Dit is laatmiddag en hier is bykans g’n mense op Langebaan se hoofstrand nie. ’n Drawwer sukkel oor die sand, terwyl ’n kelnerin – nog in haar uniform – strandlangs huis toe stap ná haar lang skof.

Verderaan staan ’n gesin en lyn natmaak – hulle silhoeëtte strak teen die vurige oranje weerkaatsing op die strandmeer.

Vlieërplankryers is sekerlik die enigste mense wat bly is as die wind pomp. En Langebaan het behoorlik ’n besigheid van wind gemaak. Die dorp word beskou as een van die beste plekke ter wêreld om vlieërplank te ry. Hier is blyplekke, opleidingskole en winkels wat toerusting verhuur vir mense wat van heinde en ver kom om hiér hulle vlieërs in die wind te laat bol.

Selfs in die winter wanneer die wind op sy makste is, rits twee vlieërplankryers heen en weer op die strandmeer. Rynard Visser ruk tot stilstand in die vlak water naby my terwyl sy pêl, Tanner Fourie, nog doer anderkant toertjies doen.

“Ons trek ons duikpakke aan en kom strand toe elke keer as die wind lekker lyk,” vertel Rynard, ’n Langebaan-local. “Die wind is flouerig vandag, maar ons maak ’n plan. Ons gebruik net groter vlieërs, so maklik soos dit.”

As jy wil leer om so ’n hengse vlieër baas te raak, loer in by Kitelab of Windtown in Breëstraat. Windtown (022 772 1064; windtown-sa.com) se lesse vir beginners kos R1 100 p.p. vir twee uur. Kitelab (022 772 0026; kitelab.co.za) bied ook klasse aan. Private lesse vir beginners kos R3900 en duur twee dae. Die toerusting word verskaf. 

Selfs die Farmhouse Hotel (022 772 2062; thefarmhousehotel.com) bied vlieërplankrypakkette aan. ’n Pakket wat vier dae se verblyf, ontbyt en vlieërplanklesse insluit, kos R9 300 p.p. 

As die wind begin waai wanneer jy hier vakansie hou, sit die DStv af en kom kyk hoe dié vlinders van die see op die water bokspring en bollemakiesies maak.

Klik hier vir nog doendinge op Langebaan: 


Die volledige Langebaan-storie (met bly- en eetplekke) het in Weg #155 (September 2017) verskyn.