Ons toer begin by ’n bord met ’n skets van hoe die omgewing ’n paar miljoen jaar gelede gelyk het. Rondom jou lyk dit asof die landskap uitgekalwe is met geelwit rotsrante wat plek-plek uitsteek.

“Die Bergrivier het eers hier geloop,” verduidelik ons gids, Karen Herman. “Die rivier het diep poele gevorm. Die diere het dikwels verdrink in fratsvloede en van die karkasse het agtergebly in dié poele.” Vandag staan hier twee tente waar die poele eens was.

In die jare veertig het tonne fossiele in die slag gebly toe fosfaatmyne oopgemaak is. In 1996 is ’n gebied van 700 ha tot ’n nasionale monument verklaar. In die tente stap ons op staalbruggies bo-oor die opgrawings. ’n Klomp verskillende spesies is saamgegooi in ’n modderput waarna hulle versteen het, en sonder Karen is dit onmoontlik om hond haaraf te maak van wat hier aangaan.

Sy beduie met ’n lang stok na die hoop toe: “Hierdie is ’n kortnekkameelperd; hy sal ’n eland soos ’n duiker laat lyk. En hier kan jy sien hoe ’n voorvader van ’n hiëna aan ’n been gekou het.”

Jy kan ook jou lyf argeoloog hou. Buite staan drie sifbakke met gruis waarin jy kan soek vir die beentjies van knaagdiere of paddas. 

Waar? Langebaanweg, sowat 16 km buite die dorp in die rigting van die Langebaan-lugmagbasis.

Koste Toere kos R80 p.p. en vertrek elke uur tussen 10 vm. en 3 nm. Elke toer duur 45 minute.

Kontak 022 766 1606; fossilpark.org.za

  • François se artikel het in Weg #155 (September 2017) verskyn.