As kinders het ek en my suster, Zanri, die film The Parent Trap weer en weer gekyk. Ons het mekaar belowe ons gaan eendag by ’n somerkamp uitkom. Jare later stap ek saam met twee Amerikaanse kollegas (ek werk vir die American International School of Johannesburg) naby Clarens. By ’n uitkykpunt sê een: “Die uitsig herinner my aan die groen heuwels van Vermont rondom die somerkamp waar ek 18 somers deurgebring het.”

My vriend het gepraat van Camp Betsey Cox. Net daar het die wieletjies in my kop begin draai...

’n Jaar en duisende kilometers later sit ek by ’n tafel in ’n lodge. Meer as 100 kinders stroom by die deur in. Party in perdryklere, ander in baaikostuums met hulle hare nog nat. Langs my skuif drie meisies in en begin mekaar se hare vleg. By die deur word ’n groepie aangepraat om hulle pyl en boë buite te los.

Dan begin hulle sing. Uit volle bors, met vuiste wat ritmies op die houttafels tyd hou, sing elke kampganger een na die ander kampliedjie.

’n Tyd vir kalmte en oordenking – Leffertsmeer in Chittenden, Vermont.

Dis etenstyd by Camp Betsey Cox!

Ek het twee weke gelede aangekom by dié somerkamp diep in die woud in die deelstaat Vermont, in die noordooste van Amerika. Vir die volgende tien weke is ek die tennisafrigter.

In dié twee weke is ons onder meer opgelei as menseredders en leer die Amerikaanse kampvereniging se reëls en regulasies. Ons woon slypskole by wat wissel van “Leierskap in ’n multikulturele omgewing” tot “Wat om te doen as jy op ’n beer afkom.”

Vermont
’n Klimsessie eindig letterlik op ’n hoogtepunt – die spits van Mount Mansfield – die hoogste in Vermont – is 1 340 m bo seevlak.

Somerkampe is gróót in Amerika. Van Julie tot Augustus vertrek duisende jong mense na somerkampe landwyd. Hulle speel heeldag buite, braai malvalekkers in die aande en sing kampliedjies om die etenstafel. Die doel van die kampe is om vriendskappe te smee, nuwe dinge te beleef en lewensvaardighede aan te leer. Daar is somerkampe waar kampeerders selfone kan saambring, maar Betsey Cox het geen telefone, internet of Wi-Fi nie. Briewe en poskaarte is die enigste manier om met die buitewêreld te kommunikeer.

Nodeloos om te sê word daar baie briewe geskryf. Die posman kom elke dag om 10 vm. en 4 nm. Sakke pos word gesorteer en by elke hut afgelaai. Ek is mal oor briewe skryf en het elke dag ’n briefie met die Pond Express gestuur – ’n kano wat van Betsey Cox na ons broederskamp, Camp Sangamon, oor die Burr Pond vaar.

Die kamp het plek vir 120 meisies. Teen die tyd dat die kinders opdaag, het die kampleiers reeds aangepas by die kamplewe.

Jou hoekie in die houthut is versier met foto’s, liggies wat met batterye werk en dalk selfs jou gunstelingpotplant. Elke kampleier bly saam met sowat 10 meisies in ’n hut. Ouderdomme wissel tussen 8 en 15 jaar.

Sonder moderne tegnologie keer ons terug na pen en papier – ’n mooi tradisie herleef.
Moosalamoo-natuurreservaat.
Die meisies koelaf in die kristalhelder water by die Lana-waterval in die Moosalamoo-natuurreservaat.

En eensklaps is die kampplek ’n miernes! Elke oggend om 7.30 vm. lui ’n klok. Jy het ’n halfuur om reg te maak vir ontbyt (die kombuis het wel elektrisiteit). In die eetsaal word gesing, geëet en die aktiwiteite vir die dag aangekondig. Drie bekwame kokke sorg vir heerlike maaltye, onder meer plaatkoekies, skons, wraps, hamburgers en kerrie – oor naweke selfs bagels en oliebolle!

Ná ontbyt (en ’n hutinspeksie) sprei die kinders uit oor die kampterrein. Hier’s alle aktiwiteite waaraan jy kan dink: perdry, pottebakkery, staptogte, kuns en kunsvlyt, tuinwerk, plaaswerk, kajak, paddle board, houtwerk, drama en nog wat! Hier is twee aktiwiteite in die oggend, dan ’n halfuur vrye tyd. Ná middagete is dit rest hour. Vir ’n uur lank is die kamp tjoepstil. Dan word daar geslaap, briewe geskryf en gelees tot 2.30 nm. Nog twee aktiwiteite volg tot 4.30 nm. en weer vrye tyd tot aandete om 6 nm.

By die meeste ander plekke sal tieners net op ’n foon doenig wees tydens ’n aftydjie – nie hier nie! Die boomhuis wemel van kampgangers wat ’n nuwe kaartspeletjie leer. ’n Groepie drentel af water toe terwyl ’n handjie vol kampleiers joga aanpak op die gras.

Kampeerders sing saam voor elke ete.

Moenie vergeet van diegene wat sit en vleg nie. Vriendskapsarmbande is ’n moet! Jy en jou nuwe vriendinne klouter op na die boonste stapelbed en vleg die een na die ander bandjie uit garing. Namate die somerkamp se dae minder raak, word jou arm getooi in vriendskapsbandjies in elke kleur en patroon denkbaar.

Die aandprogram sluit af om 9 nm. Slaap, eet, speel, herhaal, behalwe op Woensdae, want Woensdae is uitstappiedag! Die uitstappies wissel van spitse uitklim tot museums besoek.

Ek het 12 meisies geneem op ’n drie dae lange staptog na Mount Mansfield (1 340 m) – die hoogste spits in Vermont. Ons het douvoordag weggespring. Jy vergaap jou om elke hoek en draai namate jy bo die bome uitstyg en later tussen die wolke loop. ’n Mens kan nie help om oneindig dankbaar te voel vir die geleentheid nie.

In 10 weke het ek hegte vriendskapsbande gesmee en een van die mooiste state in Amerika verken. En snags het ek gewoond geraak aan vuurvliegies as padwysers pleks van ligte.

Claren-donravy
Die Claren-donravyn is ’n gunstelingwatergat vir afkoel.

Ek wil ook gaan!

Hoe doen ’n mens aansoek? Die beste organisasie is International Exchange of North America (IENA). Ek het Camp Betsey Cox direk gekontak omdat ek spesifiek daar wou werk. Ná ’n paar Skype-onderhoude het ek ’n pos as tennisafrigter gekry. Ek moes steeds deur IENA aansoek doen om ’n werkvisum, en mediese versekering uitneem.

Wat kos die uitstappie? Jy betaal die retoervlug en visum. Die kamp verskaf vervoer van die lughawe en terug en betaal die IENA-aansluitingstarief. ’n Kampleier se salaris wissel tussen $180 tot $300 (R2 600 tot R4 400) per week, afhangende van jou kwalifikasie. Dit het my op die ou einde niks gekos nie. Trouens, ek het geld teruggebring.

Wanneer? Die somerkampe is oop van Julie tot Augustus. Die kampdatums vir 2020 is 28 Julie tot 22 Augustus plus twee weke vooraf vir oriëntering.

Wie kan aansoek doen? Enigiemand ouer as 18 jaar. Dit tel in jou guns as jy ’n leierskapsposisie beklee as byvoorbeeld onderwyser, jeugleier, sportafrigter, of as jy in die verlede met kinders gewerk het.

Hoe lank duur die proses? Sowat vyf maande; begin dus reeds in November aansoek doen.

Wenk: Doen deeglike navorsing oor die verskillende kampe – as jy nie sonder ’n straightener kan klaarkom nie, maak seker die kamp het elektrisiteit.

Kontak: iena.org; campbetseycox.com; campsangamon.com

Vertel ons van jou avontuur!

Was jy op ’n vakansie wat jy dink ander Weg-lesers ook sal geniet? Skryf oor die ervaring en ons publiseer dalk jou storie. Hou dit asseblief kort (maksimum 1 500 woorde) en stuur ’n paar voorbeeldfoto’s. As ons wel besluit om die storie te gebruik, gaan ons oorspronklike hoëresolusie- foto’s nodig hê; maak dus seker jou kamera is op die regte verstelling.

Stuur jou storie na redakteur@weg.co.za. Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za