Ons groep vriende wou graag ’n motorfietstoer doen, maar nie een van ons het ’n motorfiets nie. Plan B? ’n Toer al om die Makgadikgadipanne in Botswana op bromponies, die soort waarmee tienermeisies ry.

Die plan was om in 6 dae rofweg 275 km al om die buitewyke van die Suapan – Makgadikgadi se grootste pan – te ry.

Party van ons koop ’n “ysterperd”, ander leen, maar teen D-dag is ons gereed: Albert van der Merwe op ’n Suzuki, Francois Bester op ’n BMW C1, Bennie Fourie op ’n Fong Kong Blade, Leon-Fritz Riekert op ’n Vuka, Hano Swart op ’n Kawasaki Brute Force-quadfiets en ek op ’n Honda Elite.

Ons sou die bromponies met twee bakkies en sleepwaens vervoer tot op die dorpie Mosu en van daar af in Straatvalkstyl om die pan ry.

Leon-Fritz (van "Boer soek ’n vrou"-faam) kamp uit by sy bromponie.

DAG 1 & 2 Pretoria na Mosu

Die teëspoed ry ons reeds vroeg. Ons ry die Vrydagaand ná werk na die Skilpadshek-grenspos wat oop is tot twaalfuur die nag. Daar gekom, besef Albert hy het sy papierwerk op sy bakkie se dak gesit in Pretoria...

Die res bly by die grenspos terwyl ek en Bennie vir Albert terugneem Pretoria toe. As die geluk aan ons kant is, kry ons miskien sy paspoort iewers in Lynnwood se strate. Nodeloos om te sê, is die paspoort nêrens te vinde nie. Ons groet vir Albert en ry wéér die 350 km na Skilpadshek.

Teen seweuur daardie oggend is ons deur die grenspos en pak ons die 850 km tot by Mosu.

Sowat 30 km voor die dorpie Letlhakane – nadat ons twee bande in 2 km afgeskryf het – kom ons agter die dubbelas-sleepwa (met vier van die bromponies op) se veer het gebreek en die een as het geskuif. Ons haal die as af, laai dit op die wa en lig die sleepwa met twee domkragte op.

Omstreeks tienuur die aand klop ons hoofman Ketso van Mosu wakker en vra of ons die voertuie daar kan los. Hy stem in, maar is verbaas toe hy besef dat ons albei voertuie los. Hy noem twee keer dat die panne sanderig is... maar daar’s geen keer aan ons nie. Ons haak die jet ski-sleepwa wat vir die toer omgebou is aan Hano se quadfiets en laat wiel! Weliswaar teen ’n topspoed van 40 km per uur.

Het ek reeds genoem dis elfuur die aand en pikdonker?

Dag 3: Mosu na Kubu-eiland

Die ketel fluit terwyl die troepe kop uitsteek by die tente. Die Makgadikgadipanne lê plat en spierwit om ons – jy kan die son myle ver sien opkom.

Ons saal die bromponies op. Ons kerjakker op die panne soos laerskoolseuns op ’n rugbyveld.

Die Makgadikgadipanne lê plat en spierwit om ons – jy kan die son myle ver sien opkom.

Ons moet natuurlik vasstel wie se ryding is die beste: Die Blade vat voor, met die C1 en die Vuka kort op sy hakke. Al is hier net vier bromponies, voel dit asof my Honda in sesde plek klaarmaak, so ver agter is ek.

Dit is min of meer hoe eerste pouse sou lyk indien 30-jarige mans met bromponies skool toe sou gaan.

Terwyl ons ry, maak ons kennis met droë modderkolle én seepgladde kolle.

Vir middagete eet ons ribburgers onder ’n gazebo. Daarna durf ons die laaste paar kilometer na Kubu-eiland aan. Die ryery voel dikwels na ’n dobbelspel.

Rondom jou lyk die oppervlak dieselfde. Soms is jy gelukkig en ry hoog en droog oor die modder. Ander kere voel jy hoe jou voorwiel stadig dieper sak, jou ponie harder werk om vooruit te kom en jy begin alkante gly asof jy met sokkies op ’n ten pin bowling-baan loop. As jy gelukkig is, kry jy beheer en jy is deur.

By Kubu-eiland smul ons aan T-beensteaks terwyl die son so skouspelagtig anderkant die kremetartbome sak dat ’n mens dink dit gaan nooit weer opkom nie.

Dag 4: Kubu tot anderkant die Sua-soutmyn

Douvoordag hoor ek ’n motor herhaaldelik verby ons tente ry. Iemand lag, ’n kamera klik en dan ry die motor verder. Ná die vierde keer loer ek by my tent uit. Dis ’n groep Duitsers wat om Kubu-eiland ry en heerlik lag vir die spektakel wat ons kampplek is.

Ná koffie en beskuit mik ons verder noord. Van die manne voel ons het ’n dag minder vanweë die paspoort- en sleepwadrama. Hulle meen ons moet tot op ’n punt ry en omdraai. Ek hou voet by stuk – om op en af te ry is soos om in ’n wiegstoel te sit – dit hou jou besig, maar bring jou nêrens nie. Ek sou wel later spyt wees.

Die panne lyk glad, maar met die geskud moes ons kort-kort seker maak alles is vas, veral as jy ’n bromponie agter op ’n jet ski-sleepwa vasgemaak het.

Vandag leer ken ons dié bruin laag modder onder die wit laag van die panne goed. Ons sien olifante wat aangestap kom panne toe en dan weer omdraai, so al asof hulle nie kans sien vir vassit nie.

Gelukkig kan ons die bromponies maklik optel en aanbeweeg. Nogtans skiet die modder oral in en plak op elke plek waar dit houvas kry. Die modder wat om die wiele klou, word hard, soveel so dat die C1 begin warm word.

Dit word mettertyd duidelik die C1 se knou is ’n langtermynbesering. Ons slaan die gazebo op en begin dan met herstelwerk. Ons weet genoeg om die motorfietse oop te maak, maar te min om dit werklik reg te maak.

Bester ry toe maar so met die oorverhitliggie wat lukraak aan- en afgaan tot die C1 ’n uur of wat later halt roep. Ons laai hom sonder seremonie op die sleepwa. Maar Bester kla nie te veel nie, want hy kan nou agterop die sleepwa bo-op die koelbokse ry.

Die ander bromponies vorder goed. Dis oermooi rondom ons. Jy sien kilometers aaneen net die spierwit panne... en dan drie ouens op bromponies. Dis soos ’n toneel uit ’n Mad Max-fliek met ’n skeut Monty Python. Die aand klim ons vroeg in die tente terwyl die jakkalse en hiënas tot laatnag roep.

Toe ons Albert gaan aflaai, kon ons darem ’n vergete gazebo oplaai – die son was fel.

Dag 5: Soutmyn tot wie weet waar

As ons oor twee dae by die werk wil wees, moet ons vandag laat wiel om kilometers op te maak. Die modder en die lam C1 het hulle tol geëis. Ons het nog net sowat 150 km van die aanvanklike 275 km gery.

Teen 9 vm. begin die Blade vloermoere gooi. Kort daarna vrek hy heeltemal. Die beseerde word op die sleepwa gelaai. Leon-Fritz en Hano ry nou saam op die Vuka.

Die dag is vol avontuur: Van opspring in die ry tot neerval en gly. Van vassit tot vetgee, alles net om kilometers op te maak. Die volgende bestemming is Kukonje-eiland (Kubu-eiland se minder bekende eweknie) aan die westekant van die pan. Maar ons skiet verby om nader aan die voertuie te kom.

Iewers op ’n kol aan die suidooste van die pan besluit ons om eerder kortpad te vat oor die pan as om óm te ry soos beplan. As ons sou vasval, sou ons wel Dinsdag by die werk wees, maar eers die vólgende Dinsdag… Ons ry en gly, gee vet en gly weer. Bester is vasberade: Ons gaan nie hier vassit nie. Hy kry ons met ’n aanhouer-wen-houding deur. Dit was ’n groot oomblik toe ons aan die ander kant van die pan uitkom.

Francois was reg dat die C1 moeilik op die panne gaan hanteer.

Teen laatmiddag daag ons by die Kwadiba-veeartsenybeheerpunt op en die valhek-agent beduie na ’n tweespoorpaadjie na Mosu in plaas van om óm die pan te ry. Ons aarsel nie ’n oomblik nie. Van al die speel en vassit is ons brandstof ook aan die lae kant.

Ons ry met die tweespoorpaadjie tussendeur gestroopte bome en verby olifante en koedoes tot ons slaapplek kry.

Dag 6 Van iewers na Pretoria

Van tweeuur die oggend af lê ek wawyd wakker. Ek doen die petrolsom weer en weer in my kop. Dalk maak ons dit, dalk nie. Ek klim uit my tent om my kop skoon te kry, en hoor die ander ouens lê ook wakker.

Ná ’n kajuitvergadering besluit ons dat ek en Bester dadelik met die Vuka en die Honda die bakkies gaan haal terwyl die res kamp opslaan.

Die 60 km tot by Mosu in die donkerte is ’n uitdaging: dik sand, verspoelde rivierlope, hiënas, jakkalse... Maar sowat drie uur later klop ons weer aan hoofman Ketso se deur. Hy lyk merkbaar verlig om ons te sien. Ons haak die sleepwa en is binne twee uur terug by die ander.

Verligte manne by die Kwadiba-veepos. Van links: Wilbrie, Leon-Fritz, Bennie, Francois en Hano.

Teen 11.30 vm. is alles gepak en gehaak en durf ons die terugtog Pretoria toe aan. Teen 90 km per uur, want die wa het net een as.

Die aand halfeen hou ons stil in Pretoria, betyds vir werk die volgende dag.

Ons het dit gemaak – ons het die panne met bromponies getem. Wel, kom ons sê eerder ons het gelykop gespeel.