Foto's: Shelley Christians

Doer ver kom iets aan met ’n stofwolkie agterna op die enkele grondpad wat soos ’n strook maskeerband reguit op die landskap lê.  

Ek staan op die rand van die plato by die Erongo Plateau Camp. Dit lyk na ’n toneel uit ’n aksiefilm waar die “goeie ou” op ’n geheime plek wag en sien hoe sy aartsvyand al hoe nader kom... Maar vandag is die enigste ding wat wil wraak neem, die son.  

Dis snikheet waar ek en die fotograaf Shelley Christians, saam met Absalom Nghidipohamba deur die kampterrein stap. Dis Novembermaand. Namibië gaan gebuk onder erge droogte. Rondom ons lyk die landskap en die oorblywende bome en plante bros. Absalom en vier ander ouens bly hier iewers in die Erongoberg en sien om na dié kampterrein in die middel van nêrens. In die volgende paar dae sou ons nog talle sulke plekke aandoen. Welkom in die Erongoberg, waar alleenwees nuwe betekenis kry.

Op die rand van ’n krater 

Van die Erongo Plateau Camp af is die uitsig só wyd jy kan sien as iemand eers oor twee dae hier gaan kom kamp.

Die Erongoberg lê net suidwes van die dorpie Omaruru. Miljoene jare gelede het ’n 3 000 m hoë vulkaan uit die landskap verrys. Dis ’n ingewikkelde storie wat te make het met die opbreek van die destydse Gondwanaland... Hoe dit ook al sy, die Erongoberg is die oorblyfsel van dié vulkaan wat uiteindelik ineengestort het. Kyk op Google Maps – ’n mens sien die krater duidelik.  

Die plan is om by Omaruru af te draai op die D2315 en al om dié “krater” te ry op die D2306 en die D1935 tot op Usakos, dan B2 langs deur Karibib en C33 langs tot weer op Omaruru – ’n road trip van sowat 200 km.  

’n Halfuur buite die dorp ry ons deur die hekke van die Erongo Rhino Mountain Sanctuary Trust (erongomountains.org).

Twee dae later sou ons weer by die reservaat se suidelike hek uitry. Die meeste van die grondeienaars in die omgewing het hulle grensdrade laat sak sodat die diere vrylik kan beweeg. Die trust het hard gewerk om swartrenosters en swartneusrooibokke in die omgewing te hervestig. 

Van hier af het ons eerste afgedraai na die Erongo Plateau Camp. Teen die tyd dat ons weg is daar, lê die grondpad en die veld jou hele kop vol. 

Dis laatmiddag en die hitte het bedaar. Die lugruim is donkergrys wanneer ons by die Erongo Farmhouse se hek indraai. 

’n Vrou kom groet en verduidelik hoe dinge werk – die son sorg vir krag en iemand sal die donkie kom stook vir warm water, en pasop vir slange! 

Ek plof neer op die bank op die stoep. Kitty, ’n swart-en-wit kat, kom maak haar tuis op my skoot. 

Iemand is duidelik lief vir tuinmaak – die vetplanttuin floreer. Rooiwangparkiete, bloupenspapegaaie en kortstertlaksmanne flits rond tussen die voëlbadjie en apiesdoringboom. 

Later ry ons na een van die uitkykpunte toe. Die paadjie slinger tussendeur dooie bome en enorme ronde rotse.

Ons hou stil by ’n yslike klipplaat. Ek stap stadig oor die oeroue granietblad. Hier staan glad ’n lendelam tafeltjie met ’n botteloopmaker, maar ons het drankies vergeet. Ons gaan sit en luister hoe die aarde al hoe stadiger asemhaal. 

Dis so stil jy hoor die vlerkklap van ’n swerm KBV (klein bruin voëltjies) wat mekaar oor die landskap jaag.

Dit lyk asof ’n sak met enorme albasters hier uitgeskud en vergeet is, en nou lê hulle al jare lank en stof vergaar. Droog. Hard. Mooi. 

Hier lééf die verlede 

Gcao Lui, een van die gidse by die San Living Museum, kyk uit oor die landskap waar die San jare gelede gebly het.

Toeriste staan in groepies en luister na ’n jong man geklee in net ’n velletjie. Dis vroegoggend en ons het pas aangekom by die San Living Museum, ’n paar kilometer wes van die Erongo Farmhouse. Ekskuus tog, hoe werk dinge, vra ek hom. “Hier’s die kantoor,” antwoord Gcao Lui.

Die “kantoor” is ’n houtstellasie waarop ’n sonverbleikte Flip File lê. Maar al die aktiwiteite is netjies gelys en Gcao sê ons kan by sy groep aansluit.  

Ons stap veld-in. Gcao se skoonpa, Ikanta Kgau, verduidelik met sagte tongklappe in sy moedertaal onder meer dat die witgatboom se blare as medisyne gebruik word en pyl en boë van rosyntjiebos se hout gemaak word. Gcao vertaal in Engels.  

Hulle wys hoe om ’n vuur te maak deur stokke (gewoonlik van die mankettiboom) te vryf. Gcao en Skoonpa vrywe verwoed terwyl hulle die vuur met klikgeluide aanhits. Eers trek daar net ’n rokie en... dan ’n vuurtjie. 

!Gâi a (goed), roep ons almal uit.

Gcao en sy mense kom van die N≠ a-Jaqna-bewarea naby Rundu. Hulle kom werk en bly drie maande op ’n slag by die San Living Museum. Ek vra hom of hy dit geniet. “Dis lekker, maar dis warm.” 

’n Mens stap weg met ’n onpeilbare gevoel.

Dis wonderlik om te sien hoe die San in hierdie harde wêreld saam met die natuur oorleef het. Jy kan nie help om te wonder of Gcao as hy klaar gewerk het, ’n denim en T-hemp aantrek nie. 

Hoe vreemd moet dit wees om met jou een voet in die moderne wêreld te leef en met ’n ander in ’n wêreld wat besig is om te kwyn. Gangans (dankie), Gcao en Ikanta, dat julle dit met ons deel.     

Hoe vreemd moet dit wees om met jou een voet in die moderne wêreld te leef en met ’n ander in ’n wêreld wat besig is om te kwyn.

Jy kan met ’n gewone kar uitkom by Bull’s Party op die Ameib Guesthouse se grond

“Die idee van die Living Museum-toer val nie altyd in almal se smaak nie,” sê Deike Rust later – die San Living Museum is op hulle grond. “Maar ek sê vir skeptiese gaste hier’s ’n geskenkbewys, gaan kyk. En elke keer is hulle bly hulle het gegaan.” Die San-gemeenskap kry 80% van die inkomste van dié toere.  

Deike en haar man, Harald Rust, is die eienaars van die Omandumba Guestfarm & Bush Camp sowat 2 km van die San Living Museum af. Harald se oupa, Godofred Gustav Rust, het die grond in 1942 gekoop.

Die gasteplaas is bekend vir sy rotstekeninge, veral die Swarm of Bees, Torchbearers en Basket-bearers. Gewoonlik het die Erongo-omgewing in die droë wintermaande redelik water. In die ou dae was hier dus baie wild en skuiling. 

“Oupa Godofred het destyds self sy skape opgepas en dan nog tekeninge ontdek,” vertel Deike terwyl ons deur die veld ry.   Ons hou stil, en glip tussen twee reuse-rotse deur: die Torchbearers-skuiling. 

Die een 3 m hoë rotswand hel oor in ons rigting. Hier’s verskeie tekeninge: ’n kameelperd, kokerboom, figure wat jag... 

“Dis te verstane dat mense in die skuiling sou bly,” sê Deike. “Dis altyd lekker hier, met ’n koel windjie wat tussen die rotse deurwaai. Hier skuil selfs nou en dan ’n luiperd. 

“Daar is soveel stories oor wat die tekeninge beteken. Hier was al geskiedkundiges, ingenieurs, argeoloë en natuurlik rotskunskenners... almal het ’n ander teorie. Lede van die Sangemeenskap was ook al hier en het interessante insette gelewer.  

“Hier is byvoorbeeld ’n tekening van ’n figuur met wat lyk na ’n blaaspyp in die hand, maar ’n ou Sanjagter het gesê daar is nie so iets in hulle geskiedenis nie – dis waarskynlik ’n horing wat die man blaas om roofdiere weg te jaag óf om met mekaar te kommunikeer.” 

Net voor ons vir middagete na die boskamp ry, hou ons stil by die Panoramarots. “Dis hoe 10 000 ha lyk,” sê Deike en wys om haar heen. “Ons bring altyd gaste na dié Panoramarots vir skemerkelkies om die “Erongo glow” te beleef.” Dit verwys spottend na “alpenglow,” ’n optiese verskynsel waarin dit lyk asof berge rooi of pienk skyn – iets wat Europese toeriste gewoonlik met die Alpe vereenselwig. 

“Word jy nie moeg vir die berge nie,” vra ek Deike wat al 17 jaar op die plaas woon. “Nee, dis soos sterrekyk. ’n Mens kan nie genoeg daarvan kry nie.” 

Ná ’n middagete van vars brood, slaai, sebrarookvleis en turksvysap groet ons vir  Deike. Binne-in die Duster draai ek die lugverkoeling op volle sterkte en mik onder die spierwit oog van die son in.    

Steek ’n vuurtjie aan in die Erongo Farmhouse se vetplanttuin en wag vir die sterre om op te kom
Vroegoggend wedywer swerms rooiwangparkiete vir sade en water naby die voëlbadjie van die Ameib Guesthouse se lapa.
Dis sowat 40 minute se stap tot by Phillipp se Grot waar jy onder meer na die White Elephant-rotstekening kan kyk.

Die stilste partytjie nóg

Teen 3 nm. draai ons in by die erf van die Ameib Guesthouse. Ek mik dadelik vir die paadjie na Phillipp se Grot, ’n erfenisterrein, sodat ek voor donker kan terug wees. Dis ’n soel middag met donker wolke wat in die verte saambondel. 

Ná sowat 10 minute se stap kom jy op ’n koppie. Ek draai om en kyk terug. Al teken van beskawing wat jy sien, is die pad en ’n groen watertenkie op ’n stellasie. In die laat 19de eeu was hier ’n Rynse sendingstasie. Ek kan nie help om te wonder hoekom iemand hier ’n sendingstasie wou bou nie. Omaruru is 115 km weg en Usakos 125 km.

Ná nog ’n halfuur se stap kom ek by die grot se plat opening aan. Dit lyk soos die gat van ’n skilpaddop waar die kop moet wees.  

Ek verkyk my aan die rotstekeninge – hier’s ’n tekening van ’n groot wit olifant. Voor die ontdekking van die Brandberg se tekeninge was dié White Elephant, een van die bekendste in die noordweste van Namibië. 

Toe ek uitstap, plons iets nats op kop. Het ’n voël pas op die enigste mens hier rond se kop getjorts, wonder ek. Maar nee, ek voel nog een, en nog een... waterdruppels val soos diamante uit die lug. Instinktief soek ’n mens vir skuiling, maar dan onthou ek Johan Cornelisson, ’n boer van Omaruru, se woorde: “In Namibië staan mense buite as dit reën.”  

Ek stap toe stadig terug en laat die druppels op my val. Dit hou ongelukkig nie lank nie, maar die donker wolke bly hang in die lugruim. 

Instinktief soek ’n mens vir skuiling, maar dan onthou ek Johan Cornelisson, ’n boer van Omaruru, se woorde: “In Namibië staan mense buite as dit reën.”

Ek stryk aan oor die droë klipperige bossie-landskap. ’n Halfuur later sien ek Bull’s Party. Rotse wat soos enorme versteende dinosou-ruseiers lyk, lê oor die landskap gestrooi. Van die rotse is so hoog soos ’n huis!    

Later die aand gesels ek met Sigrid Denker, die eienaar van die Ameib Guesthouse. Siggi het op Omaruru grootgeword en hulle het as skoolkinders gereeld na Bull’s Party gekom.  

“Destyds was dit nie ’n gasteplaas nie. Mense het die eienaar, Emil Phillipp, gebel en kom piekniek hou of gekamp. Dit was ’n uiters gewilde plek.”  

Ons gesprek gaan draai by die voortslepende droogte.  

“ ’n Mens moet net wag vir die reën. Soveel wonderlike dinge gebeur as dit reën. As dit sterk reën, hoor jy hoe die water in die dam loop en watervalle loop teen die groot rotse af. Al die rotspoele het water en 12 uur later begin die plante blom.”  

Deike Rust, die mede-eienaar van die Omandumba Guestfarm & Bush Camp, staan op die dek van die Cave-kampplek

Die volgende oggend mik ons weer op die spierwit gruispad tot by die D1935, en dan in die rigting van Usakos. Stadig maar seker begin ons weer tekens van beskawing sien: ’n nederige huisie, plastieksakke, ’n paar bokke...

Die D1935 loop uiteindelik dood teen die B2-hoofweg op die dorpie Usakos, maar ons is nog nie reg vir teerpaaie nie en draai regs op die D1914 en ry weer dorp-uit, na die Achab Camp, waar die vriendelike Valné van Zyl vir ons wag. Ons sit en gesels by die kampplek se lapa en swembad, ’n stukkie groenigheid in die droë landskap.  

Haar man, Jaco, is doenig by ’n boorgat om te kyk hoekom die swembad se water groenerig is. Valné en Jaco bly in Windhoek en haar skoonouers op Swakopmund.

Hulle kuier gereeld naweke almal op hulle familieplaas naby Usakos. ’n Paar jaar gelede het dié tweede stuk grond op die mark gekom.  

“Ons het Achab in 2010 gekoop. Dit was grasgroen. Hier het springbokkies en sebras gewei. Die rotspoele was vol water – dit was ’n oase in die woestyn. Dis nou die vyfde jaar van droogte, die ergste droogte in 100 jaar. En ’n mens voel dit.”  

Valné gaan wys vir ons die kampplekke en ’n paar Appaloosa-perdjies wat hulle hier hou.

“Die idee met Achab is dat mense moet voel dis hulle plaas vir die naweek. Jy kan enige plek ry – hier’s ’n paar 4x4-roetes in die berge – of stap. Hier’s nie formele roetes nie, maar jy kan verken soos jy wil. Troeteldiere is ook welkom.” 

Rondom ons lê en bak klipskerwe in die son. Doer lê die berg en blink in die middaghitte. Dis die kleur van donker leiklip.    

“Die kampplek is gewild onder Swakopmunders. Dis mos altyd kouer op Swakop en hulle smag na ’n bietjie son,” skerts Valné.  

By Anita Steyn se galery op Karibib kan jy van houtskooltekeninge tot handgemaakte teëls aanskaf.
    

Behalwe vir Swakopmunders is daar nog iets wat in Usakos se ongenaakbare klimaat floreer: Biltong.  

“Nêrens anders se biltong smaak soos ons s’n nie,” sê Desiree van Zyl. Ons sit op die stoep van die Oasis Food Stall op Usakos. “Want hier jy kry die hitte en daai effense vogtigheidjie wat in die aand van die see af kom.” 

Desiree en haar man, Nico, het die ou Namib Wuste-padstal sowat twee en ’n half jaar gelede gekoop.  

“Toe ek grootgeword het, was Namib Wuste dié plek vir biltong. Ek het nooit gedink ek sou dit besit nie. As ons hier deurgery het, het ek altyd vir my pa gevra: ‘Wie wil nou hier bly?’” 

Namib Wuste se oorspronklike eienaar, Manie Swanepoel, bly nog op Usakos en kom eet elke dag hier ontbyt. Ná oom Manie het die plek ’n paar keer van hande verwissel en ’n bietjie agteruitgegaan, vertel Desiree.  

“Mense wou nie meer hier stilhou nie. Ons het ’n kans gewaag. Die afgelope twee jaar probeer ons om die naam weer op te bou.  

“Ek wou graag my stempel afdruk en gebruik ’n klomp resepte waarmee ek grootgeword het. Ons maak ons eie biltong, droëwors, chilli bites en pasteie.  

“Ons familie is mal oor wildsvleis-toasties en ek besluit toe ek gaan ’n wildsvleisbroodjie en -jaffel maak. Genugtig, dít was gewild!  

“Tot dusver is ons bly oor ons besluit. Dit gee vir ons ’n plaaslewe, en rustigheid. Ons bly op die perseel – dis belangrik om hier te wees.” 

Terwyl ek en Shelley smul aan roosterbroodjies en wortelkoek, stap ’n man verby met ’n lang grys baard, kruisbande en ’n geruite hemp. Dis Jaco van der Merwe van Windhoek, wat vandag sy handewerk by die padstal wys.  

Hy maak messe van enige koolstofryke staal wat hy in die hande kan kry; ou karvere en saaglemme, en gebruik optelgoed soos seekoei- of vlakvarktande en springbokhorings vir ’n hef. 

“Ek is ’n sendeling en besoek twee keer per jaar die noorde van Namibië. Die mense ken my al en bring vir my goed. Soms leer ek hulle ook hoe om messe te maak.”

Ons het langer as beplan by die vrolike mense van die Oasis-padstal gekuier en dis al laat toe ek weer op my horlosie kyk. Ons moet wikkel, want ons moet nog op Karibib ook stilhou vanmiddag – ek wil graag by Anita Steyn se kunsgalery inloer.  

Victoria Daugas, een van die opsigters by Achab Camp, borsel een van die Appaloosa-perde.
 

Dis vieruur toe ons die stowwerige dorpie binnery. ’n Geboutjie waarvan die mure met kleurryke teëltjies versier is, vang my oog. Ek lui die klokkie en Anita Steyn maak die hek oop. Sy het ysblou oë en haar lippe is rooi geverf. Dis soos om skielik ’n kleurryke skoenlapper in ’n klipperige landskap te gewaar.  

Anita is ’n multimedia-kunstenaar. As ’n mens so deur haar koel galery stap, vertel die kunswerke ’n storie van iemand wat lief is vir die natuur – of dit nou ’n waterverfskildery, houtskooltekening of ’n handgemaakte teël of wasbak is... Oral is iets van die skepping te bespeur, van ’n fyn mopanieblaartjie tot wye woestynlandskappe. 

“Ek’s mal oor bome en die veld. Ek’s mal oor alles wat óns goed is,” vertel Anita. Sy het op ’n plaas sowat 160 km suid van Aranos in die Kalahari grootgeword. “Daar was nie ’n grenslyn tussen ons en Botswana of die Kalahari-gemsbokpark nie. Die wêreld was woes en leeg en daar was leeus. 

“Ons kinderjare was wonderlik. Mense sal wát wil gee om so groot te word. Ons het gedink dis normaal. Ons het gedink Botswana se kant is die einde van die wêreld, want daar was geen paaie wat soontoe gegaan het nie.

Daar was nie ’n grenslyn tussen ons en Botswana of die Kalahari-gemsbokpark nie. Die wêreld was woes en leeg en daar was leeus.

“Ek is lief vir Namibië. Die Kalahari is mooi, die kus is mooi. Selfs Karibib, jy moet net ’n entjie agterom die dorp ry, dan sien jy hoe lyk dit eintlik. Hier is mooi berge.

Terwyl ons gesels oor hoe sy mopanie- en maerua-sade in teëltjies vaslê, rammel trokke verby in die hoofstraat. Karibib lyk miskien nie na veel nie, maar die omgewing is mineraalryk – weer eens weens daai vulkaan. Hier’s verskeie myne in die omgewing: goud, litium en marmer.  

“Elke berg lyk na klip, maar as jy die klip wegkap, is dit marmer. En verskillende kleure... wit en groen, wit, pienk, room, bruin, grys...

“Die Chinese koop natuurlik al die marmer. My Chinese huurders is gasvry en hulpvaardig. Dis ’n ander kultuur, maar hulle waardes is baie soos ons s’n.”  Ek en Shelley koop elkeen ’n stel handgemaakte teëltjies voordat ons vir Anita groet.  

Van Karibib af is dit teerpad tot op Omaruru op die C33. Dis laatmiddag. Die lug is weer donker soos wat dit elke middag lyk. Ons hoop op reën. Kort voor lank doem die Erongoberg weer links van ons in die verte op. Net voor ons by Omaruru inry, loer ek weer links af met die onbeduidende D2315-grondpaadjie. 

As daar ’n afdraaipaadjie is, moet ’n mens dit altyd vat, veral in Namibië. Daar sal áltyd gawe mense wees. En landskappe waar dit lyk asof die beskawing nog maar ’n stippel op die horison is.  

Jaco van der Merwe maak messe uit optelmetaal soos ou karvere.

Teen druktyd het die hele streek reën gekry.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook

WEET VOOR JY WAAI

Erongo Plateau Camp

Die vier kampplekke (geen krag) is op die randjie van ’n plato. Hier’s ’n gemeenskaplike badkamer met spoeltoilette en storte (’n donkie sorg vir warm water). Met ons besoek was twee badkamers in aanbou waarvan een rolstoelvriendelik is. Let wel, hier’s nie ’n swembad of veel skaduwee nie – dink mooi voordat jy in die somer kom kamp. Troeteldiere is welkom. 

Koste: R160 p.p. en R110 p.p. vir kinders tussen 6 en 11 jaar oud.  

Kontak:00 264 61 221 567;  erongo.iway.na 

Erongo Farmhouse & Erongo Rocks

Dié selfsorghuis laat jou verlang na vakansies by jou ouma.

’n Wye stoep, ’n sonkamer, ’n Formica-tafeltjie, ’n Aga-stoof waarop ’n emaljeketeltjie prut. Hier’s slaapplek vir vyf in die huis, nog twee mense in ’n dubbelkamer met ’n deur van buite, en drie mense in ’n buitekamer met ’n aparte badkamer. Jy bespreek die huis eksklusief. Erongo Rocks is ongeveer 2 km van die plaashuis af. Die ruim kampplek lê omring deur ronde rotse – dus hope klouterplek vir die kinders.

Hier’s ’n groot onderdaklapa en drie badkamers. As julle meer as 10 mense is, kan julle die plek eksklusief bespreek. Hier’s stap- en 4x4-roetes op die plaas – sorg dat julle elke aand by een van die uitkykpunte skemerkelkies drink. 

Koste: Kamp: R250 p.p. Plaashuis: vanaf R695 p.p. vir 2 mense tot R495 p.p. as julle 6 of meer mense is.

Kontak: 00 264 81 147 1149; erongofarmhouse.com    

San Living Museum

Op ’n Bushwalk-toer (R170 p.p.) leer jy meer oor die vaardighede waarmee die San eeue lank in die wildernis oorleef het.

Hier’s ook kralewerk (vanaf R200) en pyle en boë (R600) te koop. Die aktiwiteite is netjies gelys. Jy hoef nie te bespreek nie, daag net op. Dis sowat 42 km wes van Omaruru, op die D2315. Hulle is elke dag hier.

Omandumba Guestfarm & Bush Camp 

Van die gastekamers se stoep af het jy ’n mooi uitsig oor die Erongoberg. Die kamers is netjies en koel. Die boskamp met 10 luukse en suite-safaritente is sowat 4 km van die gasteplaas af.

Hier’s ’n gesellige kuierplek waar almal saam eet. Introverte staan nader, want hier’s vyf kampplekke ver weg van mekaar af versteek tussen die rotse.

Die Cave-kampplek sit soos ’n witkruisarendnes hoog tussen die rotse met ’n uitsig oor die oeroue landskap. Die kampplekke het ’n braaiplek, opwasgeriewe, spoeltoilet en ’n stort (’n donkie sorg vir warm water).

Koste: Kamp: R180 p.p. Jy het verskieslik ’n voertuig met goeie grondvryhoogte nodig om by die kampplekke uit te kom. En suite-kamers of -safaritent: vanaf R1 392 p.p. met ontbyt en aandete. Halfprys vir kinders tussen 7 en 12. Die rotskunstoer kos R440 p.p. Dit duur sowat 2-3 uur. Dagbesoekers kan ook aanmeld vir dié toere, maar besprekings is noodsaaklik.

Kontak: 00 264 64 571 086; 00 264 81 217 0879; omandumba.de    

Ameib Guesthouse

Die kampterrein en van die geboue lyk effens afgemat, maar dis ’n mooi omgewing en die etes is heerlik. Hulle is besig om die blyplek op te knap.

Koste: Kamp: R150 p.p. Hut (in die kampterrein): vanaf R390 p.p. En suite-dubbelkamer: R1250 p.p. wat deel met etes. Dagbesoekers is welkom: R80 p.p. 

Kontak: 00 264 081 857 4639; ameib.com   

Achab Camp

Dié kampplek is sowat 9,5 km wes van Usakos. Vyf privaatkampplekke (plek vir 2 tot 3 tente) R150 p.p. Honde welkom. Elke kampplek het ’n braaiplek, spoeltoilet en ’n donkiestort. Hier’s ’n kuierplek met ’n swembad. Besoekers kan in rotspoele swem, in die veld rondloop of -ry. Dagbesoekers welkom: R75 p.p.  

Kontak: 00 264 81 243 3412; 00 264 81 363 8318; achab.nature@gmail.com; achabcamp.com 

Oasis Food Stall 

Dié padstal  langs die Shell op die B2 wes van Usakos doen sy naam gestand. Hier is elke denkbare ding wat jy in ’n padstal verwag: tuisgemaakte pasteie, olywe, mosbolle, koekies, plaaslike wyne, heuning... maar hulle roem hulle op hulle vleisprodukte. Hulle maak alles self: hamburgerpatties, boerewors, sosaties, biltong... Probeer gerus hulle blatjangbiltong.  

Oop: Elke dag van 7 vm.-7 nm.  

Kontak: 00 264 81 258 8351   

Anita Steyn Art Studio 

Anita werk in verskeie mediums, van houtskooltekeninge tot waterverfskilderye. Sy maak handgemaakte teëls, was- en dekoratiewe bakke en meng ook gekleurde marmerlae vir vloere en mure. Jy sal iets moois kry by haar galery in Karibib se hoofstraat.  

Oop: Ma.-Sa. van 8.30 vm.-6 nm.; So. 11 vm.-5 nm.

Kontak: 00 264 81 127 1531;  as.artstudio@yahoo.com of soek vir “Anita Steyn Art Studio” op Facebook   

VDM Knives

Jaco van der Merwe se messe is beskikbaar by die Outdoor Centre en Security World in Windhoek. Messe kos vanaf R2 000. 00 264 81 124 7738; grysaard@gmail.com of soek “VDM Knives” op Facebook.