Foto's James Kydd

Nes ons om die draai geroei kom, roep Chris iets van ’n golf wat inkom van die rietbedding aan die oorkant van die rivier af. Die boodskap word saam met die ry mokoro’s aangestuur en ons almal mik vir die oewer die naaste aan ons. 

Dan bars chaos los: ’n Seekoei verrys onder Steve en Giles se mokoro en stamp sy onderste tande deur die veselglasromp. Die boot dop om en Steve en Giles tuimel in die water. Ek vroetelsukkel met my belt en skiet ’n fakkel af. Die boot is onderstebo en Steve en Giles probeer verwoed om bo-op die romp te klim. 

Ek en Goetz trek ons boot tot langs die oewer en ek hardloop langs die rivier af, landmyne vergete. “Swem! Swem!” skree Chris. Terwyl ek hardloop, skroef ek nog ’n skoot in die fakkelpistool in. Steve en Giles los die boot en swem na die oewer – waarskynlik die langste 20 m van hulle lewe. Hulle kom by die oewer uit. “Wie bloei? Wie bloei?” vra ek. 

Wonderbaarlik bloei nie een van hulle nie. Kaya en A.J. gryp die leë mokoro en sleep dit kant toe terwyl ek en Chris rivier-af roei om te red wat ons kan. Ons het g’n idee of Ta nog hier iewers skuil nie. Ons kry darem spane, waterbottels en ander dryfgoed. 

Toe ons terug is by die ander, lê die stukkende mokoro op die oewer. Hier is twee groot gate waar die seekoei se tande deur is. Die meeste van hulle toerusting het verbasend genoeg in die boot gebly. Steve en Giles is bleek van die skok. Ons maak vuur en sit die ketel op die kole vir tee. Ek haal my veselglasstelletjie uit en begin die gate regmaak. 

’n Uur later is ons terug op die water. Dis dag 51 van ons Okavango15-ekspedisie – die eerste keer wat die Cuitorivier amptelik verken en bestudeer word. Ons het reeds 800 km gedek. Ons weet dit nog nie, maar ons gaan vir nóg 1 700 km en 68 dae op die water wees...

Hoog in die Cuitorivier – na aan die bron – is die
Hoog in die Cuitorivier – na aan die bron – is die water nog kristalhelder.

Die begin...

Draai die horlosie agt weke terug. Ons ry in die middel van ’n digte miombo-woud in ’n konvooi gepantserde voertuie van die Halo-trust – ’n Britse organisasie wat landmyne en ander gevaarlike oorlog-oorblyfsels verwyder. Ons volg die paadjie wat Halo weke vroeër verken het tot by die afgeleë oorsprongmeer van die Cuitorivier. 

Die paadjie neem ons ook tot by die vervulling van ’n reis waaroor ’n groep omgewingsbewustes al amper tien jaar droom: Om die loop van die Cuitorivier te volg van die bron tot einde; deur Angola, met die Caprivistrook langs in Namibië en tot in Botswana, af met die Okavangopypsteel oor die Okavangodelta en uiteindelik met die Botetirivier langs tot waar die water in die sand van die Kalahari wegsyfer. 

Dié reis van byna 2 500 km duur op die ou einde 119 dae; dae met seekoeie, krokodille, olifante, leeus en hiënas; met wegholveldbrande, ysige temperature snags, skroeiende hitte bedags en honderde kilogram se rys en boontjies. Dit sou ’n sonderlinge reis wees, niemand se lewe sou daarna dieselfde wees nie. En dit sou taai wees, taaier as wat ons ooit kon gedink het. 

Ons is ’n groep wetenskaplikes en ontdekkers onder leiding van die bewaringsbioloog dr. Steve Boyes. Die kerngroep bestaan uit Steve, die navorsingskoördineerder, Giles Trevethick, die fotograaf James Kydd, die National Geographic-filmmaker Neil Gelinas, die Namibiese insekkenner Goetz Neef, die Angolese viskenner Adjany (A.J.) Costa (ook ons vertaler), en die mokorokenners en -roeiers Gobonamang Kgetho (G.B.), Tom Riteo, Schnapps Kgetho en Water Setlabosha, almal lede van die baYei-stam van Botswana se Okavangodelta. Ek is in beheer van kamplogistiek. Ander sou by ons aansluit en weer vertrek, maar dié groep sou die hele reis meemaak. 

Die Okavangodelta is ’n Unesco-wêrelderfenisgebied, maar ten spyte hiervan bly sy opvangsgebied in Angola sensitief en grootliks onverken. Terwyl ons reis, tel ons diere en voëls, doen landskapopnames en versamel vis- en insekmonsters. Ons wil poog om die Cuitorivier aan mense bekend te stel sodat dié stuk wildernis amptelik bewaar kan word. 

Die konvooi ry deur ’n gebied wat volgens ons plaaslike gids ’n mynveld is: anti-tenkmyne is tydens die burgeroorlog hier geplant om ’n nabygeleë spoorweg te beskerm. Dis ’n ongedokumenteerde veld, en Tim Gargan, ons Halo-kontak, teken dit noukeurig op sy GPS aan. Ons stop gereeld om deur bome te kap wat omgeval het sodat die vragmotor met ons bote en toerusting kan deurkom. Die reël bly egter: Bly op die paadjie! 

Uiteindelik maak die woud plek vir ’n uitsig oor ’n helder seegroen meer. Dis hier waar die Cuito se 1 500 km lange paadjie begin, tot waar dit op die grens tussen Namibië en Angola by die Cubangorivier aansluit. (Cubango is die Angolese naam vir die Okavango). 

Die eerste agt dae is uitmergelend. Die smal stroompie wat uit die bronmeer vloei, kronkel heeltemal te veel vir ons 6 m lange mokoro’s. Dis rowwe terrein, met moerasagtige dele en heuphoogte gras. Die bote weeg sowat 300 kg elk (sonder passassiers!) en dit vat ses of agt mense om hulle oor die ongelyke grond te sleep. Selfs al sleep ons heeldag van 9 vm. tot 5 nm., vorder die hele vloot minder as 2 km. Dis harde werk, frustrerend en geestelik uitputtend. 

Die terrein waardeur ons beweeg, is stil. Ons sien niks diere en amper geen voëls nie. Snags heers ’n doodse stilte: Hier is nie paddas, krieke of uile nie. Die enigste tekens van lewe is enkele dierespore, en berghane wat hoog bo in die blou lug sweef. Snags daal die temperature tot goed onder vriespunt en ons word die meeste oggende wakker in ’n digte, ysige mis, met amper alles toe onder ryp en dou. Dit lyk asof alles styf toegesluit is teen die koue. 

Een herinnering bly my by van die eerste paar dae: Ons bondel saam rondom die oggendvuur, ons bevrore vingers styf geklem om koffiebekers, besig om die bittere koue te vloek en grappies te maak. Nóg ’n lang dag se trek lê voor. 

Breër rivier

Uiteindelik raak die rivier effens breër, maar ons moet steeds walle wegsny om die bote om skerp draaie te kry. Plek-plek verdwyn die stroom heeltemal in donker tonnels onder die dik gras – die water vloei vinnig deur dié smal gange. Ons klou vas aan die neus en stu met die bote deur die koue, onheilspellende donkertes sonder dat ons voete aan die bodem raak. 

Die rivier word elke dag breër. En nuwe struikelblokke lê voor. 

Foto: James Kydd
Foto: James Kydd

Oral het die locals brûe oor die rivier gebou: afgekapte bome wat met bas aan mekaar gebind is. Ons kry die meeste weggeskuif, maar ander het diep in die oewers weggesak en ons moet deur harde, droë hout kap. Die mokoro-kapteins stuur die bote terwyl ons vooruit met die oewer langs loop en brûe soek en deurkap. 

Wanneer ons weke later uiteindelik mense teëkom, vra ons om verskoning, maar hulle glimlag net. Hier is baie bome. Maar dis eers later. Ondanks al die bewyse van mense het ons nog g’n mens gesien nie. 

Ten spyte van die koue nagte is die dae warm en droog. Ons swem nou en dan om die gemoedere ’n hupstoot te gee. Ons het nog geen krokodille gesien nie, maar dis net ’n kwessie van tyd... 

Die rivier word nog breër en ons begin roei. Die landskap het ook oopgemaak: Ons trek deur wye stroke verbrande grond, duisende hektaar lê verskroei en pikswart. Dit lyk asof die vure beplan was, maar ons gewaar steeds nie mense nie. Die enigste goed wat in die gebrande gebied beweeg, is warrelwinde wat dronkerig wieg, soos geeste wat in die roet en as lewe kry. 

En weer is hier nuwe struikelblokke: Digte stanings bome versper die rivier, en ons moet ’n paadjie deurkap om die mokoro’s aan die ander kant te kry. 

Ons sien ook die eerste groot krokodille. Skielik is ons rondkruipery in die ruigtes báie meer senutergend... Ons moet dikwels op takke staan en dit deurkap. Wanneer die takke meegee, val jy nekdiepte in die water, maar daar is net nie ’n ander manier om dit te doen nie. 

Ná een so ’n ruigte roei Steve na ons toe en vra of ons die groot krokodil sowat 300 m terug gesien het. Ons het nie, maar dit moet omtrent daar gewees het waar ons in borshoogte water heel ywerig deur takke gekap het… 

By die draaie waar die rivier die oewer weggekalwe het, val bome in die water. Die takke onder die water vorm ’n soort “sif” waardeur die water vinnig vloei en dis nie lank nie voor een van die mokoro’s die eerste keer omslaan. 

James en Tom is tweede van agter af (ek en Goetz is laaste). Hulle word sywaarts by ’n sif ingesuig op ’n plek waar die water vinnig vloei. Die mokoro dop om en alles val uit: batterye, ’n sonpaneel, sakke, kosmaaktoerusting. Ons verloor baie van ons borde en bekers. Die res van die konvooi roei voort, onbewus van wat gebeur het. Ek skiet ’n fakkel om hulle aandag te trek. Dit knal vergeefs in die uitgestrekte landskap. 

Ons kom eers heelwat later by die groep uit. Ek is al ’n paar keer deur die Okavangodelta en omslaan is ’n pyn in die watsenaam. Hierdie keer sal nie die laaste keer wees nie. 

Oor die volgende paar dae kap ons ons pad oop deur ruigte op ruigte totdat ons uiteindelik – sowat twee weke ná die tog se begin – die eerste mense sien. Een kyk na ons en hulle laat spaander. 

Toe Steve ’n paar dae later ’n draai by ’n nedersetting maak, hoor hy die inwoners het sedert 1974 geen ander mense gesien nie! Ons ontdek ook ’n waterval wat nog nie opgeteken is nie. Dis soos ’n Victoriawaterval in die kleine – sowat 8 m hoog en 20 m breed – wat in ’n steil kloof afstort. Ons dra die bote en toerusting oor land verby die muur van water. 

Een van die span se 119 kampplekke. In die skoon,
Een van die span se 119 kampplekke. In die skoon, droë winterlug – weg van enige stadsliggies – is die sterrehemel iets besonders.

Ons hou rivierlangs. Die wateroppervlak vergroot en die rivier vloei vinniger. Jy moet jou storie ken om die lomp mokoro om die skerp draaie te stuur. Op baie plekke het die rivier die oewer uitgekerf tot vertikale sandkranse, 50 m hoog of hoër, en dit vloei dikwels deur dik, verstrengelde plantegroei met net een smal kanaal waardeur ’n mens kan beweeg. Dit beteken groot moeilikheid om kant toe tot in een van dié siwwe gespoel te word. 

Ons vorder steeds stadig. Ons het drie weke begroot om by die dorp Cuito Cuanavale uit te kom en ons is nog nie eens naby nie. Nog ’n boot slaan om en weer moet ons toerusting uit die rivier vis. 

Helikopters kom haal mense wat moet terugkeer beskawing toe, en bring vir ons kosvoorrade.

Watter kant toe is suid?

Die volgende dag roei ek en Goetz vooruit om die pad oop te maak terwyl die res van die groep batterye sonlaai en data verwerk. Ons kap vir ’n paar uur en uiteindelik maak die rivier oop. Ons vaar ’n paar kilometer ongesteurd en stop op ’n sandbank om vir die res van die vloot te wag. 

Die bome is nou iets van die verlede. Die volgende uitdaging is afstand en eindelose roeidae. Die stroom is sterk en ons kan elke dag 40 km of meer aflê, maar die rivier kronkel sonder einde en partykeer roei ons ure lank in heeltemal die verkeerde rigting. Een oggend lê ons 9 km af op die water, maar eindig minder as 2 km soos die kraai vlieg van ons vorige kampplek af. ’n Mens moet maar net gaan waar die rivier vloei. 

Die omliggende vloedvlakte is uitgestrek en dis nie altyd maklik om ’n kampplek te kry nie. Ons begin gewoonlik rondom 3 nm. soek, maar party dae kry ons eers twee uur later ’n kol wat lekker werk. 

Ons sien al meer tekens van seekoeie, en baie meer krokodille. Een oggend gly ’n 4 m lange monster stilletjies in die water voor my... ’n Bietjie verder is ’n brug wat deur ’n bom verwoes is – die eerste sigbare herinnering aan die burgeroorlog wat Angola 30 jaar lank geteister het. 

Ek en Goetz is agter in die konvooi. Ons kom om die draai en sien hoe Water uit die water klim en James by die oewer op hardloop. Hardloop is altyd ’n slegte teken. Dit blyk Water se boot het een van die brugpilare wat halfpad onder die water staan, getref en omgeslaan. Die boot is onderstebo op die bodem van die rivier en dis omtrent ’n spanpoging deur almal op die oewer en in die water voordat ek dit uiteindelik regkry om af te duik en ’n tou aan die romp vas te maak.

Op die oewer is ’n ronde krater... die nalatenskap van ’n landmyn of bom. By dié aand se kamp sien ons ook ons eerste leeuspore terwyl nog ’n yslike veldbrand net anderkant die rivier woed.

 Die dae loop ineen soos ons nader aan Cuito Cuanavale kruip. Snags hoor ons seekoeie en sien hulle in die rivier. ’n Helikopter bring nog kos en lede van die National Geographic-tydskrifspan.

 Elke aand om die vuur praat mense obsessief oor afstand: Wat ons daai dag afgelê het, wat nog voorlê, hoeveel dae. Uiteindelik raak G.B. moeg vir dié sinlose praatjies. “Moenie jou kop laat weet hoe ver jy nog het om te gaan nie,” sê hy. “Anders raak jy moeg nog voor jy daar uitkom.” Dis die beste raad wat ek tot dusver gehoor het.

Ons roei flink en lê 45 km per dag af, soms meer. Op een dag roei ons 56 km – ons langste dag – en ons beloning is ’n beknopte, steil kampplek. 

Ná 42 dae en meer as 700 km haal ons uiteindelik Cuito Cuanavale. Dis duidelik dat die tog baie langer gaan vat as wat ons gedink het. 

Foto: James Kydd
Foto: James Kydd

Die riviermonster

Ons rus vier dae lank op Cuito Cuanavale – dis ’n groot plek; hier’s winkels, bakkerye en ’n groentemark. Ons kry weer voorraad en doen instandhoudingswerk. Dan is ons weer op pad. Vyf dae later bots ons met die seekoei. Dankie tog almal kom ongedeerd daarvan af. Eindelose dae van roei volg. 

Hier is nou baie meer seekoeie en baie meer mense. Ons stop by die dorpies langs die rivier en vra die inwoners oor die seekoeie se doen en late en oor mynvelde. Ons vaar nou in gebiede waar die oorlog erg gewoed het en landmyne is ’n daaglikse bekommernis wanneer ons kampplekke kies. Ons kies meestal plekke waar jagters voorheen gekamp het. Hier vind ons oorwegend bene, velle, batterye, oorblyfsels van strikke, whiskysakkies en patroondoppies. 

Sowat drie weke ná Cuito Cuanavale haal ons Nancova, nog ’n noemenswaardige dorp. Nou is die rivier enorm; op plekke tot 100 m breed. Ons hou by die vlak kant van die rivier. Almal is op hulle hoede – seekoeie is deurentyd ’n bedreiging. 

By een mooi kampplek sien ek terwyl ek die vroegoggendvuur stook, hoe ’n groot krokodil – minstens 5 m lank – stadig stroomop gly. Dis beslis die einde van my swemplanne! 

Die rivier is altyd mooi, die water blougroen, en geleidelik lyk die plantegroei meer soos dié van die delta verder suid. Ons sien die eerste tekens van olifante. En hier is nou stroomversnellings – iets waarvoor die mokoro’s beslis nie ontwerp is nie. 

Uiteindelik kom ons by die Mpupawaterval uit, waar die rivier sowat 10 m na onder val. Versplinterde mokoro’s lê oral op die rotse... Ons stop sowat 100 m stroomop en gaan verken die waterval. Plaaslike inwoners kom en help ons om die bote oor land te dra tot by ’n veilige ingang net onder die waterval. Party van hulle praat selfs ’n bietjie Afrikaans (hulle werk op goudmyne in Suid-Afrika en het kontak gehad met die Suid-Afrikaanse weermag gedurende die oorlog). 

Ons laai weer die mokoro’s en roei voort. Dié aand kamp ons op ’n eiland in die middel van die rivier, waar ons ’n krokodilnes met leë eierdoppe kry – die eerste wetenskaplike bewys van krokodille wat op die Cuito broei. 

’n Paar dae later gebeur iets ongeloofliks: Terwyl ons ’n diep draai in die rivier nader, roep ’n man dringend van die oewer af en wink ons nader. Hy hou ’n AK47 vas; dus stry ons nie. Hy vertel ons ’n riviermonster, die legendariese nkorongo, bly in die onstuimige water op die draai. Die monster lyk soos ’n groot slang of ’n draak en sal beslis ons bote omdop. Ons móét op land verby hierdie deel beweeg. 

Die baYei neem sy raad ernstig op. Hulle kan ’n bietjie met die plaaslike inwoners kommunikeer en sou later dié aand vertel van hulle eie legendariese watermonster – die nkolyongo – wat in die diep mere van die Okavango bly. 

Dis ’n legende wat oral op die groot waterweë van die vasteland voorkom, van Zambië tot in die Kongo: die Afrikaekwivalent van die Loch Ness-monster. 

Ons trek die bote om die draai, deur die vlak water naby aan die kant. Tom berispe my omdat ek te hard praat. “Dalk hoor hy jou; hy hou nie daarvan nie,” raas hy ernstig. Ons kom laer af weer in die stroom en maak ons so gou – en so stil – as moontlik uit die voete. 

Seekoeie het gewoonlik seker gemaak die span weet
Seekoeie het gewoonlik seker gemaak die span weet hulle is daar deur hulle yslike tande te wys.

Die einde van Angola

Ons is nou naby aan die Namibiese grens en sien nog tekens van olifante. Naby aan Dirico, ons laaste stopplek voor Namibië, vaar ons verby ’n seekoei wat vreemd optree: Hy vlug paniekerig weg van ons af, en gee groot spronge deur die water. ’n Paar minute later is sy gedrag verstaanbaar: Die afgekapte kop van ’n seekoei in die water dui op jagters. 

’n Paar uur later haal ons Dirico, en ons trek ons bote tot op die oewer. Ons sou op die ou end vyf dae hier bly aangesien hier nie ’n grenspos naby is nie. Uiteindelik sou ons almal na die naaste grenspos met ’n huurvliegtuig moes vlieg. 

Maar dit lê alles in die toekoms. Vir die oomblik is ons dankbaar om die Angolese deel van ons reis veilig agter ons te hê. Voor ons lê die Caprivistrook, die Okavangopypsteel, die Okavangodelta en uiteindelik die Botetirivier. 

Ons het al sowat 1 500 km geroei. Nog 1 000 km en ’n maand en ’n half op die water lê voor ons. Maar ons is fiks, sterk en vol selfvertroue. Soos Steve sê: Al die water in ons lyf is nou Cuitowater. 

’n Maand en ’n half later trek ons die bote op die modderige oewer van die Xau-meer in die Kalahariwoestyn. Ons het die eerste volledige opname van die Cuitorivier voltooi. Almal is gesond en die tog was ’n groot sukses. Ons kan net hoop ons werk help om een van die laaste groot ongerepte gebiede in Afrika wild en woes te hou. 

Gaan na intotheokavango.org, soek vir @intotheokavango op Instagram of #Okavango15 op Twitter vir meer inligting oor die tog. 


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #140 (Junie 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.

Lus vir vakansie? Gebruik die Afrikaanse soekenjin www.wegreis.co.za om vliegkaartjiepryse vir binne- en buitelandse vlugte te vergelyk.