Fraserburg was on the road to nowhere, and for that reason it missed – or escaped – various forms of excitement.” Só haal

die skrywer Lawrence Green ’n inwoner van dié dorpie aan in sy boek Karoo (1955). Meer as ses dekades later geld hierdie woorde steeds. Fraserburg bly een van die Karoo se mees outentieke dorpe:

Die kerktoring troon hoog bo al die ander geboue uit en die enkele breë strate het meestal ou Victoriaanse wonings, sandsteenhuise en selfs ’n paar tipiese platdak-Karoohuise.

Iets eie aan die dorp is die Peperbus in Meyburghstraat. Dit is ’n seskantige gebou wat uit 1861 dateer, met slegs een deur en een venster.

Die Peperbus het deur die jare die simbool van Fraserburg geword.

Lawrence Green dik waarskynlik ’n bietjie aan, maar skryf nietemin: “They say that Fraserburg without its pepper-box would be like Cape Town without Table Mountain.”

Dit is ook by uitstek skaapwêreld, met ’n hegte boeregemeenskap wat mekaar deur tye van droogte en droefnis dra.

Sou mens ’n denkbeeldige vierkant tussen die dorpe Williston, Loxton, Beaufort-Wes en Sutherland trek, lê Fraserburg omtrent presies in die middel, myle weg van enige hoofpad. Dit is dus nie ’n dorp waarop jy toevallig afkom nie. Jy kom hiernatoe as jy hier wil of moet wees.

Fraserburg is reeds in 1851 gestig toe die plaas Rietfontein gekoop is – nadat ’n behoefte aan ’n kerk in die gebied ontstaan het. Die dorp is genoem na die Skotse predikant Colin Fraser wat  ’n gemeente in Beaufort-Wes gehad het. Die Afrikaanse digter A.G. Visser is in 1878 buite die dorp op die plaas Zaaifontein gebore.

Maar Fraserburg is waarskynlik die bekendste vir paleontologiese ontdekkings in die omgewing.

Digby die dorp is ’n plaas met versteende spore, onder meer ’n prominente een van ’n Bradysourus, ’n heuphoogte “krokodil” wat 250 miljoen jaar gelede sonder twyfel ’n skrikbewind hier gevoer het.

Die Peperbus (links) en Erns se vellie by die Brad
Die Peperbus (links) en Erns se vellie by die Bradysourus-spoor (regs).

GEKNEUS MAAR NIE GEKNAK NIE

Dit is kwart voor agt op ’n Woensdagoggend. Ek drink koffie op die Kliphuis se stoep saam met Marthinus Kruger, ’n oudlanddros van Bronkhorstspruit en passievolle gids en toerisme-ambassadeur. Al wat ons hoor, is opgewekte voëlgeluide. Die res van die dorp is tjoepstil: Nie eens die windpomp in die agterplaas kreun nie.

“Hier gaan slaap die dorpie agtuur saans en staan eers weer agtuur in die oggend op,” vertel Marthinus. “Fraserburg is vir my ’n wow-dorpie, ’n verrassingspakkie. Die plek se rykdom is sy mense. Omdat hier nie ’n grootpad of spoorlyn is nie, is almal afhanklik van mekaar. Hier is baie unieke mense, en jou eie uniekheid word hier aanvaar.”

Ons het juis besluit om die dorp vanoggend te voet te verken – Fraserburg is klein genoeg dat jy oral heen kan stap – en ’n paar dorpsmense te groet.

Die dorp het eers in 1983 Eskom-krag gekry. Voor dit het sewe Lister Blackstone-enjins vir die dorp krag gegee. Hulle is nog daar.

Ons stap eers verby Kliphuis se netjiese woonwapark en dan na die oorspronklike Rietfontein, waar die dorp destyds ontstaan het.

In Fraserstraat stap ons aan die dorp se buitewyke langs na Oudam, Fraserburg se eerste dam.

Die dam is reeds in 1870 gebou. Hier is min water, maar die landskap is aangrypend en diep Karoo, met ’n windpomp wat in die water weerkaats.

Teen 1899 het die stadsraad besluit dat dit elke keer ’n openbare vakansiedag sal wees wanneer die dam oorstroom. Die Nuwedam is in 1917 gebou, en sedertdien was daar nog net drie openbare vakansiedae met die laaste een in 1983. Die Nuwedam het

nog in 2012 gasheer gespeel het vir die Speedo Afrika-ysswem.

Hier is ook ’n tipiese Karoogholfbaan met weinig gras en netjiese begraafplaas. Hier is ook mooi grafte, onder meer van sandsteen, en verskeie met historiese belang, soos Britse grafte uit die tyd van die Anglo-Boereoorlog.

In Voortrekkerstraat wys Marthinus vir my die Stadsplein en die replika van ’n ou korbeelhuisie. Ons loer ook in by die dorpsmuseum, wat destyds die ou Pastorie was.

Hier is allerlei oudhede wat dorpsmense deur die jare heen geskenk het en indrukwekkende uitstallings oor die vroeë kerkgeskiedenis en paleontologiese ontdekkings.

Dam
Hierdie was Fraserburg se eerste dorpsdam. Die landwye droogte het ook hier sy tol geëis en die dam is bra leeg, maar hier’s darem genoeg water vir ’n mooi windpompweerkaatsing.

Ons keer terug na Meyburghstraat en bekyk die Peperbus. Dit is met kleistene gebou, agt-en-’n-half meter hoog en die enigste gebou van sy soort in Afrika. Fraserburg se eerste predikant, Carel Bamberger, wat in Duitsland gestudeer het, het dit destyds ontwerp.

In Meyburghstraat bekyk ons die Peperbus. Dit is met kleistene gebou, agt-en-’n-half meter hoog en die enigste gebou van sy soort in Afrika. Fraserburg se eerste predikant, Carel Bamberger, wat in Duitsland gestudeer het, het dit destyds ontwerp.

Vroeër jare was dit onder meer die markkantoor, die landdros se private kantoor, die dorp se eerste biblioteek en die plek waar die klok in die apartheidsjare om 9 nm. gelui het.

ASOF JY IN DIE HEMEL IS

Ek loer in by Die Pers Malva vir koffie en ’n stuk koek. Die son sak, die skakerings van die laaste lig is intens. ’n Ligte reënbui sak uit. Op Fraserburg stel die goue uur nie teleur nie.

Hoe kom ek daar?

Fraserburg is 113 km noordwes van Leeu-Gamka.

Draai by Leeu-Gamka af van die N1 en volg die R353 oor die Theekloofpas tot op die dorp.

Beste tyd van die jaar?

Februarie is bitterwarm. As jy nie omgee vir die koue nie, is Junie en Julie ’n goeie tyd – pak warm klere in! In Augustus is daar dikwels mooi blomme langs die Rantepad op pad na Sutherland.

DOENDINGE

  • Besoek die museum. Die ou Pastorie in Voortrekkerstraat is ook die dorpsmuseum.
  • Kom leer meer oor Fraserburg se geskiedenis en die dinovoetspore buite die dorp – hier’s ’n indrukwekkende uitstalling en skaalmodel van die Bradysourus. Marthinus bied ook toere aan na die dinovoetspore, die museum en ander kultuur- en historiese plekke. Hy sal jou byvoorbeeld neem na die versteende spore op  die plaas Gansfontein, 3 km buite die dorp. Verbeel jou jy beweeg terug in tyd en plaas jou hand langs die spoor van die magtige Bradysourus, wat 250  miljoen jaar gelede hierlangs geloop het.  Kontak Marthinus: 0848730098; mjkruger99@gmail.com; www.fraserburgtourism.co.za
  • Ry die Rantepad. Volg die Rantepadafdraai in die rigting Sutherland buite die dorp en ry al langs die rantjies, verby ’n sterboom en Engelse soldate se grafte. Dis is een van die mooiste paaie in die omgewing.
  • Speel gholf. Slaan af op ’n regte Karoobof. Slegs R10 p.p. Op Saterdagmiddag 12.30 nm. kan jy saam met die plaaslike inwoners afslaan en natuurlik later by die 19de putjie kuier.
  • Wandel in die begraafplaas. Jy kan op jou eie stap of op ’n begeleide staptoer na verskeie grafte van geskiedkundige belang gaan. 

Eet hier

Die Pers Malva: ’n Koffie- en geskenkwinkel by Cillierstraat 20. Die cappuccino is eersteklas. Lê weg aan ’n springbokpastei en eet iets soets vir nagereg – die rooifluweelkoek is ’n wenner.

Kontak: 023 741 1099

Bly hier 

Die Kliphuis: Dié gebou dateer uit die 1850’s en is aanvanklik as ’n meule gebruik. Hier is en suite-dubbelkamers.

Waar? Voortrekkerstraat 5.

Kontak: 023 741 1870; kliphuisfraserburg.co.za

Eselfontein-gasteplaas

’n Plaashuis op ’n skaapplaas. Hier is drie slaapkamers en ’n toegeruste kombuis. Swembad, Aga-stoof en binne- en buitebraai.

Waar? 30 km buite Fraserburg langs die Rantepad, rigting Sutherland.

Kontak: 084 873 0098; https://www.facebook.com/Eselfontein-Gasteplaas-1643607305900869/


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #154 (Augustus 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.