Dis ’n Dinsdagoggend ongeveer 500 miljoen jaar gelede net buite Grahamstad in die Oos-Kaap. Hier’s nie ’n N2 ingekerf in die aardkors nie. Hier’s nie beeste, donkies of mense wat stry oor dorps- en universiteitsname nie. Niemand weet dis ’n Dinsdag nie, want mense bestaan nog nie. Tog is hier iets aan die gebeur – iets groots.

Ek, my vriend JP du Toit en die afgetrede geologiedosent Neels Gunter staan op die Kaapvaal-kraton. Voorheen het ek gedink ’n kraton is iets wat jy van jouself maak as jy op ’n piesangskil gly – of dalk ’n karakter uit Star Wars? – maar nou, danksy Neels, weet ek dis ’n klein vasteland.

“Ons reis begin in die diep binneland van Gondwana,” begin Neels, “die ou super-vasteland wat toe bestaan het.”

In Nonesisnek se byna pers skalie is duisende fossielfragmente gevind toe die pas in die 1970’s gebou is.

Hy verduidelik hoe die verskillende kratons (onder meer die Kaapvaal, Kalahari-, Indië- en Madagaskar-kraton) stadig nader aan mekaar gedryf, teen mekaar gebots en Gondwana gevorm het. Dit was sowat 550 miljoen jaar gelede. Toe, sowat 50 miljoen jaar later, het ’n groot skeur gevorm waar ons nou staan, en die Agulhassee het ontstaan.

Op 73 is Neels se passie vir die geologie steeds onblusbaar. Hy het van 1972 tot 2018 klasgegee aan die Universiteit van Fort Hare – en dis duidelik dat hy sy studente mis. Vir die volgende paar dae is ek en JP sy studente. Ons volg die 400 km lange roete waarop hy jaarlikse klastoere begelei het, van Grahamstad (Makhanda) tot op Barkly-Oos (sien kaart).

Ons gaan veral op die vele bergpasse in die omgewing stilhou en uitklim om klippe te gesels. In die passe is dikwels paduitsnydings waar konstruksiewerk die aarde oopgesny het soos ’n koek. Dis in die lae van hierdie koek waarin ons belang stel.

Die Agulhassee, gesels Neels verder, het geleidelik verdwyn namate enorme riviere sediment daarin neergelê het. Teen 300 miljoen jaar gelede was dit gevul, en sowat 180 miljoen jaar gelede sou Gondwana wéér begin losbreek in die vastelande wat ons vandag ken.

Neels Gunter, afgetrede geologiedosent aan die Universiteit van Fort Hare.

Dis hierdie verbygang van tyd wat die grootste struikelblok is wanneer jy geologie gesels. Mense word met ’n gesukkel 100 jaar oud. Die Eerste Wêreldoorlog is 101 jaar gelede beëindig. Hier hou ons nog tred.

Jy kan jou selfs rofweg verbeel hoe Bartolomeu Dias in 1488 om die Kaap van Storms geseil het. Maar wat van die piramides in Egipte? Dié is 4 500 jaar gelede gebou! Gits, nou begin ’n ou se kop draai.

Nou hoe lank is ’n miljóén jaar dan? Of 500 miljoen? Dink aan die aarde as ’n gesig. ’n Gesig wat verouder, verrimpel, ’n paar duike kry nadat ’n gletser oorskuif – maar ook nou en dan ’n facelift kry. Kyk fyn, en jy sien waar die vel aan mekaar gestik is, of ’n rimpel wat uitsteek tussen vandag se grimering.

Kyk fyn, en jy sien waar die vel aan mekaar gestik is, of ’n rimpel wat uitsteek tussen vandag se grimering

Ecca verstaan nou beter

Die volgende stilhouplek is ook op die N2, waar die pad diep deur ’n heuwel kerf. Die ontblote kransies is lig van kleur, amper geel – dis kaolien. Dit laat my ’n bietjie dink aan die kranse van Dover in Engeland (sien punt 2 op die kaart).

Net anderkant Grahamstad draai ons van die N2 af op die R67 na Fort Beaufort. By die kruispad verkoop iemand handgekerfde kieries, twee vroue stap verby met houtbondels op hulle kop.

Terwyl haastige karre verby ons flits, hou ons stil langs die pad en klim uit. Ons het oorgenoeg tyd: Klippe vlieg nie sommer weg as jy jou kardeur hard toeklap nie. Ons is nou in die Eccapas, en Neels wys nuwe wêrelde uit. “Ons staan nou op die Dwyka-formasie, maar daar steek die Prins Albert-formasie uit. Daardie is die Whitehill-formasie, en daardie een is die Collingham.”

Dié “knoppies” in die klip is zeoliet – dit word onder meer gebruik in watersuiweringsprosesse

Kliplae is gewoonlik genoem na die plek waar hulle die eerste keer waargeneem is. Dis vreemd om te dink dat hier op ’n tyd selfs gletsers was. Neels wys na die bewyse daarvan in die Dwyka-formasie: Swerfstene wat deur gletsers opgetel en elders weer neergesit is. Dis soos om jou buurman se hond se bal in jou agterplaas op te tel.

“ ’n Mens noem dit potloodkliewing,” sê Neels. JP tel ’n paar op. Dit lyk asof iemand hier ’n lang Kit Kat gebreek het.
Potloodkliewing kan gesien word in die Collingham-formasie in die Eccapas

Die Eccapas is ’n baken in die geskiedenis van die geologie in Suid-Afrika, want die padbouer Andrew Geddes Bain het in die 1840’s, toe hy die egalige draaie van die Eccapas uitgestippel het, die land se eerste goeie geologiese waarnemings hier gemaak. (Aan die Grahamstadkant van die pas staan ’n gedenkteken hiervoor wat onder restourasie was. Trouens, die hele R67 was vol padwerke, en behoort gou ’n gawe pad te wees.)

Die berge hier staan vol spekboom, maar JP spoor iewers ’n nieshoutboompie op. Nieshoute is skaars. Die vroeë boere het hulle in baie plekke afgekap om hoekpale maak omdat dit sulke harde hout het.

Margaret Nkayi verkoop gebraaide mielies (R15) en sosaties (R10) in die midde-dorp van Elliot.

Dis lekker om JP saam te hê, want hy ken sy bome en voëls goed. “Hoor jy daai?” vra hy. “Oranjeborsboslaksman.” Wanneer die karre op die pad ’n minuut lank stil raak, klink die klokhelder roep van dié skugter voël op uit die kloof onder ons.

Na die Dwyka-formasie ry ons nader aan die Whitehill-formasie, net ’n paar honderd treë verder, maar in tyd het ons sowat 20 miljoen jaar nader aan die hede geskuif, wat die ouderdom van die gesteentes betref. “Is hierdie ook kaolien?” vra JP – dit lyk op die oog af nes die liggeel kaolien van netnou.

“Nee, dis gips,” sê Neels. “Die afsetting van die sediment wat die Whitehill- en Prins Albert-formasie gevorm het, het onder baie diep water plaasgevind,” sê Neels.

“Die Agulhassee?” raai ek – ook verkeerd.

“Nee, die Eccasee,” sê Neels. “Dié see is jonger as die Agulhassee, en het van hier tot in Mpumalanga gestrek. Hier waar ons staan, was die water 580 m diep.”

Hierdie konkresie – die ronderige, effens donkerder klip – kan gesien word in die Eccapas

Nou is ons by die Collingham-formasie, skaars 100 m verder. Langs ’n bedrywige teerpad is dit natuurlik nie net die oertyd se bewysstukke wat rondlê nie. Hier’s ook ’n stukkende CD, ’n halwe baksteen en ’n vergete skoen. Tog trek die lang, dun klipstafies dadelik jou aandag. Die potloodvormige stafies klief af van die klip namate dit verweer. “ ’n Mens noem dit potloodkliewing,” sê Neels. JP tel ’n paar op. Dit lyk asof iemand hier ’n lang Kit Kat gebreek het.

Verderaan betrag ons die Koonap-formasie, en die Middelton-formasie, wat 1 000 m dik is (die Collingham-formasie, byvoorbeeld, is skaars 50 m dik). Ons soek na rooi skalie, die vingerafdruk van meanderende riviere. “Dis hier iewers, wag, wag...” sê Neels, en ons almal kyk stip, asof ons leeus soek in die wildtuin.

Die R67 kruis die Groot-Visrivier by Fort Brown, en klim dan stadigaan tot by Fort Beaufort. Dan ry ons die Winterberg in, verby die Baddaford-padstal, en later draai ons van die R67 op ’n grondpad na Balfour en Katberg. Neels het gereël dat ons vanaand by die Katberg Eco Golf Estate slaap (sy seun Pieter is die bestuurder). Neels se vrou, Isabelle, ry deur van Fort Beaufort af om saam met ons te braai. Ons kyk hoe die volmaan opkom en kuier tot laat.

Hierdie monument in die Nico Malanpas gedenk die dood van 21 mense wat in 2002 hier verongeluk het

Likkewane met kort sterte

Dis mistig toe ons wegry by Katberg, die pad nat na gisteraand se reën. Ek hou eers stil op Balfour. Iets trek my oog, en ek haal my kamera uit. ’n Gebou wat lyk asof dit dekades gelede ’n algemene handelaar was. Die NG kerk, en sy saaltjie daarnaas. Deure gesluit, vensters toe, verf wat afdop.

Effens bultaf lê die dooies rustig en slaap onder die deken van die aarde: op pad na fossiel word. Die begraafplaas kyk uit oor die berg, ’n grondpad en ’n paar huisies. Kinderstemme klink op: Beeste word aangejaag.

Vandag ry ons teen die Nico Malanpas uit – bo-op die pas hou ons stil waar die gruis langs die pad perserig lyk. Dis ’n goeie plek vir fossiele soek.

Vanoggend kry ons nie ’n fossiel nie, maar Neels vertel ons van die Lystrosourus. “Hier was wye vloedvlaktes met ’n geweldige rivierstelsel. Lystrosourusse het in gate in die rivieroewers gebly.”

Die NG kerk op Balfour aan die voet van die Katbergpas.

As jy fyn kyk, en ’n slim ou langs jou dit verduidelik, kan jy in vandag se gesteentes sien in watter rigting die rivier gevloei het wat die sediment miljoene jare gelede hier neergesit het. Die riviere het meestal noord- en noord-weswaarts gevloei, sê Neels.

Lystrosourusse het plante gevreet met hulle skilpadbekke, en so wikkelgat-wikkelgat geloop, soos ’n likkewaan met ’n kort stert.

Wanneer ons ’n entjie later weer stilhou om te kyk na die Klipplaatrivier, trek ek my oë op skrefies en verbeel my hoe die landskap sou lyk met ’n spul lystrosourusse – in plaas van skape – wat daaroor skarrel. Lystrosourusse was ook taai: Hulle het die grootste massa-uitsterwing van alle tye oorleef (252 miljoen jaar gelede). Presies hoe en hoekom kan niemand met sekerheid sê nie. “As ons alles geweet het,” sê Neels, “sou ons geweet het hoe dom ons is.”

Neels het toe hy nege jaar oud was, reeds ’n klip- en mineraalversameling gehad. Dit was in die Vrystaat, in die Petrus Steyn-distrik, waar hy op ’n plaaskooltjie was. Hy het later ’n BSc-graad in Bloemfontein verwerf, en hom op nagraadse vlak in die geologie begewe. Ek en JP gesels met Neels oor wat ons sien, en oor die interpretasie van die bewysstukke van die verlede – maar daar’s dikwels ’n filosofiese ondertoon.

“As jy ’n sin het vir die estetiese, dan sien jy mooi op plekke waar ander mense nie eens kyk nie,” sê Neels. Wat Neels sê, het eintlik betrekking op enige reisiger: As jy hou van reis, dan is jy ’n nuuskierige mens, en ’n nuuskierige mens sal nooit verveeld wees nie. Vir jou is die wêreld – hoe dor, verlate of woes – altyd ’n bron van verwondering.

Die 400 km lange roete – byna heelpad op teerpad – herinner my aan hoe besonders die Oos-Kaap is. Die dorpe waardeur ons ry, is plek-plek gehawend, maar as jy weer kyk, glimlag iemand dat jy net tande sien.

OU WOESTYN Die sandsteenkranse wat bo Elliot uittroon, is die versteende oorblyfsels van ’n 200 miljoen jare oue woestyn. Dit word die Clarens-formasie genoem – dieselfde formasie wat jy by Golden Gate en Clarens in die Oos-Vrystaat sien.

Op die drumpel van die hede

Verby die Nico Malanpas ry ons deur mistige hooglande verby die Waterdowndam voordat die son vir eers dié koeligheidjie kom wegbrand duskant Whittlesea. Dolerietkoppe is nou sigbaar bo-op van die berge. Jy leer dat hierdie doleriet stollingsgesteentes is: Lawa het ondergronds gestol en dis danksy miljoene jare se verwering dat jy dié dolerietstapels bo-op die oppervlak kan sien.

Op Queenstown (nuwe naam: Khomani) gooi ons brandstof in, en vind dan die pad na Lady Frere (nuwe naam: Cacadu). Ons hou stil bo-op die Nonesisnekpas.

Doer ver, weerskante van die Wit-Keirivier en uitgesprei oor meestal oorbeweide vlaktes, blink die dakke van talle huisies. Dis plekke wat nooit die nuus haal nie, en sonder ’n kaartboek of padbord onsigbaar sou wees: Ndenxe, Xonxa, MacKaysnek...

By MacKaysnek staan ’n sendingkerk, en dan klim die R410 nog ’n trap hoër binneland in. Jy kan dae lank deur die Oos-Kaap ry, byna duiselig van die skoonheid om jou.

Anderkant Lady Frere, net verby Askeaton, wys Neels ons ’n dolerietgang in die paduitsnyding (punt 9 op kaart) net waar ’n pad na Mgxumza uit die R410 draai. Teen 100 km/h sou jy dit nooit raaksien nie, maar hou stil, klim uit en kyk om jou rond. Gebruik jou oë. Soek iets ongewoons. A-ha, dáár!

Katberg Eco Golf Estate
Sir Henry Barkly Guest House in Barkly-Oos

Deur Cala, en ons klim weer. Dit begin laat raak en ons talm nie lank op Elliot (nuwe naam: Khowa) nie. Bo ons troon die suidelike voetenent van die Drakensberg reeds uit, en ek kan sien hoe mooi die laatlig en miswolke maak in die sandsteenkranse wat weerskante van die Barklypas uittroon.

“Een slag ry ek en my vrou – ek onthou dit was op pad Vrystaat toe,” vertel Neels, “en ek verduidelik vir haar wat dié en daai klippe is, toe vra sy: ’Raak jy nie moeg om so in jou werk vas te kyk nie?’”

Hy lag lekker. Dis duidelik dat hy nog lank nie moeg is daarvoor nie. Ons hou nader aan die Barklypas stil om foto’s te neem. Die losstaande rotsknoetse – die versteende oorblyfsels van sandduine – lyk soos Paaseiland se Moai-standbeelde.

Wat ’n vreugde om lief te wees vir die aarde.

WEET VOOR JY WAAI

Hoe werk dit? Neels Gunter se geo-toere word pasgemaak vir die behoeftes van elke groep. Neels kan saam met jou ry, of met sy eie vervoer in konvooi met jou. Die roete wat ons gery het, kan met gemak in twee dae gedoen word.

Ons het op Grahamstad begin, maar Neels woon op Fort Beaufort; dus kan jy daar ook begin. Neels se gidskoste hang af van die groepgrootte, lengte van die toer en die vervoer. (Weg se toer was gratis; Neels was nog besig om sy konsep te beproef. - Red.)

Kontak: 083 399 3466 (Neels); cgunter@ufh.ac.za

Waar bly ek? Die Katberg Eco Golf Estate het selfsorghuise wat uitkyk oor die berg en die gholfbaan. Dit kos R1 495 p.n. vir 4 mense. Groter huise kos R1 995 p.n. vir 8 mense. katleisure.co.za; 040 864 1010

’n En suite-dubbelkamer in die Sir Henry Barkly Guest House kos R500 p.n. Ontbyt R50 p.p. 081 270 0461 (Heidi); sirhenrybarkly@yahoo.co.za