Die Maletsunyane-waterval! Hoe lank droom ek nie al daarvan om by dié waterval te staan nie! In 1973 het my oorlede man, Ian, en ’n paar van sy Bergklubpêlle van Qachasnek verby hierdie manjifieke waterval na Maseru gestap. Hulle vertellings het my begeester. Nou staan ek hier bo die ravyn, met die hoë waterval wat donderend na onder stort.

Langs die waterval abseil ’n paar dapperes na onder. Ek sien dassies, ’n Kaapse kliplyster, ’n kransvalk en ’n lammergeier; rooivlerkspreeus en swaels swiep verby.

Ons groepie het gister in Semonkong (“plek van rook”), die naaste dorpie aan die waterval oornag. Ek, Dave, Elmarie en Danie het in my Landie gery; en die susters Marise en Annelee in ’n Suzuki Jimny. Ons het van Ladybrand af gery met die A2 en die A5, deur Maseru, die universi-teitsdorp Roma en die dorpie Ramabanta. Dit was goeie teerpad met hoë berge aan weerskante.

Ondanks die goeie paaie het dit ons steeds drie uur gevat om 100 km te ry – ons het gereeld stilgehou om die uitsig te waardeer of vir ’n troppie vee wat deur mans in komberse op perde aangejaag word.

Naby Maseru het ons by Thaba Bosiu stilgehou – ’n sandsteenplatorand en die vesting waarheen koning Mosjoesjoe in die vroeë jare 1800 gevlug het. Die Britte en Rooms-Katolieke kerk het tot sy redding gekom en as gevolg daarvan is Lesotho grootliks ’n Katolieke land.

Ons bly in die Semonkong Lodge. Hier is ’n paar chalets en ’n kampterrein langs die Maletsunyanerivier, en twee groter rondawels bo-op die heuwel. Elke rondawel het ses stapelbeddens en ’n gemeenskaplike kombuis. Ons ses is in een rondawel en die ander een word gedeel deur ’n Israeliese man wat deur Afrika ryloop en ’n motorfietsryer van Mosselbaai.

Jy stap sowat ’n uur op ’n netwerk van paadjies van die lodge af tot by die Maletsunyane-waterval. Ons kom heelwat mense teë wat te perd of met ’n donkie aan ’n tou op pad dorp toe is vir inkopies. Groot gasbottels is op party van die donkies se rûe vasgemaak.

Almal is toegewikkel in komberse, balaklawas en musse. Ons sien ook heelwat bokke, skape, beeste en honde.

Die Maletsunyane-waterval in al sy glorie.

Eensklaps sien jy die waterval. Danie, Marise en Annelee wil stroomaf stap en ’n pad tot in die ravyn soek. Ek en Elmarie is tevrede om die toneel voor ons in te drink – Dave sluit later by ons aan; hy wou eers sy kamera laai. Die moedige trio vind gou genoeg uit die enigste paadjie tot onder in die ravyn is ook die enigste (steil!) een waarmee jy kan terugstap – dis die een waarmee die abseilers weer tot op die plato stap. Hulle volg toe ’n 4x4-pad wat ’n entjie stroomop loop en dan om ’n heuwel tot by nog ’n uitkykpunt oor die waterval.

Ek stap nie saam nie – ons is meer as 2 200 m bo seespieël en ek haal swaar asem in die dun lug. Nadat almal klaar verken is, keer ons terug na Semonkong vir ’n bier in die lodge se kroeg en aandete by ons rondawel.

Ver in die wêreld, Katse

Die volgende oggend is ek eerste wakker. Buite lê die sonsopkoms soos ’n geel streep op die horison en ’n sekelmaan omarm Venus bo my.

Toe ons opgepak is, ry ons terug na Roma met die A5 en draai oos om met die A3 na Thaba-Tseka te ry – ’n dorp wat rofweg in die middel van die land lê.

Ons ry op en oor ’n paar indrukwekkende teerpasse: Bushman’s, God Help Me, Blue Mountain… Ons is ín die berg. Ons ry verby nog beeste, bokke en skape wat deur nog jong manne in komberse aangejaag word.

Die plantegroei is amper soos in die Alpe, en water stroom teen die hange af tot in die vallei. Haarnaalddraaie, ’n os wat in die middel van die pad staan… Danie is agter die stuur en die remme skreeu toe ons tot stilstand kom!

Later hou ons stil vir middagete en sien die plaaslike sokkerspan teen die berg uithol!

Oral sien ’n mens lappies mielies. Die stingels is gesny om gerwe en hooimiedens te maak. Later sien jy hoe hierdie hooimiedens in bondels gebind en op donkies gelaai word; dit word gestoor vir veevoer in die lang winter.

Ons kom by Thaba-Tseka aan en kry petrol vir die Jimny – hy loop al ’n rukkie op walms.

By Thaba-Tseka kon die Jimny se tenk volgemaak word.

Ek het gedink die pad om tot hier te kom was dramaties, maar die pad van Thaba-Tseka af na die Katsedam en verder noord na die dorpie Lejone oortref die pad tot dusver. Dis 60 km grondpad van Thaba-Tseka af tot by die Katse-damwal. Dis vol slaggate en klipperig, en dit vat ons drie uur. Langs die pad val die landskap weg tot in valleie wat lyk asof dit geen boom het nie.

Die son sit al gevaarlik laag toe ons by die wal kom, en ons is dankbaar dat die laaste deel van 50 km tot by Lejone geteer is. Ons kom op die ou end teen seweuur by die Motebong Lodge aan waar hulle niks van ons bespreking weet nie. Hulle het wel ’n opslaanhuis vir die aand.

Die Katsedam is basies ’n vallei vol water in die Malibamatsorivier. Dis lank en smal – en diép. Lejone was die boudorpie in die noorde toe die dam in die vroeë jare negentig gebou is. Dis deel van die Lesotho-Hoogland-waterprojek – ’n vennootskap tussen Suid-Afrika en Lesotho – om water aan Gauteng te voorsien. ’n Tonnel neem die water tot in die Caledonrivier, wat die Vaalrivier en uiteindelik die Vaaldam voed. ’n Mens kan ’n toer van die wal doen om die ingenieurswese van nader te beskou, maar ons is te pootuit om terug te ry soontoe.

Terwyl die drie entoesiastiese stappers die volgende oggend ’n lang roete deur die vallei saam met ’n gids aanpak, kies die res van ons ’n rustiger wandeling. Terwyl ons stap, ontmoet ons ’n Suid-Afrikaner wat ’n forelplaas hier naby bestuur. Die teelvis kom van die Kaap af, die eiers uit Europa en die vis word met vragmotors na Woolworths-winkels landwyd vervoer.

Ná ’n koppie tee terug by ons huisie stap ons met die pad op tot by Lejone. Ons loop verby die mark – dit wemel van honde, donkies en mense. Dit lyk asof dit pensioendag is en ou mense wag geduldig dat die regte amptenare opdaag.

Die winkels in Lejone is die gewone keur van klerewinkels, geldskieters, selfoonwinkels en ’n supermark. ’n Geduldige donkie staan buite een winkel met ’n kombers om sy kop – dis een manier om seker te maak hy loop nie weg nie! (Ons loer in by ’n winkel waar ons Basotho-komberse van akrielvesel vir R400 elk kan koop.)

Ons kom almal later die aand bymekaar om te braai en luister na die drie stappers se stories. Hulle het 20 km saam met die gids afgelê.

Angorabokke op pad na die barbier.

Die nonne van St. James

Die volgende dag is bewolk en ons val vroeg in die pad. Ons ry noordoos op ’n grondpad wat ons uiteindelik tot op die geteerde A1 bring, waar ons suid draai na die dorp Mokhotlong.

Die grondpaddeel is stadig: Dit neem drie uur om 40 km af te lê: op en af, kronkelend deur die valleie. Iewers vat ons die verkeerde afdraai en beland bo-op ’n heuwel in ’n doodloopstraatdorp waar ’n vrou vir ’n groep kinders in die son klasgee.

Gelukkig help ’n jong man ons om op die regte pad te kom. Ons steek die Malibamatso-rivier met ’n laagwaterbrug oor en ry opdraandes verby die Kao-diamantmyn. Hier is die pad beter; dit word waarskynlik deur die myn onderhou. Ons ry hoër en hoër tot bo-op ’n plato. Die grondpad sluit by die A1-pad na Tlaengpas aan – teen 3 251 m is dit een van die hoogste padpasse in Afrika. Die AfriSki-oord lê net om die draai na die noorde, maar ons mik suid na Mokhotlong.

Hier is ’n paar diamantmyne by Mokhotlong; dus kry ons brandstof en ’n ordentlike Shoprite. Die 155 km-reis het tot dusver “net” ses en ’n half uur geneem. Dis beter as die rit van Semonkong na Lejone, wat ons 11 uur gevat het!

Suid van Mokhotlong draai ons van die A1 af tot op die Sanipaspad. Kort daarna draai ons weer af na St James Lodge – ’n groot Katolieke sendingstasie met ’n kerk, crèche, laerskool, hoërskool met ’n koshuis en ’n kliniek. Meer as 40 nonne bly in ’n mooi woonstelblok – party is onderwysers en ander verpleegsters.

’n Veldskool in die berg.

Die “lodge” is ’n klein klipgebou waar die priesters waarskynlik gebly het toe hulle hier gekom het: twee groot kamers met vier of vyf beddens in elk, ’n slaapkamer en twee aangrensende rondawels. Dis ’n bietjie primitief, maar hier is darem elektrisiteit. En goedkoop. Natuurlik is hier weer geen bewys van ons bespreking en deposito nie, maar die vriendelike ontvangsdame bel ’n priester en sorteer alles uit.

Die ontvangsdame neem ons op ’n toer van die kerk met sy muurskilderye en ’n geverfde plafon – dit is blykbaar in dele versier en toe geïnstalleer. Sy speel tromme in die kerkkoor.

Teen sowat seweuur reën dit liggies en is ek effe bekommerd, maar toe ek negeuur buite loer, knip die Suiderkruis vir my oog hoog bo in die lug, en die volgende oggend groet Venus my.

Liza by die Sanipas.

Afdraande af huis toe

Hier’s nie juis lekker roetes om te stap nie en ons besluit een aand by St. James is genoeg. Ná ’n warm donkiestort ry ons na die Sani Mountain Lodge toe. Die lodge bo-op die pas is net sowat 40 km ver – ’n uur lange rit op teer.

By die lodge gesels ons met ander reisigers en kry dan ons koppe reg vir die aanslag. Verby pas-poortbeheer. Tweede rat, laestrek. Ná die eerste paar haarnaalddraaie sit ek die Landie in eerste rat om die remme te spaar.

Dave is langs my en praat my tot onder. Terwyl ons al hoe laer daal, troon die platorand bo ons uit. Ná die haarnaalde word die pad minder steil en gou is ons deur die Suid- Afrikaanse grenspos. Ons het dit gemaak!

Voorwaarts na Underberg, Bulwer, Boston… Die groen heuwels van KwaZulu-Natal. Ons groet vir Annelee wat op pad is na Durban, en ons laai Dave by sy huis in Howick af. Die res van ons gaan ’n paar nagte deurbring op ons familieplaas naby Greytown voor ons weer die “regte wêreld” aandurf.

Hier het Liza-hulle gebly

Semonkong Lodge, Semonkong 

Lodgekamers, chalets, rondawels en ’n kampterrein. Rondawels vanaf R250 p.p.; kamers vanaf R650 p.p. wat deel; kamp R150 p.p. Kontak 00 26 627 006 037; semonkonglodge.com

Motebong Lodge, Lejone

Selfsorghuisies met ’n uitsig op die Katsedam. Vanaf R1 850 p.n. vir ’n huisie met slaapplek vir vyf mense.Kontak 00 26 659 744 567; motebong.com

St James Lodge

Basiese verblyf by ’n Katolieke sendingstasie: twee slaapsale met ses beddens elk, plus twee ronddawels met slaapplek vir twee. Sowat R150-R200 p.p.p.n.Kontak 071 672 6801 (Sally Smith)

Vertel ons van jou avontuur!
Was jy op ’n vakansie wat jy dink ander Weg-lesers ook sal geniet? Skryf oor die ervaring en ons publiseer dalk jou storie. Hou dit asseblief kort (maksimum 1 500 woorde) en stuur ’n paar voorbeeldfoto’s. As ons besluit om die storie te gebruik, gaan ons oorspronklike hoëresolusiefoto’s nodig hê; maak dus seker jou kamera is op die regte verstelling. Stuur jou storie na redakteur@weg.co.za