Foto's: Zigi Ekron

1. The Waffle House

Eet ’n wafel
The Waffle House

Natuurlik was elke local hier rond al by The Waffle House – jy hoef nie eens te vra nie.

Dis op die oewer van die Ramsgate-strandmeer en al sedert 1957 ’n baken (vroeër jare was dit die Tea House of the Blue Lagoon). Hier word elke goudgeroosterde, bros wafel eers gemaak wanneer jy bestel, en jy kan feitlik enigiets daarop kry. Jy kan kies van “gewone” roomys en sjokolade tot gerookte salm of hoenderkerrie. Hier’s gratis Wi-Fi net ingeval jy ’n foto van jou wafel op Instagram of Facebook wil deel.

Stap agterna al die suiker af oor die houtbruggie strand se kant toe of huur ’n trapbootjie om kilojoules op die strandmeer te verbrand.

’n Uur of wat se trap met ’n??bootjie oor die Ramsgate-strandmeer ná ’n wafel by The Waffle House sal energie verbrand.

Prys Die wafels se pryse wissel van R21 vir ’n wafel sonder room of roomys tot R96 vir een met bobotie.

Waar? In Marinerylaan net suid van die brug oor die Ramsgate-strandmeer.

Wat’s op die spyskaart? Jy kan rys of slaai met soutgoed bestel, maar moenie ’n wafel misloop nie. Jy kan nie wafels as wegneemete bestel nie.

Oop Elke dag behalwe Kersdag van 8 vm.-5 nm.

Kontak 039 314 9424; wafflehouse.co.za

2. Pistols Saloon & Wild West Museum

Die suidkus se wilde weste

Buiten die Wilde Weste-aandenkings is Donkey die Pistols Saloon se grootste trekpleister – moenie skrik wanneer hy aanmeld vir ietsie kouds nie.

Stel jou voor jy sit rustig by ’n kroegtoonbank en teug aan jou bier, en skielik stap ’n donkie in en bestel ’n Coke. Nee, dis nie ’n grappie nie; dis presies wat hier gebeur. Donkey is ’n gereelde gesig in dié kroeg en kom vra mooi vir sy koeldrank uit ’n blikkie.

Die kroeg behoort aan Pete en Igna Webber, en Pete se belangstelling in die Wilde Weste-era vind neerslag in die dekor en die museum langsaan. In die museum is ’n versameling oudhede uit daardie era en selfs ’n oorspronklike plakkaat wat ’n beloning uitloof vir enigiemand wat Jesse James kan aankeer.

Moet egter nie dink hierdie is ’n plek vir skobbejakke nie. ’n Kennisgewing by die deur waarsku teen ’n geswets en elke vloekwoord wat jy kwytraak, sal jou R2 kos, wat Pete-hulle aan die Dierebeskermingsvereniging skenk. Moet jou ook nie oor Donkey bekommer nie. Hulle kyk mooi na hom en duld dit nie dat mense hom mishandel of alkohol gee nie.

Koste Toegang tot die museum is gratis.

Wat’s op die spyskaart? Die kroeg en restaurant se spyskaart het alles van bratwurst met aartappelslaai (R82) en eisbein met sauerkraut en kapokaartappel (R99) tot ’n kaasburger (R58) en ’n pepperoni-pizza (R57-R83). “Wild West Prairie-Rabbit Food” kos R38 – dis nou as jy ’n mengelslaai wil hê.

Waar? Die ou hoofpad in Ramsgate (op die hoek van die R620 en Andries Pretoriussingel).

Oop Weeksdae van 10 vm.-11 nm. en naweke tot so laat as middernag.

Kontak 039 316 8463; pistolssaloon.co.za

3. Red Desert

Verbeel jou jy’s ’n marsmannetjie

Het jy geweet daar lê ’n klein woestyn versteek tussen die ruie, subtropiese plantegroei van die Suidkus? Party mense sê dis die kleinste woestyn in die wêreld – skaars vier rugbyvelde groot.

’n Mens sou kon reken so ’n stukkie aarde tussen die bosse is bloot toevallig ’n kaal kol, maar die hardgebakte rooi sandgrond en die paar plante wat hier groei, is merkbaar anders as dit daar rondom. Die suurknolle en bedreigde hardebos lyk asof hulle eerder tussen geharde fynbos hoort as hier.

Daar is baie teorieë oor die oorsprong van die woestyn, wat wissel van erge oorbeweiding in die 19de eeu tot die immergewilde “ruimtewesens”. Die waarskynlikste verklaring is egter dat dit te make het met geologiese veranderinge in die aardkors in ’n prehistoriese era genaamd die Kryt. Dit strook ook met die versteende woud en fossiele wat ongeveer 3 km suidwes van hier op die strand naby die Wild Coast Sun Hotel ontdek is. Doen navraag by die Wild Coast Sun (039 305 9111) vir ’n toer soontoe.

Wat dit ook al veroorsaak het, dié stukkie aarde lyk kompleet soos ’n kleiner weergawe van Arizona se rooi woestyn of ’n kolletjie op Mars. Stap deur die woestyn tot jy anderkant weer in die grasveld is, vir ’n mooi uitsig oor die Umtamvuna-brug wat KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap met mekaar verbind.

Koste Toegang is gratis.

Waar? Aan die einde van Mauriceweg in Port Edward. Volg die aanwysings soos na Beaver Creek, maar draai links af in Old Pontweg en dan weer links in Mauriceweg.

Oop Die hek is nie gesluit nie.

Kontak 083 631 9331; reddesertnaturereserve.co.za

4. Beaver Creek-koffieplantasie

Dink en drink koffie

As jy elke dag jou dosis kafeïen móét inkry, is hierdie die plek vir jou. Hier kan jy deur die koffieplantasie stap terwyl een van die baristas soos Norman Turner verduidelik hoe koffie gekweek, geoes en gerooster word. Norman raak skoon bewerig van opgewondenheid (Of is dit dalk van al die kafeïen? – Red.) wanneer hy oor koffiebome praat.

Norman Turner een van die baristas by Beaver Creek, beïndruk besoekers met sy vaardighede.

Ná die toer wys hy graag sy vernuf met ’n koffiepot en melkskuim en hy deel ook ’n lekker resep vir kondensmelkkoffie.

Jy kan natuurlik van Beaver Creek se koffie koop om huis toe te neem. Jy kan kies of jy bone, gemaalde koffie of kapsules vir jou koffiemasjien wil hê. (Probeer gerus die “Transkei Gold” en “Ed’s Special Blend.”) Jy kan selfs ’n koffieboompie koop as jy langtermynplanne het.

Langs die winkeltjie is ’n restaurant waar jy kan kies om binne of onder ’n groot tentseil te sit terwyl jy iets eet en natuurlik koffie drink. Teen R26 vir ’n bodemlose koffie kan jy elke liewe geur proe voordat jy vir jou ’n sakkie aanskaf.

In die plantasie word mooi na elke nuwe boom omgesien.

Koste R60 p.p. vir die toer.

Wat’s op die spyskaart? Koffie is die vernaamste ding hier, maar jy kan kies tussen goed soos spek en eiers (R40) of vars vrugte met jogurt en muesli (R56) vir ontbyt wat tot 11 vm. bedien word.

Hier is ook ligte etes wat onder meer tramezzini’s, geroosterde toebroodjies en quiche insluit. ’n Kaas-en-tamatie-toebroodjie kos R36.

Waar? Op die Izingolweni-pad in Port Edward. Draai regs (as jy van Margate se kant af kom) by die verkeerslig by die Port Edward Spar en volg die pad vir ongeveer 4,5 km.

Oop Weeksdae van 8 vm.-4 nm. Die toere is om 12 nm. en duur tussen 45 minute en ’n uur.

Kontak 039 311 2347; beavercreek.co.za

5. Mac Banana

Alles in een, mams!

Die beste manier om Mac Banana te beskryf is as ’n padstal wat ’n pretpark ingesluk het. Die yslike padstal het rakke vol vars vrugte, neute, lekkergoed, koekies en ’n indrukwekkende versameling konfyte en flesse vol ingemaakte produkte wat ry op ry ’n hele vleuel van die winkel beslaan. Hier is ook kase, wyn en kouevleis wat menige deli in die skande sal steek.

By Mac Banana word kleintjies onder die wakende oog van ’n hanteerder op ’n rit geneem.

Jou kinders sal ook nie verveeld wees nie. Hulle kan hulle hier vermaak met perderitte, quadfietse, putt-putt, ’n skoenlapperkoepel, ’n hindernisbaan waar hulle aan toue en nette kan swaai, ’n trampolien, paint ball en ’n “plaaswerf” waar hulle met die diere kan kennis maak. Staan jy maar net reg vir die betaalslag.

Bestel intussen vir jou ’n pannekoek by die Banana Café of gaan soek in die kwekery gazanias vir jou tuin, terwyl die ouens by die karwassery langsaan jou Fortuner skrop en poets.

Koste Die pannekoeke kos tussen R25 en R120 elk – dit hang net af hoe deftig jy wil wees. Elkeen van die aktiwiteite het ook sy eie prys. Perderitte kos byvoorbeeld R25 per kind vir 'n begeleide stappie en putt-putt kos R58 vir volwassenes en R40 vir kinders jonger as 12.

Om na die skoenlappers te gaan kyk kos R50 vir grootmense en R40 vir kinders.

Waar? Langs die R61-pad tussen Palm Beach en Munster.

Oop Sewe dae van die week van 8 vm tot 5 nm. (In seisoentyd is dit tot later oop.)

Kontak 039 319 1033; 039 319 1454 (Mac Café); macbanana.com

6. Hazel’s World of Miniatures

Hallo, Pop!

Hazel Voice het haar eerste pophuis in 1991 saam met haar 70-jarige pa gebou en dis sedertdien haar stokperdjie. Sy noem haarself ’n “miniaturis” en bou nie net pophuise nie, maar eerder toneeltjies wat sy as tablo’s uitstal.

Hazel’s World of Miniatures

Die museum by haar huis het net twee vertrekke, maar jy kan jou maklik meer as ’n uur lank vergaap aan die fyn detail in elke klein toneeltjie, soos die Victoriaanse straattoneel, die horlosiemaker se werkswinkel of die ou dame by haar voordeur.

Sy maak elk van die mensies in haar uitstalling met die hand en soek deurentyd maniere om van die detail – soos die lamppale in die Victoriaanse straattoneel – self te maak eerder as om dit te koop. Die koppe en hande van die poppe maak sy uit Fimo-kunstenaarsklei en vir die res gebruik sy enige materiaal. Die kolestoof in haar eerste pophuis was eers ’n mosterdblikkie.

Koste R20 p.p.

Waar? Shirleylaan 1414, Margate.

Oop Die museum is by Hazel se huis. Bel haar dus vooraf om ’n afspraak te maak.

Kontak 083 447 9261; hazelsworldofminiatures.co.za