Dis Junie 1955. Die universiteitsvakansie is om die draai. ’n Paar pêlle sit in ’n kamer in die Reitzsaal-kamers op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat op Bloemfontein. My kamermaat Piet Strydom vertel hy gaan middel Julie na sy ouers vlieg in Lusaka in Noord-Rhodesië (nou Zambië). Ons luister oopmond. Noord-Rhodesië was ’n vreemde, eksotiese plek... ’n Idee begin by my posvat.

“Piet, ek kom kuier in Lusaka – met my duim en my kleurbaadjie. Wie kom saam?” Niemand het genoeg geld vir so ’n reis nie en almal lag onderlangs. 

 “Oukei, ek is in,” sê Jan Smit van Villiersdorp. 

Goed, ek en Jan ontmoet mekaar 14 Julie op Welkom. 

Op 14 Julie daag Jan glad nie op nie. Die volgende oggend wag ek tot seweuur en begin aanstaltes maak. Ek vorder goed en oornag op Pietersburg. 

Die oggend daarna stop ’n middeljarige Engelse man met sy Austin A40-paneelwa by my. Ek kan saamry tot op Salisbury (nou Harare), maar hy  waarsku my hy ry net 25 myl per uur (sowat 40 km), want die Austin is pas oorgedoen. Hy het reeds ’n passasier voor en ek maak my tuis agter in die paneelwa.  

By Beitbrug (nog aan die Suid-Afrikaanse kant) hou ’n motor naby ons stil en wie klim uit? Jan Smit! Die oom bied aan Jan kan ook saamry, maar hy en sy vinniger Chev-geleentheid sal ons weer anderkant inhaal. By die doeane vra die Rhodesiese beampte hoeveel geld ek die land inneem. Hulle kan nie glo ek het net vyf pond nie (dit was toe sowat R10*). Maar nietemin tjap hulle my paspoort en ons mik vir Fort Victoria (vandag Masvingo).

Jan verduidelik hy het ’n oponthoud by Villiersdorp gehad, sy eerste geleentheid was “laat” en hy het sowat ’n uur ná my vertrek uit Welkom daar aangekom.

Die grootste terugslag is egter dat hy sy beursie met agt pond (R16) onder sy kussing in die Grand Hotel in Pretoria vergeet het.

Die doeanebeampte het dus binne ’n uur twee ouens met gestreepte baadjies sonder geld deurgelaat. Albei op pad na Lusaka. Saam het ons nou vier pond en tien sjielings (R9).
 Ons kruie voort. Twee teerstrepe en 25 myl per uur... In Salisbury neem ons afskeid van die oom en die Austin. Ons hou noordwaarts: Chirundu, Kafuebrug, ’n tsetsevlieg-kontrolepunt...

Ná drie en ’n halwe dae klop ons aan Piet-hulle se deur. Piet se pa is ’n rukkie gelede lughawe toe om vir Piet te gaan haal. Die volgende oomblik stap Piet en sy pa by die voordeur in. Ek en Jan het hom – vliegtuig en al – geklop.


Pad deur 'n miershoop. Op die foto is Piet Strydom, Ben Aucamp en Jan Smit.

Die volgende oggend ry ons saam met Piet se pa na die dorpie Kitwe om na sy boubedrywighede te gaan kyk. Die Koperbelt met sy baie myne is ’n vooruitstrewende streek. Ons verwonder ons aan die tropiese plantegroei en besonderse atmosfeer van Noord-Rhodesië. Anders as in Suid-Afrika is Engelse motors oral te koop. Dit lyk asof almal Ford Zephyrs, Cortinas, Morrisse en MG-motors ry.

Ná vyf dae in Lusaka staan ons vakansie einde se kant toe. Ons leen ’n pond by Piet en het nou drie pond vir ons terugreis. 

Piet se pa laai ons buite Lusaka af by ’n afdraai na die dorpie Livingstone. 

Op pad besluit ons ons móét die Victoriawaterval sien. Ons is dan nou hier. Ons verwonder ons aan alles op Livingstone en oral is aandenkings te koop. Jan koop stilweg vir sy “meisie” ’n stel ivoor-oorkrabbetjies vir 75c. Hy noem dit terloops terwyl ons stap op die voetpaadjies langs die waterval. “Ons geld is min en ek wou graag film koop. Jy is nie eens seker van jou meisie nie en jy doen dít? Sy gaan jou in elk geval met oorkrabbertjies en al afsê!”

Dus is ons vir sowat ’n uur dikbek vir mekaar daar langs die mooi waterval. 

Later staan dit aand se kant toe en ons ontdek die Victoria Falls-hotel. Ons vra vir ’n kelner of daar slaapplek vir ons is. Hy beduie ons na hulle matrasstoor. Ons kruip tussen die matrasse in. Die klapperhaarmatrasse ’n bietjie krapperig en stowwerig, maar ons slaap.

Voor ons vertrek gaan kyk ons vir oulaas na die waterval. Ons ontmoet twee rylopers van Pretoria en hulle bied hulle tweemantent vir die nag aan. (Hulle het ander slaapplek gekry.) Ons bly nog ’n aand. Daai tyd van die jaar is dit koud daar en ons trek ál ons klere aan. Die matrasstoor was warmer.

Ons gooi duim na Bulawayo. Ons stop by ’n hotel by die ingang van die Wankie-natuurreservaat (nou die Hwange- nasionale park) vir iets te ete. Pleks ons vroeër geweet het die vleis in die toebroodjies se raklewe is twee weke gelede al verby... 

Van Bulawayo af kan ons direk na Musina reis, maar ons wil eers na die Zimbabwe-ruïnes gaan kyk – ’n ompad van sowat 300 km. Ons kies koers Fort Victoria toe. Ons het skaars R1 oor. 

By die afdraai na die ruïnes laai ’n konstabel ons op met sy Bedfordtrok. Hy spog vreeslik met sy bestuursvermoë, maar die rit is nogtans rof. Ons haal wel die ruïnes. Die klipmure met blommende aalwyne sorg vir mooi foto’s. Dis tot vandag toe van my beste skyfies. 

Ons moet terug Fort Victoria toe, want hier is nie slaapplek nie. ’n Boer laai ons op. Hy hou stil by ’n rusplek (ek dink dit was Halfway House) sowat 160 km van Beitbrug af. So in die ry hoor hy dat ons net sowat 35c oor het. Hy kry ons jammer. Daardie aand eet ons wildevarksteak en slaap in ’n warm bed. Die volgende oggend ry ons saam met ’n gesin van Pretoria agter op ’n bakkie met houtrelings (dis voor die tyd van kappies). 

In Pretoria aangekom, het ons nog steeds 35c by ons, maar dis niks werd nie. Ons het vergeet om dit by die grens te ruil. 

“Wag,” sê Jan. “Die Grand Hotel!”

Jan gaan in en kom stralend uit met sy beursie in sy hand. Die skoonmaker het dit by ontvangs ingehandig. Ons is ryk en honger.

Die ou pad na Johannesburg het verby ’n hotel geloop. Ek dink dit was die Lido-hotel. Hier eet ons ontbyt en betaal lag-lag R1,25 vir twee maaltye.


Ons het genoeg oor om in Bloemfontein te kom en nog Piet se pond ook terug te gee. Ek is nie meer kwaad oor die oorkrabbetjies nie. 

By Vanderbijlpark op pad na die Barrage-pad wat langs die Vaalrivier loop, hou ’n swart 1948 Mercury by ons stil. Die bestuurder se hond sit voor langs hom.
 “Julle kan saamry as julle stilsit. Julle moet agter inklim. En moet my nie in die rug skiet nie.”

Dit was gou duidelik dat ons weldoener nie “alleen” is nie. Hy skroef kort-kort ’n plat botteltjie langs hom oop en sluk. Hy beduie die Mercury met sy agt silinders kan hárdloop. Hy trap die lepel en die bande skreeu op die teer. Hy hou ons in sy truspieëltjie dop. Ons was uiters dankbaar toe hy om welke rede ook al op Kroonstad stilhou. 
’n Paar mielielande en strate later was ons terug by my broer in Welkom.


*Net om ’n idee van daai tyd se finansies te gee: R1 = 10 sjielings en R10 = Vyf pond. ’n Bier het sowat 10c gekos. (Die goeie ou dae. – Red.)


*Dié storie het oorspronklik in Weg #131 (September 2015) verskyn.