PEDRO EN MAGDALEEN NIEMAND, Pretoria: 

Tien uit tien vir die brief van Johan Hattingh in die Junie-uitgawe van WegSleep waar hy vra waar al die ou woonwaens is.

Ons kamp met ’n 1987 Wilk Topaz wat ons met ons 1999-model Mercedes-Benz sleep. Albei het reeds heelwat myle op, maar ons het geen klagtes nie. Ons het wel die wa meer modern ingerig. Die twee enkelbeddens en hangbeddens het plek gemaak vir ’n eilandbed.

Die sitkamer was voldoende, maar ons het al die gas in die kombuis weggedoen. Ons het ook plek gemaak vir ’n groter yskas, ’n mikrogolfoond én die elektriese stoof. Ons het die badkamer gegroet en in sy plek het ons nou ’n klerekas met hope pak- en hangplek. Aan die buitekant het ek die agtervenster met ’n soliede paneel vervang en woonwaskuiwers op die Wilk gemonteer. Ek het ook ’n trukamera agter by die stert aangebring. Met dié veranderinge bly ons ouer woonwa ’n nuwer woonwa!

Bieliebrief

Pedro en Magdaleen wen Coleman se Cooler Combo én ’n Divide+-700 LED-flitslig, alles ter waarde van R2 498!

Die Cooler Combo bestaan uit drie koelbokse wat onderskeidelik 1,3 l, 4,7 l en 51,1 l hou. Jy kan tot 85 blikkies koeldrank in die groter houer pak en 6 in die kleiner een.

Die houers is gemaak van poliuretaan wat isolasie tot 30% verbeter. Die Divide+-700 LED-flitslig skyn 110-330 m ver, afhangend van die verstelling. Die flits het ’n BatteryLock-stelsel wat sorg dat die batterye nie afloop as jy dit nie gebruik nie. Hy weeg 433 g en is gemaak van geanodiseerde aluminium.


Lees die res van ons lesers se briewe in die November-uitgawe hier.