Soos ’n mens van Johannesburg se kant af met die N4 langs Mbombela (Nelspruit) toe reis, groet jy die Hoëveld die oomblik wanneer jy deur die tonnel naby Emgwenya (Waterval-Boven) ry. Dis as’ t ware jou poort tussen die koue eskarp en die soel Laeveld. Of verruil die N4 vir die R539 en benader die Traeveld (dié rustige streek se gepaste bynaam!) oor die Schoemanskloof, waar berge, riviere en sitrusboorde jou welkom heet.

Die meeste reisigers beskou Mbombela as die laaste buitepos voor jou vakansie in die Kruger of Mosambiek. Hier kan jy vir oulaas kruideniersware aanskaf, geld trek en ’n Wimpy-koffie bestel. Maar maak gerus volgende keer dié Laevelddorp en omstreke jou eindbestemming. Hier’s baie om jou mee besig te hou – van perdry by Kaapsehoop tot roei op die Da Gamadam of joga in ’n bamboeswoud.

1. Schoemanskloof Retreat

Vir die meeste mense is Schoemanskloof net ’n vallei waardeur ’n teerpad loop en dít is ’n jammerte. Want jy’s geneig om verby te haas en dálk gou by die Joubert & Seuns-padstal in te loer. Draai volgende keer sowat 3,6 km voor die padstal (soos jy uit Gauteng kom) af na die Falls-visplaas op linkerhand.

Dis hier, oorkant die Krokodilrivier, waar jy die Schoemanskloof Retreat aantref. Dié onderneming is al vier dekades in Myron Cort se familie wat boer met siervisse soos koi- en goudvisse, en meer onlangs ook tilapia. Die visboerdery lê aan die onderpunt van die 184 ha-eiendom terwyl die blyplekke hoog bo in die berge versteek is.

Die Bakoni Hide-away se growwe klipmure is geïnspireer deur die ruïnes van sirkelvormige klipkrale wat ’n mens oral in die Laeveld aantref. Dié nedersettings van die Bakoni-stam is in terrasse gebou, mooi versier en dateer uit ’n pre-koloniale tyd.

Die huis se uitleg is ’n groot oopplanvertrek waar gaste ontspan, slaap en kosmaak (hier’s ’n gasstoof en sonpanele vir warm water en ligte) met ’n aparte badkamer. Die koningsgroot bed kan uitskuif tot twee enkelbeddens en ’n leertjie lei na die solder waar kinders kan slaap. Danksy groot vensters en glasskuifdeure kan bykans die hele voorkant van die huis oopgemaak word vir natuurlike lig en ’n lekker bosgevoel.

Die Mountain Pondokkie is effe donker binne. Dis te verstane gegewe die huis uit die 1800’s dateer – iets wat jy dadelik van die dik klipmure aflei! Dit was in die ou dae glo ’n herberg langs die ossewaroete wat Lydenburg, Nelspruit, Komatipoort en Delagoabaai (Maputo) met mekaar verbind het. Die huis het slaapplek vir ses, en ’n omheinde tuin wat dit troeteldiervriendelik maak.

“Ons berei piekniekmandjies vir gaste voor,” vertel Melissa Adey, “daar is heelwat mooi kolle in die ruigtes waar jy jou met ’n mandjie vol peuselkos kan uitstrek. Partykeer bring besoekers hulle eie eetgoed, maar ons bestel ook vir hulle iets by Marian Cottle van Old Joe’s Kaia in die Kloof.” (Marian is danksy haar vegankookkuns ’n bekende in die Laeveld.)

“Ons berei piekniekmandjies vir gaste voor,” vertel Melissa Adey, “daar is heelwat mooi kolle in die ruigtes waar jy jou met ’n mandjie vol peuselkos kan uitstrek."

Wat nog? Die Retreat het agt stap- of fietsryroetes waarvan party na stroompies en watervalle lei. Kyk op die roetekaart in jou huisie waarlangs jy wil koers kies. En beloer ook die spesielyste van voëls en natuurlewe wat jy hier kan sien. (Ek het ’n skugter sivetkat gewaar!)

Koste: R1 100 p.n. vir 2 mense in die Bakoni Hideaway of Mountain Pondokkie, plus R250 per ekstra persoon. Betaal ’n eenmalige skoonmaakfooi van R150 vir die Pondokkie as Wagter wil saamkom.

Waar? 45 km wes van Mbombela, in Schoemanskloof met die R539 langs. Jy het ’n voertuig met goeie grond-vryhoogte nodig vir die bergpad na die blyplekke toe, andersins sal die eienaars jou met hulle 4x4 soontoe neem. Die pad is veral ná reën moeilik begaanbaar.

Kontak: 079 885 3509; schoemanskloofretreat.co.za

2. Killarney Farm House

Die eienaars van dié herehuis woon in Engeland en hulle kom slegs een keer per jaar ’n draai maak op hulle avokado-en-makadamiaplaas. Die res van die tyd is die luukse selfsorghuis (met slaapplek vir 14 in 7 kamers) te huur vir troues, werksessies en enigeen wat ’n bietjie ontvlugting soek.

Hier’s ook ’n “kothuis” wat byna net so groot soos ’n woonhuis is, met slaapplek vir 6 gaste in 3 kamers. Die kothuis staan in ’n oopte tussen groot bome, en van die groot stoep af het jy ’n uitsig oor die tuin en die berge. Albei huise staan aan die oewer van die Statsrivier en die kort Hippo Pool-wandelpad neem ’n mens tot by ’n uitkykpunt waar jy rustig op ’n bankie kan sit en oor die waters tuur.

Killarney is ’n gewilde toevlugsoord vir mense wat hulleself weer ’n slag wil vind, vertel die bestuurder, Kerri Dunshea: “Ons begin vroegoggend met joga om die mense se kreatiwiteit aan te wakker. Dan volg ’n kunssessie. Dit is ’n bietjie soos Eat Pray Love,” sê sy laggend. “Ons gee mense die geleentheid om asem te skep.”

Dit is ook die rede waarom die huise nie ’n televisie of Wi-Fi het nie. Selfs selfoonontvangs is wankelrig. Maar wanneer ’n mens hier vertoef, wil jy in elk geval nie afleiding hê nie.

Kerri is ’n joga- en dansinstruktrise en skilder graag waterverftekeninge van die Laeveld se fauna en flora. Rondom die huise lê 30 ha ongerepte bos, en die nabygeleë Mount Carmel-bewaringsgebied se diere kom en gaan soos hulle wil.

“Hier’s ’n magdom loeries, bosuile, gevlekte ooruile, suikerbekkies en visvangers, asook sivetkatte, rooikatte, witkwasjakkalse, rooiduikers, grysduikers en bosbokkies. En jy sal beslis saans die nagapies hoor roep.”

Die Mankele-fietspark se bergfietsroetes is slegs 15 km hiervandaan en jy kan selfs van Killarney af met agterpaadjies langs trap en by hulle roetes aansluit – reël net vooraf vir toestemming.

Wat nog? Killarney het ’n joga-ateljee en ’n oop platform in ’n bamboeswoud waar jy jou matjie kan ooprol of selfs ’n massering geniet. Die herehuis het ’n swembad met ’n houtdek vir sonbaai; kothuisgaste mag dit gebruik wanneer die herehuis nie bespreek is nie.

Koste: R665 p.p. vir die kothuis (minimum 2 gaste p.n.); R770 p.p. vir die herehuis (minimum 6 gaste p.n.). ’n Halfuurmassering (kop, nek en skouers) kos R250 en ’n uur lange vollyfmassering R420.

Waar? 30 km noordwes van Mbombela. Volg die Rosehaugh-pad van die N4 af.

Kontak: 082 573 3372; killarneyfarmhouse.co.za

3. The Fig Tree House

Wanneer laas was jy in ’n boomhuis? Die Fig Tree House is die hele gesin se speelplek, hoewel ouers dalk ’n ekstra ogie oor avontuurlustige kleingoed moet hou...

Dié twee verdieping hoë struktuur is tussen die takke van ’n enorme wildevyeboom, met die onderste vlak wat op ’n groot rots rus. Slaapplek vir ses mense is versprei op verskeie platforms en wanneer ’n mens hier oornag, voel jy nes ’n voël in ’n nessie!

’n Mens klouter met ’n leertjie van jou nes af na die “leefvertrek” wat ’n dak, maar geen mure het nie. Ónder die leefvertrek is ’n kombuis en braaiplek – dié is ’n bietjie meer beskut, maar het steeds twee vensters wat ’n mooi uitsig oor die vallei se boomtoppe verseker. Van die kombuis af loop ’n plankiespad tot by ’n skuiling tussen rotse; hier is ’n toilet en ’n warmwaterstort.

Slaapplek vir ses mense is versprei op verskeie platforms en wanneer ’n mens hier oornag, voel jy nes ’n voël in ’n nessie!

Die eienaar, Theunis du Plessis, sê hy het oor ’n boomhuis begin droom toe hy in 2009 plek in ’n lekkerruikpeul vir hom en sy vrou, Marique, bespreek het; dit was hulle vierde huweliksherdenking.

Hulle hou albei van bome en Theunis het al jare sy oog op dié gewone wildevy op die plaas. Eers was die boomhuis net ’n houtdek waarop ’n tent staangemaak kan word. Mettertyd is nog platforms bo en onder gebou totdat dit uiteindelik dié opelug-meesterstuk geword het!

Die plaas, Daarbo Boerdery, lê in die Krokodilpoort-bewaringsgebied en hoewel hier met makadamias, lemmetjies en suurlemoene geboer word, is die omgewing rondom die boomhuis nog pure Bosveld.

Voetpaadjies lei na koppies, ’n kloof en ’n tweede braaiplek bo-op ’n kliprantjie waar die omliggende rotse ’n natuurlike boma vorm. Hou jou oë oop vir bosbok, koedoe, rooibok, vlakvark, tierboskat, blouaap en bobbejaan.

Wat nog? Die beddens het muskietnette, maar ’n mens moet jou eie beddegoed saambring (of huur).

Hier is krag vir die kombuis se ligte en yskas (maar jou selfoon, iPad en kamera moet jy liefs gelaai saambring) en die huis is ook toegerus met breekware, messegoed, braaitoerusting en gefiltreerde drinkwater. In die sitkamer is voëlgidse, boomboeke en ’n verkyker – jy kan die omgewing sommer net daar van die rusbank af bespied!

Koste: R1 200 p.n. (slaapplek vir 6). Daarbo het ook onlangs ’n kampterrein by ’n dam bygekry: R1 200 p.n. (maksimum 30 gaste).

Waar? Sowat 40 km oos van Mbombela oor die N4 (rigting Malelane), in die Krokodilpoort-bewaringsgebied.

Kontak: 072 035 5685; thefigtreehouse.com

4. Kaapsehoop Horse Trails

Net buite die dorpie Kaapsehoop lê ’n private konsessie van 170 km² op die Drakensbergse platorand. Dit behoort aan die Berlin-bosboustasie, maar slegs die helfte van die grond is beplant – die res is ruwe veld vol woude en klowe.

En dis hier waar Christo Germishuys in 1994 Kaapsehoop Horse Trails begin het. Wanneer ’n mens deur die plantasies ry, sien jy hom dalk op sy ysterperd verbyskiet, die ene spoed en lang hare.

Christo is ’n voorstander van die opleidingstegniek natuurlike ruiterkuns. “Dis ’n sagter, sielkundige benadering eerder as ’n fisieke een,” verduidelik hy. “Jy werk met die perd se kop. Hoekom sê mense ’n perd moet ‘ingebreek’ word? Waarom wil jy iets in die dier se wese bréék?

“Hulle sê ons soort is horse whisperers... ek weet nie daarvan nie – soms skree ek wel op hulle,” erken hy met ’n vonkel in die oog. Kaapsehoop Horse Trails het ’n kampplek, selfsorg-blyplek en perderitte.

Christo loop al ’n láng pad met die perde. Dié diere boei hom nog altyd, en hy ry al sedert hy 14 jaar oud is. Hy’ t in Europa en Engeland met perde gewerk en ook 14 jaar by ’n teelprogram in Pelgrimsrus, waar hy Ponies Krantz begin het. Waarom die skuif hierheen? “Dis nie omdat Pelgrimsrus nie vir my mooi was nie – hier het ek net eenvoudig meer spasie en vryheid.”

Ons gesels draai na die stuk of 200 wilde perde wat rondom Kaapsehoop hou. Die romantiese naam vir hulle is “wilde perde”, verduidelik Christo. Die perde is glo die nasate van perde wat ná die 1800’s se goudstormloop en die Anglo-Boereoorlog in die omgewing agtergebly het. “Dus is die Engelse beskrywing feral horses meer in die kol. Want hoewel die perde al baie jare hier ronddwaal, is hulle nie wilde diere in die ware sin van die woord nie.”

Soms kom sluit feral horses by Christo se trop aan. “Ek vang hulle nie. Maar as ’n hingsvul bly, sal ek hom oplei. Wanneer so ’n hings met die trop se merrie inmeng, sal die dekhings hom gou verjaag. “Maar omdat perde sosiale diere is, sluit daai hings dan by die trop aan van ander hingste wat uitgeskop is.”

Die perde is glo die nasate van perde wat ná die 1800’s se goudstormloop en die Anglo-Boereoorlog in die omgewing agtergebly het. “Dus is die Engelse beskrywing feral horses meer in die kol. Want hoewel die perde al baie jare hier ronddwaal, is hulle nie wilde diere in die ware sin van die woord nie.”

Christo reken perde is van die mooiste diere. Maar vir hom lê hulle skoonheid dieper.

“Die gesegde lui ’n hond is die mens se beste vriend. En dis waar – jy sal nooit ’n perd kry wat só getrou soos ’n hond is nie. Maar perde het al soveel meer vir die mensdom beteken; hulle het ons na die uithoeke van die aarde gedra.”

Wat nog? Hier’s drie bosbouhuise (met hoë plafonne en houtvloere) wat in selfsorgeenhede omskep is. Die Guest House (een van Berlin se oudste huise wat uit 1937 dateer) het slaapplek vir 6 mense. Die Trail House het slaapplek vir 12 en die Stable House vir 4.

Jy kan ook jou tent tussen die aalwyne in die tuin opslaan. Op die perseel is talle van Christo se metaalkunswerke en houtbeelde, en ’n klompie regop rotse herinner ’n mens nogal aan Adam’s Calendar by Kaapsehoop. Hier vind gereeld opskoppe plaas en oor Nuwejaar kan jy saam kom partytjie hou.

Koste: Guest House: R2 500 vir die eerste nag, met goedkoper tariewe hoe langer jy bly. Stable House: R400 p.p. Trail House: R390 p.p. Kamp: R150 p.p. ’n Uur lange perdryles kos R320 vir gaste. (Dagbesoekers betaal R350).

Waar? 36 km suidwes Mbombela, in die Berlin-plantasie (7 km van Kaapsehoop af).

Kontak: 076 108 0081; horsebacktrails.co.za

BESPREEK DÍT

Mariska Redelinghuys, perdtoergids “Kaapsehoop Scootours is ’n avontuuruitstappie vir die hele gesin.

Jy gly teen die Battery Creek-ravyn af op ’n niegemotoriseerde Monster Mountain Scooter deur plantasies en verby interessante rotsformasies en eindig by ’n rotspoel.” 

5. Wolhuter House

Dié huis aan die Da Gamadam is skaars 35 km se ry van die Kruger se Numbi- en Phabeni-hek af. Dis g’n wonder dat die befaamde natuurlewefotograaf en filmmaker Kim Wolhuter dít as ’n tuiste verkies wanneer hy nié saam met sy vrou, Saskia, en hulle dogter, Kiki, iewers in die veld flieks maak nie.

Kim het tussen Witrivier en die wildtuin (waar sy pa hoofveldwagter was) grootgeword en woon nou op die Hulala-landgoed wat eintlik ’n klein natuurreservaat is.

Van die eiendomme het slegs in vakansietyd mense, kinders ry fiets op die grondpaaie en die atmosfeer is rustig. Die terracotta huis smelt saam met die omgewing, en die tuin met aalwyne en nabome.

Van die swempad se houtdek af het ’n mens ’n uitsig op die dam. Binne is die huis versier met van Kim se natuurfoto’s. Ek sal beslis nog lank die een onthou van ’n jong jagluiperdwyfie wat aan Kim se tone knabbel. Hy’t dié foto in 2016 in die Mashatu-wildreservaat in Botswana geneem terwyl hulle ’n dokumentêre fliek gemaak het.

“Toe ek die eerste keer uit my ryding klim, het die katte laat spat,” onthou Kim. “Maar ek het ses weke by hulle deurgebring en nooit opgegee nie.” Dít is waarom sy werk só uitsonderlik is: Kim bring maande lank in die veld deur saam met sy voorwerpe en só ontstaan daar mettertyd ’n verhouding tussen mens en dier, en die diere begin gemaklik voel in Kim se teenwoordigheid.

Wat nog? Hier’s wandelpaaie en ’n mens kan vir ’n drankie of ete by die Hulala Lakeside Lodge (ook op die landgoed) inloer. Vra oor die huur van toerusting vir wateraktiwiteite. Die lodge was gesluit tydens die nasionale inperking, maar gaan loer gerus by hulala.co.za.

Indien Kim se natuurfoto’s jou genoeg inspireer dat jy die Kruger wil invaar om links en regs diere te kiek kan jy by Hilton Kotze toerusting huur; hy hanteer die huisbesprekings. Hilton is die eienaar van Africa Photographic Services in Mbombela, wat ook begeleide fotografie-uitstappies aanbied.

africaphotographicservices.com

Koste: R1 950 p.n. (slaapplek vir 4)

Waar? Sowat 45 km noord van Mbombela met die R40 in Hazyview se rigting. Die landgoed deel ’n toegangspad met die Hulala Lakeside Lodge.

Kontak: 082 823 6059; holidayrentalhomes.co.za (Kyk onder die gelyste eiendomme op die hoofblad.)

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook