Ons lyk soos ’n troppie tarantulas– volgestopte rugsakke staan knobbelrig soos eiersakke op ons rûe uit en ons stapstokke laat elke stapper soos iets met ’n paar ekstra kieriebeentjies lyk.

Maar ons voorkoms kan niemand meer skeel nie. Vir 30 dae lank het ons deur nedersettings, jagvelde, verlate plaashuise en beesplase gereis. En nou, op die laaste dag van ons staptog, kruie ons groepie met die hoofweg langs op pad na die Keiriviermond, met verbygaande bakkies wat verwelkomend toet. 

Ons het dit "Ekspedisie Kei" gedoop – ’n 450 km lange tog al langs die Groot-Keirivier in die Oos-Kaap van sy oorsprong tot by die see. Was ons die eerstes om dit dit te doen? Moontlik. Boere langs die pad het so gedink. 

Die meeste mense langs die pad het een vraag gehad: “Hoekom?” Ons antwoord het gewissel na gelang van die gehoor, ons bui en die omgewing waarin ons onsself bevind het: Ons was almal op soek na ’n uitdaging, al was dit dalk ’n bietjie van ’n masochistiese een. Ons wou iets stap wat nog nooit in sy geheel gestap is nie; ons wou op ons self aangewese wees en ons wou ’n sosiale projek aan die ekspedisie koppel.

En so het ons ekspedisie stukkie vir stukkie begin vorm aanneem. Daniel Poultney, Carla McKenzie, Stefano Maiorana, Brandon Finn en ek – ons is almal universiteitstudente en wou met ons diverse studierigtings (botanie, sielkunde, omgewingstudies, medies en joernalistiek) elkeen iets uniek tot die tog bydra. 

Tussendeur klasse en eksamens het ons meer as ’n jaar lank roetes uitgelê en etes beplan. Ons het boere en hoofmanne gebel om te vra vir raad en toestemming om oor hulle grond te stap. Ons het geweet die idee klink effe waansinnig, maar dít was juis die lokaas. 

Maar ons het seker gemaak ons is veilig en voorbereid. Niemand wou ’n storie op Die Burger se voorblad word nie.

Ons het ’n noodhulpkursus en ’n bergreddingskursus voltooi; ons het geoefen: gehardloop, berggeklim, in die gim geoefen, geswem en jogaklasse bygewoon; ons het genoeg verbande ingepak om ’n mummie toe te draai; ’n satellietfoon en ’n GPS is saam, sowel as ’n rits nommers van mense wat regstaan om ons te kom haal – selfs met ’n helikopter – sou dinge lelik skeeflop. Tussendeur het ons alles moontlik gedoen om ons ouers te paai. 

Soos eekhorings op ’n avontuur het ons vir toerusting begin rondsnuffel: koplampies, watersuiweringstablette, petrolstofies, termiese voerings vir ons slaapsakke, opblaaskussings en insekweerder.

Kos vir die lang tog is in elkeen se woonstel opgaar en in bokse opmekaar gepak soos Lego-blokkies. En kaarte van die hele rivier het ons muurpapier geword.
Uiteindelik het die dag aangebreek om te begin stap. Danksy ’n recce-tog Kei toe die vorige jaar het ons ’n idee gehad van wat om te verwag, maar niemand kon raai watter verrassings op ons sou wag nie.

Was ons die eerstes om dit dit te doen? Moontlik. Boere langs die pad het so gedink.

Die rugsakke was bitterswaar: 20-26 kg elk. Dít ten spyte daarvan dan ons net ’n week se voorraad op ’n slag gedra het. Vriende en familie het elke ses dae kospakkies langs die pad kom aflewer: droëvrugte, neute, beskuitjies, sopmengsel, grondboontjiebotter, sojamaalvleis en kitsnoedels. 

Die barmhartige samaritane wat ons by die aflaaipunte ontmoet het, moes ook luister na ons stories van krampende rûe, hoe ons saam met boere agter stropers aangehardloop het, hoe ons ons vegetariese eetgewoontes aan slagplaaseienaars moes verduidelik… 

Nadat die vrag kos uitgedeel is, het ons dit weer aan mekaar probeer verkwansel om die rugsakke ligter te kry “Het jy al hierdie neute probeer? Absoluut heerlik en ongelooflik ryk aan proteïen!” Die reaksie was gewoonlik: “Ek sal dit graag probeer, maar ek kan ook hierdie kilogram dadels aanbeveel, ’n ongelooflike energie-inspuiting vir daardie bult daar voor.”

Wanneer ons dan weer ons sakke moes optel, het hulle teen seer skouers en heupe geskaaf en het ons sommer geweet die kneusplekke is om die draai. 
Elke dag het begin met sonstrale wat op die klam seil van my tent val, en kort daarna het die gekondenseerde druppels my in die gesig begin piets – opstaantyd. Partydae het die ryp buite gelê, dan het my dooie vingers maar gesukkel en lomp met toue en ritsluiters gesukkel.

Ná ontbyt het ons, soos elke ander dag, weer die kurwe van die rivierloop gevolg, onseker oor watter terrein vir ons voorlê, watter mense ons sal teëkom of waar ons die aand sal slaap.  

So het ons byvoorbeeld die tweede nag teen ’n krans met rotskuns tent opgeslaan. In die geselskap van ’n antieke uitbeelding van ’n lenige Boesman wat met lang treë hardloop, moes ons dié aand gedurig op ons kampkastrolle slaan en af en toe die donker in skree om ’n trop bobbejane te probeer verjaag. Die karnallies het gedink dit is pret om klippe oor die rotswand bo ons koppe af te rol.

Ná ’n week langs die rivier het ons, met die toestemming van die boer wat nie tuis was nie, by sy verlate jaghuis ingebreek om vir die aand slaapplek te kry. ’n Stadig verterende duif het ons in die kombuis ingewag en ’n paar stowwerige boktrofees het met glasige oë die niet ingestaar…

Langs die pad het ons watermonsters van die rivier geneem in buisies so groot soos skuifspelde. Adam West en Kevin Winter van die Universiteit van Kaapstad se Botanie-departement het ingestem om die monsters ná die tyd te ontleed.

Ons het ook die pH-vlakke, geleidingsvermoë en temperatuur gemeet. Mettertyd het ek besef ons gesprekke met die mense wat ons teëkom is ook soos monsters: die maatskaplike storie van lewe in hierdie gekompliseerde deel van die land. 

Ongeveer ’n week voor die einde van die tog het dit begin reën. Gelukkig het dit net ’n paar dae aangehou, maar sopnat sokkies en gladde rotse was genoeg om ons entoesiasme te demp. 

Een van die boere wat ons langs die pad ontmoet het, het voorgestel dat ons ’n mooier roete kies. Maar ná ’n ruk het ons agtergekom “mooi” beteken eintlik “verkeerd”.

Nat tot op die been en omring deur lang gras wat aan ons kuite kleef soos ons vorentoe beur, het ons geloop en probeer sin maak van die kaart. As dit nie was vir Dumile, ’n plaaswerker, wat in sy geel reënjas verskyn het nie, sou ons daar buite rondgedwaal het tot de laaste een soos ’n pruim gelyk het. Danksy hom kon ons dié aand in ’n leë plaashuis skuil.

Die volgende oggend het ons liefs teruggekeer na Plan A en by die roete gehou wat ons rivierlangs geplan het. 

En ons het foendi’s geword in die oorsteek van riviere. As die pad vorentoe twyfelagtig gelyk het, het ons ons stapskoene afgepluk, dit aan die rugsakke gebind en ons broeke opgerol. Die rivier was laag genoeg dat ons altyd ’n plek kon kry om oor te gaan, behalwe een keer toe die pad deur ’n reuse-rotswand versper is en ons gedwing is om te swem. 

So veel as moontlik toerusting en kos is in waterdigte sakke toegedraai, en toe moes ons maar net diep inasem en in die water inplons. Die koue met my asem onmiddelik weggeslaan maar ons al vyf het die oorkant ongedeerd gehaal, ons klere uitgedroog en verder gestap. 

So hoe het dit gekom dat ons nou die laaste 20 km met die teerpad langs stap? Een woord: lantana. Hierdie uitheemse struik was ons einde. Die getande takke het aan ons broeke en vel vasgegryp soos ’n spookwoud in ’n Disney-fliek.

As ons eers tussen ’n klomp lantanabosse beland het, het ons soms nie ’n ander keuse gehad as om handeviervoet daar uit te kruip nie. 

Om die rivier enduit te volg sou ’n mens ’n kapmes nodig gehad het (ons het Swiss Army-messe gehad) en ’n onbeperkte aantal dae om die ekspedisie te voltooi (ons het net ’n maand gehad).

Daarom stap ons nou langs die hoofpad. Ons loop en loop met die teerpad wat soos ’n rooi tapyt voor ons uitrol. Ek voel byna ’n tromgedreun van opwinding in my binneste (of is dit die kloppende blase op my voete?). 

Die hele Melkweg is aangeskakel vir die geleentheid – die flikkerende ligte spoor ons aan, byna soos die applous van trotse ouers. My seer rug, voete, skouers en Achilles-tendons ten spyt, ek weet met elke tree kom ons nader aan die see. 

’n Jaar van beplanning, roetes uitlê, rondbel en pak kom nou tot ’n hoogtepunt. Dit kom nie sonder ontbering nie, maar Ekspedisie Kei was elke steekpyn werd.

Die volgende oggend kom die stewels af en stap ons kaalvoet oor die strand. Ons neem ’n paar laaste watermonsters en waad dan diepier see-in. Bo die branders se gespat hoor ek iemand vra: “Wat is volgende?” En daarmee duik ek onder ’n brander in." 

5 dinge waarsonder Kim nie sou kon klaarkom nie

Stroh Rum. "Op ’n koue aand doen dit wonders vir bloedsirkulasie."

Dadels. "Twee van ons het op die stap verjaar en ons het koek gemaak met dadels, Marie-beskuitjies en donkersjokolade." 

Afritsbroeke wat vinnig droog word. "As ons deur lantana moes ploeg, het dit gekeer dat my bene krap en as ons kniediep deur riviere moes loop, kon ek die onderste helfte afrits. Só hoef ek nie die res van die dag met ’n slopperige broek te geloop het nie."

Liggewigtent. "My tent het ongeveer 1,8 kg geweeg – teen die stywe bulte was ek baie dankbaar vir ’n paar minder kilogramme." 

Seep en sjampoe. "Ek spot net, ek gebruik dit nooit. "

* Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #112 (Februarie 2014) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.