Foto's Evan Naude

Vleesbaai is ’n piepklein vakansiedorp sowat 35 km van Mosselbaai af. Hier is een winkeltjie en ’n pragtige ongerepte strand. Oor Kersfees en Paasfees bars die plekkie uit sy nate met besoekers, maar dis naby genoeg vir ’n daguitstappie van Danabaai, Mosselbaai of Hartenbos af.

Die Vleesbaai-4x4-duineroete is op die plaas Misgunst net buite die dorp. Dit lê in die Fransmanshoek-bewarea, en die 16 km-sirkelroete vat jou deur ’n duinestrook bo die weggesteekte strand tussen die Fransmanshoek-skiereiland in die noorde, en Kanon-natuurreservaat in die suide.

Die roete is regdeur die jaar oop en jy word begelei. Die plaasmense sal jou deurvat en touwys maak oor die truuks van duinery (of met ’n tou uitsleep!). Hier word volstoom op die plaas geboer, en daarom is besprekings noodsaaklik, veral in Desember. Dan is die roete ordentlik besig – van 12 Desember af vertrek daar elke twee uur ’n groep op die roete.

Die roete begin by die plaashuis waar jy jou bande moet afblaas. Die regte banddruk sal wissel van voertuig tot voertuig, maar jy kan begin by minstens 1,2 bar. Die eerste 3 km is taamlik rustig en gee jou ’n kans om aan die sand gewoond te raak.

Digby die 4 km-merk is daar ’n gebied wat “Hardebaard” gemerk is, en die naam is heel gepas: Hier is ’n versameling taai duine met knap draaitjies en kort aanlope wat jou vernuf toets. Dis nie net ’n uitdaging vir gesoute bestuurders nie, maar met die instruksies van die gids is dit ook vir groentjies ’n goeie leerskool.

DIE STRAND IS NIÉ VIR KARRE NIE! Ja, jy kan heerlik op die duine baljaar, maar dis verbode om op die strand te ry. As die moeilike dele soos Langduin jou ’n bietjie laat sweet, is daar plek waar jy kan parkeer en afsit waters toe om in die branders af te koel.

Vir die volgende 5 km vat die roete jou met ’n suidwestelike draai af tot by die strand. Jy mag nie op die strand ry nie en moet te alle tye bo die hoogwatermerk bly, maar as jy lus het vir ’n vinnige afkoel in die see, is daar ’n parkeerplek net voor die Langduin.

Soos jy uit die naam kan aflei is dié ’n bielie van ’n duin met ’n matige helling, maar dis ’n láng wand wat jou bakkie se asem toets. Die Langduin is die laaste hindernis voor jy die roete terug by die plaashuis klaarmaak.

Terwyl jy wag dat die adrenalien bedaar, kan jy ’n draai gaan maak by die Fransmanshoek-uitkykpunt langs die plaas of op Vleesbaai se strand gaan asem skep. Jy kan ook ’n vleisie bring en by die braaiplek langs die see braai. En as jy langer wil bly, is hier ’n kampplek met ’n uitsig oor Vleesbaai, ’n lapa, warm storte en ys-vrieskaste.

WAT JY MOET WEET

 4x4/laestrek/ewenaarslot? Jy het beslis 4x4 en laestrek nodig, maar jy behoort sonder ’n ewenaarslot reg te kom.

Maksimum aantal voertuie Hoogstens 12 voertuie op ’n slag.

Kry ek ’n kaart? Ja.

Sal my voertuig krap? Nie sommer nie.

Moet ek ’n kompressor saamneem? Dis altyd ’n goeie plan om ’n kompressor en banddrukmeter saam te bring vir sandry, maar daar is ook ’n kompressor aan die einde van die roete as jy nie een het nie.

Kan ons langs die pad braai? Nee, maar daar is ’n braaiplek langs die see net buite die roete.

Kan ek halfpad omdraai? Ja.

Sal ek wild sien? Daar is heelwat kleinwild in die bewarea. Hou jou oë gespits vir rooikatte, ystervarke, bosbokke, grysbokke en duikers.

Is daar selfoonsein? Ja.

RONDOM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan? In die somermaande, van November tot April.

Kan ek my gesin saamneem? Ja, beslis.

Net vir die dag of die naweek? Die roete neem sowat 3 uur.

Is daar ablusiegeriewe? Ja, maar slegs buite die roete.

Aanwysings Draai 12 km buite Mosselbaai van die N2 af in die rigting van Vleesbaai. Voor jy deur die sekerheidshek ry, draai regs en kyk vir Vleesbaai 4x4 aan jou regterkant.

GPS S34.296776 E21.912042

Prys R450 per voertuig, met ’n gids ingesluit.

Kontak 082 784 8238