Dis 1913 en kaptein Raleigh Napier Kelsey (33) droom groot. Hy wil die eerste mens wees wat met ’n motor van Kaapstad na Kaïro ry, ’n tog van 7 500 myl (sowat 12 000 km) deur woeste Afrika. Toe was dit net so uitdagend as wat ’n reis na Mars vandag is. 

Kelsey het geskat die reis behoort agt maande te neem. Agt maande ná sy span se vertrek uit Kaapstad was hy dood. 

’n Motor der motors 

Die Skotse motormaatskappy Argyll bou gratis ’n motor spesifiek vir die reis. Dit word op rowwe paaie in Argentinië getoets en die maatskappy spog die enjin kan selfs onder die water werk. ’n Soortgelyke motor is deur Loch Lomond in Skotland deur 1 m diep water gery om te toets of die motor dit sal maak. 

Die Argyll was 2,2 m lank met ’n eienaardige bakwerk. Dit het bestaan uit twee kakiekleurige staaldoppe wat van die onderstel af gelig en aan mekaar vasgebout kon word om ’n klein pont te vorm. Dié pont had ’n drakrag van drie ton en die hoop was om ’n rivier te kan oorsteek. Tydens toetse in Engeland sink die motor in sy pontgewaad – tog word dit so gehou.

Die wiele is 40 duim (meer as ’n meter) in deursnee en die noodwiel kon aan die gewone wiele vasgebout word vir ’n breër loopvlak in sand of modder.

Dit word op rowwe paaie in Argentinië getoets en die maatskappy spog die enjin kan selfs onder die water werk...

Die Argyll se enjin kon 25-30 perdekrag opwek. Hoewel sy een van die eerste motors is met remme voor, was dit steeds te betwyfel of dit ’n voordeel was in die bosse van Afrika.

Die motor se brandstofverbruik is tien myl per gallon in Engeland, in Suid-Afrikaanse toestande was dit nader aan ’n gallon vir elke drie myl. In vandag se terme is dit ’n 90 liter per 100 km en dit teen meestal stapspoed!

’n Hoë groen tent oor die hoepels of kappe moes die insittendes en hulle bagasie, toerusting en proviand beskerm. Die Argyll was soos ’n ossewa met ’n enjin. Noodvoorrade is agter in ’n groot sleepwa vervoer.

Kelsey se vermoënde pa sou die tog befonds, maar dit was nie naastenby genoeg nie. Die Londense The Daily Telegraph betaal vir eksklusiewe regte om oor die reis te skryf. Alles is haarfyn beplan, kos en brandstof is vooruit gestuur na Bulawayo, Abercorn, Tabora, Kampala en Khartoem. Buiten die vasgestelde bestemmings was niemand seker hoe die roete gaan loop nie, want betroubare kaarte het nie bestaan nie.

Die span

Saam met Kelsey reis John M. Gilliland, ’n verslaggewer van The Daily Telegraph. Sy taak is om ’n wetenskaplike verslag oor die roete op te stel, en moontlike gebiede te bepaal wat bewoonbaar is. John C. Pickersgill-Cunliffe, die span se verkenner, ry vooruit op ’n Triumph-motorfiets om Gilliland by te staan.

Angus Macaskill van die Argyll-motormaatskappy was die enigste wat die motor kon bestuur – én belangriker nog – dit kon herstel. Nog ’n spanlid is die graaf Cornegliano wat vooruit gestuur is na Noord-Rhodesië (tans Zambië) om brandstof te reël. James Scott-Brown, die kameraman, neem ook ’n rolprentkamera saam. Hy was ’n pionier op die gebied van nuusfilms.

Voordat die Argyll uit Skotland weg is, is dit deur die hertogin van Argyll gedoop tot “Louise van Argyll”. Macaskill doen Buckingham-paleis in Londen aan. Koning George V gesels met lede van die span en inspekteer die motor. In Fleetstraat word die motor voor The Daily Telegraph se gebou parkeer. Die polisie moet die skare nuuskieriges van die motor af weghou.

Kelsey kom vroeg in Augustus 1913 per skip in Kaapstad aan en die motor kort daarna op nog ’n skip. Kapenaars kon in die vertoonlokaal van die motorhandelaar Benjamin & Lawton na die Argill gaan kyk en selfs daarin klim.

Kaapstad se ervare motoriste skud net hulle koppe oor dié gevaarte. Dié lomp wa gaan mos net moeilikheid optel!

Laat die avontuur begin!

Die Argyll en die span vertrek op 29 Augustus van die Kaapstadse stadsaal af. Hulle wou die eerste aand in die Paarl oorslaap.

Die Argyll ry net ’n paar myl van die reis van 7 500 myl voordat die verkoeler oorverhit. By Parow gee die bande probleme en die span slaap in ’n hotel in Kraaifontein. 

Die volgende dag is Cunliffe vooruit na die Paarl, maar die Argyll daag eers die dag daarna op. Kelsey besef die motor is heeltemal te swaar. Die sleepwa – met tente, komberse, onderdele en ander toerusting – is per trein na Broken Hill (tans Kabwe in Zambië – sowat 140 km noord van Lusaka) gestuur.

’n Grofsmid haal onder meer die staaldoppe, waarvan ’n pont gemaak kon word af en toe is die motor twee ton ligter – dit het oorspronklik vyf ton geweeg. Die verkoeler is Kaapstad toe vir herstelwerk.

Die tog van die Paarl na Beaufort-Wes neem drie dae. Van paaie was daar meestal nie sprake nie en hulle volg die waspore. Die drie dae wat Kelsey gemeen het hy sou neem om van Kaapstad af Johannesburg te bereik, rek na 20 dae. ’n Johannesburgse koerant beskryf die motor as ’n unsuitable monster.

Tien dae ná hulle vertrek uit Johannesburg verfilm Scott-Brown die Argyll se aankoms in Bulawayo voor Rhodes se standbeeld. Hulle vorder nou vinniger en ry een dag selfs so ver as 150 km. 

Hier kom moeilikheid...

Die 340 km lange tog van Bulawayo na Wankie – nou Hwange – is ’n nagmerrie. ’n Sewe weke lange nagmerrie. Die span se kos, petrol, geld en veggees was aan die opraak. 

Die geselskap verlaat Bulawayo op 17 Oktober – die motor is nou swaarder gelaai as voorheen. Vorentoe sou nêrens hulp wees nie en hulle moes genoeg gereedskap en onderdele saamneem. Die ou wapad wat hulle volg, is in ’n erge toestand en verdwyn selfs plek-plek. Die spore is misleidend en lei soms na ’n afgeleë plaas of ’n spoorwegsylyn. 

Die Argyll se onderstel is 13 duim (33 cm) van die grond af; dus moet groot klippe en rotse eers uit die pad gehaal word. Vir ossewaens was dit niks. 

Die teëspoed ry die span: Hulle sit vas in riviere, ’n boomstomp steek ’n gat in die onderkant van die petroltenk, hulle word begrawe in ’n smal driffie, die stuurstang buig, Macaskill kry griep en geelsug... Op pad moet hulle bome afkap, rotse met hamers stukkend kap, en verspoelde gate vul. En dis wárm.

Uiteindelik in Wankie aangekom, moes hulle vier weke vertoef nadat die agteras gebreek het.

Die teëspoed ry die span: Hulle sit vas in riviere, ’n boomstomp steek ’n gat in die onderkant van die petroltenk, hulle word begrawe in ’n smal driffie...

Macaskill raak so siek dat Kelsey hom met ’n trein terugstuur Kaapstad toe. Blykbaar het hy die dodelike swartwaterkoors as gevolg van malaria opgedoen. Hy het egter wonderbaarlik binne drie weke herstel.

’n Werktuigkundige van die Wankie-steenkoolmyn, Ewain Wilson, neem Macaskill se plek in. Kelsey stel ook agt draers met ’n leier aan om die las te verlig. ’n Boesmangids het die motor telkens by die vlakste drif van ’n rivier gebring. 

Sowat 100 km van die Victoriawaterval af raak die brandstof op. Die draers is vooruit gestuur en daag ses dae later met die brandstof op. Net ná hulle aankoms op die dorpie Livingstone in Zambië begin die reënseisoen.

Hulle tente is uit die Paarl per trein gestuur na die dorpie Broken Hill (vandag Kabwe) sowat 600 km verder noord. Elke man het net die klere aan sy lyf, ’n ekstra hemp, broek, een paar sokkies, ’n paar sakdoeke en ’n toiletsak.

Die volgende bestemming is die Kafuerivier, ’n afstand van 370 km. Ná sowat 160 km breek ’n dryfas. Kelsey stuur ’n telegram na die Argyll-maatskappy dat hy ’n nuwe ewenaarslot moet stuur na Broken Hill. Daar was ’n dryfas by Broken Hill, maar hulle sou nooit Kaïro haal sonder ’n volledige ekstra ewenaarslot nie.

Die enjin dryf nou net een agterwiel aan, maar hulle vorder. In Januarie 1914 kom die span aan in Broken Hill, maar wag tot 22 Maart vir die dryfas met die ewenaarslot. Kelsey is met ’n fiets saam met draers vooruit om brandstof en proviand weg te vat. 

 Wilson en Gilliland en die Argyll vertrek eers op 18 April. Cunliffe en Scott-Brown het die geselskap verlaat, blykbaar om grootwild te gaan jag. 

Wilson skryf aan die Argyll-fabriek dat die motor uitstekend ry en baie beter stuur. Hy rapporteer ook dat hulle die swaar asetileen-koplampe en ’n kragopwekker afgehaal het, want dit was onmoontlik om snags te ry.Sowat 13 km van Chitambo, die sendingstasie waar Livingstone dood is, slaan Kelsey en draers kamp op. 

Die laaste strooi

Dit is ook hier by Chitambo dat die Afrika-ekspedisie op Paassondag 12 April 1914 in ’n tragedie eindig. Nadat die span net sowat ’n derde van die afstand afgelê het. ’n Luiperd dring die kamp binne en Kelsey wond die kat. Hy agtervolg die dier, en die gewonde luiperd bestorm hom. Die meganisme van sy geweer haak vas.

Die luiperd beskadig die geweer en hulle raak “handgemeen”. Kelsey druk sy arm in die luiperd se bek in ’n poging om hom op die grond te hou en met sy ander hand die meganisme van die geweer los te maak. Een van die draers kry die luiperd aan sy agterbene beet en trek hom van Kelsey af, waarna hy hom doodskiet. Kelsey se hand is aan stukke geskeur. Sy linkerknie en bobeen het afgryslike wonde.

’n Bietjie meer as 100 km van Chitambo af kry ’n boodskapper Gilliland en Wilson in die Argyll en vertel dat Kelsey swaar gewond is. Gilliland is te voet vooruit en kry Kelsey in die sorg van die vrou van die sendeling ds. Malcolm Moffat. Hulle besluit om Kelsey op ’n draagbaar te neem na Kashitu, 240 km verder. Daarvandaan kon hy per trein na die hospitaal by Broken Hill gaan.

Kelsey druk sy arm in die luiperd se bek in ’n poging om hom op die grond te hou en met sy ander hand die meganisme van die geweer los te maak.

Die Argyll het die draers met Kelsey op pad gekry. Kelsey se wonde was septies – hy moes dadelik geopereer word.’n Ent daarvandaan het ’n dr. Stohr met beeste geboer. Kelsey sterf op die operasietafel. Hy is 16 km oos van Kashitu – ’n paar honderd meter van die pad af – in die bos begrawe.

Kelsey laat sy vrou en ’n driejarige dogtertjie agter, én ’n hoop skuld. 

Gilliland glo die span kon nog steeds Kaïro bereik aangesien die Argyll se enjin self nooit probleme ontwikkel het nie, maar dit sou te duur wees. Die Argyll is in die bos by Kashitu gelaat, waar dit verkoop is om van Kelsey se skuld te delg. Dit is blykbaar daarna gebruik om voorrade aan te ry vir ’n span wat ’n spoorlyn gebou het en was jare lank die enigste motor in die omgewing. 

Die res van die geselskap het ander weivelde gaan soek. Cunliffe is tydens die Eerste Wêreldoorlog by Gallipoli in Turkye dood. Scott-Brown is tydens dieselfde oorlog in Oos-Afrika deur die Duitsers gevange geneem. Sy foto’s en rolprentfilm het verlore geraak. Gilliland het nog vir 20 jaar vir The Daily Telegraph verslag gedoen oor ander ekspedisies.

Meer as tien jaar later is die 12 000 km van Kaapstad na Kaïro wel deur ’n voertuig getem. Op 13 September 1924 het majoor Chaplin Court-Treatt en sy vrou, Stella, plus vier ander, met twee Crossley-vragmotors van Kaapstad af vertrek. Ses maande later het hulle in Kaïro aangekom. Dié keer het ’n groot kat nie die reis gestuit nie.

Wat het hulle ingepak?
  • Pikke en grawe 
  • Meer as een domkrag 
  • Toerusting om klein brûe oor klein stroompies te bou 
  • Beddens
  • ’n Biblioteek 
  • Gewere en ammunisie (vir beskerming)
  • ’n Grammofoon met plate (vir die eensame aande in die bos)
  • Rolprentkamera en film (dit weeg ’n allemintige 45 kg)
Bronne

There’s a secret hid away, Lawrence G. Green en Early motoring in South Africa – a pictorial history, R.H. Johnston


* Die storie het oorspronklik in Weg #127 (Mei 2015) verskyn.
ONS SOEK JOU KIEKIES
Het jy mooi ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Of foto’s van hoe jou dorp destyds gelyk het? Stuur dit na suzaan.hall@media24.com, en jou foto verskyn dalk in die tydskrif.