Langebaan het ’n ryk geskiedenis. Voor Jan van Riebeeck se tyd het Europese reisigers al hier aangedoen, spesiale magte (ja, die recce’s) word al jare hier opgelei en walvisjag was gróót.


Ten spyte hiervan is die Farmhouse Hotel in Egretstraat naby die seiljagklub die naaste ding aan ’n museum wat die dorp het. Hier is nie glaskaste nie en net plek-plek ’n inligtingsbordjie, maar die hotel is versier met allerlei oudhede uit die kontrei, van ossewa-onderdele tot grammofone.


Die mure is vol stories. Foto’s uit die sewentigerjare van troepe wat op die strand oefen, pronk in die voorportaal, ou kaarte hang in die gang en voorblaaie van ou Scope-tydskrifte is in die mansbadkamer opgeplak.


Selfs die storie wat Dana Snyman jare gelede vir Weg geskryf het oor Langebaan se walvisjagters, hang geraam in die Legends-kroeg (lees dit hier). 


Bestel ’n bier en sit op die kroeg se stoep waar jy oor die ou slaweklok en die strandmeer uitkyk. Later die aand kan jy aansit by die Panoramarestaurant, waar daar wintermaande gewoonlik ’n vuurtjie knetter.


Onthou om ook die trappe regs van die ontvangskantoor te klim. Dit lei na ’n klein kamer met sowat 20 handgemaakte modelle van regte skepe – meestal visserskepe. Dis die handewerk van die afgetrede visserman Eric Wilsnach wat steeds hier in Langebaan woon. Die grootste model is van die Mispah, die vistreiler waarop Eric 26 jaar gewerk het.

Waar? Egretstraat 5.

Koste En suite-dubbelkamer: vanaf R950 p.n. (ontbyt ingesluit); gesinskamers: vanaf R3 140 p.n. met slaapplek vir 5 mense (ontbyt ingesluit)

Kontak 022 772 2062; thefarmhousehotel.com

Klik hier vir nog doendinge op Langebaan: 


Die volledige Langebaan-storie (met nog bly- en eetplekke) het in Weg #155 (September 2017) verskyn.