Loren Randall-Düvel, Door De Kraal, Kaapstad skryf:

Ek reageer graag op die Mosambiek-artikel wat in die September 2019-uitgawe verskyn het.

In April vanjaar was ek en my man, Werner, gelukkig genoeg om die Paasvakansie in Mosambiek te wees. Ons het twee jaar gelede ’n kampvakansie in dié land “gekoop”, maar dit sou teen Desember 2019 verval. Paastyd het ons goed gepas en ons besluit om van Kaapstad af na White Sands in Inhambane te ry.

Vóór ons sou vertrek, het ’n klomp mense ons gewaarsku hoe gevaarlik dit daar is, hoe ’n mens beroof kan word, en hoe ’n mens dit moet heroorweeg as jy nie seker is oor die politieke omstandighede nie. Van ons familie en vriende het selfs vertel van korrupte amptenare wat hulle teëgekom het. Verder het Moeder Natuur ook nie saamgespeel nie, want ’n sikloon het net ’n maand tevore die land getref.

In daardie stadium was ek skrikkerig vir wat voorlê, en het dit self oorweeg om eerder die vakansie te kanselleer. Maar dit was net totdat ons by die DriveMoz-groep uitgekom het. Jy kan teen ’n klein tarief aansluit en dan het jy toegang tot ’n magdom inligting oor Mosambiek – enigiets van aanbevole roetes tot wat jou te doen staan as ’n runner by die grenspos jou konfronteer (soos julle in die artikel uitgelig het).

As lid kry ’n mens ’n plakker vir jou voertuig, en dit voel of selfs net dít al ’n verskil maak, want ons is deur verskeie padblokkades waar hulle gewys het ons kan verbyhou.

Dit was ’n aangename ervaring, en ons sal beslis weer ’n draai maak.