Dis tyd vir ’n veiligheidspraatjie. “Drie diere bestorm ons – olifant, buffel en gorilla,” sê ons gids, Jean-Alain Pambo, gewapen met ’n panga. “Vir olifant en buffel skuil jy agter ’n boom. Vir gorilla kyk ons af. Oukei? Kom ons gaan!”

Dan draai hy om en stap die woud binne in die Loango- nasionale park langs die weskus van Gaboen.

As ’n mens vir iemand sê jy gaan Gaboen toe, is hulle reaksie gewoonlik: “O, dis lekker,” en dan, ná ’n rukkie: “Wáár is Gaboen?”

Gaboen is een van daai Afrika-lande wat ’n lae profiel handhaaf. Die meeste mense het nog nie eens daarvan gehoor nie. Gaboen was ’n Franse kolonie. Frans is die amptelike taal en dis moeilik om ’n gidsboek in Engels te kry. En dis ’n storie en ’n half om daar uit te kom én om in die land rond te reis. En dis dúúr.

Maar as jy verby al daai uitdagings kyk, is dit een van die besbewaarde en mees eksotiese eko-bestemmings op die vasteland!

Gaboen is in Wes-Afrika, op die ewenaar. Dis ’n ylbevolkte land met minder as 2 miljoen mense. Groot stroke tropiese reënwoud lê onaangeraak – tot 70% van die land. Ons het in ’n stadium twee uur lank oor oeroue reënwoude gevlieg en net een of twee paaie gesien.

Groot stroke tropiese reënwoud lê onaangeraak – tot 70% van die land.

Die ontslape president Omar Bongo Ondimba het in 2002 die nuus gehaal toe hy sy Groen Gaboen-program aangekondig het: 26 000 km2 se wildernis word in 13 nasionale parke beskerm. Die meeste van die ekostelsels in die land word op een of ander manier bewaar.

Die legendariese bioloog en National Geographic-ontdekker Mike Fay en die fotograaf Michael Nichols se bekende foto’s van Gaboen se “seekoeie wat surf” het ’n beduidende rol in dié visioenêre besluit gespeel.

Dit was ook Fay wat die Loango- nasionale park, die land se vlagskippark, beskryf het as “Afrika se laaste Eden.”

Gaboen se woude is deel van die Guinees-Kongolese reënwoud van die Kongo-kom – die grootste ongerepte woudstreek in Afrika en naas die Amasone die grootste ter wêreld. Met ’n jaarlikse reënval van meer as 2 000 mm is hier ’n oorvloed biodiversiteit. Kyk byvoorbeeld na die Gamba-kompleks, ’n klein deel in die suide van die land: Dié lappie aarde huisves duisende insekspesies, meer as 75 amfibieë, 80 varswatervisspesies, 455 voëlspesies, 84 reptielspesies en 80 soogdierspesies.

En dis net die spesies wat al uitgeken is! Nuwe spesies word gereeld ontdek. Charismatiese diere soos woudolifante, woudbuffels, gorillas, sjimpansees en mandrille (’n soort bobbejaan wat ook ’n woudduiwel genoem word) kom almal in Gaboen voor.

Dan is daar die kuslyn, wat meer as 900 km langs die Atlantiese Oseaan strek. Die strande is broeiplekke vir leer-, karet-, olyf-ridley- en Kemp se ridley-seeskilpaaie. Bultrugwalvisse kom gereeld hier verby. Meer as 21 haaispesies is al aangeteken en wie weet hoeveel visspesies. (Mariene navorsing is nog in sy kinderskoene.)

Op ’n woudstap in Gaboen is dit nie ongewoon om olifante.

Toe my man, Bruce, vra of ek op ’n visvangtoer na Gaboen wil gaan vir my 50ste verjaardag, was die antwoord onmiddellik ja! Ons het die vakansie deur Tourette Fishing bespreek. Dit was maklik: Suid-Afrikaners het nie ’n visum nodig nie, en die vlugte oor Addis Abeba verloop glad.

Om in Libreville, Gaboen se hoofstad, dinge gedoen te kry is ’n bietjie meer uitdagend. Min mense praat Engels. Gelukkig ontmoet Tourette se Engelssprekende gids, Habiba Diaz, ons by die lughawe en help ons om ons weg te vind in die betonoerwoud.

Ons bring ons eerste nag in ’n woonstel deur, in ’n buurt na aan die lughawe sodat ons die volgende oggend ’n huurvlug na die dorpie Gamba kan haal. Dit neem ure om al ons hengel- en fotografietoerusting in te boek, maar uiteindelik is ons reg om op die vliegtuig te klim. Ons groep van agt sluit ses vissermanne (van die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika) en twee entoesiastiese fotograwe in.

Hier is geen paaie van Libreville na Gamba nie. Ons vlieg kuslangs in ’n Cessna Caravan.

Die woud se blaredak is ’n donker skakering van groen, met riviere wat daardeur kruis en grasagtige ooptes.

Namate jy Gamba nader, sien jy die impak van olieboordery op die landskap: Hier’s is groot ooptes in die woud en pypleidings wat deur die woude loop.

Gamba is ’n klein dorp wat gebou is om die oliebedryf te ondersteun, en Shell is ’n groot kanon in die omgewing. Die lughawe bedien meestal oliewerkers wat kom en gaan; vissermanne is die uitsondering.

Die neerstryk by Gamba gee ons ’n voorsmakie van wat op ons wag: ’n Paar woudolifante stap stadig van die landingstrook af...

Die woud se blaredak is ’n donker skakering van groen, met riviere wat daardeur kruis en grasagtige ooptes.

’n Rivier so groot soos die see

Ons klim van die vliegtuig af. Die hitte is intens. Mark Murray en Ewan Kyle van Tourette Fishing kom haal ons in Land Cruisers. Ná ’n besoek aan ’n navorsingsentrum wat deur die Smithsonian-instituut gevestig is en ons ’n blik gee op die streek se biodiversiteit, klim ons op veselglasbote met vierslagmotors vir ’n uur lange rit tot by die dorpie Sette Cama. Die Sette Cama-kamp is ons basis vir die volgende week.

As Suid-Afrikaners aan ’n groot rivier dink, dink jy aan die Oranje- of dalk die Zambesirivier. Die Ndogo-rivier is anders. Die oewers is soms kilometers van mekaar af en woudeilande lê versprei in die rivier. Dit voel meer soos ’n yslike meer. Ons sien pelikane, visvangers en sterretjies, en kry ’n blik op die klein visvangdorpe.

Die kamp is op die oewer van die rivier, sowat 17 km van die monding af. ’n Franssprekende paartjie, Eric en Nadine Bernabeu, is aan die stuur van sake – hier is ’n gemeenskaplike sit- en eetkamer met lugverkoelde en suite-chalets reg rondom.

Nadine maak die kos – dis heerlik en genóég. Ons eet meestal vis wat op allerlei interessante maniere gaargemaak word.

Ons vang elke dag vis – op die rivier of van die strand langs die monding af. Of stap saam met ’n gids in die woud en verken die manglietwoude per boot.

Ons stap lang stukke strandlangs op ons eie. Hierdie stappies was opwindend én ontstellend.

Eendag sien ons woudolifante en troppe rooikop-mangabie-ape wat in die bome speel. Maar so te sê die hele strand se hoogwatermerk lê vol plastiek – dis óf deur skepe ter see afgegooi óf met die Kongorivier verder suid afgespoel en toe noordwaarts versprei deur die Kongostroom. Sjampoebottels, koshouers, spuitnaalde, kondome, visvangtoerusting…

Hier bly maar net ’n paar honderd mense op Sette Cama, en die naaste dorp is meer as 50 km weg – hulle kan dus nie verantwoordelik wees vir die besoedeling nie. ’n Mens besef opnuut plastiekbesoedeling ken geen grense nie.

Kleurryke paddastoele

Lowergroen Loango

Die Loango- nasionale park is ’n merkwaardige plek. Hier is meer as 1 550 km2 se woud, grasveld, vleiland en strandmeer-ekostelsels, en ’n kuslyn van 175 km – dis ’n park sonder weerga in Afrika.

Noord van Sette Cama word die yslike Iguela-strandmeer binne die nasionale park beskerm. Enorme stroke manglietbome staan langs die vlakker, stilstaande water. Die park het ’n groterige bevolking woudolifante. Hulle is effens kleiner as hulle suidelike nefies en loop gereeld van die woud af na die strand toe. Ons bly egter op ’n afstand – hulle deel glo nie graag hulle strand met toeriste nie.

Lamantyne (’n dier soortgelyk aan ’n doegong), woudbuffels, sjimpansees en westelike laaglandgorillas hou ook in die park. Dié diere ontwyk ons, maar ons sien wel rooikop-mangabie-ape en groter kolneusape. Ons sien ook rooiriviervarke, woudsitatoengas (’n soort wildsbok) en verskeie duikerspesies.

Natuurlik wil ’n mens die groot ape sien, maar om deur die woude te stap was steeds ontsagwekkend. Okoume- (Aucoumea), kapok- (Ceiba) en moabibome toring meer as 40 m bo ons uit terwyl ons deur teekleurige moerasse loop. Ons hurk om na kleurryke swamme te kyk en rek ons nekke om gryspapegaaie en withelm-neushoringvoëls raak te sien.

Dis moeilik om in die woud voëls te kyk. Dis heel maklik om die groep te identifiseer, maar dis ’n ander storie om uit te werk presies watter suikerbekkie, wewer of byvreter bo ons in die blaredak rondfladder.

Natuurlik wil ’n mens die groot ape sien, maar om deur die woude te stap was steeds ontsagwekkend.

Tog kry ons dit reg om onder meer die Loango-wewer, blouborsvisvanger, kopersuikerbekkie, swartkopbyvreter en Reichenback se suikerbekkie uit te ken.

Die grootte en verskeidenheid van die bome in Gaboen se reënwoude is verstommend.

Vangste om te onthou

Ons vang onder meer Atlantiese tarpoen, grootdraadvin, cuberra-snapper, Senegal-kabeljou en Guinese barrakuda.

Die meeste visse wat gevang word, word vrygelaat. Loango se hoofkwartier is naby die lodge en ’n mens meld elke dag jou vangste daar aan om seker te maak dit word volhoubaar gedoen. Mark en Ewan, ons gidse van Tourette, weet presies watter visgerei ons moet gebruik om die verskillende visspesies te teiken.

Om die manglietbome op die oewers van die Ndogo-strandmeer met dagbreek te verken is een van die hoogtepunte van ons vakansie.

Jou boot dryf stadig deur die mis terwyl swerms palmneut-aasvoëls bo ons sweef en gryswang-mangabie-ape al kletsend uit die bome vir ons loer.

Die sonsopkomste en -ondergange is skouspelagtig: My kamera werk oortyd terwyl ek probeer om die wisselende skakerings van die lig vas te vang.

Op die ou end verlaat ons die Loango- nasionale park sonder dat ’n gorilla, olifant of buffel ons bestorm. Maar Gaboen het ons oorrompel; ons kom beslis weer.

Dis die moeite werd om die land te ondersteun. As meer mense die parke besoek en waardeer, sal die trekkrag van die maklike geld van hout- en palmolie-plantasies verminder. Hierdie plantasies kan die groen hart van Afrika vernietig. Die regering van Gaboen wil die regte ding doen en hulle het ondersteuning nodig.

Ek en Bruce kan nie wag om die ánder 12 nasionale parke te verken nie…

Kaart
Kaart
WEET VOOR JY WAAI

Dis nie ’n goedkoop uitstappie nie, maar dit is beslis ’n een-keer-in-’n-leeftyd ervaring.

Die visvangseisoen is van September tot Maart. Dis dan ’n goeie tyd om te gaan – die vis loop.

’n Retoerkaartjie van Johannesburg na Libreville kos vanaf R8 000 p.p.; travelstart.co.za.

Judy en Bruce het in Gaboen gereis saam met Tourette Fishing. ’n Tien dae lange hengeltoer kos sowat R60 000 p.p. (alles ingesluit behalwe drankies, en verblyf en etes in Libreville).

Reisversekering van sowat R4 000 p.p. is verpligtend.

Kontak tourettefishing.com; 033 342 2793

Vertel ons van jou avontuur!
Was jy op ’n vakansie wat jy dink ander Weg-lesers ook sal geniet? Skryf oor die ervaring en ons publiseer dalk jou storie. Hou dit asseblief kort (maksimum 1 500 woorde) en stuur ’n paar voorbeeldfoto’s. As ons wel besluit om die storie te gebruik, gaan ons oorspronklike hoëresolusiefoto’s nodig hê; maak dus seker jou kamera is op die regte verstelling. Stuur jou storie na redakteur@weg.co.za. Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees asseblief die bepalings en voorwaardes by weg.co.za