Die eerste aand het ons by die Orange River Rafting-lodge gekamp en die tweede aand deurgeskiet tot by Rehoboth, waar ons by Lake Oanob oornag het. Dit was ’n belewenis om langs die dam te kamp en ons het die hordes voëlspesies waardeer. Jy het jou eie badkamergeriewe, ’n kombuis, ingeboude braaiplek en ’n eie dek.

Etosha was egter vir ons ’n bietjie teleurstellend en ons het nie soveel diere gesien as in die Krugerwildtuin nie. Die wild was nietemin gesond. Van hier af het ons wes gery, Palmwag om tot by die Khowarib-lodge suid van Sesfontein. Die omliggende berge is besonders en die weer... dit was só warm dat ons kon swem, selfs al was dit winter.

By Palmwag self het hulle ’n eiesoortige kampplek waar een olifant seker 20 m van ons kampplek af in die rivierloop afgestap het. Die rooiwangparkiete wat hulle in die makalanipalmbome tuismaak, was net so besonders. Hierdie palmbome se sade is só groot dat ons dit as balle gebruik het vir ons eie rolbalspel!

Die kampplek by die Goanikontes-oase, wat onlangs opgeknap is, was volgende aan die beurt. Dis teen die Swakoprivier en baie gewild. As jy stilte verkies, moet jy liefs naweke verby hou.

Die paaie rondom Sossusvlei is baie sleg en dit lyk nie of die owerheid sy hand hierop hou nie. Ek dink dis die groot busse wat so op die paaie jaag en dit vertrap. Hier staan hoeka ’n bord wat ’n mens waarsku teen slaggate, maar dit lyk of dit permanent geplant is.

Gelukkig vergoed die nuwe Sesriem Oasis-kampplek by Sossusvlei hiervoor. Ons was die eerste gaste op ons spesifieke staanplek en die bouers was nog op die perseel besig. Jy het jou eie geriewe op jou staanplek. Baie van die kampplekke wat ons besoek het – behalwe Sossusvlei – was nie baie vol nie, en volgende keer sal ons nie vooruit bespreek nie.

Ná 20 dae deur Namibië het ek en Ancen saamgestem dit was een van die beste vakansies nóg. Wie weet, dalk het die goedkoper brandstofprys daartoe bygedra? Dit kos amper R2/l goedkoper as by ons.

Foto: Johan van Bosch
Foto: Johan van Bosch
Foto: Johan van Bosch
Foto: Johan van Bosch
Foto: Johan van Bosch
Foto: Johan van Bosch