Jan-Harm Schutte skryf:

Dis Paasnaweek 1998 en in my rooi Mazda 323 sit ek en Nick uit Vanderbijlpark af Drakensberg toe. Ons is albei laat in die twintig en sat daarvan om elke dag agt uur voor ’n rekenaar te sit en programmering te doen. En ons is nog (byna) vreesloos.

Die stapgogga het my drie jaar tevore gebyt toe ek saam met vriende my eerste rugsakstaptog aangepak het. Sedertdien het ek ’n klompie staproetes voltooi, maar my Drakensberg-ervaring is egter beperk tot die kettingleer by Mont-aux-Sources. Dit is ook die eerste keer dat ek en Nick saam rugsakke oor ons skouers swaai. 

Ons plan is om van die parkeerterrein by die Cathedral Peak-hotel se ingangshek af binne twee dae oor die Mlambonjapas tot bo-op die platorand te stap. Van hier af wil ons op die derde dag oor Cleft Peak na Windy Gap stap. En dan die vierde dag terugkeer na die parkeerterrein en die rooi Mazda wat hopelik nog vir ons wag – ’n roete van ongeveer 40 km. 
In die bergreddingsregister buite die Parkeraad se eenvoudige kantoortjie (dit was nog voordat die indrukwekkende Didima-kamp gebou is) teken ons ons met trots as “ervare stappers” aan. 

Dié register vereis dat ons ’n norring vrae beantwoord oor van ons toerusting tot ons mediese voorsorg en stapervaring. Ek huiwer ’n oomblik by die vraag oor of ons voorbereid is vir sneeu, en die een oor hoeveel dae se kosvoorraad ons saamdra, laat my ook ’n bietjie kopkrap. Duidelik is hierdie nie die Otter-wandelpad nie...

Maar nou ja, ons het al die pad tot hier gekom, dus kan ons maar net sowel die beste van ons tyd hier maak. 

Jis, maar ons is fiks!

Sommer vroeg op die eerste dag al interpreteer ek ’n roetebeskrywing verkeerd, wat veroorsaak dat ons meen ons het veel verder gestap as wat werklik die geval is. Voor 3 nm. staan ons tentjie al onder in ’n vallei langs die uMlambonjarivier, iewers naby Neptunus se Poel en die Marble Baths. Ek voel dan nie eens moeg nie, dink ek ingenome.

Toe ons kampie staan, stap ek en Nick ’n ent stroomop, waar ons afkom op die mooiste rotse wat oor baie jare tot ’n marmerafwerking verweer is. Dis mooi hier: Op die oorkantste oewer staan die natuurlike woud nog dig en ons wonder hoe dié klowe vroeër jare moet gelyk het, voordat dit vir toeriste oopgekap is.

Ons is houtgerus. Selfs ’n paartjie wat verbykom en vra hoekom ons hier onder langs die water en nie eerder hoër op in die berg kamp nie, laat ons nie besef ons het ’n fout gemaak nie. 

Laat dié oorywerige tweetjies maar aanstap; ons hoef môre tog net tot by die Twins-grot aan die bokant van die Mlambonjapas te kom. Ons geniet die lekker weer, salig onbewus van die moeilikheid wat die volgende dag op ons wag. 

Terwyl die laatmiddagson ons warm bak, maak ek en Nick ’n eenvoudige aandete. Maar ook hieroor het ons nie mooi gedink nie: aartappels, uie, blikkieskos en ’n sakkie appels… ons dra hopeloos te swaar! Boonop is ons kookgoed primitief, en die kos word nie behoorlik gaar nie.

‘Is jy seker dis hierlangs?’

Die volgende oggend bereik ons ná ’n stewige klim die kontoerpad, en vorder goed in die rigting van die Mlambonjapas. Maar ons kry gou hond se gedagte: Ons het duidelik nie laasnag gekamp waar ons gedink het ons kamp nie – ons is skaars 6 km van die hotel af en het skaars 200 m in hoogte gevorder! Dít beteken vandag wag daar meer as 1 000 m se moordende klim op ons. Tog voel ons goed en uitgerus terwyl ons die groot berg sien nader kom. En ons reken daar is meer as genoeg ligdag oor om tot bo te kom.

Nic op dag 2

Die weer lyk egter nie meer so rooskleurig nie: Kort-kort gooi die wolke groot skaduwees op die grond, net om weer deur die son verdryf te word. Namate die dag vorder, raak die skadu’s al hoe langer en donkerder. Naderhand kan ons die bergpieke glad nie meer sien nie.

Dit is ook net mooi hier dat ons in die slaggat trap waarin onervare Drakensbergstappers dikwels beland: Met die mis wat digter word, raak ons die paadjie in die ruie terrein byster, want ’n klomp ander paadjies swenk van die staproete weg soos wat mense oor die jare afgedraai het om kamp op te slaan of te gaan water haal.

Ons verdwaal tot by ’n oopte waar die gras platgetrap is – mense het duidelik voorheen hier gekamp. O, so dís waar ons eintlik laasnag moes slaap! Dis egter nou te laat vir trane. Dis al vroegmiddag en ons is omtrent vyf uur agter skedule. En hoewel ons nie meer as 4 km oor het tot by Twins-grot nie, moet ons nog byna 800 m klim.

Weens die mis kan ons nou niks meer bo ons sien nie, maar gelukkig vind ons ná ’n geploeter darem weer ’n voetpad. Die besef dat dit ons waarskynlik heelmiddag gaan neem om tot bo te kom laat ’n stilte neerdaal. 

’n Vinnige middagete van kaas, tuna en beskuitjies word woordeloos afgesluk en dan volg ons – wat lyk na – die mees direkte roete in die Umlambonjariviervallei op.

Alles die moonbag se skuld

Dis nie lank nie toe staan ons voor ’n mooi waterval met ’n poel aan sy voet. Vir ons twee moeë lywe lyk dit egter na ’n probleem: Hier is geen maklike pad deur die water nie, maar ons weet ons moet op ’n manier hoër kom. Wel, dan nou maar teen die rotswand langs die waterval uitklim. 

Hier maak ons nog ’n fout: Daar is enkele tekens van verweer teen die rotse wat ons oortuig dat die roete wel langs die waterval boontoe loop. Ek weet darem nie… As die roete só ’n uitdagende kinkel het, kon ons klipstapels of ander merkers te wagte gewees het. Teen hierdie tyd stry ons egter nie meer met ’n uitdagende Drakensbergstaproete nie – ons is bereid om te glo enigiets is moontlik.

Ek volg vir Nick teen die rots uit – hy het ’n bietjie rotsklimervaring (hoofsaaklik deur sy broer dop te hou terwyl hy klim). Die rotshelling styg sowat 10 m bo die bopunt van die waterval uit, en dit maak die totale afstand wat ons kaalhande moet uitklim, ’n aardige 20 m. 

Die klam rotse en die rugsak wat ’n mens heeltyd agteroor wil trek, help ook nie om die taak makliker te maak nie. En die moonbag waarin ek my flits en selfoon saamdra, bly in die pad. Omtrent halfpad teen die rotswand haak dié sakkie agter ’n uitsteekrots vas… en daar sit ek.

Nick het dit intussen tot bo gemaak, maar lyk skoon wit in die gesig en maak dit met die nodige kragwoorde duidelik dat ek liewer nie verder moet probeer opklim nie.

Boonop is daar geen teken van ’n voetpad bo die waterval nie. Ons is duidelik wéér die pad byster.

Maar nou is ek éérs in die pekel: Boontoe is nie ’n goeie idee nie, maar terug af ondertoe is nóg moeiliker. Die verdomde moonbag wil nie loskom nie en ek begin my greep op die rots verloor toe my uitgeputte spiere aan ’t bewe gaan. Nick kan ook nie weer afklim om my te kom help nie. Hoe nou?

Om alles te kroon verskyn daar ’n groep stappers van bo in die kloof – op die regte pad, natuurlik. Dis so duidelik soos daglig dat ons nie die vaagste benul het wat ons doen nie!

Genadiglik kom die Backpacker Boulder 75-rugsak (na my mening die beste een wat nóg ontwerp is) tot my redding. ’n Mens kan sy skouerbande heeltemal losknip en, terwyl ek met die laaste krag in my linkerhand aan die rotse bo my vasklou, knip ek met die regterhand die gespe op die linkerskouerband los. 

Ek kry dit reg om die sak teen my regterarm te laat afglip en sowat 15 m se val later kom die rugsak vlak by die poel aan die onderkant van die waterval tot stilstand.

Met my regterhand wat nou los is, kan ek die moonbag ook loskry en na onder laat val. Ek kan hoor hoe dit ’n rots of twee tref voordat die sakkie ook by die poel tot stilstand kom.

Uiteindelik kan ek ongehinderd afklim, maar my been- en armspiere ruk onbeheersd weens die uitputting. Die groep stappers het die hele petalje aanskou, en toe ek onder kom, hoop ek om met bestekopname van die skade aan my toerusting (die selfoon se skermpie is flenters) om oogkontak te vermy. 

Met lam bene en arms maak ek dit teen die noordelike hang uit tot waar Nick in die regte paadjie sit en wag. Alles om ons is nou in digte mis gehul. Ons kyk na mekaar, maar die besluit is eintlik reeds geneem: Genoeg twyfelagtige keuses vir twee dae, kom ons draai terug.

Binne ’n paar uur is ons onder en op pad terug huis toe. Oor drie weke is daar weer ’n langnaweek en dan kom ons terug om die berg – dié slag met groter respek – aan te durf.

Só word dit gedoen

Ek en Nick is terug Drakensberg toe, en dié slag het ons op die regte plekke gekamp en nie teen rotskranse uitgeklouter nie.

Ons het ook beter opgelet waarlangs die voetpad loop. As ’n mens in ’n wildernisgebied stap, is onsekerheid oor die roete byna altyd deel van die ervaring, maar dié keer het ons vroeër besef dinge is nie pluis nie, dadelik omgedraai en op ons spore tot by die laaste klipstapel teruggeloop. Daar sou ons dan altyd taamlik maklik die regte paadjie vind.

Ons rugsakke was ook heelwat ligter, hoewel ons steeds op die laaste dag by die Organ Pipes-pas ’n sak vol lekkergoed aan ’n klompie vriendelike kêrels oorhandig het net om van die vrag ontslae te raak. (Destyds het ’n mens nog by stap- en buitelewewinkels kook-in-die-sakkie-geregte gekry wat deur die destydse Atoomenergiekorporasie bemark is. Maar ek sien dit al baie jare nie meer op die rakke nie – ek hoop nie daar begin op ’n dag vingers uit my elmboë groei nie…)

In die 15 jaar wat ek sedertdien al in die Drakensberg gaan stap, het ek al sewe keer weer in die Cathedral Peak-omgewing gaan draai, en nie een van dié uitstappies was sonder voorval nie. 

Die belangrikste les wat ek geleer het, is dat ’n mens bereid moet wees om bes te gee en ’n volgende keer weer te probeer. Die Drakensberg laat hom nie sommer ken nie.