Henri en Jeannie se oudste seun, Hanri (11), het in die eerste kwartaal van sy gr. 6-jaar oor die geskiedenis van Mapungubwe geleer en die storie van die befaamde goue renoster wat in die jare dertig in ’n koninklike graf gevind is.

Toe die Venters dus besluit om verlede jaar in Maart saam met Hanri en sy boe-tie, Johan (10), drie van Sanparke se reservate in die noorde van die land te besoek, was Mapungubwe ook deel van hulle reisplan.

Hulle moes dié renosterbeeldjie in lewende lywe sien. En natuurlik ook vir ’n klompie dae in die Kruger gaan uitspan. Jeannie vertel.

Die Venter-gesin het na die noorde van die land gereis en drie van Sanparke se reservate besoek. Elkeen het sy eie betowering gehad en hulle het tussendeur ’n magdom doendinge ingeprop.
Leserstorie
WELKOM IN DIE KRUGER. Die Venters en hulle vriende het van bo na onder deur die Krugerwildtuin gereis. Albei gesinne het Bush Lapa-boswaens met hulle Toyota Hilux-bakkies gesleep. Een van die hoogtepunte was die trop van bykans 15 wildehonde wat hulle naby Tsendze gesien het.

Sien julle op die lughawe!

Ons Venters toer met ons Toyota Hilux 2.8 GD-6 4x4 Raider en ons Bush Lapa Vlooi-boswa. Ons vriende Jacques en Christa Hill, van Botha in die Breërivier, gaan die eerste week saam met hulle twee babadogters saam met ons reis.

Hulle ry met presies dieselfde bakkie as ons en huur vir hulle ’n Bush Lapa Miskruier vir die vakansie. Omdat die Maartvakansie so kort is, wil ons die beskikbare tyd ten volle benut en ons besluit die mans gaan die boswaens haak en vooruit ry terwyl ons vroue drie dae later saam met die kinders noorde toe vlieg.

Die Saterdagoggend land ons op Lanseria waar die mans ons inwag. Ons opwindende avontuur kan uiteindelik begin...

Bergwater in jou bottel

Die Marakele- nasionale park in die hartjie van die Waterberg is ons eerste bestemming, waar ons vir twee nagte gaan kamp. Sommer met die aankomslag kan ons sien die wêreld het baie reën gehad en die veld is ruig en mooi.

Ons kamp in die onomheinde Bontle-kamp en snags hoor ons hoe hardloop die wildsbokke verby ons boswa.

Die ablusiegeriewe is baie netjies en skoon.

Ons doen ’n selfryrit deur Marekele en verwonder ons aan die natuurskoon. Hier is majestueuse berge, grasvlaktes, bome en waterstrome waar jy jou waterbottel met vars bergwater kan volmaak. Die uitsig van die Lenong-uitkykpunt af is een van die mooiste goed wat ek al ervaar het... dis groen, groen en nogmaals groen – veral vir iemand van die droë Wes-Kaap.

Ape, njalas… en die goue renoster!

Ons vertrek na ons volgende Sanparke-bestemming: die Mapungubwe- nasionale park en Wêrelderfenisterrein. Op pad soontoe ry ons oor die Steenbokskeerkring. Ons ry met die R572 oor Lephalale, maar van Swartwater af tot sowat 30 km voor Alldays is die teerpad eintlik ’n grondpad met stukke teer tussenin. Dis slaggat op slaggat, en op plekke is dit beter om eerder langs die pad te ry. (Dis ook veiliger!)

Dit maak ons moedeloos, maar ons is nou hier en daar is geen omdraaikans nie. Ons kamp twee nagte in die Mazhou-kampterrein op heerlike ruim staanplekke onder koeltebome. Maar die ape in dié geweste is lastig en laat jou nie met rus nie. Gelukkig vergoed die mak njalas en bosbokkies in die kampterrein vir die ape se kattekwaad.

By Mapungubwe besoek ons die museum om die goue renoster te sien. Dit is omtrent ’n belewenis, al is dit eintlik net ’n replika. Die regte renosterbeeldjie word by die Universiteit van Pretoria gehou.

Ons ry op die park se selfryroetes, gaan stap met die Treetop Walk tussen die boomtoppe en geniet die pragtige uitsig oor die Limpoporivier met sy krokodille en pragtige voëllewe.

Ons besoek ook die plek waar die Limpopo- en Shasherivier ineenvloei en neem foto’s by die uitkykpunt waar drie lande – Suid-Afrika, Botswana en Zimbabwe – bymekaarkom.

Kruger toe!

Van Mapungubwe af vertrek ons na die Krugerwildtuin waar ons ’n volle tien nagte gaan deurbring. Ons beplan om die wildtuin van heel bo by Pafuri tot heel onder by Malelane te ry.

Op pad na Punda Maria eet ons middagete by die Pafuri-piekniekplek en besoek ook die samevloeiing by Crooks Corner waar Suid-Afrika, Zimbabwe en Mosambiek bymekaarkom.

Ons slaap die eerste nag in Punda Maria in ’n chalet omdat ons ’n bietjie inhaalwerk het met ons wasgoed én omdat ons ’n slag tussen wit lakens wil slaap. By Punda Maria se wasplek betaal jy maar R8 om ’n bondel wasgoed te was en R5 om die tuimeldroër te gebruik. Dis omtrent ’n winskopie.

Van Punda Maria af ry ons na die Tsendze-boskamp, en vir die tweede keer ry ons oor die Steenbokskeerkring. Tsendze is net suid van die Mopani-kamp en vir ons die hoogtepunt van die vakansie. Die kamp het ’n vriendelike opsigter wat elke aand kom groet en hoor of alles in orde is. Hulle was jou braaier elke oggend en sien mooi om na elke kampeerder.

Die ablusiegeriewe is relatief nuut, en hoewel die kamp geen elektrisiteit het nie, is die badkamers verlig en die storte toegerus met heerlike warm water. Die staanplekke is ook só uitgelê dat jy skaars jou buurman kan sien.

In ons drie dae op Tsendze ry ons al die paaie rondom Mopani en Letaba, waar ons groot troppe olifante en buffels sien. Ons sien ook ’n trop van ongeveer 15 wildehonde op die H14-pad.

Met ons terugkeer waarsku omstanders ons om nie in die bakkie te klim nie: Hulle het gesien hoe ’n Mosambiekse spoegkobra by ons bakkie se onderstel inseil.

Dis altyd lekker om die Groot Vyf te sien, maar vir ons Venters is die wildehonde ’n persoonlike mylpaal.

Piekniek, wildkyk...en ’n ongewenste besoeker

Ons volgende oorslaapplek is Letaba, waar ons weer by ’n chalet inboek.

Ons besoek die Olifantmuseum en eet ’n roomys in die nuwe Tindlovu-restaurant met sy pragtige uitsig oor die Letabarivier.

Smiddae hou ons piekniek by Masorini naby die Sable-watergat terwyl ons wildkyk. ’n Mens kan hier vir jou ’n gasbraaier teen R20 huur om ’n lekker warm middagete te berei.

In Letaba parkeer ons een middag voor die restaurant en stap rond om die kamp te verken en die winkel te besoek. Met ons terugkeer waarsku omstanders ons om nie in die bakkie te klim nie: Hulle het gesien hoe ’n Mosambiekse spoegkobra by ons bakkie se onderstel inseil.

Die kombuispersoneel en vakansiegangers drom saam om die petalje te aanskou. Gelukkig is een van die wildbewaarders ’n opgeleide slanghanteerder, en toe die slang onder die bakkie uitseil, is hy daar om hom te vang. Dit is toe ’n Egiptiese kobra.

Die wildbewaarder het die slang daar weg en sê hy gaan hom êrens in die veld vrylaat... ver van Letaba se parkeerterrein af.

Van hier af reis ons na Satara waar ons twee nagte gaan kamp. Die staanplekke is nie afgebaken of genommer nie en jy kan kamp waar jy wil. Die ablusiegeriewe is nie meer nuut nie, maar wel skoon en netjies.

Satara is bekend vir sy leeus, en hy doen sy reputasie sommer dadelik gestand, want skaars 800 m van die kamp se hek af, net langs die teerpad, lê twee leeumannetjies langs ’n sebrakarkas en slaap.

Die motors drom om dié toneel saam en kort voor lank ontstaan ’n verkeersknoop wat Johannesburg se spitsverkeer omtrent na ’n vulletjie laat lyk.

Maanhare
DAGSÊ, VUILBAARD. Die Krugerwildtuin het nie teleurgestel nie en op een van hulle wildritte het die Venters vier van die Groot Vyf binne die eerste 15 minute gewaar.

’n Ware belewenis

Ná ons twee nagte op Satara vertrek ons na Skukuza, maar ons ry eers by die suidelikste kremetartboom in die wildtuin langs om ’n foto te neem.

Ons besluit om oor Onder-Sabie te ry, omdat ons nog nie ’n enkele renoster gesien het nie. ’n Oom in Satara het vir ons gesê die renosters kom meer suid voor, by kampe soos Onder-Sabie en Berg-en-Dal. Ons kan darem nie tien dae in die Kruger wees en nié elkeen van die Groot Vyf gewaar nie...

Met ’n bietjie geluk – en danksy Henri se vlymskerp oë – sien ons twee van hulle. Ons bly amper ’n uur daar en sien hoe hulle al hoe nader kom en uiteindelik oor die teerpad stap. Dit is ’n belewenis wat geld nie kan koop nie.

’n Mens is baie bewus van renosterstropery wanneer jy in die wildtuin is. Hulle dui nie meer op die kennisgewingborde aan waar mense renosters gesien het nie en by die parkhekke deursoek hulle jou motor, terwyl die teenstropingsbakkies ’n alledaagse verskynsel is. Daarom is ’n mens dankbaar vir elke liewe renoster wat jy sien.

Pelgrimsrus en Graskop

Op ons tweede dag by Skukuza besluit ons om die wildtuin deur die Paul Kruger-hek te verlaat en koers te kies na Pelgrimsrus en Graskop.

Ná agt dae waar ons nooit vinniger as 50 km/h gery het nie, voel 120 km/h nou blitsvinnig. Ons ry tot op Pelgrimsrus en stap deur die dorpie. Dit is hartseer om te sien hoeveel van die geboue toe staan.

Ons gesels met die tannie by die koffiewinkel, en sy sê die geboue behoort aan die staat en dat hulle tenders uitsit vir instandhouding. Maar die plek gaan agteruit en huurders raak al hoe minder. Dis werklik jammer.

Ons neem familiefoto’s by die Kuzullos Emporium. Dit is ’n heerlike ervaring wat ons nooit sal vergeet nie. Ons besoek ook die nuwe Graskop-ravyn wat in Desember 2017 oopgemaak het. Dit is die enigste van sy soort in die Suidelke Halfrond, met ’n hyser wat 51 m teen ’n krans afsak tot onder.

Hier stap jy 600 m op verhewe paadjies in ’n reënwoud tussen die groen plantegroei tot by die Panoramaravyn-waterval. Hier is hangbruggies op die pad en jy kan dit loop so vinnig as wat jy wil. Dit kos R175 p.p. (R120 vir kinders). Hier is ook ’n lieflike restaurant en ’n kunsmark.

Ná middagete besluit ons om God’s Window te besoek. Die wolke dreig, maar die reën bly weg en ons kry pragtige foto’s en die mooiste uitsigte wat ons lank sal onthou.

Ná ons kamp by Skukuza ry ons oor Pretoriuskop na Berg-en-Dal waar ons die laaste aand deurbring. Ons ry die Ou Wapad, of die “Jock of the Bushveld”-pad soos hy ook bekend staan. Henri is mal oor geskiedenis en ons hou by elke moontlike gedenkplaat stil.

Ons bespreek vir ons ’n skemerkelkwildrit by Berg-en-Dal om ons vakansie af te sluit. Dit kos R306 p.p. (R153 vir kinders). Hier is baie diere en selfs die luiperd, wat gewoonlik baie skugter is, is maklik om te kry. Ons is baie gelukkig om op ons wildrit binne 15 minute vier van die Groot Vyf te sien.

Venters
Lekker piekniek!

Die langpad huis toe

Ná tien dae in die Kruger verlaat ons die wildtuin by die Malalanehek en pak die 1 786 km huis toe. Soos my een vriendin altyd sê: “Die Kruger het ’n betowerende uitwerking op ’n mens. Vir ’n paar dae ná ’n besoek aan die wildtuin is jy op jou eie planeet.” Ek dink dit is die afwagting wat daarvoor sorg; in die Kruger kan daar enige oomblik ’n groot kat, renoster of olifant oor die pad stap. Jy moet net op die regte tyd op die regte plek wees.

Ek het eenkeer gelees ’n mens kry drie soorte kampeerders: dié wat op die oomblik in die Krugerwildtuin kamp, dié wat nog op pad is, en dié wat wéér op pad is. Ek dink ek val nou in die derde groep, en hoop om gou weer ’n draai te gaan maak in die noorde.

Jeannie wen ’n Camp Cover-Bundu-sak ter waarde van R500
Dié veeldoelige sak is só ontwerp dat jy hom as noodhulptas óf smuktas kan gebruik. Gaan kyk na Camp Cover se beskermende oortreksels op die webwerf campcover.co.za.