SONA SALES van Kaapstad skryf: In die vroeë jare tagtig het ek, my ma en my broer gereeld in die wintervakansie per trein gereis na my ouma en oupa, wat op ’n plaas naby Ugie in die Oos-Kaap gebly het. Die drie weke lange plaasvakansie was natuurlik vet pret vir ons twee stadsmuise, maar die treinrit was die hoogtepunt.

Ons het in die aand opgeklim by Bellville-stasie in die Kaap en teen elfuur die volgende oggend op De Aar afgeklim. Ons moes vier uur wag vir die volgende trein. My ma het ons dan na die naaste park toe gesleep – die lug was Karooheet en die gras die kleur van strooi. Die volgende trein het ons elfuur die aand op Sterkstroom afgelaai. 

Hier het ons in die wagkamer langs die Queen Anne-houtstoof die tyd verwyl. Teen middernag was dit bitterkoud. Ek onthou ons het twee keer vir ’n paar uur by die die stasiemeester se huis gaan slaap. ’n Warm bad en ontbyt was natuurlik deel van die uitnodiging! Dit was glad nie ’n snaaksigheid om so ’n uitnodiging van vreemde mense te aanvaar nie. 

Die laaste deel van die rit was op ’n stoomtrein wat meestal goedere vervoer het. Ek het dikwels gewonder of die passasierswa net vir ons aangelas is – sover ek kan onthou was dit altyd net ons, die drywer en die kondukteur.

Die reuk van steenkool wat brand laat my nou nog terugverlang na die Suidelike Drakensberg, met swart roet in my neus en hare en my oupa en ouma wat op die platform vir ons wag. 

Ek is dankbaar dat ek nog die soort reise in Suid-Afrika kon ervaar. 

Op die foto staan Sona se ma, Jennifer, Sona (4) en haar broer Gregory (11).

Lees nog briewe uit ons November-uitgawe hier.