Fotograaf: Willem van der Berg

’n Mens hoef nie ver te ry om verlief te raak op die wonderskone natuur nie. Maar jy moet buite kom.

Anders gaan jy nooit sien as sy haar mooiste geheime deel nie. Soos hier: Die Golden Gate Hoogland- nasionale park is op die voorstoep van Bloemfontein, Willem se tuisstad. Willem was hier besig met ’n storie vir die tydskrif toe hy sien hoe die sakkende son en die fynste druppels met ’n reënboog dans.


Fotograaf: Basson van Zyl

Bekbaai is ’n “voorstad” van Paternoster aan die Weskus. Dis hier duidelik hoekom dit een van Basson van Zyl se gunstelingplekke is om af te neem. Voordat hy dié foto geneem het, het die son agter ’n wolkbank geskuil.

Basson het sy kamera op ’n driepoot gestel, en sy neutrale digtheidsfilter uitgehaal. Dié filter verminder die lig wat by die lens inkom en laat jou toe om ’n stadiger sluiterspoed as gewoonlik te gebruik.

Die stadige sluiterspoed het gewerk: Dit het die beweging van die water ge-blur en die mooi sonsondergang oor die Atlantiese Oseaan in ’n droombeeld omskep.


Fotograaf: Willem van der Berg

Die Sanipas is nie meer die willewragtag van sy jong dae nie: Tyd skuur selfs die rofste kante glad. Tog laat dié grondpad steeds ’n mens se hart vinniger klop... Want ’n kuier by Sanipas gaan nie net oor ry nie.

Dit gaan oor uitsigte, vars lug, watervalletjies, die moontlikheid van sneeu, of rooiwyn by die Sani Mountain Lodge. Dit gaan oor wegbreek.