FOTO’S ERNS GRUNDLING 

Ses spikkels beweeg teen ’n steil heuwel uit. Hulle volg ’n smal voetpaadjie wat oor die eeue heen deur mens en dier uitgetrap is. Dié paadjies verbind honderde klein nedersettings bestaande uit turkoois of liggeel hutte, lappies spinasie en mielies en spazawinkels oor die golwende groen landskap.

Dis die vierde dag van die vyf dae lange staptog tussen Port St. Johns en Koffiebaai, en ons is diép in die voue van die Wildekus. Op linkerhand druis die see langs ’n spierwit strand, verlate behalwe ’n paar koeie wat op die sand lê. Voor en agter ons lê talle riviermondings, strandmere, kuswoude en heuwels sonder einde.

Ek het dié roete in 2010 die eerste keer gestap. Ek wens ek het dit al lankal weer gedoen. Want soos ek elke paar jaar weer Douglas Adams se The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy lees en na die hoogtepunte van die roemryke 438-krieketwedstryd op TV kyk, wil ek dié roete weer en weer stap.

Die afgelope paar dae was salig. Stappers bly en eet by die plaaslike mense. Jy sien hoe die mense lewe, en jy besef die meeste Suid-Afrikaners wil dieselfde dinge hê: Kos op die tafel, ’n dak oor jou kop en ’n skool vir jou kinders.

Kom ontmoet jou medemens op hierdie vyf dae lange Wildekus-slenterstaproete. 

Wildekus

DAG 1 - 12 km

Port St. Johns na Mngazana

Dis nogal ’n gedoente om van die Kaap af uit te kom by Port St. Johns se Second Beach, waar die staproete begin. Dis nie ’n sirkelroete nie; dus wag ons voertuig by die eindpunt op Koffiebaai, waar ons gisteraand oornag het. Vanoggend het ons met ’n taxi sowat 190 km tot op Port St. Johns gery. Gelukkig stap ons slegs sowat 60 km kuslangs.

Dis skuins voor twaalf op ’n warm Saterdagoggend in September. Port St. Johns se strate is ’n geroesemoes van mense, musiek en motors wat toet.

Ons is vyf stappers – ek, Catharien Robbertze, Dian Wessels, Liezel van Beek en Le Roux Schoeman. Yongama Manjezi (23) is ons gids. Hy werk al drie jaar vir Wild Tours. “My naam beteken to overcome,” vertel hy.

Ons stap oor die sand verby die Bululoriviermonding en in by die piepklein Silaka-natuurreservaat (4 km2).

Die lang ure op die pad, die slaggate en die woelige dorpie is gou vergete. Dis asof ons ’n vars nuwe wêreld betree wat die mens nog nie verniel het nie.

Op die strand lê vyf beeste en baai asof hulle doelbewus hier geplaas is vir mooi Instagramfoto’s.

Yongama deel passievol allerhande pretfeite oor die plante. “Slange suig die blom vir energie wanneer hulle baklei,” sê hy en wys na ’n helderoranje blom. “Ek het dié groen vruggie al self gekook as kuur vir ’n maagpyn,” vertel hy oor ’n ander.

Wanneer die paadjie erg steil raak en Yongama sug “Yeah... the heartbreak”, onthou ek die beproewing van agt jaar gelede: Heartbreak Hill.

Dit is onhebbelik steil én die warmste tyd van die dag. Ek sukkel hortend tot bo terwyl ek my aan die betekenis van Yongama se naam herinner. To overcome, to overcome...

Dis elke sweetdruppel werd – van hier af kyk jy wyd. Doer in die Indiese Oseaan baljaar ’n walvis.

Ons stap deur ’n klein nedersetting. “Molweni!” groet die inwoners. ’n Paar kinders speel naby ’n kraan. Teen halfdrie kom ons by die luukse Umngazi River Bungalows & Spa. Ons koop tjips en koeldrank by die hotel se winkeltjie. Daarna sit ons en wag op die rivieroewer vir die hotel se motorboot wat ons gaan oorkarwei.

Teen laatmiddag verander die weer dramaties. Wolke pak saam, dit raak koeler, die wind steek op en die golwe swel. Terwyl ons die Mngazanarivier nader vir ons laaste rivierkruising, raak die weer erger. Goodman Tatile, ons bootman, kom van die oorkant af aangestoei deur die wind en golwe.

Die arme man – op die oog af ’n bedremmelde figuur in ’n klein roeibootjie – gaan minstens vier keer moet heen en weer roei om ons en ons goed aan die ander kant te kry.

Goodman Tatile, die trotse bootman op die Mngazanarivier
Die roete loop ook gereeld oor grondpaaie waar jy verby klein nedersettings stap.
Beeste was nog altyd belangrik – of dit nou vir vleis, spesifieke rituele of lobola is. ’n Mens sien dikwels beeste langs die staproete – op die strand of teen ’n heuwel soos hier buite Port St. Johns

Ek klim effens benoud in die wankelrige roeibootjie. Springgety is in volle swang. Halfpad voel ek hoe die gety ons begin trek... diepsee toe.

Ons maak dit net-net tot by die oorkantste rotse. Robert Tatile, Goodman se broer, is byderhand en help ons uit die bootjie.

Goodman lyk poegaai, maar verklaar trots: “I am the ferryman.”

Ons stap langs ’n uitgestrekte manglietwoud met hordes wortels wat bo die water uitsteek – dis glo op twee na die grootste een in die land.

Ná ’n lang en opwindende eerste dag bereik ons die oornagplek teen sesuur waar Nosikele Tatile – einste Goodman se vrou – ons vriendelik ontvang.

In ons slaaphut is die enkelbeddens netjies opgemaak en hier’s selfs ’n muurprop om jou foon te laai. In ’n buitevertrek is ’n stort en spoeltoilet.

Ons smul aan tradisionele kos in Nosikele se sitkamer: vier potte met rys, hoender, kool en aartappels.

Teen 8 nm. is ons in die bed – versadig en tevrede.

Ontmoet Jimmy

 “Die Wildekus is nog nie veel ontwikkel nie; dit lyk soos dit maar nog altyd gelyk het.” Só sê die entrepreneur Jimmy Selani, die gesig van die Wildekus-slenterstaproete. Hy is al sedert 1998 ’n gids op die roete en het in 2013 Wild Tours gestig.

Jimmy woon naby Port St. Johns in die nedersetting Mtumbane.

“Ek het in 1998 gewerk as ’n barbier en ’n advertensie vir voornemende gidse in ’n plaaslike koerant gesien.”

“Ek het ’n paar jaar tevore by die ontvangs van ’n groot hotel in Umtata gewerk en was daaraan gewoond om met mense te gesels. Ek het gegaan vir opleiding, en as gids op hierdie roete begin werk.”

Jimmy is beskeie oor sy aandeel in die roete se ontwikkeling en die feit dat hy al vir meer as 40 gidse, soos Yongama Manjezi, ons gids, help werk skep het.

Hy benadruk die veiligheid van die roete. “Jy sou dit sonder ’n gids kon doen, maar dis nie duidelik gemerk nie.”

Vroeër jare het stappers hoofsaaklik by kampplekke buite die nedersettings oornag. Sedert 2001 bly stappers meestal by mense aan huis – of eerder aan hut.

Dit het gelei tot interaksie tussen stappers van reg oor die wêreld en die inwoners van die Wildekus, meen Jimmy. “Die Pondo’s is van die vriendelikste mense in Suid-Afrika,” sê hy. “Jy kan hier leer hoe hulle leef, hulle gasvryheid en warmte ervaar en ook net kom ontspan, weg van die stadsgedruis.

DAG 2 - 10 km

Mngazana na Tsweleni

Slappap, gebakte eier, brood en tee of koffie is ons stapelvoedsel elke oggend. Ek blaai deur die gasteboek. Hier is dankieboodskappe van oral: Duitsland, Nederland, Spanje, Australië, Amerika...

Vandag is een van ons korter stapdae – net sowat drie uur. Yongama is ’n puik gids. Hy jaag niemand aan nie en deel graag sy kennis oor die natuur en mense. Hy staan stil by ’n boom met verhewe knoppies. “Die plaaslike naam is umlungu mabele. Dit beteken ‘wit vrou se borste’,” sê hy met ’n laggie. “Die wortels help vir tandpyn en jy kan pale maak van die hout.”

Ná ’n lang opdraande bereik ons ’n nedersetting met ’n spazawinkel.

Apiwe Dlotovu hou die fort met onder meer blikkieskos, mieliemeel en blomkool. Hier ontdek ons Bigga Naks, ’n pakkie skyfies wat slegs R1 kos. Dit word oor die volgende paar dae ’n gewilde peuselhappie. Selfs middagete vir die meeste van ons...As jy nie kasies, biltong en tuna ingepak het nie, is dié spazawinkels met beperkte opsies jou voorland. Veral veganiste moet sojaprodukte en neute saambring.

Apiwe Dlotovu in haar spazawinkel in ’n klein nedersetting naby Mngazana.

Die landskap verander voortdurend. Dit is nie net op en af en groen heuwels langs die see nie. Ons stap deur ’n welige inheemse woud en skop later skoene uit onder ’n soetdoringboom.

Teen halfeen kom ons aan by die Tsweleni-nedersetting. Die oornaghut is bo-op ’n heuwel en reg langs die see. Ons gasvrou, Lynette Makhondo, is besig om kool fyn te sny in die kombuis.

Ek en Dian stap na ’n sjebien en koop ’n Zamalek, R19 vir ’n quart (750 ml). Hier aan die Wildekus drink jy ook nie jou quart alleen nie. Nee, jy deel dit.

Zamalek is glo genoem na ’n Egiptiese span wat in die 1990’s vir Kaizer Chiefs in ’n wedstryd oorrompel het en glo so “sterk” soos Black Label was.

Laatmiddag stap ek en Le Roux af strand toe vir ’n swem. Die water is louwarm, die golwe perfek vir bodysurf. Die strand is dolleeg. Dis net ons in die water.

“Hierdie is beter as Zanzibar,” sê Le Roux. Ek was al daar en stem saam.

Voor aandete – hoender met kool, stampmielies en pampoen – gesels ons met Winnifred Makhondo, Lynette se ma. Yongama tolk vir ons.

Winnifred is die matriarg en al byna twee dekades betrokke by die staproete. “Ek het eers net twee hutte gehad, maar soos die inkomste meer geword het, kon ek aanbou,” sê sy. “Die gemeenskap hou van die besoekers. Dis belangrik vir mense van verskillende plekke om mekaar te ontmoet.”

EK HET ’N HUISIE BY DIE SEE. Die blyplek aan die einde van dag 2 by Tsweleni is in ’n hut reg langs die see. Die ablusiegeriewe en kombuis is in twee aparte hutte.

DAG 3 - 14 km

Tsweleni na Hluleka

’n Isuzu-lorrie wat teen ’n bult uitdreun, verklap dis ’n werkdag. Vir die res van Suid-Afrika is dit ’n Maandagoggend, maar vir ons is dit nog ’n dag langs die strande en heuwels.

Teen dié tyd het elkeen sy eie stapritme. Op en af oor heuwels, lang ente op leë strande (hallo, mev. Koei), grondpaaie, nedersettings, Bigga Naks en Lemon Creams vir middagete, heuwels, strande...

Ek bekommer my al hoe minder oor e-posse en WhatsApps wat nog onbeantwoord wag. Ek stap net, een voet voor die ander.

Die kinders hier maak van enigiets ’n speelding. Party gly by heuwels af op ’n stuk karton. ’n Outjie kom aangehardloop met ’n platgetrapte 2 l-Coke-bottel wat hy aan ’n tou sleep.

Baie minder kinders roep “Sweets! Sweets!” vir stappers as toe ek laas hier was. Moet liefs nie lekkergoed uitdeel nie – hier’s nie ’n tandarts om elke hoek en draai nie.

Vandag stap ons dikwels op die strand. Ek hoor hoe Liezel vir haarself sê: “Dit bly net ongelooflik...” terwyl sy ’n foto neem.

Teen halftwee roep ons halt vir middagete by die Hluleka-natuurreservaat se piekniekplek, reg agter die strand. Die reservaat se swemstrand tussen rotse en wildepiesangbome lyk soos iets op ’n brosjure van ’n eilandvakansie.

Weer wonder ek: Waarom sal ’n mens op peperduur oorsese vakansies gaan as jy bloot hiernatoe kan kom. (Juistement! Die chalets by Hluleka kos R476 p.n. vir twee mense – sien Weg #168. – Red.)

’n Mens kan lekker hare natmaak in rotspoele langs die roete
Nokhanyo Jerewiya is die gawe gasvrou by die Hluleka-nedersetting aan die einde van dag 3

Ons oornag in die Hluleka-nedersetting, ’n driekwartier se stap van die reservaat af.

“Ek kan nie onthou wanneer laas ek my gesig gesien het nie,” sê Dian nadat hy gestort het. Die stort is in ’n aparte hut en werk met ’n emmerstelsel: Water word in ’n swartpot gekook en in die emmer met ’n stortkop gegooi, wat jy dan boontoe hys met ’n tou. Jy stort net soos die plaaslike inwoners.

Teen skemertyd kom wys ’n paar kinders vir ons tradisionele danspassies op die grasperk. Reeds vroegaand skyn die sterre helder bo Hluleka.

Die gasvrou, Nokhanyo Jerewiya, bederf ons met onder meer tuisgebakte brood, stywepap en pampoen.

Ek lees later ’n boodskap van ’n Duitser in haar gasteboek: “Dear Nokhanyo, we had such a good rest and sleep on your great mattresses. Your food was most amazing and healthy. Thanks for feeding us your chicken’s eggs. To watch them go to sleep was better than watching TV.”

Op party plekke langs die kus stap jy langs rotsagtige dele met interessante formasies
Nader aan die nedersettings stap jy dikwels op smal grondpaadjies met hutte en klein landerye op die heuwels.

DAG 4 - 18 km

Hluleka na Tshani

Vandag stap ons vér, en daar’s baie tyd vir dink. Ek en Yongama gesels oor die mense van die Wildekus. Jy kan maklik hulle landelike leefstyl verromantiseer, veral in vergelyking met die meer sigbare armoede in plakkerskampe.

Mense hier is arm. Werk bly skaars. Maar hier is ten minste ruimte. Die inwoners is selfonderhoudend en het genoeg om te eet.

Ná sowat ’n uur se stap lê die Mtakatyirivier voor ons. Yongama het vroeër verneem die bootman is soek. As ons nie ’n ander bootman kan opspoor nie, gaan ons vandag ’n hengse ompad moet stap. Die rivier is te diep en breed om sonder ’n boot aan te durf.

“Let’s wait and fluit,” stel Yongama voor. Hy gee ’n harde wolwefluit. Eers is daar net stilte, maar dan blaf twee honde aan die oorkant. Kort daarna waai iemand van die oorkant af. Dis Job Wenene, ons impakspelerbootman. Verligting!

Die res van die dag hou ons strandlangs. Elkeen doenig met sy eie gedagtes.

Teen halfdrie kry ons mekaar op Mdumbi se strand. Dis ’n snikheet middag en ons almal hardloop die see in. Om te dink skaars drie dekades gelede mag ons en die portiere nie eens op dieselfde strand gebaai het nie.

Met ons aankoms om vieruur by die Tshani-nedersetting bring een van ons gashere, Lubabalo Gxala, vir ons varsgebakte vetkoek saam met tee en koffie. Teen die hut se muur hang familiefoto’s en skoolsertifikate. Ek besef ons bly nie in ’n staphut nie, maar in een van die gesin se woonkamers.

Die span portiere en ons gids: Agter van links is Viwe Griffiths, Bongani Adams, Nicholas Ndamase. In die middel is Yongama Manjezi en Frans Magoli, en voor sit Siytahemba Bhenya
Daar is baie geleentheid vir lang ente stap op die strand
Lubabalo Gxala met tuisgemaakte vetkoek by Tshani
Bring jou eie filter­koffie saam vir ’n blaaskans langs die pad.
Wat sê die mense?

Dian Wessels, grafiese ontwerper, Stellenbosch “Dra minstens twee waterbottels saam en maak vol wanneer jy kan. Die spazawinkels is dikwels ver van mekaar af. As jy nie self kos en happies inpak vir middagete nie, gaan dit noodgedwonge bestaan uit Bigga Naks, suigstokkies en ander suikerversnaperinge.”

Le Roux Schoeman, videograaf, Kaapstad “Die hoogtepunte is versprei langs die pad. Dinge soos die honderde klein krappies wat skarrel op die donker modderbank van die manglietbome. Die verlate swemstrand by Hluleka. ’n Lukrake stofpadontmoeting teen skemer met ’n plaaslike drawwer wat vir sy soveelste Comrades oefen. Die gawe woorde gelaat in ’n besoekersboek deur soveel stappers voor ons, teenoor die gashere se kos en blyplek.”

Liezel van Beek, entrepreneur, Stellenbosch “Iets wat ek uit die Transkei wegneem, is dat ek waarskynlik makliker sal leer om tevrede te wees as ek minder het. Volgende keer sal ek ’n paar klein geskenke saamdra om vir elke gasfamilie te gee met die afskeid. Iets funksioneels soos ’n botteloopmaker of skeplepel.”

Catharien Robbertze, projekbestuurder, Kaapstad “Elkeen moet so ’n stap doen om ’n blik op die lewe van ander Suid-Afrikaners te kry. Dié ervaring sal baie vrese by mense laat verdwyn.”

DAG 5 - 10 km

Tshani na Koffiebaai

Ons sit buite en eet vetkoek, slappap en roereier. ’n Paar skape wei langs die hut. Iewers karwei ’n lorrie grond.

Ons stap vir oulaas verby ’n tipiese Wildekus-gesinshotel, die Anchorage Hotel, en dan op ’n lang verlate strand. Daarna vaar ons ’n laaste keer in ’n roeiboot oor die Mthatarivier en stap oor die heuwels tot digby Koffiebaai. Ek sien ’n vrou wat wasgoed trap in ’n skottel terwyl sy ’n WhatsApp-stemboodskap stuur.

By die Welcome to Coffee Bay Beach-bord buite die dorpie groet ons vir Yongama en die portiere. Sjoe, ek gaan hierdie plek en sy mense en geluide mis: Hoenders wat kekkel, honde wat blaf en die bure wat gemoedelik oor en weer gesels. Die vriendelike gasvroue wat jou inwag met ’n glimlag en tuisgebakte brood, warm uit die oond. Die kookwater vir tee of koffie wat minute tevore nog in ’n swartpot oor ’n vuur gekook het. Of ’n yskoue Zamalek.

Hier voel ’n mens tuis: Nie net in die omgewing nie, maar ook in jou eie vel. Dís hoekom ek dié roete weer en weer wil stap. Want in die ou Transkei se hartland word jy opnuut lief vir ons land en sy mense. 

EINDPUNT. Die laaste dag se kilometers snel verby voordat jy die heuwels buite Koffiebaai bereik.
Weet voor jy waai

Hoe werk dinge? Die roete begin op Port St. Johns en eindig vyf dae later op Koffiebaai. ’n Gids, ontbyt, aandete, slaapplek en beddegoed word verskaf. Bring jou eie middagetes en/of kontant vir die spazawinkels (en fooitjies vir die gids en portier). Onthou ook ’n reënbaadjie, sonroom, muskiet- en bosluis-afweermiddel. Bring watersuiweringstablette as jy wil veilig wees, maar ons het goed daarsonder klaargekom met reënwatertenks en kraanwater.

Hoe kom ek daar? As julle tyd min is, kan julle vlieg na Oos-Londen en ’n voertuig huur. FlySafair se vlugte is billik – retoervlugte uit Kaapstad kos vanaf R2 200 p.p. as jy lank vooruit bespreek.

Ry dan tot op Koffiebaai en maak gebruik van ’n plaaslike pendeldiens om tot op Port St. Johns te kom. Ons het R1 800 betaal vir vyf mense se vervoer. Kontak Jola ( 078 322 7777) of Phumzile ( 076 682 9749).

Blyplek?

  • Koffiebaai: Die Five Fishes-gastehuis het slaapplek vir 5 teen R250 p.p.p.n. 065 926 4676.
  • Port St. Johns: Delicious Monster, ’n selfsorghuis met slaapplek vir 8, teen R1 800 p.n. deliciousmonsterpsj.co.za; 083 997 9856

Beste tyd? Jy kan enige tyd van die jaar bespreek, maar die weer is op sy beste tussen April en September. November en Desember is dit reënseisoen.

Koste Dit kos R2 530 p.p. vir twee mense en word goedkoper hoe groter die groep is (maksimum 22 stappers). Ons het R2 280 p.p. betaal vir vyf mense. ’n Portier wat jou sak dra, kos R150 per dag ekstra, dus R750 per stapper. Die portier stap elke dag saam, ’n paar honderd meter vooruit. Jy dra dan net ’n dagsak. Kontak 082 507 2256 (Jimmy); wildcoasthikes.com

Catharien Robbertze, projekbestuurder, Kaapstad “Elkeen moet so ’n stap doen om ’n blik op die lewe van ander Suid-Afrikaners te kry. Dié ervaring sal baie vrese by mense laat verdwyn.”