Die strand voor St Nowhere Spa and Camp is die teenoorgestelde van wat ’n mens verwag as jy see toe kom. Die donker sand is oortrek met bamboes en houtopdrifsels, die see is onstuimig en ’n onbeskofte wind waai hoendervleis onder jou baadjie in.

Dis laatmiddag, maar dis moeilik om te sê waar die son behoort te wees. Pleks van daai oranje-pienk gloed op die horison lê hier net ’n vaalgrys mismuur oor die Atlantiese Oseaan.

Waar de joos is St Nowhere, wonder jy. Die oord is sowat 100 km noord van Hentiesbaai langs die Skedelkus in Namibië. Toegegee, mense kom nie hierheen vir skemerkelkies en sonsondergangfoto’s nie.

Ek is ook nie hier om ’n tan te vang nie. Ek rits my baadjie toe tot onder my ken en trek ’n mus oor my kop en stap terug na kampterrein toe. Ons het heeldag van Windhoek af tot hier gery. St Nowhere is die beginpunt van ons reis na ’n gans ander plek nóg meer afgeleë: Die Kuneneriviermonding.

Amy Schoeman se boek Skeleton Coast is ’n handige ding om in jou bakkie te hê wanneer jy dié verlate kuslyn besoek.
Amy se oorlede man, Louw, het ’n belangrike rol gespeel in die bewaring van die yl wild, die vestiging van die Skedelkuspark en die eerste eko-toere.

Die langpad noord

Vanoggend lyk die dagbreek nes gister se skemer, grysvaal. ’n Koppie koffie spoel ’n bietjie hitte deur my lyf. Ek is saam met ’n reccespan van Bhejane 4x4 Adventures om ’n nuwe toer in die Skedelkus uit te pluis. Besoekers na die verre noorde van die Skedelkus- nasionale park word streng beheer. Net toeroperateurs met ’n permit word in dié konsessiegebied noord van Möwebaai toegelaat. En net sowat 20 toere reis per jaar tot by die Kunenemonding.

Gewoonlik bring die toergroepe net ’n dag by die monding deur voor hulle binneland toe swenk en die Kaokoveld invaar. Die konsessiehouers Skeleton Coast Adventure Tours/OIG het toestemming verkry om in ’n beperkte gebied naby die monding te hengel.

Voëlskyk, duinry en die wete dat die naaste dorp sowat 230 km weg is, maak dat ’n mens sommer vir ewig daar wil afpak!

Daar is twee voertuie in ons konvooi. Agter die stuur van ’n Toyota Land Cruiser sit Phil van Wyk van Gochas, ek sit in die passasiersitplek en agter sit Pieter de Lange van Mariental. John van den Bergh is ’n agterryer met ’n ewe swaargelaaide Hilux, al die pad van Wildernis af. Johan Soekoe van George, Bjorn Coetzee van Mosselbaai en Dries Reyneke van Keetmanshoop ry saam met hom.

Die plan is om kuslangs tot by die Kunenemonding te ry, drie aande oor te slaap en dan weer suid te draai om by die gehuggie Puros in die binneland te eindig.

Die voertuie kreun onder ’n berg voorraad vir die volgende vyf dae: tente, tafels, stoele, vrieskaste, koelbokse, braairoosters, grondseile, skadunette en ’n versameling kratte met kos, drinkgoed, eetgerei en noodonderdele.

Waar ons heen mik, is geen geriewe nie. Dis verbasend hoeveel goed sewe mense nodig het om te oorleef!

Skedelkus
Die Skedelkus

By die Skedelkus- nasionale park se Ugabhek, sowat 30 km noord van St Nowhere, neem ons ’n foto voor die hekke wat met reuse-skedels “versier” is. ’n Ent verder hou ons stil by die verroeste oorblyfsels van ’n olieboor en trek daarna ’n stofstreep verby die verlate Toscanini-diamantmyn.

Dié stuk grondpad is lank en reguit. Deur die linkerruit lê ’n ysblou strook van die Atlantiese Oseaan en buite die regterruit sweef ’n plat, vaal landskap verby.

’n Stilte daal in die bakkie neer. Die mensdom het maar ’n ellendige verhouding met dié kus. Oor die eeue heen het honderde skepe hierlangs gestrand: Gertrud Woerman (1903), Maria Angelina (1923), Heideveld (1968), Winston (1977)... In meer onlangse jare het die olie- en diamantbedryf probeer om ’n winsgewende bestaan hier te voer, maar die insetkoste kon uiteindelik nie byhou met die uitdagende omgewing nie.

Hetsy jy as skipbreukeling of met ’n blink sakeplan hier aanmeld, dit smaak my die natuur wen elke keer. Die wind waai jou sat, alles roes en vars water is ’n probleem. Al wat uiteindelik oorbly, is geraamtes van been of yster. Sommige se stories word onthou terwyl ander se verhale deur sand weggevee word.

’n Duineveld wat skielik anderkant Torrabaai opdoem, pluk my uit my dagdroom. Dis nog 48 km tot op Terracebaai. Hier is ’n basiese vakansieoord met ’n kiosk en ’n vulstasie. Dis ons laaste kans vir brandstof; dus maak ons alles wat ons het vol.

Waar die sterk stroom van die Kunenerivier met mening in die Atlantiese Oseaan invloei kan jy lyn natmaak.
Sardyne en tjokka het goed gewerk vir die groep.

Sandry, skeepswrakke en strandwolwe

Wanneer ons weer in die pad val, sukkel Phil met die GPS wat teen die voorruit gemonteer is. Die blikbrein wil nie ons roete verstaan nie. “GPS’e werk nie so lekker op plekke soos dié nie,” sê hy laggend.

Terracebaai is die verste punt wat jy met ’n gewone besoekpermit in die park mag besoek en die vooruitsig van die niemandsland wat voorlê, maak ons opgewonde, want van hierdie punt af word net konsessiehouers se gaste toegelaat.

Pieter leun vorentoe uit die agtersitplek. “Weet jy, elke meter hiervandaan is die verste noordwes wat ek al ooit in Namibië was. Dis nou ’n merkie op my bucket list!”

Anderkant Terracebaai loop ’n 80 km lange grondpad kuslangs tot by Möwebaai, die laaste buitepos van die park. Hier begin die konsessiegebied en Phil glip by die kantoor in om ons papierwerk af te handel.

Daar is geen luukshede of selfs kampgeriewe noord van Möwebaai nie. Van hier af is jou voorland wild kamp en jy moet álles wat jy nodig het, saamry. Die beloning is dat jy in een van die mees ongerepte plekke op die aardbol tent opslaan.

Möwebaai is ’n veldwagterskamp in ’n woeste omgewing. Hier is ’n handjie vol sonverbleikte geboutjies vir veldwagters, ’n navorsingstasie en ’n klein museum. Onder die middagson is die lig skerp en die skaduwees kort. ’n Jakkals skarrel tussen die geboue deur terwyl ’n streep kraaie eenkant op ’n dak sit en krys.

Ek maak ’n draai in die stowwerige onbemande museumpie en neem foto’s van ’n bruinhiëna se kopbeen, ’n handgesketste Duitse plakkaat uit 1978 en ’n leeufetus in ’n glasfles.

Hier woon sowat vier of vyf mense op ’n slag, maar vandag sien ons net een verveelde veldwagter agter die toonbank. Buiten 4x4-toergroepe kom hier nou en dan ook gaste van die deftige Shipwreck Lodge, 40 km verder noord, en werkers van ’n diamantmyn naby die Kunene verby.

Al tekens van dié mense is handtekeninge in ’n besoekersboek. Phil vertel dat ons nie die lodge en die myn op ons roete gaan sien nie. Het ek geweet dat die veldwagter die laaste siel sou wees wat ons in vyf dae sien, het ek dalk ’n geselsie aangeknoop.

Die grondpad loop dood by Möwe. Van hier af is dit sandrywêreld en ons blaas die bakkies se bande af voor ons strandlangs noordwaarts vertrek.

“There is no more treacherous coast in the world than this,” skryf John Marsh in sy boek Skeleton Coast. “Ships navigating in these waters have to contend not only with a moving coastline, the possibility of uncharted rocks, and the powerful Benguella current which often sweeps at four knots up the coast, gripping unwary vessels and setting them in towards the shore.

They have to contend, too, with occasional subterranean eruptions which change the sea bed, push up islands where there was deep water before and produce other strange and startling phenomena.”

Marsh vertel die verhaal van die Dunedin Star. Dié Britse vragskip het op pad na Kaapstad laat in die nag van 29 November 1942 sowat 80 km suid van die Kunenemonding gestrand. Die reddingspoging om die 106 passasiers te red het amper ’n maand geduur.

Verskeie reddingsbote het die noodoproep beantwoord en ’n konvooi 4x4’s het van die binneland af die skipbreukelinge probeer bereik.

Sowat 10 km voor die Hoarusibmonding trek ons af en neem foto’s van groot metaalskerwe op die sand. Die Dunedin Star? Nee, dis stukke van ’n vliegtuig. ’n Lockheed Ventura- bomwerper uit Kaapstad het proviand gebring vir die Dunedin Star se bemanning, maar met die landing in die sand vasgeval.

Later, ná die suksesvolle reddingspoging van die Dunedin Star én die vliegtuig se bemanning, het ’n konvooi teruggekom om die vliegtuig uit te grawe. Die vliegtuig kon uiteindelik opstyg, maar skaars 45 minute later pak die linkerenjin op en die Ventura stort neer in die see naby Rocky Point, sowat 50 km noord van Möwebaai. Selfs vliegtuie is nie veilig langs dié kus nie!

Anderkant die Hoarusib is dit nie lank nie voor ons nog een van Kaokoland se bekende riviere, die Khumib, se monding kruis. Tussen ons en die branders wei twee springbokke op die strand.

Anderkant Rocky Point lê plek-plek pels-robkolonies in stinkende hope in die son en bak. Verby Angra Fria, ’n klein skiereiland met ’n weerstasie, kry ons die plek waar die Dunedin Star se passasiers op die strand om hulp gewag het. ’n Paar planke van hulle skuiling steek uit die sand voor ’n gedenkplaat wat in 2017 deur Sidney Palmer, een van die skipbreukelinge, opgerig is. Sidney was 2½ jaar oud en die jongste passasier aan boord.

Phil lei ons oor ’n wye gruisvlakte en soek tevergeefs ’n kampplek waar die wind nie so sterk stoot nie. Ons kies ’n kolletjie tussen hoë rotsriwwe wat uit die sand steek, maar ’n koue bries torring nogtans aan my tent se flappe.

Wanneer die son agter die horison verdwyn, kom maak ’n jakkals ’n draai in die kamp, gevolg deur ’n bruinhiëna. Die oumense het hulle strandwolwe of -jutte genoem. Die dier met sy geboë postuur is van die min wat hierdie harde en onheilspellende landskap huis noem.

Waar Nambië ophou

Die volgende oggend vorder ons gou verby Bosluisbaai na die voet van ’n hengse duin, sowat 10 km suid van die rivermonding. Hier maak ons kamp vir drie aande. Skuins na middagete breek die groot oomblik aan: Dis tyd om te gaan kyk waar Namibië ophou.

Die Kunenemonding vang ’n mens onkant. Die rivier se oewer is plat; dus sien ’n mens nie die water van ver af nie. Voor jy jou kom kry, moet jy vinnig rem trap. Die rivier kom met mag uit die ooste, kloof die strand in twee en ’n 300 m wye monding stoot ’n massa bruin water diep in die Benguela-seestroom in. Aan die oorkant kan ek Angola uitmaak. Die landskap is ’n spieëlbeeld van waar ons staan, maar daar is sewe minder mense op die strand.

Dié aand om die kampvuur beplan ons die volgende twee dae se aktiwiteite en ruil teorieë oor die beste visvangplekke. Ons is gelukkig met die getye, want dis laagwater net ná sonop en hoogwater in die namiddag. “Jy wil alkant van die gety se draai visvang,” verduidelik Dries.

Die volgende paar dae volg dieselfde roetine: Hengel vroegoggend en laatmiddag, en ’n bietjie rondry (en ’n middagslapie) tussenin.

Teen hierdie tyd is ons meer bestand teen die meedoënlose wind, maar op die oop strand word jou uithouvermoë getoets. Los sandkorrels hardloop in dwarrels oor die harde sand naby die water en klits jou enkels sonder genade. En as jy nie jou rug op die wind draai nie, waai dit ’n soutlaag in jou agterkeel vas en laat jou ooglede wapper.

Ons probeer verskeie hengelplekke, sommige met meer geluk as ander. By een “gat” vang Dries ’n netjiese kabeljou met sy eerste gooi en trek kort daarna ’n groter 82 cm-kabeljou uit. “My persoonlike beste!” kondig hy trots aan terwyl hy met die vis terug water toe draf. Kort voor lank trek John en Johan ook ’n paar kolsterte uit.

Dries Reyneke en Bjorn Coetzee was die suksesvolste vissermanne met hulle kabeljouvangste.

In die namiddag verken ons die duine rondom die kamp. Aanvanklik is dit moeilik om diepte te skat omdat alles rondom jou dieselfde kleur is, maar wanneer die son laag sit, rek die skaduwees en onthul die duine se kontoere. Uiteindelik is dit asof die Cruiser oor ’n verfrommelde roomkleurige fluweelkombers gly, stadig maar seker af in die holtes en met ’n brullende enjin tot bo-op die kruine. In die agtergrond lê die see soos ’n strook goud.

Op die voorlaaste dag van die toer bly ons tot skemer by die Kunenemonding. Die ernstige vissermanne probeer hulle bes om ons laaste aas te gebruik.

“Evan, kom hou hier vas,” roep Bjorn skielik net ná hy nog ’n lyn ingegooi het. Hy weet ek vang glad nie vis nie.

“Ek kan sommer voel hier gaan nou-nou ’n groot ding byt!” Ek staan gedwee nader en vat die visstok, vir ’n oomblik onseker watter hand waar moet vasvat.

“Hou die lyn styf,” verduidelik Bjorn. “Jy sal voel hy vat-vat so, dan gee jy ’n lekker pluk en begin katrol.”

Ek boor my voete in die sand, druk die stok se handvatsel in my heup en tuur oor die water uit. Dis mos hoe die vissermanne dit doen, dink ek, en nou gaan ek uiteindelik uitvind waaroor hulle staan en dink terwyl hulle vir ’n vis wag.

Maar dis skaars vyf minute voor ek ’n plukkie aan die lyn voel.

Die boonste puntjie van die visstok buig-buig afwaarts, soos ’n krom vinger wat vir my wil wys daar is iets in die water.

Ek pluk die stok op en begin die katrol draai, nie te vinnig nie en met ’n pouse elke nou en dan soos ek die ander manne sien doen het.

“Daarsy! Hou hom, hou hom!” roep Bjorn langs my. In die vlak water kom iets nader, maar in die skuimwater kan ek nie sien wat dit is nie. Dan trek die water weer terug soos ’n towenaar wat ’n sakdoek oplig en onthul die blink lyf van ’n kabeljou.

“Mooi man, is dit jou eerste kabeljou?” vra Phil terwyl hy my met die vis afneem. “Ja,” sê ek, “en ook my eerste vis!”

Bosluisbaai
Bosluisbaai se naam kom glo van die lastige bosluise wat in die bosse tussen die duine skuil. Die waters is bekend as ’n goeie visvangplek, maar die feit dat dit slegs 10km suid van die Kuneneriviermonding is, beteken dit hier is min visstokke.

Ná die opwinding neem ek eers weer ’n paar foto’s. Die monding is bedrywig wanneer die gety draai. Ek tel minstens 15 seeskilpaaie. Elke nou en dan lig ’n pelsrob sy kop uit die water en swaai ’n vis tussen sy kake gewelddadig heen en weer. ’n Streep flaminke vlieg oor die branders, stroomop sit ’n swerm pelikane tussen die riete en op die strand skarrel hordes spookkrappe heen en weer.

Almal is aan’ t jag vir iets kleiners as hulleself, ’n lewende voedselketting. Ons is die enigste wesens wat op die kantlyn staan en bloot vir plesier deelneem.

Môre ry ons Puros toe waar die Omenje-kampeerterrein met netjiese staanplekke, koeltebome en ’n warmwaterdonkie op ons wag. Ons sal koue koeldranke by die Manchester United-kafee koop terwyl musiek oor ’n blikradio’tjie speel. Kort voor lank sal ons selfone begin vibreer met ’n vlaag boodskappe en sal ons die eerste keer hoor van die Covid-19-inperking en grensposte wat sluit.

Maar dis in die toekoms en ek is nou hier op een van die mooiste plekke op aarde. Hier waar die suidooster die seevoëls soos vlieërs in die lug laat hang en die waters van die Benguela-seestroom stoei met die Kunene.

Ek dink terug aan daardie eerste oggend by St Nowhere. Daar het dit reeds gevoel asof ons aan die buitewyke van die aardbol kamp, maar hier voel dit só verlate jy kan dit nie met iewers anders vergelyk nie. Wanneer ek my rug op ons bakkies draai, is daar nie ’n mensgemaakte ding in sig nie en my spore is die enigste afdrukke in die sand. En dis nie lank voor die branders dit weer uitvee asof ek nooit hier was nie.


WEET VOOR JY

Kan ek op my eie gaan? Op jou eie kan jy net tot by Terracebaai in die Skedelkus- nasionale park reis. Om die Kuneneriviermonding te haal moet jy saam met ’n toeroperateur met ’n konsessiepermit reis.

Saam met wie het julle getoer? Bhejane 4x4 Adventures in samewerking met Skeleton Coast Adventure Tours/OIG. Bhejane bied drie verskillende Skedelkustoere aan: ’n Sewedagtoer wat drie nagte by die Kuneneriviermonding insluit, ’n negedagtoer van Swakopmund tot by Puros en ’n twaalfdagtoer saam met ekstra dae in die Kaokoveld.

Koste: Bhejane se Skedelkustoere begin by R14 250 p.p. Die toer waarop Evan was, kos R17 500 p.p.

Wat is ingesluit? Bhejane voorsien drie etes per dag, eetgerei en tente vir elke voertuig én slaan kamp op en af. Alle tariewe (park-, gids- en konsessies), tweerigtingradio’s, ’n gemeenskaplike kampkombuis en ’n kampstort en toilet is ingesluit.

Wat pak ek in? Beddegoed (matras of kampbed), peuselkos, drankies, ’n verkyker, ’n kamera, hengelgereedskap en aas. Bring ’n kampyskas met ’n goeie voorraad ys as jy een het.

En as ek wil hengel? Kry ’n permit (R14 p.p.) by die kantoor van die Namibiese departement vir seevisserye en mariene hulpbronne op Swakopmund (Strandstraat) of Hentiesbaai (Hanganeni Fishing Centre). Onthou jou identiteitsdokument en paspoort.

Skeleton Coast Adventure Tours/OIG het spesiale vergunning vir toergoepe om by die Kunenemonding te hengel. Streng maatreëls ten opsigte van visvang-sones en ’n vang-en-vrylaatbeleid geld.

Waarmee moet ek ry? ’n Volwaardige 4x4 met goeie grondvryhoogte, laestrek en minstens ’n agterste ewenaarslot. Kontak 044 535 9033;bhejane.com Ek wil self ry Dis sowat 355 km van Swakopmund af tot by Terracebaai.

Die Skedelkus- nasionale park strek van die Ugabrivier tot by die Kunenerivier. Jy kan sowat 160 km ver in die park ry. Parktariewe R60 p.p. en R10 per voertuig. Die park is elke dag oop van 7.30 vm. tot 7 nm. (sluit 3 nm. vir toegang).

BLY HIER

St Nowhere Spa and Campsite. Kamp vanaf R300 p.n. vir 2 mense. As jy voor teen die see wil kamp met jou eie ablusie, kos dit vanaf R400 p.n. vir 2 mense. Selfsorg-bungalows kos vanaf R700 p.n. vir 4 mense, R175 per ekstra persoon (slaapplek vir 5 tot 9 mense). ‘n Groot groep, tot 13 mense, kan die groot huis bespreek vir vanaf R1 400 p.n. (vir 8 mense, R175 per ekstra persoon).

Hier is ’n kiosk wat basiese voorraad verkoop en in die somerseisoen maak ’n restaurantjie oop. Pryse sluit nie die 2%-toerismeheffing of beddegoed (R40 p.p.) in nie.

00 264 81 124 0879; bookings@stnowhere.com

Terracebaai-oord

Hierdie is NWR se blyplek. Hier is twee selfsorghuise met slaapplek vir 8 en 10 mense elk: vanaf R737 p.p. Hier is 20 dubbelkamers: vanaf R1 012 p.p., met ontbyt en aandete. ’n Kiosk verkoop basiese voorraad en die kroeg het koue bier en Wi-Fi.

00 264 64 694 007; nwr.com.na