Oor Pretoria, Naboomspruit se Oog, Pietersburg, af met Magoebaskloof, langs die Krugerwildtuin na Nelspruit en Barberton, Nelshoogte uit Badplaas toe, oor die Hoëveld na Standerton en tot in Johannesburg – dít was die bakens van hierdie epiese tog.

Die langste skof was die eerste dag: meer as 200km tot in Pretoria. Die kortste was die derde dag van die Oog by Naboomspruit af tot op Potgietersrus.

Die moeilikste? Die 70km tussen Barberton en Badplaas: Omtrent die helfte van die roete was grond en gruis, en die veeleisendste deel was van Pietersburg af oor Haenertsburg langs die wildtuin af tot by die teerpad na die Numbihek.

Hoeveel van die totale roete ons die fiets gestoot het, weet niemand nie, maar dit was baie…

‘Een vir almal, almal vir een!’ Die drie fietsketiers was Pieter Thiel (die frisste), Nardus Droomer (die kleinste) en ek, Chris Coetsee (die langste). Die avontuur was ’n praktiese les in die leuse van ons legendariese voorgangers, die Drie Musketiers: “Een vir almal, almal vir een!”


Daar was frustrasies, soos die 43 lekplekke wat ons moes regmaak. Daar was natuurlik ook teleurstellings, soos toe ons bo-op die pragtige Magoebaskloof staan en net 20m ver kon sien, die berge toegevou in mis.

Hoeveel van die totale roete ons die fiets gestoot het, weet niemand nie, maar dit was baie…

En daar was vreugde toe ons in die middel van ’n warm middag in ons adamspak onder die padbrug in die Klaserierivier baljaar – net voor die grootste skrik: vars leeuspore langs die pad toe Nardus ’n lekplek regmaak.

Verligting het ons ’n paar uur later ervaar toe ons moeg en moedeloos opkyk na die steil klim teen die platorand uit Bosbokrand toe (Pieter: “As my ma my nou sien, huil sy haar dood!”). Gelukkig het ’n oom met ’n vragmotor ons opgelaai.

Daar was baie swaarkry (die agste dag) toe ons die grootste deel van Nelshoogte na Badplaas moes uitstoot en Chris boonop met die ouma van alle diarree moes worstel.

Hier swoeg ons halfpad teen Nelshoogte uit

Die mees troostelose gesig was die negende nag: ons tentjie daar tussen Breyten en Ermelo, ingedruk tussen die pad en die treinspoor terwyl die windjie waai. Ons kon nie vuurmaak nie en het brood, konfyt en koue water vir aandete gehad.

Die grootste kontras was net die volgende aand, toe ons oorrompel is deur die gasvryheid van my meisie en haar ouers op hulle plaas buite Standerton.

Rygoed, toerusting en slaapplek

Ons het met sportfietse gery, die soort met “drop handles” — ’n Hercules, Raleigh en Humber.

Die saals was kliphard, hulle het 18mm-bande en ’n 12- of 14- tandrat gehad (dit was voor die tyd van betroubare ratwisselaars).

Net Pieter het modderskerms op sy fiets gehad. Ek en Nardus het ons s’n afgehaal om gewig en windweerstand te beperk, maar ons het dit berou in die reën: Ons het heeltyd in ’n bogie water gery!

Agterop het elkeen ’n drarak met ongeveer 30kg “bagasie” gehad: gereedskap en kamptoerusting, ekstra bande en binnebande, ’n ekstra stel klere (kakie), ’n militêre grondseiltjie en waterbottel, proviand (meestal kondensmelk, boeliebief en beskuit) en ’n basiese noodhulpstelletjie (waaronder kinapille teen malaria).

Op Nardus se draer was ook ’n seiltentjie met twee besemstokke wat as pale moes dien. Een daarvan het ewe windmakerig agter die saal in die lug gesteek, amper soos ’n blitspatrolliekar se lugdraad. Bo-op my pakkaas was ’n aluminiumketeltjie met ’n toutjie vasgemaak.

Die rytegniek was eenvoudig: Elkeen kry ’n beurt om vir 20 minute voor te ry, met die ander kort agter mekaar. Op grond en gruispaaie kon dit natuurlik nie werk nie, want elkeen moes genoeg afstand hê om klippe betyds raak te sien en uit te swaai. Veral by die Wildtuin, waar ’n klomp opeenvolgende bultjies was, moes ons teen die afdraandes soveel as moontlikspoed opmaak om teen die komende opdraande uit te kom, maar gewoonlik het ons net driekwartpad gekom.

Mylpaal… en teëspoed

Die eerste 100 myl tussen Krugersdorp en Pretoria het ons gevier deur elkeen ’n blikkie “dwê” – ons woord vir kondensmelk – weg te slaan. Hierdie stuk was ’n goeie voorgereg vir die res van die tog, want hier het die keteltjie op my fiets losgeskud en voor Pieter se voorwiel beland. Nie net het hy hard kennis gemaak met die teer nie, maar Nardus het ook bo-oor sy fiets gery!

Pieter het met ’n paar skaafplekke gesit, maar gelukkig niks ernstigs nie. Sy fiets se pedaalarm en wiel was erg gebuig, en die ou keteltjie vol duike.

Met die gereedskap wat ons gehad het, en ’n paar ysterklippe, kon ons darem die ergste skade binne ’n uur regmaak. Ons was weer volstoom op pad.

Die eerste hoogte wat ons nie kon uitkom nie, was net ná Randfontein, maar toe kry ons darem die geleentheid om aan die regte stoottegniek te oefen: Jy moet só op die fiets lê dat jou gewig die werk doen en jy die minimum inspanning hoef te gebruik.

Daardie nag het ons by vriende in Pretoria geslaap, maar vir die res van die toer was dit in die tentjie waarin ons net op een manier kon pas: as twee langs die kante met hulle kop by die ingang lê en die ander een in die middel met sy voete in daardie rigting.

’n Paar nagte, wanneer ons nie ’n kampplek kon kry nie, het ons by ’n polisiekantoor gaan aanklop en gevra om vir die nag opgesluit te word. Op Potgietersrus het die gasvrye sers. Van Staden ons by sy eie huis laat slaap, maar op Bosbokrand moes ons langs die sinktronk kamp terwyl die gevangenes omtrent heelnag rumoer en teen die mure geskop en geslaan het.

By Mica het ons tussen die bosse naby ’n groepie “jagters” gekamp. Ons was onrustig, want Pieter was koorsig en tam. Die jagters jaag hom toe drie “rampille” in, want, sê hulle, dit werk vir enigiets van maagpyn tot malaria. En as hy die volgende oggend nie beter is nie, vat hulle hom met hulle eie bakkie Tzaneen toe om by ’n dokter uit te kom. Jy speel nie met malaria nie. Ons het gaan inkruip, maar die slaap wou nie kom nie, want ons was al drie bekommerd.

Hier teen middernag se kant hoor ons uit die “jagters” se kamp ’n vrou wat die een liedjie ná die ander begin sing; treffers soos “I’ll Take You Home Again, Kathleen”. Later slaan sy oor na meer treurige nommers: “Have I Told You Lately that I Love You?”

En nóg later begin sy met ’n blykbaar onuitputbare repertoire van cowboytreffers: “There’s a New Moon Over My Shoulder”, “Yellow Rose of Texas”, “When It’s Spring Time in the Rockies”…

Dan, skielik, val ’n mooi bariton saam met haar in en hulle sing “Galway Bay”. Omtrent twee uur lank het die ongelooflike serenade deur die Laeveldnag aangesweef gekom (met tussendeur ’n bottel wat ’n glas tref of ’n ander stem wat sleeptong probeer saamsing).

Die volgende oggend, nadat ons toe uiteindelik aan die slaap geraak het, was Pieter eerste wakker, in helder daglig. Toe sy oë behoorlik oop is, sien hy reg bo sy kop, in die nok van die tentjie, ’n enorme skerpioen! Hy’t stilletjies by die tentjie uitgeseil, voete eerste, voordat hy vir my en Nardus wakker gemaak het sodat ons saam van die ongenooide gas ontslae kan raak.

Of dit die pille of die skrik was, weet niemand nie, maar Pieter was perdfris.

Kosavonture

Ons het geleef van dwê, liters roomys en Sparletta, brood en botter, en vrugte wat ons langs die pad gekry het. Vleispasteitjies was ’n spesiale treat.

Soms het ons heeltemal tred verloor met die dag en datum, soos op die sewende dag toe ons van Bosbokrand af Nelspruit toe gejaag het om kos te koop voordat die winkels vir middagete toemaak. Eers toe ons voor dooiemansdeur te staan kom, besef ons dis Van Riebeeckdag en die winkels is die heeldag toe!

Later slaan sy oor na meer treurige nommers: “Have I Told You Lately that I Love You?”

Ons het toe darem by ’n kafee ’n kissie druiwe gekry, maar toe ons buite Nelspruit op die verkeerseiland aansit vir druiwe en dwê, is die druiwe groen en suur. Ek was só honger dat ek maar deurgedruk het – maar die volgende dag het ek geboet…

Die volgende oggend moes ons voor sesuur uit die kelder van Barberton se polisiekantoor wees (“… voor die sersant kom…”); dus was ons voor die winkels se oopmaaktyd al teen Nelshoogte uit, op pad Badplaas toe. Ons het oorleef van koejawels wat ons by kinders gekoop het. Hulle het vir ons vertel daar is ’n plaaswinkeltjie vorentoe (“… hy’s ver, maar ôk nie so ver nie…”!), wat ons nuwe moed gegee het om die berg uit te kom.

Die winkeltjie was deksels ver – en gesluit. Gelukkig het ’n spul honde aan die binnekant van die heining aan die blaf gegaan en die opsigter het kom kyk wat aangaan. Nee, sê hy, hulle verkoop nie kos nie, net meel.

Maar Pieter sien toe hoog op een van die rakke ’n paar pakkies jellie wat ons maar gekoop het. Die teleurstelling was groot, want daardie jellie was goed verouder – en kliphard. Nardus en Pieter het vir die volgende paar kilometer harde jellie opgekou.

Op Badplaas het ’n tannie wat van ons stryd teen Nelshoogte gehoor het, ons só jammer gekry dat sy met ’n groot melktert by ons tentjie opgedaag het. Ons het dit binne vyf minute verorber!

My meisie en haar ma het op die plaas by Standerton vir ons padkos gegee vir die laaste skof: ’n kartondosie met toebroodjies, hardgekookte eiers en worsies.

Maar toe ons vir middagete teen ’n graswal langs die pad neersak, is ons deur ’n ongewone allegaartjie begroet: Die sinkplaatpad het die eiers aanhoudend teen mekaar laat stamp, wat die doppe laat breek en die eierwitte ook stukkend geskud het. Die gele het tussen dopskerwe, stukkende toebroodjies en stukkies wors rondgeswerf!

Daar het ons besef hoe waar die ou spreekwoord is: Honger is die beste kok.

Swaar maar lekker

Teen skemer op die tweede dag kom ons op Naboomspruit aan – op pad na Die Oog toe. Die enigste plek wat nog oop was om die pad daarheen te vra, was die hotel se kroeg. Pieter vra die kroegman hoe ’n mens by Die Oog kom – en die antwoord is ewe bedaard: “Ou seun, jy staannou binne-in hom!” Na nóg ’n uur se gesukkel in die donker kom ons by Die Oog aan.

Die volgende oggend, terwyl ek nog in die warmste badjie lê en ontspan, kom die enigste ander gaste daar aan: ’n welbedeelde ma met haar twee telge, Bobby en Vincie. Sy klim langs my in die bad en terwyl sy haar baaikostuum met die een hand ophou, draai sy na my toe: “Ag, Meneer, kan jy my met my zip help? Ek sal simply moet reduce. Ek kry hom nie opgetrek nie!” Ek het haar graag help aantrek, en Nardus en Pieter kon sweer ek het so effens breed gevat.

Langs die Wildtuin af het ons 50-60m uitmekaar die afdraandes afgestorm: kop omlaag, agterstewe in die lug en oë stip op die pad. Op ’n draai teen ’n bult af het ’n groep vroue, elkeen met ’n drag hout op die kop, rustig aan die kant van die pad gestap toe die eerste trapper verbyskiet: totale verbetenheid, woordeloos en sonder om links of regs te kyk.

Hy was skaars om die draai – die vroue nog hardop aan die wonder wat nou aan die gang is – of die volgende ene kom verby. Toe die derde jaagduiwel verby flits, gooi hulle die hout net daar neer en hardloop teen die hang uit.

Aan die onderpunt van die bult draai die pad voor die spruitjie na regs. Ek het voor gery en toe my fiets in die sand beland, gly ek en slaan neer.

Toe kom Pieter om die draai en dieselfde lot tref hom. Ook Nardus het vergeefs probeer uitswaai…Daar lê die drie van ons toe beteuterd in die grondpad en wonder of ons ’n mal perd opgesaal het.

Die laaste skof was die een van Standerton af tot op Potch. Ons was vroeg in die pad, maar van agtuur die oggend af was die wind reg van voor.

Toe ons op Heidelberg uit die kafee gestap kom, sien ons ons fietslampe is gesteel. Ons besluit om die stryd gewonne te gee, want die laaste stuk van die toer sou ons in die donker moes trap.

Maar ons moes die volgende dag op die PUK wees. 

Ons het aangestoot tot by Nardus-hulle se huis op Alberton, waar ons in die bad gespring, ’n gebed gedoen en toe op die bus gespring het. Teen negeuur daardie aand kom ons op Potchefstroom aan.

Die laaste inskrywing in my dagboek lees: “Vir elkeen sal die toer ’n onvergeetlike herinnering bly. Ons is dankbaar vir die geleentheid wat ons gehad het om so iets aan te pak, vir die vriendelike mense wat ons ontmoet het, vir die gasvryheid wat ons oral teëgekom het – en bowe-al vir die bewarende Hand van ons God en Skepper”.

  • Pieter het ’n navorser by die Mediese Navorsingsraad geword, Nardus ’n NG dominee en Chris ’n sendeling.


*Hierdie artikel het oorspronklik in Weg se Februarie 2010-uitgawe verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon sedertdien verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.