1. Wes-Kaap

As jy op die Tuinroete gaan kuier, is die kans goed dat jy ’n voetslaanroete gaan aanpak, want hier is baie om van te kies. Pak jou tekkies, stapstewels, hoed en verkyker in en gaan probeer die 26 km lange Fynbosstaproete. Jy hoef nie die hele roete te stap nie en kan dit ook sonder ’n gids aandurf. 

Hier is nóg drie staproetes wat jy kan oorweeg.

Langebaan langs die Weskus is 130 km van Kaapstad af en jy kan maklik vir ’n dag soontoe ry. Hier kan jy in die strandmeer baljaar of fossiele gaan beloer by die Weskus-fossielpark(fossilpark.org.za), 16 km buite Langebaan (behalwe op Goeie Vrydag wanneer die park gesluit is) en aan boetiekbier teug. (Die brouer is gesluit op Goeie Vrydag en Paas-Sondag)

Lees hier vir nog idees oor 'n Kaapse draai, dorpe en doendinge

2. Limpopo

Gaan besoek die Marakele- nasionale park net buite Thabazimbi in die Waterberge. Dié park is die tuiste van waarskynlik die wêreld se grootste broeikolonie (800 pare) kransaasvoëls ter wêreld. 

In Magoebaskloof kan jy stap, gly en ry vir ontspanning. Kyk wat jy alles in en rondom dié kloof kan doen.

3. Vrystaat 

Die Vrystaat bied vele doendinge en die komende langnaweke is ’n goeie tyd om daar ’n draai te gaan maak. Lees hier waar in die Oos-Vrystaat jy kan bier proe, messe koop, perdry en sommer net rondrits. 

4. Noordwes

Die Molopo-natuurreservaat is in die heel noordwestelike hoek van Noordwes, naby die dorpie Vorstershoop. Dagbesoekers is welkom om die reservaat te besoek! Kom ry rond en kyk bokke – en as jy gelukkig is, sien jy dalk ook bruinhiënas, luiperds, rooikatte, ratels en jagluiperds.

Gaan sit in ’n skuiling in Pilanesberg en raak rustig terwyl jy wag vir diere en voëls om naby jou verby te beweeg. 

5. Mpumalanga

Die Krugerwildtuin is nie die enigste noemenswaardige toeriste-bestemming in Mpumalanga nie! Gaan ry die Panoramaroete en besoek die Blyderiviercanyon. Lees Toast se artikel: Blyderiviercanyon: Gaan rits rond tussen berge en watervalle vir idees en roete wat jy solank aan kan beplan. 

Jy gaan ook verby verskeie watervalle langs dié gewilde toerismte-roete ry. Stop gerus en gaan besoek die Panoramaroete se watervalle. 

6. Kwazulu-Natal

Die Koninklike Natalse nasionale park bied nie net staproetes nie – hier is nog lekker doendinge! Jy kan gaan perdry, rotskuns beloer, adrenalien-aktiwiteite soos glykabels aanpak, of net pizza eet! Lees hier meer.  

7. Gauteng

Vat jou gesin vir die dag Pretoria-dieretuin toe. Dit is nie noodwendig goedkoop nie, maar gewis ’n uitstappie wat die moeite werd gaan wees. 

Mik Magaliesberg toe vir ’n naweek propvol doendinge soos foefieslaaid gly, wildritte en bierproe.  

8. Noord-Kaap

Sutherland is seker een van die beste plekke in die land om sterre te gaan kyk.  Maak gou as jy nog ’n sterrekyk-toer of blyplek wil bespreek virPaasnaweek – baie plekke is al vol!

As jy op pad is met die N7 na Namibië of Namakwaland toe, hou gerus stil by die Garies-toeristestal om ’n bietjie asem te skep voordat jy verder ry. Blykbaar is die hoenderschnitzels en hamburgers heerlik! 

9. Oos-Kaap

Ons gee voorstelle vir jou kuier in die Oos-Kaap. Hier is berge en dale om oor te tuur, uile te koop, woude om te verken en bergpasse wat jy kan uitry. 

Gaan besoek Port Elizabeth. Hier is hope doendinge!