplekke het hulle eie badkamers en opwasgeriewe. Ongeag watter deel van die strand jy wil besoek, is dit op die verste ’n halwe kilometer. Pak jou vistrommel vroeg die oggend en stap met jou stokke af strand toe, of ry sommer as van die kroos wil saamkom. Galjoen is een van die gunstelinge, maar die vangseisoen vir dié gesogte vis is opgeskort tussen 15 Oktober en einde Februarie.

Kortliks: Oesterbaai-woonwapark

Vis: Onder meer elf, galjoen, poenskop, kabeljou en kolstert.

Kampplek: 44 gelyk staanplekke op groen gras met min skaduwee, elk met ’n kragpunt. Hier is ook 4 private staanplekke met hulle eie ablusiegeriewe. Al die staanplekke het elektrisiteit.

Ablusiegeriewe: 4 ablusieblokke met storte, baddens en warm water. Opwasgeriewe by die gemeenskapskombuis. Hier is ook 4 private ablusieblokke (met hulle eie opwasgeriewe).

Prys: Vir die gewone staanplekke is dit R320-R475 vir 2 mense, daarna R65-R85 p.p. Vir die private staanplekke is die tariewe R395-R520 en R75-R95 p.p.

Hoe ver van Jeffreysbaai af? 40 km.

Hoe lyk die pad? Teerpad tot op Humansdorp en dan 23 km grondpad – dié moet jy stadig vat met ’n woonwa.

Kontak: 042 295 2218 of 072 419 6683 info@oysterbaygetaway.co.za.

oysterbaygetaway.co.za

Geelstert

Seriola Lalandi

Die geelstert, kan ’n mens maar sê, is ’n wêreldburger, want jy kry hom in al die oseane. Hier by ons kom hulle van Namibië tot die noordelike dele van KwaZulu-Natal voor.

Teen die Wes-Kaapse kus kry ’n mens groter getalle. Die geelstert het ’n torpedovorm en is blou- tot olyfkleurig aan die bokant. Onder is die vis ’n silwerige wit, en hy het ’n geel of brons streep in die lengte van sy lyf.

Grootte en biologie: Hulle groei vinnig tot ’n maksimumlengte van 1,5 m en word tot 21 jaar oud. (Die lengte is gegrond op data uit Australië.) Broeityd is gedurende die somer en om die hele kus van die land.

Habitat: Volwassenes swem in groot skole weg van die strand tot dieptes van 100 m. Die jonges kies ook die oopsee, maar hou naby voorwerpe wat dryf.

Kry hulle só: Dis ’n roofvis, en pylinkvis, krappe en kleiner lokaasvis soos sardyne, ansjovis en marsbanker is op die spyskaart.

Die vis is gewild, want omtrent elke sektor van die visbedryf het dit in die visier – van georganiseerde vissermanne regdeur tot hengelaars op die strand en spieshengelaars. Dis ’n gesogte vis om aan die lyn te kry, en hy trek nie sy neus op vir kunsaas of sardyn aan die hoek nie.

Dis ’n rekord: 58,5 kg.

SASSI-status: Hengelaars mag tot 10 van enige grootte per dag vang, maar onthou, dis nie nodig om vir die 10 te mik nie.

Teks Dr. Taryn Murray Skets Elaine Heemstra © Suider-Afrikaanse Instituut vir Akwatiese Biodiversiteit (SAIAB)