Dis só stil my ore suis in stereo. Hier bo-op die plato van die Nuweveldberg is die landskap oortrek met groenerige Karoobossies so ver as wat die oog kan sien: kapokbos, rivierganna, ankerkaroo...

Dis dag 3. Ek het al meer as 60 km gestap. Dis báie tyd op jou voete: My kuite is styf en verskeie pyne meld hulle aan.

My slimfoon het dae laas sein gehad. En die dag van die week ontgaan my. Ek dink dis Maandag... Die tydlose landskap rondom jou het geen behae in kalenders of sperdatums nie.

Ek hoor veraf ’n dreuning: ’n Boeing wat waarskynlik nou regs van Sutherland noorde toe mik.

’n Vlug onderweg na Johannesburg waar die tolhekke en raadsale wag en tyd en ambisie in rande gemeet word. Maar vir my het die dag net een taak op hande: ’n Volle 18 km se stap tot by die Kareebos-opstal. Hier in die Groot-Karoo is elke tree ’n voorreg.

Terwyl ek stap, dink ek aan die Amerikaanse skrywer en illustreerder Maira Kalman se woorde: “Go out and walk. That is the glory of life.”

Drie dae gelede het ’n geel Kellogg’s-boks met ’n rooi pyl die opstal op die plaas Rietfontein aangedui waar die groep stappers byeengekom het. Die plaas lê 72 km wes van Beaufort-Wes en grens aan die Karoo- nasionale park.

Douwe Vlok het op Rietfontein grootgeword – hy en sy vrou, Liezl, is aan die stuur van die vier dae lange Heuningland-slenterstaproete.

“Jy’s in die voorportaal van die hemel, Broer,” het Liezl die middag gegroet.

Laataand het ’n IT-kenner, aptekerassistent, boervrou, entrepreneur, afgetrede wetenskaplike, ’n voormalige hysbaktegnikus, digitale bemarker en reisjoernalis om ’n groot vuur gesit terwyl Douwe verduidelik hoe dinge die volgende paar dae gaan werk.

“Jy’s in die voorportaal van die hemel, Broer,” het Liezl die middag gegroet.

Die slenterstaproete strek oor 100 km – jy stap met net ’n dagsak; die res word aangery. Jy stap op grondpad of tweespoorpaaie deur ’n verlate landskap ver van die N1 af. Die roete is ongemerk, maar elke stapper kry flitskaarte met die nodige inligting: waterpunte, opstalle en dies meer. Elke stapper bepaal dus sy eie pas.

“As jy nie lus het vir ’n kwettervinkie nie en op jou eie wil loop, dan kan jy dit doen. Of miskien vind jy aanklank by iemand en gesels ’n hond uit ’n bos uit,” het Douwe gesê.

Douwe het ook vertel van Sylvester, sekerlik Suid-Afrika se bekendste leeu. Ta het in 2015 en 2016 uit die Karoo- nasionale park ontsnap. Met sy eerste ontsnapping het hy 24 dae lank in dié omgewing geleeuloop en tot 30 diere het in die slag gebly. Sylvester is intussen geskuif na die Addo-olifant- nasionale park. Hy is nou die pa van twee welpies!

Die Heuninglandroete volg gereeld op sy spoor. Ek asem ’n diep teug vars Karoolug in.

In die verte hoor ek tog ’n paar skape blêr. Ek en my meisie, Catharien, dek die agterhoede van die roete. Die ander 12 stappers is so ver vooruit, ons sien g’n mens op die landskap wat strek tot waar die aarde ophou nie. Voor sy ontsnapping was Sylvester ’n jaar in aanhouding. Stel jou voor die gevoel van vryheid toe Sylvester deur daardie gat in die park se heining gekruip het. Hoe ligvoets moet hy nie oor hierdie landskap beweeg het nie.

SKAAPLAND. Die Nuweveldberg se plato is ’n tipiese Karoolandskap met skape wat soggens tussen bossies wei.
HEUNINGLANDFAMILIE. Die Vlok-gesin sorg vir alles – van logistiek en etes tot hope gasvryheid. Van links is Douwe-Tempel, Liezl en Douwe. Anan, die windhond, en Jasper, die skaaphond, is deel van die span.
VOETSPA. ’n Windpomp se dam bied yskoue lafenis vir moeë voete langs die pad. Wie het ’n peperduur spa-behandeling nodig?

Dag 1

Rietfontein tot Oukloof 30 km

Vroegoggend staan die Piet Fluit-ketel reeds in die vuur.

Almal help hulleself aan ontbyt: vrugte, muesli, pap en beskuit. Middagete – wat ons saamvat as padkos – is uitgepak op ’n tafel: brood, tamatie, konfyt, oorskiethoender, vrugtesap, muffins en selfs dadelbolletjies. Ek en Catharien val laaste in die pad. Vandag stap jy vir die eerste 6 km in Sylvester se spoor. Sommer ná die eerste paar kilometer besef ’n mens weer hoe goed stap vir liggaam en gees is, veral deur so ’n oerlandskap.

Ná 7,5 km stap ons verby Layton Primêr. Dis ’n Saterdag, maar die kinders is almal in die koshuis en klap ritmies hande: “Vasbyt! Vasbyt! Vasbyt!”

Ek gesels met die matrone, Charmaine Benito.

“Die Karoo is vir my meer werd as ’n stukkie goud in my hande. Die berge is soos ’n inkleurboek en praat elke dag met my.”

Ons stap ’n groot deel van die dag op kronkelpaadjies in die bolope van die Koekemoersrivier. In ’n stadium stap jy deur ’n digte soetdoringwoud (’n woud, in die Karoo!) Ná sowat 21 km kom jy by ’n plaasdam en ’n windpomp uit naby die Oukloofpaspad tussen Beaufort-Wes en Fraserburg.

“Die Karoo is vir my meer werd as ’n stukkie goud in my hande. Die berge is soos ’n inkleurboek en praat elke dag met my.”

Ons lawe ons moeë voete in die koue water. Nog drie stappers kom by die plaasdam aan. “Die stilte is iets om aan gewoond te raak,” sê Bardo Snyman van Vredenburg. “Dit suig jou in, dit is soos ’n vakuum.”

Die laaste 9 km tot by die Oukloofpas is lank en taai. Die grondpad lê voor jou uitgestrek tot teenaan die Nuweveldberg, en daai berg kom net nie nader nie. Later sien ons die eerste voertuig van die dag. “Is julle orraait?” vra iemand uit die bakkie. “Ja, dankie, baie beslis.”

Ons hou aan met stap al langs die draaie van die Oukloofpas tot ons uiteindelik die oornagkamp sien, waar Arnold Steenkamp van Brackenfell ons met ’n yskoue bier verras. Tjorts op 30 km! Die aand dis Liezl ’n smullekker skaapbredie en varsgebakte brood op. Ons gesels tot laat om die vuur. Arnold se vriend Ighsaan Miller van Elsiesrivier vertel op staptogte is Arnold se bynaam “Duiwel” omdat hy so baie van vuurmaak hou. Arnold knik instemmend en gooi nog ’n stomp op die vuur.

“As daar nie ’n vuur is nie, is daar nie liefde nie.”

KAROO-UBER. Buiten ’n boer se bakkie loop jy meestal slegs donkie­karre raak in dié geweste. Hier rond is dit die plaaswerkers se taxi.
PIET FLUIT. Of jy wil koffie drink of skottelgoed of jouself was, dié ketel sal vir warm water sorg.
KAMPKUIER. Net ná sononder is dit tyd vir behoorlik ontspan en terugsit in ’n kampstoel.

Dag 2

Oukloof tot Tweefontein 26 km

Ons stap die res van die Oukloofpas uit.

Bo-op die plato verander die landskap ingrypend: Voor jou lê die oop vlaktes van die Groot-Karoo met nie ’n enkele doringboom in sig nie. In die verte sien ek ’n geel gedrog... Sylvester?

Maar dit is net ’n sementmasjien. Ná sowat 8 km is dit tyd vir middagete naby die plaas Steenkampspoort. ’n Donkiekar ry verby en iemand roep jolig uit: “Oppas vir die bloukopkoggelmander! Hy spring van agter op jou nek en vreet jou ore af!”

Die donkiekar is op pad na die De Hoek-plaas. Bo-op sit Denzel Riekert, Hennie Vrieslaar en hulle gesinne.

“Hierdie is al vervoer wat ons het,” sê Denzel en wys na sy twee donkies, Ruben en Breker (“hy breek alles, hy’s te sterk”). Denzel (24) is deel van ’n nuwe geslag plaaswerkers met ’n donkiekar. “Ek ry nie met ’n bicycle nie, ek span my donkies in. Hulle dra my waar ek wil wees. Ek het nie gedink ek sou lief raak vir hulle nie, maar nou het ek.”

By Steenkampspoort bring die plaaswerker Gert Müller vir ons water. “Ja, ek ken vir Douwe Vlokkies,” sê hy. “Ek is oorspronklik van Fraserburg, maar dis orraait op die plaas. Dis net jy en die natuur. Ek moet werk om my kind in die skool te hou.”

Ons stap aan deur die uitgestrekte niks en later oor ’n sementbruggie waar Sylvester ook gaan draai het. Van die ander stappers sit seker al laag in hulle kampstoele, maar ons stap byna gemaak stadig.

’n Mens het nie aldag soveel alleentyd op ’n staproete nie. By Tweefontein se opstal, ons slaapplek vir die aand, is die stappers in ligte luim – ons het reeds 56 km gestap! Net Ernst Brunke van Bellville, wat met stapstewels stap, het lastige blase – die res van ons stap met veldloopskoene. Gelukkig is hier ’n moeitelose ubuntu tussen stappers, en Lynette Bothma, ’n aptekerassistent van Vredendal, behandel die blase. Later gesels ek en Liezl oor die Karoo.

“Daar is genesing vir ’n mens se binnelandskap in die stilte en wydheid en grootheid van die Karoo,” sê sy. “Ek glo as jy lank genoeg op ’n ysterklip kom sit en oor die vlaktes kyk, dan onthou ’n mens nog die oerheid van die aarde.”

Daar is genesing vir ’n mens se binnelandskap in die stilte en wydheid en grootheid van die Karoo.

Dag 3

Tweefontein tot Kareebos 22,5 km

Ná sowat 8 km se stap verby klassieke Karoo-tonele –populierbome wat in ’n plaasdam weerkaats, ’n windpomp wat kreun – wink die boer Nigel Peddie by die plaas Koppieskraal ons nader. Ons drink ’n koffie (met bokmelk!) saam met hom en sy vrou, Mary.

Nigel het lank in die Vloot by Gordonsbaai gewerk. Koppieskraal is hulle aftreeplaas, maar hy boer ook met skaap en nguni’s. “Dis die beste plek in die wêreld,” sê Nigel. “Dis skoon, hier is geen verkeer nie en baie min misdaad. Jy werk met diere en veld en die natuur. Jy moet vir jouself sorg, wat goed is.”

Van Koppieskraal af daal ons af na die bolope van die Leeurivier. Die terrein raak mettertyd meer bergagtig. Donderwolke pak saam en die reën haal ons in oor die laaste paar kilometer na ons kampplek by die plaas Kareebos.

Reën in die Karoo is altyd ’n gebeurtenis. Alles ruik nuut en vars. Ons sit in ’n klein klipvertrek, met die gerusstellende geluid van reën op ’n sinkdak. Toe die reën ophou, skuif ons kampvuur toe. Liezl maak spaghetti bolognese en nóg ’n varsgebakte brood staan gereed om gesny te word. Ons eet soos konings in die Karoo.

Dag 4

Kareebos-Rietfontein 23 km

“Hierdie is die eerste lang stap wat ek alleen doen,” vertel Louise Smit van Wellington my vroegoggend. Haar man van die afgelope veertig jaar is in Januarie oorlede.

“ ’n Mens mis jou maatjie. As ons so gestap het, het ek altyd sy hand vasgehou. Maar ek het besluit ek gee vir myself vier dae om te stap. En elke dag is ek met een van my vier kinders in my gedagtes besig wat ek op die Here se skoot sit.”

Ná sowat 5 km volg ons die aanwysings na ’n ou korbeelhuisie, nog ’n Karoo-ikoon in hierdie wêreld – die trekboere het dié igloe-agtige veldhuisies in die vroeë 1800’s gebou.

Op pad soontoe loop ons ’n ander stapper, Merwe Erasmus van Eversdal, raak wat met ’n laggie sê: “Ek sou sê dis soos die Sacré-Cœur in Parys: As jy daar is, moet jy gaan kyk.”

Later sien ons die heining en ’n hek van die Karoo- nasionale park links. Ons kom nou al hoe nader aan die plek waar Sylvester twee keer vryheid geproe het. Douwe het die plek in die grondpad met ’n “S” en ’n pyl gemerk. Dit voel gepas dat jy op die laaste dag by die Sylvester-baken verbystap. Hoeveel van ons voel, nes Sylvester, vasgevang in ’n plek?

Op ’n stap soos dié is dit asof jou gedagtes deur daai denkbeeldige heining kruip. En ’n mens voel vir ’n slag vry en dat die wêreld ’n plek vol nuwe geleenthede is. Laatmiddag sien ons weer die geel Kellogg’s-boks. Teen dié tyd voel Douwe en Liezl soos familie, en hulle plaas na huis. ’n Mens kan nie help om dankbaar te wees vir die twee mense wat hulle stuk Karoo so gul deel nie.

“Dis een van daai goed wat jy nie kan oorvertel nie, jy moet die Karoo self kom beleef,” sê Liezl toe ons vir oulaas koffie drink. “Die Karoo gee vir elkeen op sy tyd net genoeg sodat jy weer die lewe vierkantig in die oë te kyk.”

Dis een van daai goed wat jy nie kan oorvertel nie, jy moet die Karoo self kom beleef.

Wat sê die mense?

Ernst Brunke, afgetrede wetenskaplike, Bellville. “Ek sal altyd onthou wat die Vloks aan die einde van die staptog vir ons gesê het: “Julle is nou meer as net stappers wat ons besoek het – julle is nou ons vriende en enige tyd wel-kom om te kom kuier.”
Louise Smit, boer, Wellington. “Die eenvoud van die paar dae sal my altyd bybly. Miskien is dit hoe die lewe eintlik moet wees en voel?”
Ighsaan Miller, afgetrede hysbaktegnikus, Elsiesrivier. “Die Karoo is ’n ervaring wat jy nie kan beskryf nie. Ek het onmiddellik verlief geraak op die plek, en oorweeg dit om Karoo toe te trek.”
Merwe Erasmus, bestuurder van voedselfabriek, Eversdal. “Die lang, plat stukke op gewone grondpaaie was vir my ’n negatiewe faktor."


KYK WYD. Op dag 4 strek die stilte so ver as wat die oog kan sien. Jy kyk hier in die rigting van Sylvester se vorige tuiste, die Karoo-nasionale park buite Beaufort-Wes.
STAPMAATS. Louise Smit van Wellington en Anli Engelbrecht van die Strand het dikwels saam gestap en heelwat herinneringe gedeel.
BOERETROOS. Mary en Nigel Peddie van die plaas Koppieskraal het hier in die Karoo kom aftree. Loer op dag 3 by hulle in vir ’n koppie koffie.
Weet voor jy waai

Hoe werk dinge?

Jy stap vier dae net met ’n dagsak met peuselhappies, middagete, water en iets warms.

Douwe en Liezl ry julle tente, kampstoele, beddegoed en klere aan na die oornagkampe op private plase in die omgewing. Jy slaan self jou tent op en af. Hulle stel die “kombuis” en ’n buitetoilet op en berei al die etes voor. Jou “bad” vir die vier dae is ’n roomysbakkie met warm water.

Wat pak ek in?

Elke stapper mag twee middelslag-PEP-plastieksakke met ritssluiters saambring. Hierin moet al jou klere, tent, beddegoed en matras pas.

Bring die volgende saam: opvoustoele, sonhoed, mus, waterbottel, koplig, eetgerei, Wet Wipes, Ziplock-sakkies, toiletsakkie, kamera en verkyker, peuselhappies en drankies Dra veldloopskoene eerder as stapstewels.

Wanneer?

Die 2019-datums is:
30 April - 4 Mei
6-10 Mei
30 August - 3 September
5-9 September 

Koste

R3450 p.p. (dit sluit vier nagte en drie etes per dag in)

Kontak

072 243 5251; heuningland.cominfo@heuningland.com


Lees Erns se onderhoud met Liezl Vlok, waar sy gesels oor haar liefde vir die Heuningland-staproete en die Karoo.