Kyk die onderhoude met die mense wat die Laingsburg-vloed van 1981 beleef het hier: 

Foto's en video: Sophia van Taak; Argieffoto's: Laingsburg-vloedmuseum

"Dit was ’n ander soort water; swem het nie gehelp nie,” sê Francis van Wyk.

Ons sit in Laingsburg se Vloedmuseum waarvan sy die kurator is en blaai deur fotoalbums van daardie Sondag.

“Só het die hoofstraat gelyk – in vodde. Kyk die gebuigde lamppale, dit wys jou die geweld van die water.” Haar opmerkings klink saaklik. In haar oë kan ek niks bespeur van wat hulle daardie dag moes aanskou nie.

“Só het ons ná die vloed gelewe, in ’n tentedorp. Jy’t in ’n ry gestaan en die army het vir jou kos gegee.” Die volgende foto is ’n gelykte, met slegs plek-plek die verwronge uitstulpings van wat eens hier was. Francis streel oor ’n paar sementblokke op die voorgrond: “Die ouetehuis se fondamente,” sug sy dan. “Ja, so gaan dit.”

Ek sif nou al dae lank deur boeke oor die ramp, asook beëdigde verklarings wat ná die tyd geneem is. Die vertellings is plek-plek onsamehangend, maar dit kan nie anders nie – die vloed was vinnig op hulle, die belewenis skrikwekkend en verwarrend.

In my notaboekie groei die lys van mense met wie ek wil gesels. Ek huiwer egter om Francis na hulle te vra – die antwoord was al ’n paar keer “weg saam met die water”.

Nie eens honderd treë van hier af nie lê die Buffelsrivier se droë bedding. Dit bly onmoontlik om jou te probeer indink hoe so ’n skynbaar dor Karoo-loop binne enkele ure in ’n dreunende gevaar kon ontaard. Maar terugskouende studies stel dit duidelik dat eienaardige weersomstandighede tesame met die dorp se ligging en infrastruktuur die voorbereiding vir ’n natuurramp was.

Dit bly onmoontlik om jou te probeer indink hoe so ’n skynbaar dor Karoo-loop binne enkele ure in ’n dreunende gevaar kon ontaard.

Die tragedie was onafwendbaar: ’n Swart suidoos in die Kaap het ’n swaar weerpatroon binneland toe gestuur, waar ’n hoog- en laag-drukstelsel koppe gestamp het. Dit het reeds die Donderdag begin reën –’n welkome gesig ná maande sonder ’n druppel – en Laingsburg se opvangsgebied strek wyd: 70 km noord oor die Moordenaarskaroo en 50 km alkant toe.

Die bogrond was uitgedroog en kliphard, die rivierloop vol droë doringbome en dooie bosse. Gevolglik het die grond gou versadigingspunt bereik, maar steeds het buie aanhou uitsak. Die reënwater moes iewers heen en sover dit teen koppies en in dongas afgeloop het, het dit alles saamgesleep wat nie meer gewortel was nie.

Francis van Wyk, kurator van die Vloedmuseum, kan jou alles van die vloed vertel.
Philip van der Westhuizen het ten tyde van die vloed vir die Spoorweë gewerk. Deesdae is hy die tuinier van Laingsburg se gemeenskapsgroentetuin agter die Vloedmuseum.

Daarby het die Wilgenhout- en Baviaansrivier se water uit die weste by die Buffelsrivier aangesluit en dit alles moes op pad na die see onder Laingsburg se treinbrug deur. Dié se boë tussen die pilare het egter mettertyd al hoe digter verstop van boomstompe en ander rommel wat daarteen vasspoel.

Dit was nie ’n snaaksigheid dat die rivier soms só afkom nie. Die Laingsburgers wat aan die oewer in Krigestraat woon – soos Francis en haar gesin – was selfs gewoond daaraan om soms voorsorg te tref om hulle huise binne droog te hou. Maar dié oggend was die Buffels buitengewoon nukkerig.

Rivierop het die boere mekaar begin bel. En toe Hannes Viktor van Koornplaats nie meer antwoord gee nie, het ander onraad vermoed. “Die sentrale het óns toe begin oplui om te sê dat die mense in die Moordenaarskaroo hul reënmeters al drié keer moes leegmaak en dit reën nog steeds – harde, aanhoudende reën,” onthou Francis.

Sy en haar man, Carel (destyds die skoolhoof), en hulle kinders, Andries en Mirna, het reeds ná die kerkdiens begin handdoeke onder die deure instop. Dis toe dat Klara, die vrou van ds. Malan Jacobs wat die oggend gepreek het, hulle bel en nooi om by die pastorie te kom wag totdat die water gesak het. Malan en hulle een seun, Daniel (toe ’n derdejaarstudent op Stellenbosch), was reeds op pad om die Van Wyks te kom haal.

Teen hierdie tyd was Krigestraat al tot by die kerksaal onder water en ’n blok verder, in Meiringstraat, het ook ’n stroompie begin loop. 

Met Francis se hulp begin ’n tydlyn van 25 Januarie 1981 vorm aanneem. En stuk-stuk deel ander Laingsburgers ook húlle herinneringe: Josef le Roes, ’n boer van Vanderlindeskraal in die Koup-distrik noordoos van die dorp, en sy vrou, Coreen (die kerkorrelis), het die Saterdag reeds ingekom dorp toe, juis omdat die driwwe oor hulle distrikspaaie ’n mens tydens súlke reënweer van Laingsburg kon afsny.

Teen middagete het die water onder die deure van hulle dorpshuis bo in Swartbergstraat (’n volle drie strate van die rivier af) begin insypel en die matte opgelig. Hy’ t met groot onrustigheid in sy vragmotor afgery na die laerliggende dele om te kyk waar hy kan help.

“Toe ek by die hoek van Swartberg- en Voortrekkerstraat kom, skree ’n oom ek kan maar los – hulle het reeds met die koöperasie se lorrie probeer, maar kon nie deurkom nie. Ek sien toe aan die ander kant van die verspoelde straat ’n vrou, Hester Nortier, staan en kyk vir my deur die venster. Haar man, Johan, kom toe ook net daar aangejaag en ons twee is die water in.

“Hester het hulle babaseuntjie vir my aangegee, plus sy kos en bottels. En ek het vir Johan geskree hulle moet nóú uitkom, dié water kan hulle in die huis vasdruk.”

Teen middagete het die water onder die deure van hulle dorpshuis bo in Swartbergstraat (’n volle drie strate van die rivier af) begin insypel en die matte opgelig.

Buite het groepies mense begin saamkloek, onseker wat hulle te doen staan.

Die inwoners van die Jan Vorster-tehuis vir bejaardes het verslae op die stoep saamgedrom. Sou die water dan nóg hoër styg? Dis toe dat die bibliotekaresse, Susan Destroo, aangery kom met die tyding: Iemand het uit die Moordenaarskaroo gebel en gesê as die water wat nóú by sy huis verby is, die dorp tref, is hier ’n ramp.

Met Francis-hulle veilig by die pastorie het haar man, Carel, hom teruggehaas huis toe om hulle motors voor die water weg te skuif. Haar seun, Andries, sowel as Malan en Daniel Jacobs, is vinnig na die ouetehuis.

Susan en haar broer, Willem, en nog ’n paar mense was reeds daar om te help. “Op pad soontoe het die water my al by my knieë gevat,” vertel Daniel. “Ek het ’n dogtertjie wat nie kon deurkom nie, oor die straat gedra en besef ek moet vástrap, anders slaan die water my voete onder my uit.”

Rondom die treinbrug se pilare was hope opdrifsels saamgekoek en die oostelike aanloop is heeltemal weggespoel.

Die hoërliggende deel van die dorp was nog droog en dié mense het ingespring om te help. Philip van der Westhuizen het vir die Spoorweë gewerk en moes knalpatrone ter waarskuwing op die treinspoor vasklamp – die brughoofde aan weerskante het begin uitkalwe en ’n trein was op pad uit die ooste.

“Die trein het die knaldoppies afgetrap en stilgehou. Maar die drivers was móéilik – hulle wou net ry. Dit was manne van Touwsrivier wat by die huis wou kom, sien. Die een het weggestap en nes ek wonder of dié man nou wraggies die trein gaan vat en ry, ruk die water ’n gat in daai opvulwal oop. Toe roep ek die man terug en sê ‘Kyk daar! Nou kan jy maar jou trein vat en ry, Meneer.’”

Die water het ál meer van die verstopte treinbrug af opgestoot, net om met nóg water uit die noorde te bots. Al hoe wyer en wyer totdat die rivier naderhand besluit hy loop nie meer sy pad nie; hy kom sommer reguit deur die dorp.

Vir Josef en die Nortiers was daar nie wegkomkans nie en al raad was om in ’n boom op te klim. Van daar af het hulle oorgespring tot bo-op ’n huis se dak.

“Die water het nou geweldig vinnig gestyg – ek praat van halwe meter hoë walle wat in die straat afkom. Onder ons het die huis gekraak en gewoel soos die vensters en deure breek. Ons het gesien hoe ander huise begin meegee en ek het besef dis ons voorland.”

Leë gaskanne van die koöperasie hoër op in die straat het verbygekom en Josef het ’n paar gegryp – dryfgoed vir almal wat teen hierdie tyd saam met hom gestrand was. Die stroom het ander dinge ook verby gespoel: “ ’n Hoenderhaan en sy henne. En die volgende wat ek sien verbykom, was die lyk van ’n ou tannie. En toe ook ’n meisie, ’n blondekopmeisie…” 

Die kerk het die aanslag oorleef, maar dit het maande gevat om al die toegeslikte strate, beskadigde eiendom en infrastruktuur te herstel

By die ouetehuis moes vinnig plan gemaak word. G’n ryding kon meer deurkom om die inwoners op te laai nie, en die mense wat probeer help het, was nou ook onrustig oor hulle gesinne tuis. Met ’n “gaan help jy vir Mamma, ek sal hier help,” het Malan vir Daniel huis toe gestuur – en ook nie ’n oomblik te laat nie.

“Die water was toe al op die pastoriegronde en ek kon hoor hoe die Van Eden-vrou langsaan skree,” vertel Daniel. Sy was swanger en het ook twee klein seuntjies gehad wat sy bo die water moes hou. “Sy kon nie die een neersit om die tuinhekkie oop te maak nie.” (Daniel het die Van Edens gehelp en die baba wat later daardie jaar gebore is, is na hom genoem.)

Daar was nou ’n paar mense in die pastorie bymekaar: Francis, Mirna en Klara Jacobs, en haar twee jongstes, Johan en Hester.

Francis is kamer toe om haar nat klere te verruil vir ’n lang kamerjas van Klara: “Ek het nog so op die bed gesit toe ek iewers water hoor gorrel. En toe ek in die badkamer kom, toe borrel modderwater by die bad se uitloop in! Ek is gangaf en het die ander in die portaal gekry, met Mirna en Johan wat elektroniese toerusting in die sonkamer hoër pak. Dis toe dat die ruite begin breek en die water die huis volstroom. Die sonkamer se deur het toegespoel en ons kon nie die kinders uitkry nie.”

Genadiglik kom Daniel toe by: “Ek het teen die deur gestoot en gestoot, maar besef ek druk teen die water. Al wat ek kon doen, was om dit oop te skouer. Ek het daai tyd maar 68 kg geweeg en eintlik geweet daar’s nie ’n kat se kans nie, maar die deur móés eenvoudig oop. Met die sewende skouer het die skarniere losgekom en ons is almal by die voordeur uit en tot op die huis se dak.”

In die ouetehuis se eetsaal het die mense probeer om die bejaardes bo die stygende watervlak te hou. In een van die boeke wat ná die vloed geskryf is, vertel Andries van Wyk:

Ons elkeen het twee of drie oumense vasgehou om te keer dat hulle wegspoel en die water het ons mettertyd tot teen die plafon gelig. Ek het met my vuis ’n gat in die plafon geslaan, myself deur die gat gelig en toe van die vasgekeerdes na die dak probeer help. Ek het geslaag om een op te lig, maar toe ek afkyk, het ek gesien die ander een is weg. Toe die gebou begin verbrokkel, het Dominee ons bymekaargeroep en gesê om te bid. Die bejaardes was kalm.

Josef le Roes en sy vrou, Coreen, op hulle plaas Vanderlindeskraal in die Koup.
Die broers Daniel (links) en Maarten Jacobs. Hulle woon albei deesdae in die Kaap, maar sal weens hulle gedeelde ervaring én verlies altyd aan Laingsburg verbonde bly.

Francis praat ook van dié eienaardige kalmte: “Daar waar ons op die dak gesit het, sien jy baie goeters – skokkende goeters. Maar dit is asof jy na ’n video kyk, jy’s nie betrokke nie. Jy sien dáár sit die Smitte ook op hulle dak. En ons skree heen en weer vir mekaar om maar moed te hou. Maar dan skielik is daar so ’n plofgeluid en stof draai en daar spoel die dak rivieraf. Maar jy dink nie wat wórd van die Smitte nie, jy dink net ‘daar gaan hulle.’”

En ons skree heen en weer vir mekaar om maar moed te hou. Maar dan skielik is daar so ’n plofgeluid en stof draai en daar spoel die dak rivieraf.

Daniel het dit anders ervaar: “Die water het bly val en styg, val en styg, totdat dit ook teen ons dak begin opkruip het. Ek het twee keer daardie middag die oortuiging gehad dat hier vandag ’n wesenlike kans is dat ek gaan sterf. Daardie splitsekondes bly uniek in my hele lewe. Ek het besef: Net die God in die hemel kan ons vandag hier red.”

Ek is byna teensinnig om verdere onderhoude te voer. Ons wat nie hier was nie, het geen benul wat hierdie mense ervaar het nie. Ek hou aan met lees, talle soortgelyke verhale van paniek, die wil om te oorleef en gewone mense se onbaatsugtige dade. En oral tussendeur: die strak dokumentasie van Laingsburgers wat nie betyds voor die water kon padgee nie.

Pieter Koen, die posmeester, het nog tot op die laaste oor sy amateurradio probeer hulp ontbied, maar die water het hom en sy vrou vasgekeer.

Pieter kon toe nie later daardie jaar twee van sy dogters voor die kansel afgee nie; Frans Diko het alleen saam met sy pa, Solly, oorgebly toe die water nege van sy familielede verswelg het. Sy vrou, sy kinders, sy ma – almal eensklaps weg; Philip se broerskind het saam met maatjies die vloedwaters bo van die padbrug af dopgehou, maar hulle het verkeerde kant toe gekyk – toe daar weer ’n wal water van agter aankom, is die seuntjie afgepluk. Hulle sou hom nooit weer sien nie.

Philip moes ook ander grutonele in magteloosheid daar bo van die treinspoor af aanskou, veral toe die treinbrug se aanlope finaal verbrokkel en die stroom toe skielik ’n suigkrag bykry wat die volgespoelde huise begin opslurp: “Die polisieman, sersant Johan Lingenfelder, is in die stroom af en sy vrou en een kind het op die huis se dak bly vasklou, agter die skoorsteen. Toe die water tot by die vensters sak, het ek bly dink: daardie mense is gered. Maar so tien minute later toe gaan hy ses, agt meter bo-oor die huis. Toe hy weer terugtrek, was hulle weg.”

Dieselfde lot het Josef-hulle beval en hy is stroomaf, al klouende aan sy 48 kg-gaskan. “Ek kan nou nog voel hoe stamp my twee voete teen die treinbrug se pilaar vas en toe gooi hy my reg agteroor en begin my swaai. By tye wou ek los – ek kon nie asem kry nie – maar toe bring die gaskan my boontoe, ver anderkant die treinbrug. My oogbank was oopgeslaan, my kakebeen flenters.”

Soos die rivier hom saamsleur, kon Josef homself plek-plek oriënteer. Hier’s hy nou bo Winston Bourbon-Leftley se appelkoosboord, en daar voor wag nóg ’n groot hindernis, die Wittebergebrug…

“Waar die rivier tussen die koppe ingaan, het ek met ’n spoed op ’n krans afgepyl en daar het ’n koue gevoelte oor my gekom: As ek daai krans slaan… daar’s nie ’n manier dat ek dit kan maak nie..."

“Waar die rivier tussen die koppe ingaan, het ek met ’n spoed op ’n krans afgepyl en daar het ’n koue gevoelte oor my gekom: As ek daai krans slaan… daar’s nie ’n manier dat ek dit kan maak nie. Maar toe gryp ’n ander stroom my en gooi my terug in die middel van die rivier en dit is waar die ding toe begin taai raak. Die branders slaan jou van agter af in die gaskan vas, nog branders kom van voor af en slaan die kan weer teen jóú vas… Jy sluk water en jy stik. Maar snaaks genoeg was my mond kurkhouthoringdroog in daai massa water.”

Intussen staan Coreen angstig saam met nog mense op die stasieperron en toekyk hoe die een huis ná die ander swig. Wáár is Josef?

Alles op die dorp is saam met die stroom afgesleep dam toe – van klaviere tot karre. En baie mense ook, waarvan slegs twaalf lewend uitgekom het. ’n Paar van hulle is van links: Bertus Conradie, Andries van Wyk, Wouter Jordaan, Reg Taylor, Paul Ameels, Barry van Niekerk en Marietjie Lingenvelder.

Dis omtrent teen hierdie tyd dat Daniel se jonger broer, Maarten (toe in matriek), van ’n skoolkamp op Hartenbos met ’n saamrygeleentheid terugkeer. “My pa het nog die Sondagoggend ’n vriend van hom gebel om my by die kampplek te kom sê hy dink ons moet Beaufort-Wes om terugry en nie Ladismith deur nie, want die Buffelspoort sal onder water wees. Toe hulle oor die hoogtetjie kom en op die dorp afkyk, was dit op ’n toneel van algehele verwoesting.

“Die eerste ding wat jy dink, is die ouens sal darem seker nie so dom wees om in dié water te bly nie, min wetend die meeste mense is vasgevang.

“In die dorp gekom, het ek een van my onderwysers, Nico Stander, gekry. Hy’ t nie veel gesê nie, maar aan sy liggaamstaal kon ek sien hier’s gróót moeilikheid. Ek het nie geweet waar my mense is nie, tot ek mnr. Van Wyk raakloop (Carel was te laat om hulle motors te red en het elders begin hand gee waar hy mense kon help) en hoor sy gesin is saam met my ma-hulle by die pastorie. Maar staan die pastorie nog?”

Die pastorie het nog gestaan, maar Daniel het nie geglo dat hulle die dag sou oorleef nie. “Tussen ons en die rivier was daar twee huise soos jy Sutherland se kant toe kyk. En oor tyd het ons gesien hoe die water so ’n bakhand oor die eerste huis maak. Jy draai vir ’n oomblik weg, en as jy terugkyk, is die huis weg, dan staan die bakhand oor die volgende huis.

“Ek het gesien hoe drie mans, terwyl die dak onder hulle wegsak, nog na die nok toe hardloop, en toe’s hulle weg.”

Josef en sy gaskan het uiteindelik op ’n eiland “so groot soos ’n koffietafeltjie” uitgespoel en laatnag, toe die Buffelsrivier bedaar, kon hy dit tot op die wal waag. Ná die gemaal was hy sy een tekkie kwyt, maar dit het hom nie gestuit om deur die veld al die pad  tot op die Bourbon-Leftleys se plaas terug te stap nie.“Oom Winston het in sy lorrie gesit, sy vrou en kinders in die motorkar. En die eerste ding wat hy vir my sê, is ‘jong, vat hierso!’ en hy jaag my ’n dop whisky in. Ek het nog nooit vantevore whisky gedrink nie – maar dit was lekker!” 

Vir ander Laingsburgers was die nagmerrie egter nog glad nie verby nie. Baie mense het tot onder in die Floriskraaldam (sowat 20 km) gespoel. Baie is bo-oor die sluiswal, nugter weet waarheen. Die gelukkiges het in kalmer waters beland en kon wal toe, onder andere Andries en sers. Lingenfelder se een dogter, Marietjie. Die destydse waterfiskaal, Willem Beukes, het met ’n bootjie die nagdonkerte agter hulpkrete aan ingevaar. Enkeles is gevind. Die res... hulle stemme het voor dagbreek stil geraak.

Geen steen is onaangeroer gelaat in die hoop om nog oorlewendes te vind nie.

Laingsburg was nou in duisternis gehul en grafstil – selfs die tierende rivier van ’n paar uur tevore het kalmer gekabbel. Op die dorp het mense druipnat, uitgeput en verwese op die die winkelstoep, stasieperron en in die hotel se gange op eerste lig sit en wag. Die paar wat nog op staande huise geskuil het, is met toue en lere afgehelp – blou van die koue en rasend van bekommernis oor hulle geliefdes.

By die Floriskraaldam ontmoet ek die huidige waterfiskaal, Jan Crafford. Hy het in hierdie vallei waarin die dam van 1954-’57 gebou is, grootgeword. In ’81 het hy ’n slaghuis op die dorp gehad, maar ná die vloed is hy vort – Oudtshoorn toe – en het twaalf jaar gelede as waterfiskaal teruggekeer.

Floriskraaldam. Deesdae is die watervlak maar ’n druppel aan die emmer (3,25% van sy kapasiteit) vergeleke met Januarie 1981.

Hy wys my die afgelope jaar se watervlaktabelle – dit spel droogte, tot in die derde desimaal. “So droog het ek hom nog nooit gesien nie. 1949 se droogte was érg, maar nie só nie. Met die vloed was dit egter ’n ander storie. Dit het so gou gebeur…Om jou ’n idee te gee: die water is 4 m bo-oor daardie wal. En hy staan 72 m hoog.”

Jan vertel hoe hy op Laingsburg mense uit bome en van geboue gered het deur ’n tou met ’n halwe baksteen vooraan vasgeknoop vir hulle te gooi. En ná die vloed is hy al met die rivier langs af tot by Gouritsmond. “Dit was net een vernielde besigheid. Die draadloos kon jou nie vertel het nie, die TV kon jou nie vertel het nie, die nuusblaaie kon jou nie vertel het nie. Níks nie. Jy moes dit gesién het om te weet wat aangegaan het.”

Jan Crafford, die waterfiskaal by die Floriskraaldam het ook die vloed beleef.

Oor ander dorpe stroomaf – Montagu, Ladismith en Vanwyksdorp – was daar die Maandag reeds ’n opsomming van die skade en dodetal bekend. Maar Laingsburg se krag- en telefoonlyne was af, die padbrug onbegaanbaar en die toegangspaaie gesluit tussen Barrydale en Ladismith, Ceres en Sutherland, Prins Albertweg en Prins Albert…

Eers teen Dinsdagoggend kon Die Burger se voorbladopskrifte die nuus breek: “Karoo-dorp verwoes”; “Laingsburg lê in modderpuin” en “Burger-rampfonds met R10 000 geopen”. Daar was ’n lys name van die Laingsburgers wat vermis word. Maar met Josef en enkele ander lewendig terug was daar hoop – hoop wat tot ongeduld aanleiding gegee het.

Die weermag en die befaamde dr. Alan McMahon en sy reddingspan was glo op pad, maar op Touwsrivier was ook eers nood. Intussen het die Laingsburgers in die rivierbedding en deur toegeslikte rommel na moontlike oorlewendes begin soek. Toe die helikopters uiteindelik opdaag en die Buffelsrivier tot onder by Floriskraal fynkam, het hulle met slegs 12 oorlewendes teruggekeer.

Daniel het dae lank saam met sy ma by die hospitaal op tyding van sy pa gewag. “Tot die Donderdag was ek vas oortuig hy’s fine. Die helikopters kom land en jy kyk: wie klim uit? Is hy nie dalk by nie?” Maar niemand het meer uitgeklim nie – dit was nou net lyke wat die weermagmanne terugbring. Sommige is weke, selfs maande, later eers gevind en die Laingsburgers moes hulle mense probeer eien aan ’n troupand, ’n bossie karsleutels nog in ’n broeksak, of ’n Medic Alert-kettinkie. Een vrou is uitgeken aan die naamstrokie wat aan haar rok se kraag vasgewerk was: die 88-jarige Susanna Erasmus, ’n inwoner van die Jan Vorster-ouetehuis.

Laingsburg se begraafplaas was toegeslik. Sommige afgestorwenes is in familiekerkhoffies op plase ter ruste gelê, maar daar moes inderhaas diep slote vir ’n vloedbegraafplaas gegrawe word. Dis geleë in die “nuwe dorp”, wes van die rivier. Ek gaan kyk. Hier lê Susan Destroo. Hier lê Hester Nortier. Van die grafstene lees bloot: Onbekend.

Die dodetal was 104, waarvan 72 nooit gevind is nie. Hulle name staan almal op ’n gedenkplaat in die begraafplaas: drie Du Toits, vier Therons, nege Diko’s… en ook: S.S. Whittaker. Op 25 Januarie 1981 was dié Kapenaar bloot op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.

Die dodetal was 104, waarvan 72 nooit gevind is nie.

Stephen Whittaker, ’n troepie, het by sy ma in Kenilworth gekuier en moes daardie Sondag om middernag weer by die Berede Sentrum op Potchefstroom aanmeld. Sy ma het hom die oggend in volle uniform by die Maitland-afdraai langs die N1 gegroet van waar hy sou duimgooi terug basis toe.

’n Weldoener in ’n splinternuwe groen BMW, ene Pieter du Plessis van Rustenburg, het vir Stephen opgelaai.

In van die beëdigde verklarings wat ná die vloed afgelê is, word melding gemaak van dié nuwe BMW wat teen 2 nm. se kant oor die brug die dorp ingery het. Die brug se loopvlak was reeds onder water, die bestuurder het onraad vermoed en begin terugstoot. Maar die enjin het gestol en toe gooi die water die motor bo van die brug af. ’n Uniformbaadjie en die groen BMW met die Transvaal-nommerplate is wel gevind, maar Whittaker en Du Plessis nie.

Die weermag, polisie, Rooikruis en Heilsleër het bystand verleen. Hier staan Kobie Bothma (voor) en Alet Nel in die kosry.

Van Laingsburg was slegs 21 woonhuise, ’n paar besighede en ’n verslae gemeenskap oor wat soos opdrifsels uitgespoeg lê. Hulle het net die klere aan hulle lyf gehad en die paar bruikbare goedjies wat uit die toegeslikte bouvalle gegrawe kon word.

Maar skenkings het elke dag ingestroom en Francis en ’n vriendin het die klerebank behartig: “Dit was ’n lekker winkel. Jy’ t elke dag die bondel klere wat jy gekry het, uitgesit, die mense het kom vat en môre doen jy dieselfde. Maar jy bly nog vir ’n lang tyd in dwaling. Jy registreer nie, jy funksioneer net.”

Die mense het eers in ’n tentedorp op die rugbyveld gewoon, daarna vir nog ’n paar jaar in woonwaens en opslaanhuisies. ’n Nuwe dorp is bo ’n nuwe vloedlyn uitgelê en op ’n dag moes die Laingsburgers lootjies trek oor wie waar gaan woon. Van die onderwysers was weg, kinders het ouers en klasmaats verloor en die onderste verdieping van die skoolgebou was toegespoel. Maar die skooljaar moes aangaan, en die lewe ook.

Die Standard Garage se vertoonlokaal is as klerewinkel ingerig waar die Laingsburgers deur die skenkings kon kom soek vir iets wat pas. Een van die inwoners, Annalie Theron, is kort ná die vloed op haar wittebroodsreis met ’n koffertjie vol tweedehandse klere.

“Terug op Stellenbosch het ek agtergekom mense weet nie waardeur ek is nie,” sê Daniel. “Ek het gou besluit die vloed kan my nie vir altyd definieer nie. Dalk té gou. Ek besef nou dat ek vir baie jare aan ’n soort bomskok gely het.”

Niemand was meer dieselfde mens as die een wat daardie Sondagoggend in die oggenddiens na ds. Jacobs se laaste preek geluister het nie – ’n preek wat, ironies genoeg, gehandel het oor die uitdagings wat die nuwe jaar sou bring. Die vloed het Laingsburg se verstaan van die lewe op sy kop gekeer; vir hierdie geslag sal iets nou altyd vóór of ná die vloed gebeur het. Sedertdien raak sommige steeds angstig elke keer as die Buffels storm. Maar hier in die Karoo sal die mense nooit die reën verwyt wanneer dit val nie, al is dit ook te veel.

Bronne: Die Laingsburgse Vloedmuseum (023 551 1868; laingsburg-info.co.za); Die Dorp in die Dam, deur Klasie Steenkamp; Nog Laingsburg-vloed, deur C.A. van Wyk; Die Burger 100, saamgestel deur Bun Booyens en Aldi Schoeman.