Beroepe: Webontwerpers (Hugo het ’n honneursgraad in beleggingsbestuur en Caro ’n onderwysgraad)

Waar kom die idee vandaan?

Een van ons huweliksbeloftes aan mekaar was om die wêreld plat te toer. In 2015 en 2016 het ons Viëtnam en Turkye besoek, en planne vir ’n wêreldreis het ernstig geword. Ons wou van Australië na Suidoos-Asië toer, maar toe koop Hugo impulsief sy eerste 4x4 en besluit: Ons begin in Afrika! Dit was ons eerste oorlandtoer.

Malawi

Hoe kon julle dit bekostig?

Ons het ’n jaar lank gespaar en beplan om op ons reis aanlyn te werk. Met die inkomste van dié werk het ons weinig van ons spaargeld gebruik. Buiten die bakkie se versekering het ons geen uitgawes (motorpaaiement, selfoonkontrak...) gehad nie.

Ons reisuitgawes op kos, verblyf en vermaak was dus amper dieselfde as wat ons tuis sou spandeer. Ons gemiddelde daaglikse uitgawes was rondom R400 p.p., sonder die gorilla-uitstappie.

Ons het soms saam met vriende gereis wat ook die koste laag gehou het (lees Hugo-hulle se webwerf vir ’n volledige kosteuiteensetting).

Met watse voertuig het julle gery?

Hugo wou eers die tog met ’n motorfiets aanpak, maar sien toe op Gumtree ’n 2003 Toyota Hilux KZTE met omtrent al die toebehore vir dieselfde prys as ’n BMW GS1200. Ons koop toe die Hilux met ’n Safari-snorkel, langafstanddieseltenk, aluminiumkappie, laaistelsel, ensovoorts. Al wat ons ekstra aangebring het, was ’n daktent.

Die bakkie het hom uitstekend gedra. In Zambië moes ons ’n agterwiel se wiellaer vervang. Ons het net drie pap wiele gekry. Ons het twee noodwiele gehad en het die een onder die motor nooit afgehaal nie.

Mikumi- nasionale park, Tanzanië

Hoe het julle alles beplan?

Ons het telkens eers nadat ons ’n land se grens oorgesteek het, begin kyk na wat daar is om te sien. Ons enigste twee vaste datums was om teen Junie in Nairobi te wees (vir Caro se Unisa-eksamen) en om in Oktober terug te wees in Suid Afrika (vir haar eindeksamen). Ons kon dus by lekker plekke so lank bly soos ons wou.

Ons het aanvanklik internetblogs geraadpleeg vir inligting. Later het ons gehoor van die app iOverlander (laai dit gratis af by Google se Play Store) om kampplekke te vind.

Watter dokumente was nodig?

Ons het ’n Carnet de Passage et Douane (CPD) by die AA gekoop. Omdat ons bakkie se waarde maar R75 000 was, het dit ons R10 000 gekos. Hierdie deposito het ons met ons terugkeer (minus die R4 000-AA-tarief) teruggekry. Die CDP dek ook ’n polisieklaringsdokument (wat bevestig dat die voertuig joune is, en nie gesteel nie). Sonder die CDP is dit wys om ’n polisieklaringsdokument saam te ry.

Derdepartyversekering is verpligtend en ons kon dit gewoonlik op die grens koop – soms op die naaste groot dorp (as dit ’n klein grenspos is). Verder het ons die motor se registrasiepapiere en afskrifte daarvan (en van ons paspoorte) byderhand gehad. Ook die vel papier waaruit jy jou lisensieskyf sny – jou registrasienommer verskyn hierop en bevestiging hiervan word soms aangevra (dit staan nie op die registrasiepapiere nie).

Maasai Mara, Kenia

Ons het die bakkie se VIN-, enjin- en registrasienommer in groot skrif uitgedruk en op die buiteblad van ’n lêer (waarin al ons dokumente gebêre is) geplak sodat ons dit maklik kon ophou en wys vir ’n amptenaar wat ons inligting moes neerskryf.

Hugo se internasionale rybewys is nooit gevra nie. Ons het ook ’n lys gemaak van die reeksnommers van al ons elektroniese toerusting soos skootrekenaars en kameras, indien doeanebeamptes ons iewers probleme wou gee daaroor, maar dit was ook nooit nodig nie.

Groot getalle

Afstand gereis: 28 276 km

Duur van reis: 237 dae

Aantal lande besoek: 11 

Wat van visums?

Ons het slegs vir Rwanda, Uganda en Ethiopië visums nodig gehad. Uganda en Rwanda s’n kan ’n mens op die grens kry. Vir Ethiopië het ons die visum op die lughawe gekry omdat ons van Nairobi af soontoe gevlieg het. Indien ons oor die grens wou ry, sou ons waarskynlik ons paspoorte na SA moes koerier om aansoek te doen om visums.

Hoe het julle gemaak wat kos betref?

Die meeste van die kos wat ons in Suid-Afrika gekoop het, het skaars ’n week gehou! Ons moes selfs speserye aanvul. In Oos-Afrika kry jy net groente en vrugte langs die pad. In Tanzanië het net die stede groot supermarkte. In Nairobi kon ons bekende kruideniersware koop soos blatjang, Corn Flakes en Tabasco. Die mall in Nairobi het ’n Spur, Ocean Basket en KFC. Rwanda het goeie supermarkte. Uganda, Zambië, Malawi en Mosambiek het Shoprite-winkels.

Ons het wel Karooskaaptjoppies en sjokolade begin mis! Ons kon amper nêrens in Tanzanië sjokolade kry nie (Dit smelt seker te gou... – Red.).

Daar was ook tye wat ons na kaas gesmag het. Ons het nooit ’n vaste kosmaakroetine gehad nie. Ontbyt was enigiets van oorskiet tot beskuit of pap. Ons het gereeld Franse roosterbrood of roereier gemaak. ’n Indonesiese student wat in ’n stadium saam getoer het, het ons leer egg fried rice maak met oorskietrys.

Middagetes was hoofsaaklik grondboontjiebotter-en-gouestroopbroodjies of ons het gepeusel aan koekies, neute en vrugte. In Malawi het ons “chipsi” gekoop (aartappelskywe in olie gebraai).

Aandetes was pasta of rys met groente of blikkies boontjies. Ná Zanzibar het Caro heerlike kerries gemaak met die plaaslike speserye.

Ons het min gebraai; ons wou nie vleis langs die pad koop nie. ’n Mens weet nie hoe lank dit al buite hang nie.

Isimila-steentydperkterrein, Tanzanië

Wat kon gebly het?

Die vier jerrykanne was ’n mors van plek. Die bakkie se 130 liter-langafstandtenk (waarmee ons 1 000 km kon ry) was meer as genoeg. Ons het twee kanne in Nairobi gelos en die ander twee leeg saamgery vir die res van die toer.

Die enigste ding wat ons nooit gebruik het nie, was die air jack, maar dinge kon maklik anders uitgedraai het.

Wat was onontbeerlik?

Sonkragliggies (’n vierligstel soos te koop by ellies.co.za). ’n Mens wil dikwels lig hê ’n bietjie verder van die bakkie af en hierdie stel, wat aan ’n batteryboksie koppel, was draagbaar. Boonop het dit vinnig in die son herlaai.

Wat pak julle volgende keer in?

’n Staafmenger – heelwat kampplekke het elektrisiteit. Daar is volop vrugte en ons sou lekker smoothies kon maak.

Ons voertuig het nie ’n afdak nie. Ons het met ’n stuk seil ’n afdak prakseer. ’n Groter afdak wat makliker kon oopmaak, sou beter beskerming teen son en reën verskaf het.

Hoe het julle koste laag gehou? Parktoegang is duur; dus het ons slegs twee besoek: Mikumi in Tanzanië (een dag) en die Maasai Mara in Kenia (twee dae).

Ons sou meer parke in Tanzanië besoek het, maar ons was daar in die reënseisoen. Die parke is ekstraduur as ’n mens met jou eie voertuig ry en jy sien in elk geval meer wild saam met ’n gids in ’n safarivoertuig. Ons sal dus in die toekoms (as ons oud en ryk is!) ’n vliegsafari na die Serengeti onderneem. Of weer met ons eie voertuig toer en ’n wildkykrit vir die parke bespreek.

Was grensposkruisings stresvol?

Dit het makliker geword met verloop van tyd. By die meeste lande was ons strategie om die kleinste grenspos te kies. Dit kan wel langer neem: Een slag moes ons wag vir personeellede om hulle wasgoed te gaan afhaal toe dit begin reën!

Dit is baie rustiger by die kleiner poste en daar is nie opportuniste wat omkoopgeld soek nie. Verder het ons net kalm en vriendelik gebly en gemaak of ons die wêreld se tyd het (wat die geval was).

Hoe was die padtoestande?

Buiten die pad in Zambië van Sesheke af tot in Katima Mulilo en dele van die EN1-hoofroete in Mosambiek was die meeste van die hoofteerpaaie in ’n goeie toestand. Natuurlik is daar slaggate, smal paaie en padwerk, maar ’n mens sou 98% van ons roete met ’n Citi Golf kon ry.

Ons was beïndruk met Malawi se paaie waar dit gevoel het of jy vir die eerste keer in maande die bakkie in vyfde rat kon ry! Mense waarsku teen die busse in Tanzanië, maar ons het dit nie so erg beleef nie. Die Mombasa-Nairobi-hoofweg in Kenia is wél ’n belewenis: Duisende lorries wat mekaar heeltyd verbysteek, ongeag of daar aankomende verkeer is en ten spyte van die diep slote in die teer.

Het julle ooit onveilig gevoel?

Ons het min veiligheidsmaatreëls gehad, byvoorbeeld geen kluis in die bakkie, geen wapens, ensovoorts. Ons het saans die bakkie gesluit en streetwise probeer wees. Gedurende die agt maande van ons toer is niks gesteel nie. Ironies genoeg is daar skaars twee maande nadat ons terug was in Suid-Afrika by ons bakkie ingebreek en meer as R80 000 se goed gesteel!

Enige mediese noodgevalle?

In die eerste maand het ons albei siek geword. Caro in Tsumeb waar daar huisdokters en apteke is. Hugo was koorsig langs die Okavangorivier. Ons het malaria vermoed en is na ’n plaaslike kliniek waar hy gelukkig negatief getoets het. Ná twee dae in die bed kon ons weer in die pad val.

Ons het Doxycycline gedrink teen malaria. Party mense reken dit is beter om niks teen malaria te doen nie (buiten langmouklere dra ná skemer, ensovoorts) tot jy siek voel. Indien jy dan positief toets vir malaria, begin dadelik Coartem-tablette gebruik. Dié tablette kon ons in Kenia koop vir R20 ’n pakkie. Indien ons weer toer, sal ons dit waarskylik so doen.

Skaars twee weke later, in Zambië, het Hugo sy kop gekap teen ’n stuk yster en moes steke kry in ’n plaaslike hospitaal. Ons reisversekering het dit gedek en die wond het mooi genees. Ons het voedselvergiftiging in Mosambiek opgedoen van kos wat by ’n bekende supermark gekoop is.

Geladas, Simienberg, Ethiopië

Hugo en Caro se 5 gunstelingplekke

1. Simienberg, Ethiopië. Die berge, Geladas en watervalle was ongelooflik.

2. Maasai Mara, Kenia. Die feit dat ons stoksielalleen sonder heinings tussen die diere kon slaap, was die kersie op die koek.

3. Ilha de Moçambique. Ons het ’n bootrit gedoen, walvisse gesien en by ’n skeepswrak gesnorkelduik.

4. Groot-Zimbabwe. Dit behoort meer bekend te wees as die piramides, maar ons is bly dit is nie. Anders sou dit nie so rustig gewees het nie.

5. Bwindi, Uganda. Ons het nie vooraf bespreek vir ’n berggorilla-uitstappie nie en net opgedaag by Buhoma in die suide van Bwindi. Ons het die aand gaan vra of hulle plek het vir die volgende oggend. Aanvanklik het hulle nee gesê, maar later gebel en gesê ons kan maar kom!

Hoe het julle kontak gehou?

Ons het in elke land ’n SIM-kaart gekoop (sowat R10) en kon data koop teen tot 10 keer goedkoper as in Suid-Afrika. Ons was dus amper heeltyd op WhatsApp beskikbaar. Ons kon ook gereeld foto’s en video’s op ons blog laai.

Hoe het julle pad gehou?

Ons het op Gumtree ’n Garmin Nuvi vir R500 gekoop. Daarop het ons Tracks4Africa en Open Street Maps gelaai. Buiten Namibië het ons geen verdere padkaarte gehad nie. In baie gevalle het ons op paaie gery wat nie op Tracks4Africa was nie, maar wel op Open Street Maps of Google Maps. Soms het die stelsel egter die “kortste” pad gekies, al was dit in swak toestand; dus moes jy steeds op jou voete dink.

Hoe was dit om saam te toer?

Die reis was maar soos die res van ’n mens se lewe. Daar is lekker en moeilike tye. Die enigste verskil is as jy kwaad raak vir mekaar, moet jy steeds langs die persoon bly sit in die motor of langs mekaar slaap in die tent. Daar is nie ander vertrekke of uitkomkans nie!

Enige raad aan Weg-lesers? Klim in jou kar en ry! Moenie te veel beplan nie, want niks gebeur volgens plan nie. Moenie te veel inpak nie, want daar is winkels padlangs waar ’n mens enigiets kan koop van kampstoele en gasstofies tot Nivea-room en Pringles. 

Volg Hugo en Cara se reise
Webblad: twomonkeys.in; Instagram: @twomonkeys.in